Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Maannuwejaar—Kan Christene dit vier?

Die Maannuwejaar—Kan Christene dit vier?

Die Maannuwejaar—Kan Christene dit vier?

ELKE jaar in Januarie of Februarie vind daar in Asië die grootste jaarlikse migrasie van mense ter wêreld plaas. Honderdmiljoene Asiërs keer terug na hulle gesinne om die Maannuwejaar te vier. *

Die Maannuwejaar is die belangrikste fees op die Asiatiese kalender. “[Dit is] soos ’n kombinasie van Nuwejaarsdag, Onafhanklikheidsdag, Thanksgiving en Kersfees”, sê ’n Amerikaanse skrywer. Die fees begin op die eerste nuwemaan van die Chinese maankalender, of tussen 21 Januarie en 20 Februarie op Westerse kalenders. Dit duur van ’n paar dae tot twee weke.

Die basiese idee van die Nuwejaarsviering is hernuwing, die einde van die oue en die verwelkoming van die nuwe. Om vir die fees voor te berei, maak mense hulle huise skoon en versier hulle dit, koop hulle nuwe klere, berei hulle disse voor waarvan die name met “geluk” of “voorspoed” rym, vereffen hulle skuld en los hulle verskille op. Op Nuwejaarsdag gee hulle dalk vir mekaar geskenke en wens hulle mekaar goeie dinge toe, gewoonlik rykdom en voorspoed, deel hulle rooi pakkies met sogenaamde geluksgeld uit, eet hulle spesiale disse, skiet hulle klappers, kyk hulle na kleurvolle draak- of leeudanse of geniet hulle eenvoudig die vakansie saam met familie en vriende.

Hierdie gebruike is ryk aan betekenis. Die boek Mooncakes and Hungry Ghosts: Festivals of China verduidelik: “Dit is veral belangrik vir gesinne, vriende en familielede om geluk te verseker, eer te betoon aan gode en geeste en mekaar voorspoed toe te wens vir die komende jaar.” Hoe moet Christene hierdie viering beskou, aangesien daar so baie tradisionele en godsdienselemente daarby betrokke is? Moet hulle eenvoudig die gebruike volg? Is dit gepas vir Christene?

“Onthou waar dit vandaan kom”

’n Bekende Chinese spreekwoord sê: “Wanneer jy water drink, moet jy onthou waar dit vandaan kom.” Dit weerspieël die diepe respek wat baie Asiërs tradisioneel vir hulle ouers en voorouers het. Omdat ouers aan hulle kinders lewe gegee het, is dit net natuurlik vir kinders om sulke respek te betoon, wat ’n belangrike rol speel in die Nuwejaarsviering.

’n Hoogtepunt vir baie Asiatiese families is ongetwyfeld Oujaarsaand. Op daardie aand kom die meeste gesinne bymekaar vir ’n spesiale feesmaal. Dit is ’n geleentheid vir familiereünies, en mense in hierdie deel van die wêreld doen alles in hulle vermoë om dit nie mis te loop nie. By die feestafel word plekke nie net gedek vir familielede wat teenwoordig is nie, maar ook vir afgestorwenes, wat hulle glo in gees teenwoordig is. By hierdie maaltyd “is daar ware kommunikasie tussen voorouers en familielede”, sê een ensiklopedie. “Aangesien die band tussen die lewendes en die dooies dan hernieu word, sal die voorouers die gesin die hele jaar lank beskerm”, sê ’n ander naslaanwerk. Hoe moet Christene hierdie gebruik beskou?

Vir Christene is dit ook belangrik om liefde en respek aan hulle ouers te betoon. Hulle slaan ag op die goddelike opdrag: “Luister na jou vader wat jou geboorte veroorsaak het, en moenie jou moeder verag bloot omdat sy oud geword het nie” (Spreuke 23:22). Hulle gehoorsaam ook die Bybelgebod: “‘Eer jou vader en jou moeder’; wat die eerste gebod met ’n belofte is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly’” (Efesiërs 6:2, 3). Ja, ware Christene wil hulle ouers liefhê en eer!

Die Bybel praat ook met lof van opbouende gesinsgesellighede (Job 1:4; Lukas 15:22-24). Maar Jehovah beveel: “Daar mag nooit iemand onder julle wees wat . . . spoke of geeste raadpleeg of dooies oproep nie” (Deuteronomium 18:10, 11, The Jerusalem Bible). Waarom hierdie verbod? Omdat die Bybel die ware toestand van die dooies openbaar. Dit sê: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.” Aangesien die dooies bewus is van niks, kan hulle nie aan die bedrywighede van die lewendes deelneem nie; hulle kan ons ook nie help of leed aandoen nie (Prediker 9:5, 6, 10). God se Seun, Jesus Christus, het die dood met ’n diep slaap vergelyk, en die dooies sal eers in die komende opstanding uit hierdie slaap wakker word.—Johannes 5:28, 29; 11:11, 14.

Verder toon die Bybel dat die “spoke” en afgestorwe “geeste” in werklikheid bose geesskepsele is wat voorgee dat hulle die afgestorwenes is. Met watter doel? Om mense te mislei en om hulle onder hulle bose beheer te kry! (2 Tessalonisense 2:9, 10). God se gebooie beskerm ons in werklikheid teen ernstige leed. Omdat hulle Jehovah liefhet en hulle veilig wil wees, vermy Christene wyslik enige gebruike wat met die aanbidding van familielede se “geeste” verband hou of wat hulle beskerming probeer verkry.—Jesaja 8:19, 20; 1 Korintiërs 10:20-22.

Aan die ander kant wil Christene ook eer betoon aan “die Vader, aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het” (Efesiërs 3:14, 15). Wie is hierdie Vader? Hy is ons Skepper en Lewegewer, Jehovah God (Handelinge 17:26). Wanneer ons dus gebruike in verband met die viering van die Maannuwejaar ondersoek, kan ons gerus vra: Hoe beskou Jehovah hierdie gebruike? Keur hy dit goed?—1 Johannes 5:3.

Die verering van huisgode

Maannuwejaarsvierings sluit talle gewilde gebruike in wat respek of eer betoon aan verskillende huisgode, soos die god van die deur, die god van die aarde of beskermgees, die god van rykdom of voorspoed, asook die god van die kombuis of die stoof. Kyk na die gewilde gebruik om die kombuisgod te vereer. * Die opvatting is dat hierdie god ’n paar dae voor Nuwejaarsdag hemel toe gaan om ’n verslag oor die gesin te bring aan die Jadekeiser, die oppergod in die Chinese godewêreld. In die hoop dat die kombuisgod ’n gunstige verslag sal gee, stuur hulle hom weg met ’n spesiale ete, asook offerandes van lekkernye en strooptertjies. Om hom ’n spoedige reis toe te wens, neem die gesin sy portret, smeer hulle soms die lekkernye op sy lippe en verbrand hulle dit buite. Op Oujaarsaand hang hulle ’n nuwe portret van die god bo die kombuisstoof, wat hom weer na die huis nooi vir die komende jaar.

Hoewel baie van die gebruike dalk onskuldig lyk, wil Christene gehoorsaam wees aan wat God se Woord sê wanneer dit by aanbidding kom. In hierdie verband het Jesus Christus gesê: “Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig” (Matteus 4:10). Dit is duidelik dat God wil hê dat ons hom alleen moet aanbid. Waarom? Dink hieraan: Jehovah is ons hemelse Vader. Hoe sou enige vader voel as sy kinders hom ignoreer en hulle eerder tot ’n ander vader wend? Sou hy nie diep seergemaak voel nie?

Jesus het sy hemelse Vader as “die enigste ware God” erken, en Jehovah het duidelik vir sy aanbidders gesê dat hulle “geen ander gode” buiten hom mag hê nie (Johannes 17:3; Eksodus 20:3). Ware Christene wil dus Jehovah behaag en hom nie teleurstel of seermaak deur ander gode te dien nie.—1 Korintiërs 8:4-6.

Bygelowe en spiritisme

Die Maannuwejaar hou ook ten nouste verband met astrologie. In die maankalender word elke jaar vernoem na een van die 12 diere in die Chinese diereriem—draak, tier, aap, haas, ensovoorts. Die dier bepaal glo die persoonlikheid en gedrag van mense wat daardie jaar gebore word en of dit ’n goeie jaar sal wees om sekere bedrywighede na te streef. Baie ander gebruike in verband met die Maannuwejaar, insluitende die verering van die god van rykdom of voorspoed, is spesifiek bedoel om “geluk” te bring. Hoe moet Christene hierdie gebruike beskou?

In sy Woord, die Bybel, het Jehovah diegene bestraf wat hulle gewend het tot “die aanbidders van die hemel, die sterrekykers, dié wat met nuwemaan bekend maak wat oor [hulle] sal kom”. Hy het ook die aanbidding van “die Geluksgod” en “die god van die Noodlot” veroordeel (Jesaja 47:13; 65:11, 12). In plaas van op die een of ander geheimsinnige of onsigbare krag te vertrou wat mense glo met die geesteryk of die sterre verband hou, word daar vir ware aanbidders gesê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spreuke 3:5, 6). Ja, bygelowe hou mense in slawerny, maar Bybelwaarhede maak hulle vry.—Johannes 8:32.

Toon jou liefde vir God

Dit is een ding om te weet wat die agtergrond van die gebruike en opvattings in verband met Maannuwejaarsvierings is; dit is iets heeltemal anders om te besluit om nie daaraan deel te neem nie. As jy in ’n gemeenskap woon waar dit gebruiklik is om die jaarlikse Maannuwejaar te vier of as jou familie gebruike in verband met die Nuwejaar weens tradisie onderhou, het jy ’n gewigtige besluit om te neem.

Dit verg natuurlik moed en vasbeslotenheid om ondanks druk standvastig te bly. “Ek was baie bang omdat almal om my die Nuwejaarsfees gevier het en ek nie”, sê een Christenvrou wat in Asië woon. Wat het haar gehelp? “Alleenlik deur ’n sterk liefde vir God aan te kweek, kon ek standvastig bly.”—Matteus 10:32-38.

Het jy so ’n sterk liefde vir Jehovah? Jy het alle rede om hom lief te hê. Jy het jou lewe te danke, nie aan die een of ander geheimsinnige godheid nie, maar aan Jehovah God, van wie die Bybel sê: “By u is die bron van die lewe; deur lig van u kan ons lig sien” (Psalm 36:9). Dit is Jehovah wat in jou behoeftes voorsien en ’n gelukkige lewe moontlik maak, nie die god van voorspoed of die kombuisgod nie (Handelinge 14:17; 17:28). Sal jy hom op jou beurt liefhê? Wees verseker dat Jehovah jou ryklik sal seën as jy dit doen.—Markus 10:29, 30.

[Voetnote]

^ par. 2 Dit staan ook bekend as die Chinese Nuwejaar, Lentefees, Chun Jie (China), Tet (Viëtnam), Solnal (Korea) of Losar (Tibet).

^ par. 14 Die gebruike wat in hierdie artikel beskryf word, verskil regoor Asië, maar dit is gebaseer op algemene oorspronklike idees. Vir meer inligting, sien Ontwaak! van 22 Desember 1986, bladsye 20-21 en Ontwaak! van 8 Januarie 1971, bladsye 3-5.

[Venster/Prent op bladsy 23]

Stel vriende en familielede gerus

Wanneer een familielid ophou om deel te neem aan Maannuwejaarsvierings, is dit te begrype dat dit sy of haar vriende en familielede kan skok. Hulle voel moontlik ontsteld, seergemaak of selfs dat die persoon sy rug op hulle gedraai het. Maar daar is baie wat gedoen kan word om ’n gelukkige gesinsverhouding te behou. Beskou hierdie kommentare van Christene wat in verskeie dele van Asië woon:

Jiang: “Ek het lank voor Nuwejaar my familielede besoek en op taktvolle wyse verduidelik waarom ek nie meer aan sekere gewilde gebruike sal deelneem nie. Ek was versigtig om nie hulle opvattings te verkleineer nie en het hulle vrae met respek uit die Bybel beantwoord. Dit het tot ’n paar goeie geestelike besprekings gelei.”

Li: “Voor die Maannuwejaar het ek taktvol en respekvol vir my man gesê dat ek my gewete moet gehoorsaam om werklik gelukkig te wees. Ek het ook belowe dat ek hom nie in die verleentheid sal stel wanneer ons gedurende die vakansietyd by sy familie kuier nie. Verbasend genoeg, op die dag toe sy familie hulle voorouers aanbid het, het hy my na ’n ander plek geneem om ’n Christelike vergadering by te woon.”

Xie: “Ek het my gesin verseker dat ek hulle liefhet en vir hulle gesê dat my geloofsoortuigings van my ’n beter persoon sal maak. Toe het ek my ingespan om Christelike eienskappe soos sagmoedigheid, takt en liefde aan die dag te lê. Met verloop van tyd het hulle my godsdiens begin respekteer. Later het my man die Bybel bestudeer en ook ’n ware Christen geword.”

Min: “Ek het op ’n sagmoedige, respekvolle manier met my ouers gepraat. In plaas van hulle ‘geluk’ toe te wens, het ek vir hulle gesê dat ek altyd tot Jehovah, ons Skepper, vir hulle bid en hom vra om hulle te seën en hulle na vrede en geluk te lei.”

Fuong: “Ek het vir my ouers gesê dat ek nie tot Nuwejaar hoef te wag om by my familie te kuier nie. Ek het hulle dikwels besoek. Dit het my ouers baie gelukkig gemaak, en hulle het opgehou om my te kritiseer. My jonger broer het ook belangstelling in Bybelwaarheid begin toon.”

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Panorama Stock/age Fotostock