Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mite 6: God keur die gebruik van beelde en ikone in aanbidding goed

Mite 6: God keur die gebruik van beelde en ikone in aanbidding goed

Wat is die oorsprong van die mite?

“Beelde was onbekend in die aanbidding van die vroeë Christene . . . Die toelating van beelde in die kerk in die 4de en 5de eeu is geregverdig op grond van die teorie dat die onkundige mense die feite van die Christelike godsdiens beter deur middel daarvan kon leer as deur preke of boeke.”—Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, deur McClintock en Strong, Deel 4, bladsye 503 en 504.

Wat sê die Bybel?

“Jy mag nie vir jou ’n afgod maak in die vorm van enigiets bo in die hemel of onder op die aarde of in die waters onder die aarde nie. Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of hulle aanbid nie” (Eksodus 20:4, 5, The Holy Bible—New International Version). Die apostel Johannes het aan eerste-eeuse Christene geskryf: “Kindertjies, bewaar julle van afgode.”—1 Johannes 5:21.

Is die gebruik van beelde, soos die kerke beweer, eenvoudig ’n manier om wat hulle verteenwoordig, te nader en te vereer? “Aanvanklik”, sê The Encyclopedia of Religion, “is beelde moontlik hoofsaaklik vir didaktiese [onderrigtende] doeleindes en vir versiering gebruik; altans, dit was die gronde waarop dit verdedig is. Maar daar moet erken word dat dit weldra voorwerpe van aanbidding geword het. Dit was veral waar van die ikone wat ’n vername kenmerk van die Oosters-Ortodokse Kerk geword het.” Maar die profeet Jesaja het tereg gevra: “Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle hom gelykstel?”—Jesaja 40:18, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Vergelyk hierdie Bybelverse: Jesaja 44:13-19; Handelinge 10:25, 26; 17:29; 2 Korintiërs 5:7

FEIT:

God keur nie die gebruik van beelde en ikone goed nie

VERWERP MITES, BLY BY DIE WAARHEID

Watter gevolgtrekking kan ons maak uit hierdie kort oorsig van mites wat nog steeds deur baie kerke geleer word? Hierdie “kunstig verdigte fabels [Grieks, mu’tos]” kan nie met die eenvoudige en vertroostende waarhede van die Bybel vergelyk word nie.—2 Petrus 1:16, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Moet dus nie huiwer om met ’n oop gemoed die dinge wat jy geleer is, met God se Woord—die bron van waarheid—te vergelyk nie (Johannes 17:17). Dan sal hierdie belofte in jou geval vervul word: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.