Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees gehoorsaam en moedig soos Christus was

Wees gehoorsaam en moedig soos Christus was

Wees gehoorsaam en moedig soos Christus was

“Skep moed! Ek het die wêreld oorwin.”—JOH. 16:33.

1. Hoe volkome was Jesus se gehoorsaamheid aan God?

 JESUS CHRISTUS het te alle tye God se wil gedoen. Hy het dit nie eens een keer oorweeg om ongehoorsaam aan sy hemelse Vader te wees nie (Joh. 4:34; Heb. 7:26). Maar sy omstandighede op aarde het dit nie vir hom maklik gemaak om gehoorsaam te wees nie. Van die begin van sy predikingsloopbaan af het Jesus se vyande, waaronder Satan self, Jesus probeer oorhaal, dwing of mislei om af te sien van sy weg van getrouheid (Matt. 4:1-11; Luk. 20:20-25). Hierdie vyande het Jesus intense verstandelike, emosionele en fisiese pyn laat deurmaak. Hulle het uiteindelik daarin geslaag om hom aan die folterpaal te laat sterf (Matt. 26:37, 38; Luk. 22:44; Joh. 19:1, 17, 18). Deur dit alles heen, en ten spyte van hewige lyding, het Jesus “gehoorsaam [gebly] tot in die dood”.—Lees Filippense 2:8.

2, 3. Wat kan ons by Jesus leer oor gehoorsaamheid ondanks lyding?

2 Jesus se ondervinding as ’n mens op aarde het hom nuwe aspekte van gehoorsaamheid geleer (Heb. 5:8). Dit lyk dalk of daar niks meer was wat Jesus oor diens aan Jehovah kon leer nie. Hy het immers ongekende eeue lank intieme assosiasie met Jehovah geniet en was God se “meesterwerker” gedurende die skepping (Spr. 8:30). Nietemin het hy, deur as ’n mens in geloof te volhard ten spyte van lyding, sy volkome onkreukbaarheid bewys. Jesus, die Seun van God, het geestelik gegroei. Wat kan ons uit sy ondervinding leer?

3 Hoewel hy ’n volmaakte mens was, het Jesus nie in sy eie krag volmaakte gehoorsaamheid probeer handhaaf nie. Hy het tot God gebid vir hulp om gehoorsaam te bly. (Lees Hebreërs 5:7.) As óns gehoorsaam wil bly, moet ons ook ’n nederige, biddende gesindheid aan die dag lê. Daarom het die apostel Paulus Christene vermaan: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was,” wat “homself verneder en gehoorsaam geword [het] tot in die dood” (Fil. 2:5-8). Jesus se lewenswandel het bewys dat gehoorsaamheid moontlik is vir mense, selfs te midde van ’n goddelose samelewing. Jesus was egter volmaak, maar wat van ons as onvolmaakte mense?

Gehoorsaam ondanks onvolmaaktheid

4. Wat beteken dit vir ons dat ons met wilsvryheid geskep is?

4 God het Adam en Eva as intelligente skepsele met wilsvryheid geskep. As hulle afstammelinge het ons ook wilsvryheid. Wat beteken dit? Dit beteken dat ons kan besluit om goed of kwaad te doen. Met ander woorde, God het ons die vryheid gegee om te kies of ons hom sal gehoorsaam of nie. Sulke groot vryheid bring verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, mee. Trouens, ons sedelike besluite beteken die lewe of dood vir ons. Dit het ook ’n uitwerking op die mense om ons.

5. Watter stryd het ons almal, en hoe kan ons suksesvol wees?

5 Weens ons oorgeërfde onvolmaaktheid kom gehoorsaamheid nie van nature nie. Dit is nie altyd maklik om God se wette te gehoorsaam nie. Paulus het hierdie stryd ondervind. Hy het geskryf: “Ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is” (Rom. 7:23). Wanneer geen opoffering, pyn of ongerief ter sprake is nie, is dit natuurlik makliker om gehoorsaam te wees. Maar hoe reageer ons wanneer ons begeerte om gehoorsaam te wees, bots met “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë”? Hierdie negatiewe begeertes spruit voort uit ons onvolmaaktheid sowel as uit die invloed van “die gees van die wêreld” om ons, en dit is baie kragtig (1 Joh. 2:16; 1 Kor. 2:12). Om dit te weerstaan, moet ons ‘ons hart voorberei’ voordat ons voor ’n krisis of versoeking te staan kom en besluit dat ons Jehovah sal gehoorsaam, kom wat wil (Ps. 78:8). Ons het baie voorbeelde in die Bybel van persone wat suksesvol was omdat hulle wel hulle hart voorberei het.—Esra 7:10; Dan. 1:8.

6, 7. Lig toe hoe persoonlike studie ons kan help om wyse keuses te maak.

6 Een manier waarop ons ons hart kan voorberei, is deur die Skrif en Bybelpublikasies ywerig te bestudeer. Stel jou voor in die volgende situasie. Gestel dit is jou aand vir persoonlike studie. Jy het so pas gebid vir Jehovah se gees om jou te help om toe te pas wat jy uit sy Woord leer. Jy is van plan om die volgende aand ’n sekere fliek op TV te kyk. Jy het gehoor dat dit gunstige resensies ontvang het; tog weet jy ook dat dit ’n bietjie geweld en onsedelikheid bevat.

7 Jy dink na oor Paulus se raad in Efesiërs 5:3: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam.” Jy dink ook aan Paulus se raad in Filippense 4:8. (Lees.) Terwyl jy oor hierdie geïnspireerde raad nadink, vra jy jou af: ‘Volg ek Jesus se voorbeeld van streng gehoorsaamheid aan God as ek my hart en verstand doelbewus aan sulke programme blootstel?’ Wat sal jy doen? Sal jy nog steeds daardie fliek kyk?

8. Waarom moet ons hoë sedelike en geestelike standaarde handhaaf?

8 Dit sou ’n fout wees om ons sedelike en geestelike standaarde te verlaag omdat ons miskien dink dat ons sterk genoeg is om die uitwerking van slegte assosiasie te weerstaan, selfs wanneer hierdie assosiasie dalk in die vorm van gewelddadige, onsedelike vermaak is. Ons moet eerder ons en ons kinders beskerm teen die verderflike invloed van Satan se gees. Rekenaargebruikers doen groot moeite om te voorkom dat hulle toerusting deur skadelike virusse besmet word wat data kan uitwis, die rekenaar se werking kan belemmer en selfs die masjien kan oorneem en dit kan gebruik om ander rekenaars te beskadig. Moet ons enigsins minder waaksaam wees om ons teen Satan se “listige dade” te beskerm?—Ef. 6:11, vtn. in NW.

9. Waarom moet ons vasbeslote wees om elke dag gehoorsaam aan Jehovah te wees?

9 Ons moet feitlik elke dag op die een of ander manier kies of ons dinge op Jehovah se manier sal doen of nie. Om redding te ontvang, moet ons gehoorsaam aan God wees en volgens sy regverdige beginsels lewe. Deur Christus se voorbeeld van gehoorsaamheid te volg, selfs “tot in die dood”, toon ons dat ons ware geloof het. Jehovah sal ons beloon vir ons getroue weg. Jesus het belowe: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matt. 24:13). Dit vereis ongetwyfeld dat ons ware moed aankweek, soos Jesus geopenbaar het.—Ps. 31:24.

Jesus—Die grootste voorbeeld van moed

10. Watter soort druk ondervind ons dalk, en hoe moet ons reageer?

10 Aangesien ons deur hierdie wêreld se gesindhede en gedrag omring word, het ons moed nodig om besmetting te weerstaan. Christene kom te staan voor sedelike, sosiale, finansiële en godsdiensdruk wat kan veroorsaak dat hulle van Jehovah se regverdige weë afwyk. Baie verduur gesinsteenstand. In party lande bevorder opvoedkundige instellings die evolusieteorie met al hoe groter ywer, en ateïsme word al hoe gewilder. Te midde van al hierdie druk kan ons nie eenvoudig gaan sit en niks doen nie. Ons moet daadwerklik optree om dit te weerstaan en ons sodoende beskerm. Jesus se voorbeeld wys vir ons hoe ons sukses kan behaal.

11. Hoe kan bepeinsing oor Jesus se voorbeeld ons groter moed gee?

11 Jesus het vir sy dissipels gesê: “In die wêreld het julle verdrukking, maar skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:33). Hy het nooit voor die wêreld se invloed geswig nie. Hy het nooit toegelaat dat die wêreld hom verhinder om sy predikingsopdrag uit te voer of hom oorhaal om sy standaarde vir ware aanbidding en gepaste gedrag te verlaag nie; ons moet ook nie. In gebed het Jesus van sy dissipels gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Joh. 17:16). As ons Christus se moedige voorbeeld bestudeer en daaroor nadink, kan dit ons die nodige moed gee om afgeskeie van die wêreld te bly.

Leer by Jesus om moedig te wees

12-14. Gee voorbeelde van hoe Jesus moed aan die dag gelê het.

12 Jesus het dwarsdeur sy bediening groot moed aan die dag gelê. Hy het sy gesag as God se Seun uitgeoefen en onbevrees “in die tempel ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgedryf en die tafels van die geldwisselaars en die banke van die duiweverkopers omgekeer” (Matt. 21:12). Toe soldate gekom het om Jesus op sy laaste nag op aarde in hegtenis te neem, het hy moedig vorentoe getree en sy dissipels beskerm deur te sê: “As dit dan na my is wat julle soek, laat hierdie mense gaan” (Joh. 18:8). Oomblikke later het hy vir Petrus gesê om sy swaard weg te sit, waardeur Jesus getoon het dat hy nie op aardse wapens vertrou nie, maar op Jehovah.—Joh. 18:11.

13 Jesus het die liefdelose valse onderrigters van sy tyd en hulle verkeerde leringe onbevrees aan die kaak gestel. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense”, het Jesus vir hulle gesê. “Julle het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid. . . . Julle maak die buitekant van die beker en van die skottel skoon, maar binne-in is hulle vol roof en onmatigheid” (Matt. 23:13, 23, 25). Jesus se dissipels sou soortgelyke moed nodig hê omdat valse godsdiensleiers hulle ook sou vervolg en party van hulle sou doodmaak.—Matt. 23:34; 24:9.

14 Jesus het selfs teen die demone ’n moedige standpunt ingeneem. By een geleentheid is hy voorgekeer deur ’n demoonbesete man wat so sterk was dat niemand dié man met ’n ketting kon vasbind nie. Sonder om bang te wees, het Jesus die talle demone uitgedryf wat beheer oor die man uitgeoefen het (Mark. 5:1-13). Vandag het God Christene nie die mag gegee om sulke wonderwerke te verrig nie. Nietemin moet ons in ons predikings- en onderrigtingswerk ook ’n geestelike oorlog voer teen Satan, die een wat “die verstande van die ongelowiges verblind” (2 Kor. 4:4). Soos in Jesus se geval is ons wapens “nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om sterk verskanste dinge”—diepgewortelde maar verkeerde godsdiensopvattings—“omver te werp” (2 Kor. 10:4). Ons leer baie uit Jesus se voorbeeld oor hoe om hierdie geestelike wapens te gebruik.

15. Waarop was Jesus se moed gegrond?

15 Jesus se moed was nie gegrond op heldhaftigheid nie, maar op geloof. Dieselfde moet vir ons geld (Mark. 4:40). Hoe kan ons ware geloof aankweek? Weer eens rig Jesus se voorbeeld ons. Hy het ’n deeglike kennis van die Skrif gehad en sy volle vertroue daarin gestel. Jesus het nie ’n letterlike swaard as wapen gebruik nie, maar die swaard van die gees, God se Woord. Keer op keer het hy sy leringe gestaaf deur na die Skrif te verwys. Hy het dikwels sy woorde begin met die stelling: “Daar staan geskrywe”, dit wil sê in God se Woord. a

16. Hoe kan ons groter geloof verkry?

16 Om geloof op te bou wat die beproewinge kan deurstaan wat uiteraard met dissipelskap gepaardgaan, moet ons die Bybel daagliks lees en bestudeer en Christelike vergaderinge bywoon, sodat ons die waarhede wat die grondslag van geloof vorm, in ons verstande kan inprent (Rom. 10:17). Ons moet ook peins—diep nadink—oor wat ons leer en dit in ons hart laat insink. Slegs lewende geloof kan ons beweeg om moedig op te tree (Jak. 2:17). En ons moet bid vir heilige gees omdat geloof deel van die vrug van die gees is.—Gal. 5:22.

17, 18. Hoe het een jong suster moed by die skool geopenbaar?

17 ’n Jong suster met die naam Kitty het ondervind hoe ware geloof ’n mens moed gee. Sy het van kleins af geweet dat sy haar by die skool ‘nie vir die goeie nuus moet skaam nie’, en sy wou baie graag ’n goeie getuienis vir haar skoolmaats gee (Rom. 1:16). Elke jaar het sy haar voorgeneem om ander van die goeie nuus te vertel, maar haar moed het haar begewe. Toe sy in haar laat tienerjare was, het sy na ’n ander skool gegaan. Sy het gesê: “Dié keer gaan ek vergoed vir al die geleenthede wat ek deur my vingers laat glip het.” Kitty het gebid vir Christelike moed, onderskeidingsvermoë en die regte geleentheid.

18 Op die eerste skooldag is die klas gevra om hulle een vir een voor te stel. ’n Hele paar het gesê wat hulle godsdiensagtergrond is en bygevoeg dat hulle nie werklik hulle geloof beoefen nie. Kitty het besef dat dit die geleentheid was waarvoor sy gebid het. Toe dit haar beurt was, het sy vol vertroue gesê: “Ek is een van Jehovah se Getuies, en die Bybel is my gids in geestelike en sedelike sake.” Terwyl sy gepraat het, het party klasmaats hulle oë gerol. Maar ander het aandagtig geluister en later vrae gevra. Die onderwyser het Kitty selfs as ’n goeie voorbeeld gebruik van iemand wat standpunt inneem vir haar oortuigings. Kitty is baie bly dat sy uit Jesus se moedige voorbeeld geleer het.

Toon Christelike geloof en moed

19. (a) Wat behels dit om ware geloof te hê? (b) Hoe kan ons Jehovah bly maak?

19 Die apostels het ook besef dat hulle moedige dade op geloof gegrond moet wees. Hulle het Jesus gesmeek: “Gee ons meer geloof.” (Lees Lukas 17:5, 6.) Om ware geloof te hê, behels meer as om net te glo dat God bestaan. Dit sluit in dat ’n mens ’n hegte vertrouensverhouding met Jehovah aankweek, soortgelyk aan die verhouding van ’n klein kindjie met ’n goedhartige, liefdevolle vader. Salomo het onder inspirasie geskryf: “My seun, as jou hart wys geword het, sal my hart bly wees, ja myne. En my niere sal jubel wanneer jou lippe regskapenheid spreek” (Spr. 23:15, 16). As ons regverdige beginsels moedig verdedig, maak ons Jehovah bly, en hierdie wete gee ons meer moed. Laat ons dus te alle tye Jesus se voorbeeld navolg en moedig standpunt inneem vir regverdigheid!

[Voetnoot]

Kan jy verduidelik?

• Wat sal ons in staat stel om gehoorsaam te bly, al is ons onvolmaak?

• Waarop is ware geloof gegrond, en hoe kan dit ons help om moedig te wees?

• Wat sal die resultaat wees as ons gehoorsaam is en Christelike moed openbaar?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

‘Berei jy jou hart voor’ om versoekings te weerstaan?

[Prent op bladsy 15]

Soos Jesus, kan ons moed openbaar wat op geloof gegrond is