Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verborge skatte word ontdek

Verborge skatte word ontdek

Verborge skatte word ontdek

HET jy al ooit ’n verborge skat op ’n onwaarskynlike plek ontdek? Dit het op 27 Maart 2005 met Ivo Laud, een van Jehovah se Getuies in Estland, gebeur. Hy het Alma Vardja, ’n bejaarde mede-Getuie, gehelp om ’n ou skuurtjie af te breek. Terwyl hulle die buitemuur verwyder het, het hulle ’n plank gesien wat die een kant van ’n pilaar bedek het. Toe hulle die plank verwyder, het hulle ’n gleuf gevind wat omtrent 10 sentimeter breed, 1,2 meter lank en 10 sentimeter diep was en met ’n soortgelyke stuk hout bedek is. (1) ’n Wegsteekplek vol verborge skatte! Wat was die skatte? Wie het dit daar weggesteek?

In die wegsteekplek was ’n hele paar pakkies wat sorgvuldig in dik papier toegedraai is. (2) Die pakkies het lektuur van Jehovah se Getuies bevat, meestal Wagtoring-studieartikels, insluitende ’n paar van 1947. (3) Dit is met groot sorg met die hand in Estnies oorgeskryf. Party van die pakkies het leidrade bevat oor wie die materiaal daar weggesteek het, naamlik verslae van ondervragings van Alma se man, Villem Vardja. Daar was ook inligting oor sy jare in die tronk. Waarom is hy opgesluit?

Villem Vardja het as ’n verantwoordelike kneg gedien onder die Getuies in die Tartu-gemeente en later in die Otepää-gemeente in Estland, een van die voormalige Sosialistiese Sowjetrepublieke. Hy het blykbaar die een of ander tyd voor die Tweede Wêreldoorlog Bybelwaarheid geleer. ’n Paar jaar later, op 24 Desember 1948, het die Kommunistiese regime broer Vardja weens sy godsdiensbedrywighede in hegtenis laat neem. Die geheime polisie het hom ondervra en mishandel toe hulle hom probeer dwing het om die name van sy medegelowiges te verklap. Nadat hy die geleentheid ontsê is om hom in die hof te verdedig, is hy tot tien jaar tronkstraf in Russiese kampe gevonnis.

Villem Vardja was getrou aan Jehovah tot sy dood op 6 Maart 1990. Sy vrou het glad nie van die lektuurvoorraad geweet nie. Hy wou haar seker beskerm ingeval sy ondervra word. Waarom moes hy die lektuur wegsteek? Hy het dit weggesteek omdat die Russiese Geheime Polisie, die KGB, dikwels die huise van Jehovah se Getuies onverwags deursoek het om godsdienspublikasies te kry. Broer Vardja het die lektuur waarskynlik weggesteek om te verseker dat ’n voorraad geestelike voedsel vir medegelowiges beskikbaar sou wees ingeval die KGB al hulle lektuur konfiskeer. Ander wegsteekplekke met lektuur is vroeër, in die noordelike somer van 1990, gevind. Een is in Tartu, Suid-Estland, ontdek. Dit is ook deur Villem Vardja weggesteek.

Waarom noem ons hierdie dokumente skatte? Omdat hierdie kopieë wat met groot sorg met die hand oorgeskryf en versigtig weggesteek is, boekdele spreek van die waardering wat die Getuies gehad het vir die geestelike voedsel wat destyds beskikbaar was (Matt. 24:45). Waardeer jy die geestelike voorsienings wat jy nou in jou omgewing kan ontvang? Een hiervan is Die Wagtoring in Estnies en meer as 170 ander tale.