Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die oortreffende waarde van goddelike onderrigting

Die oortreffende waarde van goddelike onderrigting

Die oortreffende waarde van goddelike onderrigting

“Ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus.”—FIL. 3:8.

1, 2. Watter besluit het party Christene gemaak, en waarom?

 ROBERT het van kleins af uitgeblink op skool. Toe hy maar agt jaar oud was, het een van sy onderwyseresse hom spesiaal by die huis besoek en vir hom gesê dat daar geen perke is aan wat hy kan bereik nie. Sy het gesê sy hoop dat hy eendag ’n dokter sal word. Sy akademiese prestasies op hoërskool het vir hom die weg gebaan om aan die beste universiteite in sy land te studeer. Maar Robert het besluit om hierdie geleentheid van ’n leeftyd, soos baie dit sou beskou, te laat vaar sodat hy sy doelwit kon nastreef om as ’n gewone pionier te dien.

2 Soos Robert, is daar vir baie Christene—jonk en oud—geleenthede om vooruitgang in die teenswoordige stelsel van dinge te maak. Party besluit om nie ten volle gebruik te maak van hierdie geleenthede nie, sodat hulle geestelike doelwitte kan nastreef (1 Kor. 7:29-31). Wat beweeg Christene soos Robert om hulle in die predikingswerk in te span? Benewens hulle liefde vir Jehovah, wat die vernaamste rede is, waardeer hulle ook die oortreffende waarde van goddelike onderrigting. Het jy onlangs gedink aan hoe jou lewe sou gewees het as jy nie tot ’n kennis van die waarheid gekom het nie? As ons peins oor ’n paar van die uitsonderlike seëninge wat ons geniet omdat ons deur Jehovah geleer word, sal dit ons help om ons waardering vir die goeie nuus te behou en dit ywerig aan ander bekend maak.

Bevoorreg om deur God geleer te word

3. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah bereid is om onvolmaakte mense te leer?

3 Weens sy goedheid is Jehovah bereid om onvolmaakte mense te leer. Jesaja 54:13 praat in ’n profesie van gesalfde Christene en sê: “Al jou kinders sal persone wees wat deur Jehovah geleer word, en die vrede van jou kinders sal oorvloedig wees.” Hierdie woorde is in beginsel ook van toepassing op Christus se “ander skape” (Joh. 10:16). Dit blyk duidelik uit ’n profesie wat in ons dag vervul word. Jesaja het in ’n visioen gesien dat mense uit al die nasies na ware aanbidding stroom. Volgens sy beskrywing sê hulle vir mekaar: “Laat ons opgaan na die berg van Jehovah, na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel” (Jes. 2:1-3). Wat ’n voorreg is dit tog om deur God geleer te word!

4. Wat vereis Jehovah van diegene wat hy leer?

4 Hoe kan ons kwalifiseer om goddelike onderrigting te ontvang? ’n Vername vereiste is dat ’n mens sagmoedig moet wees, asook gewillig om geleer te word. Die psalmis Dawid het geskryf: “Goed en reg is Jehovah. . . . Hy sal die sagmoediges sy weg leer” (Ps. 25:8, 9). En Jesus het gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge sorgvuldig vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Luk. 10:21). Voel jy nie aangetrokke tot ’n God wat “onverdiende goedhartigheid aan die nederiges [gee]” nie?—1 Pet. 5:5.

5. Wat is die enigste manier waarop ons tot ’n kennis van God kon kom?

5 Kan ons as knegte van Jehovah ons die eer toe-eien dat ons verstandig genoeg was om die waarheid te vind? Nee. Trouens, op ons eie sou ons nooit tot ’n kennis van God gekom het nie. Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Joh. 6:44). Deur middel van die predikingswerk en deur middel van die heilige gees trek Jehovah skaapgeaardes, “die begeerlike dinge van al die nasies” (Hag. 2:7). Is jy nie dankbaar om onder diegene te wees wat deur Jehovah na sy Seun getrek is nie?—Lees Jeremia 9:23, 24.

Die krag om lewens te verbeter

6. Watter merkwaardige uitwerking kan “die kennis van Jehovah” op mense hê?

6 Jesaja se profesie gebruik ’n pragtige illustrasie om die verandering uit te beeld wat in ons tyd in mense se persoonlikhede plaasvind. Mense wat voorheen gewelddadig was, het vredeliewend geword. (Lees Jesaja 11:6-9.) Dié wat voorheen vyande van mekaar was weens verskille in ras, nasionaliteit, stam of kultuur, het geleer om in eenheid saam te woon. Hulle het figuurlik gesproke “van hulle swaarde ploegskare [gesmee]” (Jes. 2:4). Wat is die rede vir hierdie merkwaardige veranderinge? Mense het “die kennis van Jehovah” ingeneem en dit in hulle lewe toegepas. Hoewel God se knegte onvolmaak is, vorm hulle ’n ware internasionale broederskap. Die universele trefkrag van die goeie nuus en die goeie vrugte wat dit voortbring, getuig van die oortreffende waarde van goddelike onderrigting.—Matt. 11:19.

7, 8. (a) Wat is party van die “sterk verskanste dinge” wat mense met behulp van goddelike onderrigting omverwerp? (b) Wat toon dat goddelike onderrigting Jehovah tot eer strek?

7 Die apostel Paulus het die bediening van God se knegte met geestelike oorlogvoering vergelyk. Hy het geskryf: “Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om sterk verskanste dinge omver te werp. Want ons werp redenasies omver, en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word” (2 Kor. 10:4, 5). Wat is party van die “sterk verskanste dinge” waarvan goddelike onderrigting mense bevry? Die las van valse leringe, bygelowe en mensefilosofieë, om maar net ’n paar te noem (Kol. 2:8). Goddelike onderrigting help mense om slegte gebruike te bowe te kom en om godvrugtige eienskappe aan te kweek (1 Kor. 6:9-11). Dit verbeter gesinslewe. En dit gee aan diegene sonder hoop, ’n ware doel in die lewe. Dít is die soort opvoeding wat mense vandag nodig het.

8 Een van die eienskappe wat Jehovah mense help om aan te kweek, is eerlikheid, soos die volgende ondervinding toelig (Heb. 13:18). ’n Vrou in Indië het ’n Bybelstudie aanvaar en mettertyd aan die vereistes voldoen om ’n ongedoopte verkondiger te word. Terwyl sy eendag op pad huis toe was nadat sy aan ’n Koninkryksaalbouprojek gewerk het, het sy op die grond naby ’n bushalte ’n goue ketting opgetel wat agtduisend rand werd was. Hoewel sy arm was, het sy die ketting na die polisiestasie geneem en dit daar ingegee. Die polisiebeampte aan diens kon sy oë nie glo nie! Later het ’n ander beampte haar gevra: “Waarom het jy besluit om die ketting in te gee?” Sy het verduidelik: “Bybelleringe het my verander, en ek is nou ’n eerlike persoon.” Hy was beïndruk en het vir die Christen- ouer man wat haar na die polisiestasie vergesel het, gesê: “Daar is meer as 38 miljoen mense in hierdie staat. As julle tien mense kan help om soos hierdie vrou te word, sal dit ’n groot prestasie wees.” Het ons nie oorvloedige redes om Jehovah te loof wanneer ons dink aan die miljoene lewens wat al deur goddelike onderrigting verbeter is nie?

9. Wat maak dit vir mense moontlik om merkwaardige veranderinge in hulle lewe aan te bring?

9 Die krag van God se Woord, tesame met die hulp wat Jehovah deur middel van sy heilige gees voorsien, stel mense in staat om merkwaardige veranderinge in hulle lewe aan te bring (Rom. 12:2; Gal. 5:22, 23). Kolossense 3:10 sê: “Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het.” Die boodskap wat in God se Woord, die Bybel, gevind word, het die krag om te openbaar wat ’n persoon werklik innerlik is, en dit kan die manier waarop hy dink en selfs hoe hy oor dinge voel, verander. (Lees Hebreërs 4:12.) As ’n persoon tot ’n juiste kennis van die Skrif kom en sy lewe na Jehovah se regverdige standaarde skik, kan hy ’n vriend van God word, met die vooruitsig om vir ewig te lewe.

Voorbereiding vir die toekoms

10. (a) Waarom is Jehovah in ’n unieke posisie om ons vir die toekoms voor te berei? (b) Watter dramatiese veranderinge sal binnekort die hele aarde raak?

10 Jehovah is in ’n unieke posisie om ons te help om vir die toekoms voor te berei omdat hy weet wat voorlê. Hy bepaal wat die toekoms van die mensdom sal wees (Jes. 46:9, 10). Bybelprofesie openbaar dat “die groot dag van Jehovah [naby] is” (Sef. 1:14). Die woorde van Spreuke 11:4 sal in daardie dag waar wees: “Waardevolle dinge sal geen voordeel bring op die dag van grimmigheid nie, maar regverdigheid sal van die dood verlos.” Wanneer die tyd aanbreek dat Jehovah sy oordeel aan Satan se wêreld voltrek, sal ons posisie voor God van die grootste belang wees. Geld sal waardeloos wees. Trouens, Esegiël 7:19 sê: “Hulle silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal iets afskuweliks word.” Hierdie voorkennis kan ons help om nóú verstandig op te tree.

11. Wat is een manier waarop goddelike onderrigting ons help om vir die toekoms voor te berei?

11 Een besondere manier waarop goddelike onderrigting ons vir die koms van Jehovah se dag voorberei, is dat dit ons help om die regte prioriteite te stel. Die apostel Paulus het aan Timoteus geskryf: “Beveel dié wat ryk is in die teenswoordige stelsel van dinge, om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God.” Al is ons nie ryk nie, kan ons baat vind by hierdie goddelik geïnspireerde raad. Wat behels dit? In plaas van materiële rykdom op te gaar, moet ons eerder daarna streef “om goed te doen” en “om ryk te wees in goeie werke”. Deur geestelike sake eerste in ons lewe te stel, ‘bewaar ons vir onsself ’n goeie fondament vir die toekoms as ’n skat’ (1 Tim. 6:17-19). So ’n selfopofferende weg weerspieël praktiese wysheid, want, soos Jesus gesê het, “van watter nut sal dit vir ’n mens wees as hy die hele wêreld wen, maar sy siel inboet?” (Matt. 16:26, 27). Aangesien Jehovah se dag so naby is, sal dit goed wees as elkeen van ons ons afvra: ‘Waar gaar ek skatte op? Dien ek God of Rykdom as slaaf?’—Matt. 6:19, 20, 24.

12. Waarom moet ons ons nie laat afskrik as party op ons bediening neersien nie?

12 Een van die belangrikste “goeie werke” wat God se Woord vir Christene uiteensit, is die lewensreddende Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk (Matt. 24:14; 28:19, 20). Soos in die eerste eeu, sien party dalk neer op ons bediening. (Lees 1 Korintiërs 1:18-21.) Maar dit verander nie die waarde van ons boodskap nie en maak dit nie minder belangrik om aan elkeen die geleentheid te gee om geloof daarin te stel terwyl daar nog tyd is nie (Rom. 10:13, 14). Wanneer ons ander help om by goddelike onderrigting baat te vind, kom ons in aanmerking vir baie seëninge.

Jehovah seën dié wat opofferings maak

13. Watter opofferings het die apostel Paulus ter wille van die goeie nuus gemaak?

13 Voordat die apostel Paulus ’n Christen geword het, is hy opgelei om sukses in die Joodse stelsel van dinge te behaal. Toe hy waarskynlik maar 13 jaar oud was, het hy van sy tuisdorp Tarsus na Jerusalem getrek om onder die hooggeagte onderrigter van die Wet, Gamaliël, te studeer (Hand. 22:3). Mettertyd het Paulus begin uitmunt onder sy tydgenote, en as hy so volgehou het, sou hy moontlik vernaamheid in Judaïsme verkry het (Gal. 1:13, 14). Toe hy die goeie nuus aanvaar het en die predikingswerk begin doen het, het hy dit alles agtergelaat. Was Paulus spyt oor die keuse wat hy gemaak het? Nee. Trouens, hy het geskryf: “Ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis.”—Fil. 3:8.

14, 15. Watter seëninge ondervind ons as “God se medewerkers”?

14 Soos Paulus, maak Christene van vandag ook opofferings ter wille van die goeie nuus (Mark. 10:29, 30). Loop ons iets mis omdat ons dit doen? Robert, wat aan die begin genoem is, praat namens baie wanneer hy sê: “Ek is glad nie spyt nie. Die voltydse bediening laat my gelukkig en tevrede voel, en dit het my gehelp om te ‘smaak en [te] sien dat Jehovah goed is’. Wanneer ek ook al materiële opofferings gemaak het om geestelike doelwitte na te streef, het Jehovah my nog altyd geseën met meer as wat ek opgeoffer het. Dit is asof ek eintlik niks opgeoffer het nie. Ek het net bygekry!”—Ps. 34:8; Spr. 10:22.

15 As jy al ’n tyd lank aan die predikings- en onderrigtingswerk deelneem, het jy ook ongetwyfeld geleenthede gehad om te smaak en te sien dat Jehovah goed is. Was daar al tye dat jy die hulp van sy gees ervaar het terwyl jy die goeie nuus verkondig het? Het jy al gesien hoe mense se gesigte verhelder wanneer Jehovah hulle harte oopmaak om aandag aan die boodskap te skenk? (Hand. 16:14). Het Jehovah jou gehelp om struikelblokke te bowe te kom en dalk die weg vir jou gebaan om jou bediening uit te brei? Het hy jou in moeilike tye onderskraag sodat jy kon aanhou om hom te dien toe jy gedink het dat jou kragte besig is om in te gee? (Fil. 4:13). Wanneer ons Jehovah se helpende hand persoonlik ervaar terwyl ons ons bediening uitvoer, word hy vir ons werkliker en voel ons selfs nader aan hom (Jes. 41:10). Is dit nie ’n seën om een van “God se medewerkers” in die allerbelangrikste goddelike onderrigtingswerk te wees nie?—1 Kor. 3:9.

16. Hoe voel jy oor jou pogings en opofferings in verband met goddelike onderrigting?

16 Baie mense hoop om iets van blywende waarde gedurende hulle leeftyd te bereik. Ons het gesien dat selfs uitsonderlike prestasies in vandag se wêreld dikwels gou vergeet word. Maar die hedendaagse werke wat Jehovah in verband met die heiliging van sy naam verrig, sal ongetwyfeld in ’n permanente rekord bewaar word as deel van teokratiese geskiedenis. Dit sal vir ewig onthou word (Spr. 10:7; Heb. 6:10). Mag ons ons voorreg waardeer om deel te neem aan die epogmakende werk van goddelike onderrigting.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat vereis Jehovah van diegene wat hy leer?

• Hoe verbeter goddelike onderrigting mense se lewens?

• Op watter maniere word ons geseën omdat ons ander help om by goddelike onderrigting baat te vind?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Dié wat deur Jehovah geleer word, vorm ’n ware internasionale broederskap

[Prent op bladsy 24]

Is dit nie ’n seën om een van “God se medewerkers” te wees nie?