Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Jesus na—Onderrig met liefde

Volg Jesus na—Onderrig met liefde

Volg Jesus na—Onderrig met liefde

“Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.”—JOH. 7:46.

1. Hoe het mense gereageer op die manier waarop Jesus ander geleer het?

 DINK net hoe opwindend dit moes gewees het om te hoor hoe Jesus ander leer! Die Bybel gee ons hier en daar ’n vlugtige blik op die indruk wat hy gemaak het op dié wat hom ontmoet het. Die Evangelieskrywer Lukas vertel byvoorbeeld dat mense in Jesus se tuisdorp hulle “begin . . . verwonder [het] oor die innemende woorde wat uit sy mond kom”. Matteus sê dat dié wat tydens die Bergpredikasie na Jesus se onderrigting geluister het, “verstom was oor die manier waarop hy geleer het”. En Johannes sê dat die beamptes wat gestuur is om Jesus in hegtenis te neem, met leë hande teruggekeer en gesê het: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.”—Luk. 4:22; Matt. 7:28; Joh. 7:46.

2. Watter onderrigmetodes het Jesus gebruik?

2 Daardie beamptes was heeltemal reg. Jesus was ongetwyfeld die grootste Leermeester wat nog gelewe het. Hy het ander met duidelikheid, eenvoud en onweerlegbare logika geleer. Hy het illustrasies en vrae op vaardige wyse gebruik. Hy het sy manier van leer by sy toehoorders aangepas, hetsy hulle hooggeplaastes of gewone mense was. Die waarhede wat hy geleer het, was maklik om te begryp en tog werklik treffend. Maar dit was nie hierdie dinge op sigself wat Jesus die groot Leermeester gemaak het wat hy was nie.

’n Sleuteleienskap—Liefde

3. Hoe het Jesus as ’n leermeester verskil van die godsdiensleiers van sy dag?

3 Onder die skrifgeleerdes en Fariseërs was daar ongetwyfeld intelligente manne wat kennis gehad het, sowel as die vaardighede om dit oor te dra. Waarom was Jesus so anders as hulle? Die godsdiensleiers van die dag het geen liefde vir die gewone mense gehad nie. Hulle het hulle eerder verag en as “vervloekte mense” beskou (Joh. 7:49). In teenstelling hiermee is Jesus beweeg deur innige jammerte vir hulle, want hulle was “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matt. 9:36). Hy was hartlik, simpatiek en goedhartig. Verder het die godsdiensleiers geen ware liefde vir God gehad nie (Joh. 5:42). Jesus het egter sy Vader liefgehad en het daarin behae geskep om sy wil te doen. Die godsdiensleiers het God se woorde verdraai om hulle te pas, maar Jesus was lief vir “die woord van God”—hy het dit aan ander geleer, dit verduidelik, dit verdedig en daarvolgens gelewe (Luk. 11:28). Ja, die hele wese van die Christus het van liefde getuig en hom gerig in wat hy geleer het, hoe hy met mense gehandel het en hoe hy hulle onderrig het.

4, 5. (a) Waarom is dit belangrik om met liefde te onderrig? (b) Waarom is kennis en vaardigheid ook belangrik in onderrigting?

4 Wat van ons? As volgelinge van Christus wil ons hom graag in ons bediening en in ons lewe navolg (1 Pet. 2:21). Ons doelwit is dus nie net om Bybelkennis oor te dra nie, maar ook om Jehovah se eienskappe, veral sy liefde, te weerspieël. Of ons nou baie kennis het of net ’n bietjie, ’n oorvloed onderrigvaardighede of net ’n paar, die liefde wat ons toon, sal baie doen om die hart te bereik van dié vir wie ons preek. Om werklik doeltreffend in ons dissipelmaakwerk te wees, moet ons Jesus navolg deur met liefde te onderrig.

5 Om goeie onderrigters te wees, het ons natuurlik kennis van ons onderwerp nodig, en ons het vaardigheid nodig om hierdie kennis oor te dra. Jesus het sy dissipels gehelp om albei te verkry, en vandag help Jehovah ons deur middel van sy organisasie om dit te doen. (Lees Jesaja 54:13; Lukas 12:42.) Ons doel moet nietemin wees om nie net met ons verstand te onderrig nie, maar ook met ons hart. Wanneer kennis, vaardigheid en liefde saam werk, kan die resultate baie bevredigend wees. Op watter maniere kan ons dan liefde toon wanneer ons onderrig? Hoe het Jesus en sy dissipels dit gedoen? Kom ons kyk.

Ons moet lief wees vir Jehovah

6. Hoe praat ons van iemand vir wie ons lief is?

6 Ons geniet dit om te praat oor die dinge waarvoor ons lief is. Wanneer ons praat oor iets wat ons na aan die hart lê, raak ons opgewonde, en ons hele houding spreek van entoesiasme en hartlikheid. Dit is veral waar wanneer ons praat van ’n persoon vir wie ons lief is. Gewoonlik is ons gretig om ander te vertel wat ons omtrent daardie persoon weet. Ons prys, eer en verdedig hom. Ons doen dit omdat ons wil hê dat ander net so aangetrokke tot hom en sy eienskappe moet voel soos ons.

7. Wat het Jesus se liefde vir God hom beweeg om te doen?

7 Voordat ons liefde vir Jehovah by ander kan aanwakker, moet ons hom self ken en liefhê. Ware aanbidding is immers gebaseer op liefde vir God (Matt. 22:36-38). Jesus het ’n volmaakte voorbeeld gestel. Hy het Jehovah met sy hele hart, verstand, siel en al sy krag liefgehad. Omdat hy moontlik miljarde jare in die hemel saam met sy hemelse Vader was, het Jesus hom goed geken. Die gevolg? ‘Ek het die Vader lief’, het Jesus gesê (Joh. 14:31). Jesus het hierdie liefde weerspieël in alles wat hy gesê en gedoen het. Dit het hom beweeg om altyd die dinge te doen wat God behaag (Joh. 8:29). Dit het hom aangespoor om die godsdiensleiers, wat huigelagtig beweer het dat hulle God verteenwoordig, aan die kaak te stel. Dit het hom ook beweeg om van Jehovah te praat en om ander te help om God te leer ken en lief te hê.

8. Wat het liefde vir God Jesus se dissipels beweeg om te doen?

8 Jesus se eerste-eeuse dissipels het, soos hy, Jehovah liefgehad, en hierdie liefde het hulle beweeg om die goeie nuus met moed en ywer te verkondig. Hulle het Jerusalem met hulle leer vervul, al het die invloedryke godsdiensleiers hulle teëgestaan. Die dissipels kon eenvoudig nie ophou praat oor die dinge wat hulle gesien en gehoor het nie (Hand. 4:20; 5:28). Hulle het geweet dat Jehovah met hulle was en hulle sou seën—en hy het hulle inderdaad geseën! Trouens, minder as 30 jaar ná Jesus se dood kon die apostel Paulus skryf dat die goeie nuus verkondig is “in die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kol. 1:23.

9. Hoe kan ons ons liefde vir God versterk?

9 As ons werklik bekwame onderrigters wil wees, moet ons ook seker maak dat ons aanhou om ons liefde vir God te versterk. Hoe kan ons dit doen? Deur dikwels in gebed met God te kommunikeer. Ons versterk ook ons liefde vir God deur sy Woord te bestudeer, Bybelpublikasies te lees en Christelike vergaderinge by te woon. Namate ons kennis van God toeneem, sal ons hart gevul word met liefde vir hom. Dan, wanneer ons ons liefde vir God in ons woorde en dade toon, sal ander dit sien en moontlik tot Jehovah aangetrokke voel.—Lees Psalm 104:33, 34.

Ons moet lief wees vir wat ons ander leer

10. Wat is ’n kenmerk van ’n goeie onderrigter?

10 ’n Kenmerk van ’n goeie onderrigter is dat hy lief is vir wat hy ander leer. Hy moet glo dat dit waar is, dat dit saak maak en dat dit waardevol is. As ’n onderrigter omgee vir wat hy aan ander leer, sal sy entoesiasme duidelik wees en ’n kragtige uitwerking hê op dié wat hy leer. Maar hoe kan ’n onderrigter verwag dat sy studente gaan waardeer wat hulle hoor as hy nie werklik waarde heg aan wat hy hulle leer nie? Moet nooit jou voorbeeld as ’n onderrigter van God se Woord onderskat nie. Jesus het gesê: “Elke goed opgeleide student sal soos sy leermeester wees.”—Lukas 6:40, The New Berkeley Version in Modern English.

11. Waarom was Jesus lief vir wat hy ander geleer het?

11 Jesus was lief vir wat hy ander geleer het. Hy het geweet dat hy iets kosbaars het om aan ander mee te deel—die waarheid omtrent sy hemelse Vader, die “woorde van God” en die “woorde van die ewige lewe” (Joh. 3:34; 6:68). Soos ’n helder lig het die waarhede wat Jesus geleer het, blootgelê wat sleg is en beklemtoon wat goed is. Dit het hoop en vertroosting gebring vir nederiges wat deur valse godsdiensleiers bedrieg is en deur die Duiwel onderdruk is (Hand. 10:38). Die liefde wat Jesus vir die waarheid gehad het, word nie net in sy leringe gevind nie, maar in alles wat hy gedoen het.

12. Hoe het die apostel Paulus oor die goeie nuus gevoel?

12 Soos Jesus, het sy dissipels die waarheid omtrent Jehovah en Christus só liefgehad en waardeer dat teenstanders hulle nie kon ontmoedig om ander daarvan te vertel nie. Paulus het aan mede-Christene in Rome geskryf: “Ek [is] gretig om . . . die goeie nuus bekend te maak. Want ek skaam my nie vir die goeie nuus nie; dit is trouens God se krag tot redding vir elkeen wat geloof het” (Rom. 1:15, 16). Paulus het dit as ’n eer beskou om die waarheid te verkondig. Hy het geskryf: “Aan my . . . is hierdie onverdiende goedhartigheid gegee, sodat ek die goeie nuus oor die onpeilbare rykdom van die Christus aan die nasies bekend sou maak” (Ef. 3:8). Dit is nie moeilik om jou voor te stel hoe entoesiasties Paulus was terwyl hy ander van Jehovah en Sy voornemens geleer het nie.

13. Watter redes is daar om lief te wees vir die goeie nuus?

13 Die goeie nuus wat in God se Woord gevind word, stel ons in staat om die Skepper te leer ken en ’n liefdevolle verhouding met hom te geniet. Hierdie goeie nuus voorsien bevredigende antwoorde op die lewe se belangrike vrae en het die krag om ons lewe te verander, om ons met hoop te besiel en om ons in moeilike tye te versterk. Daarbenewens wys dit die weg na ’n sinvolle lewe wat nooit tot ’n einde sal kom nie. Daar is geen kennis wat kosbaarder of belangriker is as die goeie nuus nie. Dit is ’n gawe van onskatbare waarde wat aan ons gegee is en ons groot vreugde verskaf. En dit verskaf ons selfs groter vreugde wanneer ons hierdie gawe met ander deel.—Hand. 20:35.

14. Hoe kan ons ons liefde vir wat ons ander leer, vergroot?

14 Wat kan jy doen om jou liefde vir die goeie nuus selfs verder te vergroot? Wanneer jy God se Woord lees, kan jy soms stop om na te dink oor wat jy lees. Byvoorbeeld, stel jou voor dat jy Jesus tydens sy aardse bediening vergesel of dat jy saam met die apostel Paulus reis. Sien jouself in die nuwe wêreld, en dink aan hoe anders die lewe sal wees. Peins oor die seëninge wat jy al as gevolg van jou gehoorsaamheid aan die goeie nuus ontvang het. As jy jou liefde vir die goeie nuus sterk hou, sal diegene wat jy leer, hierdie liefde aanvoel. Dit is dus met goeie rede dat ons diep moet nadink oor wat ons geleer het en moet let op wat ons ander leer.—Lees 1 Timoteus 4:15, 16.

Ons moet lief wees vir mense

15. Waarom moet ’n onderrigter lief wees vir sy studente?

15 ’n Goeie onderrigter laat sy studente op hulle gemak voel sodat hulle gretig is om betrokke te wees by wat hulle leer en nie aarsel om hulle mening uit te spreek nie. ’n Liefdevolle onderrigter leer sy studente omdat hy werklik vir hulle omgee. Hy pas sy onderrigting aan by hulle behoeftes en hulle begripsvermoëns. Hy neem sy studente se vermoëns en omstandighede in ag. Wanneer onderrigters sulke liefde het, sal studente dit aanvoel en is die onderrig- en leerproses aangenaam.

16. Op watter maniere het Jesus liefde vir mense getoon?

16 Jesus het hierdie soort liefde getoon. Sy grootste liefdeblyk was om sy volmaakte menselewe op te offer sodat ander gered kon word (Joh. 15:13). Jesus het gedurende sy bediening onvermoeid na mense omgesien, fisies en veral geestelik. Hy het nie verwag dat mense na hom toe moes kom nie, maar het eerder honderde kilometer te voet gereis sodat hy hulle van die goeie nuus kon vertel (Matt. 4:23-25; Luk. 8:1). Hy was geduldig en simpatiek. Wanneer sy dissipels tereggewys moes word, het hy dit op liefdevolle wyse gedoen (Mark. 9:33-37). Hy het hulle aangemoedig deur die vertroue uit te spreek dat hulle bekwame verkondigers van die goeie nuus sou wees. Geen mens was nog ooit ’n liefdevoller onderrigter as Jesus nie. Die liefde wat hy vir sy dissipels getoon het, het hulle beweeg om vir hom lief te wees en om sy gebooie te onderhou.—Lees Johannes 14:15.

17. Hoe het Jesus se dissipels liefde vir ander getoon?

17 Soos Jesus, het sy dissipels innige liefde en geneentheid getoon vir dié vir wie hulle gepreek het. Ondanks vervolging en lewensgevaar het hulle ander gedien en daarin geslaag om die goeie nuus te verkondig. Watter geneentheid het hulle tog gevoel vir dié aan wie hulle geestelike hulp kon verleen! Die woorde van die apostel Paulus is inderdaad roerend: “Ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester. Omdat ons dan ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword.”—1 Tess. 2:7, 8.

18, 19. (a) Waarom is ons bereid om opofferings te maak om die predikingswerk te doen? (b) Gee ’n voorbeeld wat toelig dat die liefde wat ons toon, deur ander opgemerk word.

18 In hedendaagse tye deurkruis Jehovah se Getuies eweneens die aarde op soek na dié wat daarna smag om God te leer ken en hom te dien. Trouens, ons het die afgelope 17 jaar elke jaar meer as ’n miljard uur aan die predikings- en dissipelmaakwerk bestee—en ons hou vol met hierdie werk. Ons doen dit uit vrye wil, hoewel die predikingswerk vereis dat ons tyd, energie en materiële middele opoffer. Soos Jesus, weet ons dat ons liefdevolle hemelse Vader wil hê dat mense die kennis opdoen wat tot die ewige lewe lei (Joh. 17:3; 1 Tim. 2:3, 4). Liefde beweeg ons om opregtes van hart te help om Jehovah te leer ken en hom net so lief te hê soos ons hom het.

19 Die liefde wat ons toon, word deur ander opgemerk. ’n Pioniersuster in die Verenigde State skryf byvoorbeeld briewe om dié wat geliefdes aan die dood afgestaan het, te vertroos. Een man het aan haar teruggeskryf: “Ek was aanvanklik verras dat iemand soveel moeite sou doen om ’n brief aan ’n volslae vreemdeling te skryf om hom deur ’n moeilike tyd te help. Ek kan maar net tot die slotsom kom dat jy lief is vir jou medemens sowel as vir die God wat hom op die lewenspad rig.”

20. Hoe belangrik is dit om met liefde te onderrig?

20 Daar is al gesê dat ’n mens ’n meesterstuk kan verwag wanneer liefde en vaardigheid saam ingespan word. In ons onderrigting probeer ons ons studente help om hulle verstand met kennis van Jehovah en hulle hart met liefde vir hom te vul. Ja, om werklik bekwame onderrigters te wees, het ons ’n drievoudige liefde nodig—liefde vir God, liefde vir die waarheid en liefde vir mense. Wanneer ons hierdie soort liefde aankweek en dit in ons bediening toon, smaak ons nie net die vreugde wat dit meebring om te gee nie, maar put ons ook bevrediging uit die wete dat ons Jesus navolg en Jehovah behaag.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom is dit belangrik dat ons, wanneer ons ander die goeie nuus leer, . . .

lief is vir God?

lief is vir wat ons ander leer?

lief is vir diegene wat deur ons geleer word?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Waarom was Jesus se manier van leer anders as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs?

[Prent op bladsy 18]

Goeie onderrigting vereis kennis, vaardigheid en, bowenal, liefde