Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Waarom bestee ’n vrou wat haar vertroue in godsdiens verloor het, nou ’n groot deel van haar tyd daaraan om ander oor God te leer? Wat het ’n man wat lief was vir gewelddadige sport, beweeg om ’n liefhebber van vrede te word? Hoe het ’n man wat dwelms en alkohol misbruik het en by straatgevegte betrokke was, daarin geslaag om sy lewenswyse te verander? Lees wat hulle hieroor sê.

PROFIEL

NAAM: PENELOPE TOPLICESCU

OUDERDOM: 40

GEBOORTELAND: AUSTRALIË

GESKIEDENIS: TELEURGESTEL DEUR GODSDIENS

MY VERLEDE: Ek is in Sydney, Australië, gebore, maar toe ek net twee jaar oud was, het ons gesin na Nieu-Guinee getrek. Ons het byna twee jaar lank in Rabaul gewoon en toe agt jaar in Bougainville. Destyds was daar geen TV in Nieu-Guinee nie, en daarom het ek en my broer as kinders gehou van buitelugaktiwiteite, soos swem, snorkel en kampeer.

Toe ek omtrent tien was, het ek in godsdiens begin belangstel. My ma was ’n Katoliek, en sy het voorgestel dat ek Bybellesse by een van die plaaslike nonne kry. Ek het ’n Katoliek geword en is op tien gedoop.

Maar nadat ons na Australië teruggetrek en ek ’n tiener geword het, het ek my godsdiensoortuigings begin bevraagteken. Regdeur hoërskool het ek antieke geskiedenis gestudeer, en ek en my pa het lang gesprekke gehad oor die oorsprong van godsdiens en wat ons as die mites en legendes in die Bybel beskou het. Uiteindelik het ek die Katolieke geloof verwerp.

My ouers het uitmekaar gegaan toe ek 16 was. My ma het deur ’n moeilike tyd gegaan, en ek het uiteindelik by my pa en sy verloofde gaan bly. My broer het by my ma gebly, en hulle het na ’n ander staat getrek. Ek het op dié stadium baie eensaam gevoel. Dit het my twee jaar geneem voordat ek weer op ’n vriendelike voet met my ma was. Ek het begin drink, dwelms gebruik en vir partytjies gelewe. Ek het skool verlaat, begin werk en my vroeë twintigerjare verkwis deur ’n onsedelike lewe te lei.

Toe ek 25 was, het ek weer aan die Bybel begin dink. Ek het by ’n nuwe werk begin en Liene ontmoet, ’n gawe meisie wat altyd beleefd teenoor haar baas was, al was hy baie ongeskik met haar. Toe ek haar vra waarom sy nie terugkap nie, het sy verduidelik dat sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer en Bybelbeginsels in haar lewe probeer toepas. Liene het aangebied om die Bybel met my te studeer. Weens ’n misverstand het ek gedink dat sy bedoel dat ek alles wat sy oor die Bybel weet, in net een sessie van een uur kon leer. Daardie aand het Liene drie uur daaraan bestee om my vrae oor die Bybel te beantwoord. Ek was beïndruk dat sy al haar antwoorde met Bybeltekste gestaaf het.

Ek onthou nog hoe ek daardie aand ná my bespreking met Liene huis toe gery het en kwaad was vir God omdat hy my nie die waarheid oor hom vroeër laat uitvind het nie. Ek het geweet dat die Getuies ’n sedelik rein lewe lei en gedink dat dit veels te laat vir my is om my gewoontes te verander. Ek het ook gedink dat ek nooit van huis tot huis sou kon preek soos die Getuies nie. Ek het aangehou om die Bybel saam met die Getuies te studeer, maar my doel was om fout te vind met hulle leringe sodat ek met ’n goeie gewete my kontak met hulle kon beëindig. Eendag het ek besef dat ek nie daardie skuiwergat gaan kry nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Hoe meer ek oor die Bybel se sedelike standaarde geleer het, hoe meer het my gewete my gepla. Om my gewete te sus, het ek dwelms opgegee. Maar toe het ek ’n ruk lank in ’n ander land gaan woon en weer by partytjies en drinkery betrokke geraak. Dit het gelyk of ek elke keer wanneer ek ’n bietjie vordering probeer maak het om in ooreenstemming met Bybelbeginsels te lewe, teruggeval het. Ek het dan in skaamte tot Jehovah gebid, maar ek het nog steeds sleg gevoel.

Toe ek geleer het oor koning Dawid se handelinge met Batseba en hoe Jehovah hulle met barmhartigheid behandel het, het dit my gehelp. Dawid was moedig genoeg om sy sonde te erken toe hy tereggewys is, sonder om sy dade te probeer regverdig. En hy het die dissipline wat hy ontvang het, nederig aanvaar (2 Samuel 12:1-13). Elke keer wanneer ek gestruikel het, het ek aan daardie verslag gedink, en dit het makliker geword om vir Jehovah te sê dat ek jammer is. Toe het ek besluit om te bid voordat ek aan versoeking toegee in plaas van daarna, en dit het ’n groot verskil gemaak.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek het nog altyd ’n slegte humeur gehad. Maar die teks in Efesiërs 4:29-31 het my help besef hoe belangrik dit is om “bitterheid en toorn en gramskap” te vermy. Namate ek geleer het om my humeur in toom te hou, het ek geleer om ook my tong in toom te hou. Daarbenewens het Jesus se raad “laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken”, my gehelp om ’n betroubaarder persoon te word.—Matteus 5:37.

My ma, wat aan die begin gekant was teen my assosiasie met die Getuies, het later vir my gesê dat sy trots is op my. Sy het selfs gesê: “Ek weet dat die vrou wat jy geword het, nie te danke is aan jou opvoeding nie, maar aan wat jy oor Jehovah geleer het.” Ek was baie bly om haar dit te hoor sê.

Ek voel nou dat my lewe doelgerig en sinvol is. Die afgelope nege jaar dien ek en my man as voltydse Bybelonderrigters. Ja, ek preek van huis tot huis, en ek voel nou dat dit die bevredigendste werk is wat ek nog gedoen het.

PROFIEL

NAAM: DENIS BOESIGIN

OUDERDOM: 30

GEBOORTELAND: RUSLAND

GESKIEDENIS: KARATE-ENTOESIAS

MY VERLEDE: Ek is in die stad Perm gebore en het grootgeword in Foermanof, ’n stad met omtrent 40 000 inwoners in die streek Iwanowo, Rusland. Foermanof is ’n skilderagtige stad met talle pragtige bome wat in die herfs geel en rooi word. Gedurende die 1980’s en 1990’s het die misdaadsyfer in die stad gestyg. Ons gesin het weens ons klein inkomste ’n eenvoudige lewe gelei. Ek en my ouers en my jonger broer het in ’n eenslaapkamerwoonstel gewoon—dit was maar beknop.

Toe ek sewe was, het ek karate begin leer. Ek was lief vir die sport; my hele lewe het daarom gedraai. Ek het al my vrye tyd by die gim deurgebring, en al my vriende was sportliefhebbers. Teen 15 het ek my rooi gordel in karate gekry, en ’n jaar later, my bruin gordel. Ek was ’n lid van ’n karatespan wat in Russiese en Eurasiese kampioenskapstoernooie meegeding het. Die toekoms het rooskleurig gelyk, maar toe ek 17 was, het my hele lewe verander.

Ek en ’n paar vriende het ’n misdaad gepleeg en is gevang. Ek is tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Die tronklewe was swaar. Maar terwyl ek in die tronk was, het ek vir die eerste keer die Bybel gesien. Ek het Genesis, Psalms en die Nuwe Testament gelees. Ek het selfs die Onse Vader uit my kop geleer en het dit elke aand voordat ek gaan slaap het, opgesê omdat ek gedink het dat dit my op die een of ander manier sou help.

In 2000 is ek uit die tronk vrygelaat, maar my lewe het geen doel gehad nie. Ek het dwelms begin gebruik. Omtrent dié tyd is my ma oorlede. Sy was die naaste persoon aan my, en dit was vir my moeilik om haar dood te verwerk. Maar ek het dit reggekry om los te breek van dwelms en het weer gim toe begin gaan. Ek het ook na die stad Iwanowo getrek. Daar het ek werk in ’n supermark gekry. Die hoofwinkelassistent by die supermark was een van Jehovah se Getuies. Sy het ’n paar basiese Bybelwaarhede aan my verduidelik en gereël dat ’n ander Getuie die Bybel gereeld met my studeer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Gedurende my Bybelstudie het dit my diep getref om te leer van God se voorneme om die aarde in ’n paradys te omskep, en ek wou kwalifiseer om deel van daardie toekoms te wees. Ek het kort voor lank besef dat Jehovah God hoë standaarde het waarvolgens hy wil hê dat mense moet lewe. Ek het byna my hele lewe lank net aan myself gedink. Maar ek het geleer dat Jehovah wil hê dat ek aan ander moet dink en dat ek eienskappe moet aankweek wat ek op dié stadium nie gehad het nie—eienskappe soos goedhartigheid en vredeliewendheid.

Namate ek dieper begin nadink het oor alles wat Jehovah vir my gedoen het—soos die feit dat hy sy Seun as ’n offerande ten behoewe van my sondes gegee het—het waardering vir God se liefde my beweeg om veranderinge in my lewe aan te bring. Ek het byvoorbeeld in Psalm 11:5 geleer dat Jehovah geweld haat. Ek het dus opgehou om TV-programme te kyk wat geweld en haat verheerlik. En al was dit baie moeilik, het ek gewelddadige sport opgegee. Die beginsel in 1 Korintiërs 15:33 het my help besef dat die soort vriende wat ek kies, ’n groot invloed op my sou hê. Die feit dat ek in die tronk beland het, was bewys van daardie beginsel. Ek het dus besluit om nie meer te assosieer met dié wie se lewe om gewelddadige sport draai nie.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Assosiasie met Jehovah se Getuies en ’n studie van die Bybel het my gehelp om ’n eerlike persoon te word. Ek het byvoorbeeld in Hebreërs 13:5 geleer hoe belangrik dit is om vergenoeg te wees en te stry teen die liefde vir geld. Die toepassing van hierdie raad het my gehelp om nie leuens te vertel of te steel nie.

Ek het nog altyd groot waarde aan vriendskappe geheg. In die verlede het ek gesien hoe vriendskappe weens gierigheid of vrees verbrokkel. Jehovah se Getuies is nie volmaak nie, maar ek het geleer dat hulle God se standaarde respekteer en hard probeer om sy raad in hulle handelinge met ander toe te pas. Onder hulle het ek nou ware vriende gevind.

Ek kan net raai hoe my lewe sou gewees het as ek nie geleer het om volgens Bybelstandaarde te lewe nie. Ek sou seker weer in die tronk beland het of vir ander mense pyn en lyding veroorsaak het. Maar nou het ek ’n dierbare vrou en twee seuns, en as ’n gesin geniet ons dit werklik om ander te help om die waarheid oor God te leer.

PROFIEL

NAAM: JOSÉ CARLOS PEREIRA DA SILVA

OUDERDOM: 31

GEBOORTELAND: BRASILIË

GESKIEDENIS: STRAATBAKLEIER

MY VERLEDE: Ek het in die vuil krotbuurte van Amerikana, São Paulo, grootgeword. Ons het geen toegang tot veilige drinkwater of behoorlike sanitasie gehad nie. Die gebied was berug weens geweld en misdaad.

Ek het gewelddadig en aggressief grootgeword. Ek was altyd betrokke by straatgevegte, en daarom was mense in die buurt bang vir my. My kleredrag, persoonsversorging en houding het die indruk geskep dat ek taai was. Ek het my dikwels katswink gedrink. Soos my broers, het ek dwelms gebruik. Om die waarheid te sê, een van my broers is dood weens ’n oordosis.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek Jehovah se Getuies ontmoet het, het hulle vir my uit die Bybel gewys dat God die hele aarde in ’n paradys gaan omskep (Lukas 23:42, 43; Openbaring 21:3, 4). Ek het ook geleer dat die dooies nie bewus is van enigiets nie en dat God slegte mense dus nie in ’n brandende hel straf nie (Prediker 9:5, 6). Dit was ’n groot verligting vir my. Wat ek oor God geleer het, het my ’n sterk begeerte gegee om my lewenswyse te verander. Maar dit was nie maklik om die veranderinge aan te bring nie—om afstand te doen van die dwelms, die drinkery, die bakleiery en die vuil taal wat ek gewoonlik gebruik het.

Maar ek is grootliks aangemoedig deur die apostel Paulus se woorde in 1 Korintiërs 6:9-11. Hierdie teks wys dat sommige eerste-eeuse Christene voorheen party van dieselfde slegte gewoontes gehad het as wat ek ontwikkel het. Maar daardie Skrifgedeelte sê ook: “Dit [is] wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas, maar julle is geheilig, maar julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God.” Hierdie woorde het my die hoop gegee dat ek ook die nodige veranderinge in my lewe kon aanbring om God te behaag.

Toe ek met Jehovah se Getuies begin assosieer het, was ek oortuig daarvan dat hulle die ware godsdiens beoefen. Hulle het geweet van my gewelddadige, aggressiewe gedrag in die verlede, maar hulle het my nog steeds hartlik en liefdevol in hulle midde verwelkom.

HOE EK BAAT GEVIND HET: As ek nie die Bybel gestudeer en my lewe verander het nie, sou ek seker teen dié tyd al dood gewees het. In plaas daarvan het ek die vreugde gehad om een van my broers te help om die Bybel te leer ken en van sy dwelmverslawing weg te breek. En ek het ook ander familielede aangemoedig om die Bybel te begin studeer. Ek is so dankbaar dat ek my lewe kon wy aan die diens van God, wat soveel vir ons omgee!

[Lokteks op bladsy 24]

‘Ek het besluit om te bid voordat ek aan versoeking toegee in plaas van daarna, en dit het ’n groot verskil gemaak’