Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Jehovah het sy aangesig teenoor hulle laat skyn’

‘Jehovah het sy aangesig teenoor hulle laat skyn’

‘Jehovah het sy aangesig teenoor hulle laat skyn’

DIE mensegesig het meer as 30 spiere. Veertien spiere werk saam net om jou te laat glimlag! Stel jou voor hoe jou gesprekke sonder hierdie spiere sou wees. Aangenaam? Nouliks. Vir diegene wat doof is, doen die gesigspiere egter baie meer as om net gesprekke lewendig te maak. Wanneer dit met fisiese gebare gekombineer word, vorm dit ’n betekenisvolle manier om gedagtes en idees oor te dra. Baie mense het hulle al verwonder oor hoe gebaretaal selfs komplekse gedagtes, tesame met elke gevoelsnuanse, kan oordra.

In onlangse tye het dowes regoor die wêreld ’n aangesig begin aanskou wat baie uitdrukkingsvoller as enige mensegesig is. Figuurlik gesproke het hulle “die aangesig van Jehovah” begin sien (Klaagl. 2:19). Dit het nie per toeval gebeur nie. Jehovah toon lank reeds groot liefde vir die dowes. Hy het dit reeds in die eertydse nasie Israel getoon (Lev. 19:14). In hedendaagse tye is sy liefde vir die dowes ook baie duidelik. “[God] se wil . . . is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:4). Deur juiste kennis van die waarheid omtrent God op te doen, het baie dowes as ’t ware sy aangesig begin sien. Hoe het dit sonder die voordeel van die gesproke woord gebeur? Voordat ons hierdie vraag beantwoord, kan ons kyk waarom gebaretaal vir dowes so belangrik is.

Sien is hoor

Daar is baie wanopvattings oor dowe mense en gebaretaal. Kom ons ruim ’n paar uit die weg. Dowes kan motors bestuur. Liplees is vir hulle baie moeilik. Gebaretaal het niks in gemeen met braille nie, en dit is nie bloot gebarespel nie. Daar is nie een universele gebaretaal nie. Wat meer is, die gebaretaal van dowes uit verskillende streke het verskillende aksente.

Kan dowe mense lees? Hoewel party goed kan lees, sukkel die meeste dowes om te lees. Waarom? Omdat die gedrukte woord sy oorsprong by ’n gesproke taal het. Dink aan hoe ’n kind wat kan hoor, ’n taal leer. Van die oomblik dat die kind gebore word, is hy omring deur mense wat die plaaslike taal praat. Binne ’n kort tydjie kan hy woorde saamvoeg en sinne vorm. Dit kom van nature omdat die kind hoor hoe die taal gepraat word. Wanneer horende kinders dus begin lees, leer hulle dat die swart karakters op die bladsy ooreenstem met die klanke en woorde wat hulle reeds ken.

Stel jou nou voor dat jy in ’n vreemde land in ’n klankdigte glasvertrek is. Jy het nog nooit gehoor hoe die plaaslike taal gepraat word nie. Elke dag kom die plaaslike mense na jou toe en probeer deur die glas met jou praat. Jy kan nie hoor wat hulle sê nie. Jy sien net dat hulle lippe beweeg. Omdat hulle besef dat jy hulle nie verstaan nie, skryf hulle daardie selfde woorde op ’n stukkie papier neer en wys hulle deur die glas vir jou wat hulle geskryf het. Hulle dink dat jy dit moet kan verstaan. Hoe goed dink jy sal jy vaar? Jy sal kommunikasie in hierdie situasie byna onmoontlik vind. Waarom? Omdat die woorde wat neergeskryf is, ’n taal voorstel wat jy nog nooit gehoor het nie. Dit is presies die situasie waarin die meeste dowes hulle bevind.

Gebaretaal is ’n ideale vorm van kommunikasie vir ’n dowe persoon. In die ruimte om sy liggaam gebruik hy gebare om gedagtes oor te dra. Sy bewegings in hierdie ruimte tesame met sy gesigsuitdrukkings volg die grammatikareëls van gebaretaal. So kom ’n visuele taal te voorskyn wat dit moontlik maak om inligting oor te dra na die oë.

Trouens, byna elke beweging wat ’n dowe persoon met sy hande, liggaam en gesig maak terwyl hy kommunikeer, beteken iets. Gesigsuitdrukkings word nie gebruik net om dramaties te wees nie. Dit is ’n wesenlike deel van die grammatika van gebaretaal. Ter toeligting: As ’n persoon sy wenkbroue lig terwyl hy ’n vraag vra, kan dit dui op ’n retoriese vraag of op ’n vraag waarop ja of nee geantwoord moet word. As die wenkbroue saamgetrek word, kan dit dui op ’n vraag oor wie, wat, waar, wanneer, waarom of hoe. Sekere mondbewegings kan op die grootte van ’n voorwerp of die intensiteit van ’n handeling wys. Die manier waarop ’n dowe persoon sy kop beweeg, sy skouers optrek, sy wange beweeg en sy oë knip, voeg alles subtiele betekenisnuanses by die gedagte wat hy oordra.

Hierdie elemente werk saam om ’n taalfees vir die oë te skep. Hierdie ryk vorm van kommunikasie stel dowe mense wat gebaretaal goed ken, in staat om enige gedagte—van poëties tot tegnies, van romanties tot humoristies, van tasbaar tot abstrak—oor te dra.

Gebaretaalpublikasies maak ’n verskil

Wanneer die kennis van Jehovah visueel in gebaretaal oorgedra word, kan ’n dowe persoon die boodskap as ’t ware hoor en “geloof stel” in die Bron van die boodskap. Gevolglik het Jehovah se Getuies hulle ywerig ingespan om vir dowe mense regoor die wêreld te preek en materiaal te voorsien waarby hulle kan baat vind (Rom. 10:14). Regoor die wêreld is daar tans 58 gebaretaalvertaalspanne, en gebaretaalpublikasies op DVD is nou in 40 gebaretale beskikbaar. Was al hierdie werk die moeite werd?

Jeremy, wie se ouers albei doof is, sê: “Ek kan onthou hoe my pa ure in sy slaapkamer deurgebring het om net ’n paar paragrawe van ’n artikel in Die Wagtoring te bestudeer en dit te probeer verstaan. Skielik het hy uit die kamer gestorm en opgewonde in gebaretaal gesê: ‘Ek het dit! Ek het dit!’ Hy het toe die betekenis van die materiaal aan my verduidelik. Ek was toe net 12 jaar oud. Ek het gou na die paragrawe gekyk en in gebaretaal geantwoord: ‘Pa, ek dink nie dis wat dit beteken nie. Dit is . . . ’ Hy het gewys dat ek moet stop en het teruggegaan na sy kamer toe om die betekenis van die geskrewe teks self uit te pluis. Ek sal nooit die teleurstelling op sy gesig vergeet, asook die bewondering wat ek vir hom gevoel het terwyl ek gekyk het hoe hy na sy slaapkamer terugloop nie. Maar gebaretaalpublikasies op DVD het dit nou vir hom moontlik gemaak om die inligting baie beter te verstaan. Om te sien hoe sy gesig verhelder wanneer hy vertel hoe hy oor Jehovah voel, is iets wat ek nie as vanselfsprekend aanneem nie.”

Beskou ook die ondervinding van ’n Getuie-egpaar wat met Jessenia, ’n jong dowe vrou in Chili, gepraat het. Nadat Jessenia se ma hulle toestemming gegee het om vir haar My boek met Bybelverhale—op DVD in Chileense Gebaretaal te wys, het hulle vertel: “Toe Jessenia na die verhaal begin kyk, het sy begin lag en daarna begin huil. Toe haar ma haar vra waarom sy huil, het sy geantwoord dat dit is omdat sy hou van wat sy sien. Haar ma het toe besef dat sy alles op die DVD kon verstaan.”

’n Dowe vrou wat in ’n landelike gebied in Venezuela woon, het een kind gehad, en sy was swanger met ’n tweede kind. Sy en haar man het gemeen dat hulle nie nog ’n kind kon bekostig nie en het dus ’n aborsie oorweeg. Onbewus van hulle situasie het Jehovah se Getuies hulle besoek en les 12 van die video Wat vereis God van ons? in Venezolaanse Gebaretaal vir hulle gewys. Hierdie les verduidelik God se beskouing van aborsie en moord. Later het die vrou vir die Getuies vertel hoe dankbaar sy is dat sy daardie les gesien het. Sy het gesê dat hulle as gevolg daarvan teen ’n aborsie besluit het. ’n Lewe is gered met die hulp van ’n gebaretaalpublikasie op DVD!

Lorraine, ’n dowe Getuie, verduidelik: “Om die Bybel te leer, was soos om ’n groot legkaart te bou. Daar was gapings—stukkies wat ontbreek het—in my begrip van die geheelbeeld. Maar toe Bybelwaarhede meer geredelik in gebaretaal beskikbaar geword het, is die gapings gevul.” George, wat doof is en al 38 jaar lank ’n Getuie is, sê: “Dit ly geen twyfel nie dat die vermoë om iets self te verstaan, jou ’n mate van selfrespek en selfvertroue gee. Ek dink dat die gebaretaal-DVD’s die grootste invloed op my gehad het wat my geestelike groei betref.”

“’n Vergadering in my eie taal!”

Benewens gebaretaalpublikasies het Jehovah se Getuies gemeentes georganiseer waar vergaderinge uitsluitlik in gebaretaal gehou word. Tans is daar meer as 1 100 gebaretaalgemeentes regoor die wêreld. Die dowe gehoor word in hulle taal onderrig, en Bybelwaarhede word aangebied soos ’n dowe persoon dink—in sy taal. Dit word oorgedra op ’n manier wat respek vir sy kultuur en lewensondervinding toon.

Het dit voordele gehad om gebaretaalgemeentes te stig? Beskou die ondervinding van Cyril, wat in 1955 as een van Jehovah se Getuies gedoop is. Hy het jare lank die gedrukte publikasies na die beste van sy vermoë bestudeer en Christelike vergaderinge getrou bygewoon. Soms was tolke beskikbaar en soms nie. Wanneer daar geen tolke was nie, het hy staatgemaak op Getuies wat hom liefdevol probeer help het deur aantekeninge te maak van wat van die verhoog af gesê is. Eers in 1989, toe hy al sowat 34 jaar lank ’n Getuie was, is die eerste gebaretaalgemeente in die Verenigde State in New York-stad gestig. Hoe het Cyril as ’n lid van hierdie gemeente gevoel? “Dit was soos om uit die woud te kom, uit ’n donker tonnel tot in die lig. ’n Vergadering in my eie taal!”

Gebaretaalgemeentes van Jehovah se Getuies is plekke waar dowes gereeld saam kan vergader om van God te leer en hom te aanbid. Dit is plekke waar God se knegte emosioneel kan floreer. In ’n wêreld waar dowe mense op taal- en sosiale gebied afgesonder kan word, is hierdie gemeentes toevlugsoorde van kommunikasie en assosiasie. In hierdie milieu kan dowe mense leer, groei en meer doen in hulle diens aan Jehovah. Talle dowe Getuies dien as voltydse evangeliedienaars. Party het na ander lande getrek om dowes te help om van Jehovah te leer. Dowe Christenmans leer om bekwame onderrigters, organiseerders en herders te word, wat dit vir baie van hulle moontlik maak om aan die vereistes te voldoen om na verantwoordelikhede in die gemeente om te sien.

In die Verenigde State is daar meer as 100 gebaretaalgemeentes en omtrent 80 groepe. In Brasilië is daar ongeveer 300 gebaretaalgemeentes en meer as 400 groepe. Daar is byna 300 gebaretaalgemeentes in Mexiko. Rusland het meer as 30 gebaretaalgemeentes en 113 groepe. Dit is maar net ’n paar voorbeelde van die groei wat wêreldwyd plaasvind.

Jehovah se Getuies hou ook byeenkomste in gebaretaal. Verlede jaar is meer as 120 byeenkomste regoor die wêreld in talle verskillende gebaretale gehou. Hierdie geleenthede help dowe Getuies om te sien dat hulle deel is van ’n wêreldwye Christenbroederskap wat by tydige geestelike voedsel baat vind.

Leonard is doof en is al meer as 25 jaar lank een van Jehovah se Getuies. Hy vertel: “Ek het nog altyd geweet dat Jehovah die ware God is. Maar ek het nooit regtig verstaan waarom hy lyding toelaat nie. Soms was ek vir hom kwaad daaroor. Maar tydens ’n spesifieke toespraak by ’n streekbyeenkoms in gebaretaal het ek uiteindelik die geskille verstaan wat daarby betrokke is. Ná die toespraak het my vrou haar elmboog in my sy gedruk en gevra: ‘Voel jy nou tevrede?’ Ek kon eerlikwaar ja sê! Ná 25 jaar is ek dankbaar dat ek Jehovah nooit verlaat het nie. Ek was nog altyd lief vir hom, maar kon hom nie ten volle verstaan nie. Vandag verstaan ek hom wel!”

Opreg dankbaar

Watter “uitdrukkings” sien dowes op Jehovah se aangesig wanneer hulle van hom leer? Liefde, medelye, geregtigheid, lojaliteit, liefderyke goedhartigheid—en baie meer.

Die internasionale dowe gemeenskap van Getuies sien die aangesig van Jehovah en sal dit selfs nog duideliker sien. Met liefde in sy hart vir die dowes het ‘Jehovah sy aangesig teenoor hulle laat skyn’ (Num. 6:25). Hoe dankbaar is hierdie dowes tog dat hulle Jehovah leer ken het!

[Prente op bladsy 24, 25]

Regoor die wêreld is daar meer as 1 100 gebaretaalgemeentes

[Prente op bladsy 26

Jehovah se aangesig het helder op die dowe veld geskyn