Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goeie godsdiens bevorder hoë sedelike standaarde

Goeie godsdiens bevorder hoë sedelike standaarde

GOEIE godsdiens verhef ons denke en wys ons hoe om ons gedrag te verbeter. Dit ondersteun ons in die stryd om te doen wat reg is en bring die beste in ons na vore. Hoe weet ons dat goeie godsdiens dit doen?

Let op wat die apostel Paulus geskryf het aan eerste-eeuse Christene wat in Korinte, Griekeland, gewoon het. Die mense in daardie stad was berug vir hulle onsedelike lewenswyse. Paulus het gewaarsku: “Geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.” Toe het Paulus bygevoeg: “En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God” (1 Korintiërs 6:9-11, NAB). Dink net—goeie godsdiens het sommige wat voorheen geen sedelike standaarde gehad het nie, gehelp om rein en regskape knegte van God te word!

Daarenteen waarsku die Bybel: “Daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”—2 Timoteus 4:3, NAB.

Hoe vaar die godsdienste wat jy ken, in hierdie opsig? Handhaaf hulle die Bybel se hoë sedelike standaarde? Of water hulle die duidelike raad in God se Woord af deur vir mense te sê net “wat hulle graag wil hoor”?

Neem gerus die tyd om die volgende vrae te beantwoord, wat jou sal help om te bepaal of ’n sekere godsdiens goeie vrugte voortbring.

ONDERWERP: Die huwelik.

WAT DIE BYBEL LEER:

“Almal moet die huwelik eer, en die man en vrou moet hulle huwelik rein hou. God sal diegene wat hulle aan seksuele sondes skuldig maak, veroordeel.”—Hebreërs 13:4, New Century Version.

VRAAG:

Vereis hierdie godsdiens van sy lidmate dat paartjies wat saamlewe, wettig getroud moet wees?

ONDERWERP: Egskeiding.

WAT DIE BYBEL LEER:

Toe Jesus gevra is of daar ooit gronde vir egskeiding is, het hy gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”—Matteus 19:9, OAB.

VRAAG:

Respekteer hierdie godsdiens Jesus se riglyne deur egskeiding en hertroue toe te laatmaar slegs op grond van onsedelikheid?

ONDERWERP: Geslagsonsedelikheid.

WAT DIE BYBEL LEER:

“Vlug vir geslagsonsedelikheid. Alle ander sondes wat ’n mens pleeg, is buite sy liggaam, maar hy wat ’n seksuele sonde pleeg, sondig teen sy eie liggaam.”—1 Korintiërs 6:18, New International Version.

“Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met  mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.”—Romeine 1:26, 27, NAB.

VRAAG:

Leer hierdie godsdiens dat geslagsonsedelikheid tussen ’n man en ’n vrou of tussen twee mense van dieselfde geslag ’n sonde is?

ONDERWERP: Moedige handhawing van Bybelstandaarde onder sy lidmate.

WAT DIE BYBEL LEER:

“Julle moenie omgaan met diegene wat sê dat hulle in Christus glo, maar wat hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig maak of gierig is of afgode aanbid of ander uitskel of dronk word of mense bedrieg nie. Moenie eers saam met sulke mense eet nie” (1 Korintiërs 5:11, New Century Version). Wat moet gebeur met diegene wat beweer dat hulle Christene is, maar wat onberouvolle sondaars is? “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit”, sê God se Woord.—1 Korintiërs 5:13, OAB.

VRAAG:

Verwyder hierdie godsdiens enigiemand wat Bybelstandaarde onberouvol ignoreer, van sy ledelys?

Watter godsdiens is daarvoor bekend dat dit die Bybel se hoë sedelike standaarde handhaaf?