Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy dit geniet om onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

• Is ’n opstanding moontlik as ’n ontwikkelende baba voor geboorte sterf?

Die lewe begin by bevrugting. Jehovah kan persone opwek ongeag op watter stadium van hulle lewe hulle gesterf het, want “by God is alles moontlik” (Mark. 10:27). Maar die Bybel sê nie uitdruklik of hy ongebore babas wat in die baarmoeder gesterf het, sal opwek nie.—4/15, bladsye 12, 13.

• Waarom kan ons daarby baat vind om te let op miere, dassies, sprinkane en geitjies?

Hierdie vier skepsele openbaar instinktiewe wysheid. Hulle verheerlik dus God se wysheid (Spr. 30:24-28).—4/15, bladsye 16-19.

• Watter belangrike gebeurtenis vir Jehovah se Getuies het 100 jaar gelede plaasgevind?

In 1909 is die hoofkwartier van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die wetlike korporasie van die uitgewersorganisasie wat Jehovah se Getuies gebruik, van Pittsburgh, Pennsilvanië, na Brooklyn, New York, verskuif, waar dit nog steeds funksioneer.—5/1, bladsye 22-24.

• Waarom sê die Bybel dat dit goed is om te swyg?

Dit toon dat swye ’n teken van respek sowel as ’n blyk van verstandigheid en onderskeidingsvermoë is en dat stilte ’n hulp tot bepeinsing is (Ps. 37:7; 63:6; Spr. 11:12).—5/15, bladsye 3-5.

• Wat het John Wycliffe, William Tyndale, Robert Morrison en Adoniram Judson in gemeen?

Hulle het almal ’n liefde vir God se Woord gehad en dit vertaal in tale wat gewone mense kon lees. Wycliffe en Tyndale het dit in Engels vertaal, Morrison in Chinees en Judson in Birmaans (Mianmar).—6/1, bladsye 8-11.

• Hoeveel Judese konings het uitsonderlike ywer vir God se huis getoon?

Negentien konings het oor die suidelike koninkryk van Juda regeer, waarvan vier noemenswaardige ywer vir God se huis getoon het—Asa, Josafat, Hiskia en Josia.—6/15, bladsye 7-11.

• Is alle gesalfde Christene op aarde betrokke by die voorsiening van geestelike voedsel?

Nee. Almal wat met God se gees gesalf is, is deel van die “getroue en verstandige slaaf”-klas, maar diegene wat die Bestuursliggaam uitmaak, hou toesig oor die geestelike voedingsprogram.—6/15, bladsye 22-24.

• Waarom was Jesus se onderkleed so spesiaal vir die Romeinse soldate?

Die soldate by Jesus se teregstelling het nie sy kleed in stukke verdeel nie. Gewoonlik is so ’n tuniek gemaak deur twee stukke lap aanmekaar vas te werk, maar Jesus se kleed het geen nate gehad nie, wat dit waardevoller gemaak het.—7/1, bladsy 22.

• Waarom kan daar gesê word dat liefde ’n sleuteleienskap was wat Jesus se benadering anders as die godsdiensleiers s’n gemaak het?

Hierdie leiers het nie die gewone mense liefgehad nie, maar hulle eerder verag. Wat meer is, hulle het God ook nie liefgehad nie. Jesus het sy Vader liefgehad en is beweeg deur innige jammerte vir die mense (Matt. 9:36). Hy was hartlik, medelydend en goedhartig teenoor hulle.—7/15, bladsy 15.

• Waarom kan die hantering van geldsake ’n uitdaging in die huwelik wees, en wat kan egpare help om suksesvol te wees?

Meningsverskille oor geld hou dikwels verband met vertroue of vrees, en huweliksmaats het dalk verskillende agtergronde. Vier sleutels tot sukses is: Leer om kalm oor geld te praat, kom ooreen oor hoe inkomste beskou moet word, stel ’n gesinsbegroting op en besluit wie wat sal doen.—8/1, bladsye 10-12.