Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mite 3: Alle goeie mense gaan hemel toe

Mite 3: Alle goeie mense gaan hemel toe

Wat is die oorsprong van die mite?

Ná die dood van Jesus se apostels, teen die begin van die tweede eeu HJ, het die vroeë Kerkvaders aansien verkry. In ’n beskrywing van hulle leringe sê die New Catholic Encyclopedia (2003), Deel 6, bladsy 687: “Die algemene lering was dat hemelse saligheid aan die onstoflike siel geskenk word onmiddellik nadat die nodige reiniging wat op die dood volg, plaasgevind het.”

Wat sê die Bybel?

“Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.”—Matteus 5:5.

Hoewel Jesus sy dissipels belowe het dat hy vir hulle “’n plek [sou] berei” in die hemel, het hy aangedui dat die regverdiges nie outomaties soontoe gaan nie (Johannes 3:13; 14:2, 3). Het hy dan nie gebid dat God se wil moet geskied, “soos in die hemel, so ook op die aarde” nie? (Matteus 6:9, 10). In werklikheid wag een van twee bestemmings op die regverdiges. ’n Minderheid sal in die hemel saam met Christus regeer, maar die meerderheid sal vir ewig op die aarde lewe.—Openbaring 5:10.

Mettertyd het die vroeë kerk sy beskouing van sy eie rol op die aarde verander. Met watter gevolg? “Die georganiseerde kerk het in toenemende mate die verwagte Koninkryk van God vervang”, sê The New Encyclopædia Britannica. Die kerk het sy mag begin verstewig deur by die politiek betrokke te raak, waardeur dit Jesus se uitdruklike stellings dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” moet wees nie, geïgnoreer het (Johannes 15:19; 17:14-16; 18:36). Onder die invloed van die Romeinse keiser Konstantyn het die kerk party van sy opvattings prysgegee, waarvan een met die aard van God verband gehou het.

Vergelyk hierdie Bybelverse: Psalm 37:10, 11, 29; Johannes 17:3; 2 Timoteus 2:11, 12

FEIT:

Die meeste goeie mense sal vir ewig op die aarde lewe—nie in die hemel nie