Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy voorheen gedien? Kan jy weer dien?

Het jy voorheen gedien? Kan jy weer dien?

Het jy voorheen gedien? Kan jy weer dien?

HET jy voorheen in ’n verantwoordelike posisie in die Christengemeente gedien? Dalk was jy ’n bedieningskneg of ’n ouer man. Of jy was moontlik in die een of ander vorm van voltydse diens. Jy het ongetwyfeld vreugde en diepe bevrediging uit jou toewysings geput, maar moes dit toe om die een of ander rede opgee.

Dalk het jy van jou voorreg afstand gedoen sodat jy vir gesinslede kon sorg. Aan die ander kant het bejaardheid of swak gesondheid dalk ’n rol gespeel. Sulke besluite beteken nie dat jy misluk het nie (1 Tim. 5:8). In die eerste eeu het Filippus as ’n sendeling gedien, maar hy het hom later in Sesarea gevestig waar hy vir sy gesin gesorg het (Hand. 21:8, 9). Op sy oudag het koning Dawid van eertydse Israel gereël dat sy seun Salomo hom as koning opvolg (1 Kon. 1:1, 32-35). Jehovah het Filippus en Dawid steeds liefgehad en waardeer, en hulle word tot vandag toe nog gerespekteer.

Maar moontlik het jy ’n diensvoorreg verloor. Het onwyse gedrag ’n rol gespeel? Of was gesinsprobleme daarby betrokke? (1 Tim. 3:2, 4, 10, 12). Jy het dalk selfs nie saamgestem dat hierdie optrede nodig was nie, en jy voel miskien tot vandag toe nog gegrief daaroor.

Jy kan daarna streef om weer te dien

Is die verlies van ’n diensvoorreg onomkeerbaar? In die meeste gevalle is dit nie. Maar om weer te dien, moet jy dit graag wil doen (1 Tim. 3:1). Waarom dié begeerte hê? Om dieselfde rede dat jy jou aan God toegewy het—liefde vir Jehovah en vir dié wat hom dien. As jy bereid is om hierdie liefde te toon deur weer te dien, sal Jehovah die ondervinding wat jy opgedoen het voordat en nadat jy jou voorreg verloor het, kan gebruik.

Dink aan die versekering wat Jehovah vir Israel gegee het nadat dié nasie tereg hulle diensvoorregte verloor het. Sy Woord sê: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie. En julle is kinders van Jakob; julle het nie aan julle einde gekom nie” (Mal. 3:6). Jehovah het die Israeliete liefgehad en wou hulle verder gebruik. Hy wil jou net so graag in die toekoms gebruik. Wat kan jy in jou huidige omstandighede doen? Om na teokratiese belange om te sien, hang meer van geestelike gesondheid as van natuurlike vermoëns af. Terwyl jy dus nie bykomende verantwoordelikhede in die gemeente het nie, moet jy jou daarop toelê om jou geestelikheid te versterk.

Om ‘sterk te word’ in die geloof, moet jy ‘Jehovah en sy sterkte soek’ (1 Kor. 16:13; Ps. 105:4). Een manier om dit te doen, is deur hartgrondige gebed. Wanneer jy jou situasie aan Jehovah beskryf, moet jy vir hom sê hoe jy voel en hom vra vir sy gees. Deur dit te doen, sal jy nader aan Jehovah kom, en dit sal jou standvastig maak (Ps. 62:8; Fil. 4:6, 13). Nog ’n manier om jou geestelikheid te versterk, is deur jou studie van God se Woord te verbeter. Terwyl jy nou minder verantwoordelikhede het, sal jy miskien meer kan doen wat persoonlike en gesinstudie betref, dalk deur weer in ’n roetine te kom wat voorheen moeilik was om vol te hou.

Jy verteenwoordig Jehovah natuurlik nog steeds as een van sy Getuies (Jes. 43:10-12). Die grootste voorreg wat enigeen van ons kan hê, is om een van “God se medewerkers” te wees (1 Kor. 3:9). ’n Groter deelname aan velddiens is ’n uitstekende manier om jou eie geestelikheid en dié van jou metgeselle in die bediening op te bou.

Hoe om jou gevoelens te verwerk

Dit kan ’n mens skaam of spyt laat voel as jy ’n diensvoorreg verloor. Jy is miskien geneig om jou optrede te regverdig. Maar gestel verantwoordelike broers het na jou redes geluister, maar nog steeds gevoel dat jy nie ’n sekere voorreg moet behou nie. Negatiewe gevoelens kan voortduur en jou verhinder om weer na diensvoorregte te streef of dit selfs vir jou moeilik maak om uit die ondervinding te leer. Kom ons kyk hoe die ondervindinge van Job, Manasse en Josef ’n mens kan help om negatiewe gevoelens die hoof te bied.

Job het ander voor Jehovah verteenwoordig en het as ’n ouer man en ’n regter in ’n patriargale gemeenskap gedien (Job 1:5; 29:7-17, 21-25). Toe, op ’n kritieke tyd in sy lewe, het Job sy rykdom, sy kinders en sy gesondheid verloor. Daarmee saam het hy ook sy aansien in die oë van ander verloor. “Hulle [het] my uitgelag”, het Job gesê, “dié wat jonger in dae is as ek.”—Job 30:1.

Job het gevoel dat hy heeltemal onskuldig is en wou hom voor God verdedig (Job 13:15). Tog was Job bereid om op Jehovah te wag, en dit het goeie vrugte afgewerp. Hy het geleer dat hy wel teregwysing nodig gehad het, veral vir sy reaksies op die toets wat hy ondergaan het (Job 40:6-8; 42:3, 6). Job se nederigheid het uiteindelik daartoe gelei dat God hom oorvloedig geseën het.—Job 42:10-13.

As jy ’n diensvoorreg weens ’n oortreding verloor het, wonder jy dalk of Jehovah en jou Christenbroers dit ooit werklik sal vergewe en vergeet. Wel, dink aan die geval van koning Manasse van Juda. Hy “het op groot skaal gedoen wat sleg was in Jehovah se oë, om hom aanstoot te gee” (2 Kon. 21:6). Maar teen die tyd dat Manasse gesterf het, was hy ’n getroue man wat weer as koning geheers het. Hoe het dit gebeur?

Manasse het uiteindelik op dissipline gereageer. Nadat hy waarskuwings geïgnoreer het, het Jehovah die Assiriërs teen hom gebring, wat hom geboei en in ballingskap na verafgeleë Babilon weggevoer het. Daar het Manasse “die aangesig van Jehovah sy God versag en hom grootliks bly verneder weens die God van sy voorvaders. En hy het tot Hom bly bid.” Hartgrondige berou het tot die regte dade gelei, en Manasse is vergewe.—2 Kron. 33:12, 13.

Verlore voorregte word selde almal op dieselfde tyd herstel. Maar mettertyd ontvang jy dalk weer sekere beperkte verantwoordelikhede. As jy dit aanvaar en jou bes doen, sal dit dikwels tot verdere toewysings lei. Dit beteken nie dat dit maklik sal wees nie. Daar kan terugslae wees. Maar ’n gewillige gees en volharding bring goeie vrugte voort.

Neem die voorbeeld van Jakob se seun Josef. Toe Josef 17 was, het sy broers hom ten onregte as ’n slaaf verkoop (Gen. 37:2, 26-28). Dit was beslis nie die soort behandeling wat hy van die seuns van sy vader verwag het nie. Maar hy was bereid om hierdie omstandighede te aanvaar, en met Jehovah se seën is hy “oor die huis van sy heer” aangestel (Gen. 39:2). Later is Josef in die tronk gegooi. Maar hy het getrou gebly, en Jehovah was met hom sodat hy later na sake in die gevangenis omgesien het.—Gen. 39:21-23.

Josef het nie geweet dat dit alles ’n doel sou dien nie. Hy het bloot aangehou om te doen wat hy kon. Jehovah kon hom dus gebruik om die geslagslyn wat tot die beloofde Saad sou lei, behoue te laat bly (Gen. 3:15; 45:5-8). Hoewel nie een van ons kan verwag om so ’n belangrike rol soos Josef te speel nie, toon die geïnspireerde verslag dat Jehovah ’n hand het in die voorregte wat Sy knegte ontvang. Hou die geleentheid oop deur Josef na te volg.

Leer uit moeilike ondervindinge

Job, Manasse en Josef het ontmoedigende ondervindinge deurgemaak. Al drie manne het aanvaar wat Jehovah toegelaat het en elkeen van hulle het waardevolle lesse geleer. Wat kan jy leer?

Let op wat Jehovah jou dalk probeer leer. Toe Job wanhopig gevoel het, het hy egosentries geword en groter geskille uit die oog verloor. Maar met Jehovah se liefdevolle teregwysing het hy sy balans herwin en erken: “Ek [het] gepraat, maar sonder om begrip te hê” (Job 42:3). As jy seergemaak voel omdat jy voorregte verloor het, moet jy ‘nie meer van jouself dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar só dink dat jy ’n gesonde verstand het’ (Rom. 12:3). Jehovah probeer jou moontlik reghelp op ’n manier wat jy nog nie ten volle verstaan nie.

Aanvaar dissipline. Manasse het dalk aanvanklik gevoel dat hy nie heeltemal so ’n streng teregwysing verdien het nie. Nogtans het hy dit aanvaar, berou getoon en sy verkeerde weg verlaat. Ongeag hoe jy voel oor die dissipline wat jy ontvang het, jy moet ‘jou verneder in die oë van Jehovah, en hy sal jou verhef’.—1 Pet. 5:6; Jak. 4:10.

Wees geduldig en gewillig. Josef se ondervindinge kon hom maklik gevoelens van haat en wraak laat koester het. Maar hy het eerder insig en barmhartigheid aangekweek (Gen. 50:15-21). As jy teleurgestel is, wees geduldig. Wees bereid om deur Jehovah opgelei te word.

Het jy voorheen in ’n verantwoordelike posisie in die Christengemeente gedien? Gee Jehovah die geleentheid om toekomstige voorregte aan jou toe te vertrou. Versterk jou geestelikheid. Temper jou gevoelens met geduld en nederigheid. Aanvaar enige toewysings wat aan jou gegee word, met ’n gewillige gees. Wees verseker dat “Jehovah . . . niks goeds [sal] terughou van dié wat in onberispelikheid wandel nie”.—Ps. 84:11.

[Lokteks op bladsy 30]

Word sterk in die geloof deur middel van hartgrondige gebed

[Prent op bladsy 31]

’n Groter deelname aan velddiens is ’n uitstekende manier om jou eie geestelikheid op te bou

[Prent op bladsy 32]

Gee Jehovah die geleentheid om toekomstige voorregte aan jou toe te vertrou