Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vermy afleidings in hierdie “dag van goeie nuus”

Vermy afleidings in hierdie “dag van goeie nuus”

Vermy afleidings in hierdie “dag van goeie nuus”

DIE vier melaatses het hulle opsies oorweeg. Niemand het vir hulle aalmoese by die stadspoort gegee nie. Die Siriese beleg het die mense in Samaria uitgehonger. Dit sou nie help om in die stad in te gaan nie; kospryse was buitensporig. ’n Geval van kannibalisme was reeds aangemeld.—2 Kon. 6:24-29.

‘Waarom gaan ons nie na die Siriese kamp nie?’ het die melaatses gedink. ‘Ons het niks om te verloor nie.’ Hulle het onder die sluier van die nag vertrek. Toe hulle by die kamp aankom, was dit stil. Daar was geen wagte nie. Perde en esels het vasgemaak gestaan, maar daar was geen soldate nie. Die vier het by ’n tent ingeloer. Daar was niemand nie, maar daar was volop kos en drank. Hulle het hulleself gehelp. Die melaatses het ook goud, silwer, kledingstukke en ander waardevolle dinge gesien. Hulle het dit weggedra, weggesteek en teruggekom om nog te kry. Die hele kamp was verlate. Jehovah het die Siriërs op wonderdadige wyse die geluid van ’n krygsmag laat hoor. Die Siriërs het gedink dat hulle aangeval word en het te voet op die vlug geslaan. Alles is net daar gelos!

Die melaatses het al hoe meer waardevolle items gaan wegsteek. Maar die gedagte aan die naburige Samaria wat van die honger omkom, het hulle gewete begin pla. Hulle het vir mekaar begin sê: “Wat ons doen, is nie reg nie. Hierdie dag is ’n dag van goeie nuus!” Die melaatses het hulle na Samaria teruggehaas en die goeie nuus van hulle vonds oorgedra.—2 Kon. 7:1-11.

Ons lewe ook in wat “’n dag van goeie nuus” genoem kan word. Jesus het na ’n uitsonderlike kenmerk van “die teken . . . van die voleinding van die stelsel van dinge” verwys en gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:3, 14). Watter uitwerking moet dit op ons hê?

Persoonlike sorge kan ’n swaar las wees

Die melaatses was so verheug oor hulle vonds dat hulle tydelik van Samaria vergeet het. Hulle het gekonsentreer op wat hulle kon kry. Kan iets soortgelyks met ons gebeur? “Voedseltekorte” maak deel uit van die saamgestelde teken wat die tyd van die voleinding van die stelsel van dinge kenmerk (Luk. 21:7, 11). Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe [nie]” (Luk. 21:34). As Christene moet versigtig wees om nie toe te laat dat persoonlike sorge oor die daaglikse lewe ons laat vergeet dat ons in “’n dag van goeie nuus” lewe nie.

’n Christen met die naam Blessing het nie toegelaat dat persoonlike belange ’n swaar las word nie. Sy het as ’n pionier gedien, ’n opleidingskursus voltooi, uiteindelik met ’n Betheliet getrou en ’n lid van die Bethelgesin in Benin geword. Sy sê: “Ek maak kamers skoon en geniet my toewysing baie.” Blessing kan nou met vreugde terugkyk op 12 jaar in die voltydse diens en bly wees dat sy haar oë gevestig gehou het op die “dag van goeie nuus” waarin ons nou lewe.

Waak teen tydrowende afleidings

Toe Jesus 70 dissipels uitgestuur het, het hy gesê: “Die oes is werklik groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Luk. 10:2). Net soos ’n versuim om op die regte tyd te oes, tot ’n verlies kan lei, kan ’n versuim om die predikingswerk te doen, tot lewensverlies lei. Jesus het dus bygevoeg: “Moet niemand langs die pad met ’n omhelsing groet nie” (Luk. 10:4). In die oorspronklike taal kan die woord vir “groet” meer as net ’n blote “hallo” of “goeiedag” beteken. Dit kan ook die omhelsings en lang gesprekke insluit wat kan volg wanneer ons ’n vriend ontmoet. So het Jesus sy volgelinge beveel om onnodige afleidings te vermy en hulle tyd ten beste te benut. Die boodskap wat hulle moes verkondig, was dringend.

Dink aan al die tyd wat afleidings in beslag kan neem. Jare lank is die televisie in baie gebiede as die grootste tydverkwister beskou. Maar wat van selfone en persoonlike rekenaars? ’n Opname onder 1 000 volwassenes in Brittanje het bevind dat “die gemiddelde Brit 88 minute per dag bestee aan landlynoproepe, ’n verdere 62 minute aan selfoonoproepe, 53 minute aan e-posse en 22 minute aan SMS’e”. Dit kom neer op meer as twee keer soveel tyd as wat ’n hulppionier elke dag aan die bediening wy! Hoe vaar jy wat jou kommunikasiegewoontes betref?

Ernst en Hildegard Seliger het gelet op hoe hulle hulle tyd gebruik. Tussen hulle twee het hulle meer as 40 jaar in Nazi-konsentrasiekampe en Kommunistiese tronke deurgebring. Nadat hulle vrygelaat is, het hulle as pioniers gedien totdat hulle hulle aardse loopbaan voltooi het.

Baie mense wou met die Seligers korrespondeer. Die egpaar kon die grootste deel van hulle dag aan die lees en skryf van briewe bestee het. Maar hulle het eerder geestelike sake eerste in hulle lewe gestel.

Ons almal wil natuurlik graag met ons geliefdes in aanraking bly, en daar is niks mee verkeerd nie. Goed gekose afwisselings in ons daaglikse roetine is nuttig. Dit sal nietemin wys wees om daarop te let dat ons tydrowende afleidings beperk gedurende hierdie dag waarin die goeie nuus verkondig moet word.

Verkondig die goeie nuus deeglik

Wat ’n seën is dit tog om in “’n dag van goeie nuus” te lewe. Laat ons daarop let dat ons aandag nie afgelei word soos aanvanklik met die vier melaatses gebeur het nie. Onthou dat hulle tot die slotsom gekom het: “Wat ons doen, is nie reg nie.” Dit is eweneens nie reg van ons om toe te laat dat persoonlike strewes of tydrowende afleidings ons verhinder om ’n volle aandeel aan die bediening te hê nie.

In dié verband het ons ’n uitstekende voorbeeld om na te volg. Die apostel Paulus het teruggedink aan die eerste 20 jaar van sy bediening en geskryf: “[Ek het] die goeie nuus oor die Christus deeglik verkondig” (Rom. 15:19). Paulus het nie toegelaat dat enigiets sy ywer laat verflou nie. Laat ons net so ywerig soos hy wees terwyl ons die Koninkryksboodskap in hierdie “dag van goeie nuus” verkondig.

[Prent op bladsy 28]

Blessing het nie toegelaat dat persoonlike belange met haar voltydse diens inmeng nie

[Prent op bladsy 29]

Die Seligers het gelet op hoe hulle hulle tyd gebruik