Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goeie godsdiens bevorder respek vir God se Woord

Goeie godsdiens bevorder respek vir God se Woord

JESUS het respek vir God se Woord, die Bybel, bevorder. Dit kan duidelik gesien word in die manier waarop hy geantwoord het toe die Duiwel hom versoek het (Matteus 4:4-11). Hoe het Jesus byvoorbeeld gereageer toe Satan hom uitgedaag het om klippe in brode te verander? Jesus het die versoeking weerstaan deur Moses se geïnspireerde woorde aan te haal wat jy in Deuteronomium 8:3 kan lees. En hoe het Jesus geantwoord toe die Duiwel hom heerskappy oor al die koninkryke van die wêreld aangebied het in ruil vir net een daad van aanbidding? Hy het die aanbod geweier deur na ’n skriftuurlike beginsel te verwys wat jy in Deuteronomium 6:13 kan vind.

Dink net! Al was Jesus God se Seun, het hy nog steeds op die Bybel as sy gesag vertrou wanneer hy ander geleer het. En hy het beslis nooit God se Woord geïgnoreer deur voorkeur aan mensetradisies te gee nie (Johannes 7:16-18). Maar baie van die godsdiensleiers van Jesus se dag het nie dieselfde respek vir God se Woord gehad nie. Waarom nie? Hulle het toegelaat dat mensetradisies die Heilige Skrif oorskadu. Jesus het reguit vir daardie godsdienstige manne gesê: “Julle [ontneem] die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike. Huigelaars! Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom toe hy gesê het: ‘Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.’”—Matteus 15:6-9, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

 Baie van die wêreld se godsdienste, Christelik asook nie-Christelik, beweer dat hulle die Bybel respekteer. Maar hoeveel godsdienste ken jy wat mensetradisies verwerp wanneer dit nie met die duidelike leringe in God se Woord strook nie? Kyk na net twee voorbeelde.

ONDERWERP: Godsdienstitels.

WAT DIE BYBEL LEER:

Jesus het die godsdiensleiers van sy dag veroordeel weens hulle liefde vir titels en hulle begeerte na vernaamheid. Hy het gesê dat hierdie mans gehou het van “die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste sitplekke in die sinagoges en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel.”—Matteus 23:1-10, NAB.

VRAAG:

Hou die leiers van hierdie godsdiens daarvan om met eretitels aangespreek te word en streef hulle vernaamheid in die gemeenskap na, of gehoorsaam hulle Jesus se bevel om dit te vermy?

ONDERWERP: Die gebruik van beelde in aanbidding.

WAT DIE BYBEL LEER:

“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.”—Eksodus 20:4, 5, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Die apostel Johannes het aan Christene geskryf: “Julle moet wegbly van afgode.”—1 Johannes 5:21, Contemporary English Version.

VRAAG:

Gehoorsaam hierdie godsdiens die Bybel se duidelike bevel om die gebruik van beelde en afgode in die aanbidding van God te vermy?

Jy kan die regte pad vind

Ondanks die verstommende aantal godsdiensweë wat vandag beskikbaar is, kan jy die een vind wat na die lewe lei. Die “godsdiens wat rein en onbesmet voor God is”, het baie identifiserende kenmerke (Jakobus 1:27, New Revised Standard Version). Die tekste wat in hierdie artikels bespreek word, kan as padwysers dien om jou na hierdie godsdiens te rig.

Vra Jehovah se Getuies gerus om hulle antwoorde op die vrae wat in hierdie artikels geopper is, te verduidelik. Terwyl jy nadink oor wat hulle sê, kan jy die goeie voorbeeld volg van dié wat gedurende die eerste eeu in die stad Berea gewoon het. Nadat hulle die apostel Paulus hoor preek het, het hulle “die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê” (Handelinge 17:11, NAB). As jy, soos die Bereane, God se Woord respekteer en dit ywerig bestudeer, sal jy die weg na die lewe vind. Of jy dan daardie weg sal volg, is iets waaroor jy self moet besluit.

Watter godsdiens moedig mense aan om die Skrif te bestudeer om te sien of wat hulle leer, werklik waar is?