Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Koning Dawid en musiek

Koning Dawid en musiek

Koning Dawid en musiek

AS DAAR een naam is wat ’n mens aan die musiek van Bybeltye laat dink, is dit dié van Dawid, ’n merkwaardige man wat ongeveer 3 000 jaar gelede gelewe het. Trouens, baie van ons kennis oor musiek van die ou tyd kom uit die Bybelverslag van Dawid se bedrywighede—vandat hy ’n jong herder was totdat hy ’n koning en ’n bekwame organiseerder geword het.

Ons kan baie oor musiek in Bybeltye by Dawid leer. Byvoorbeeld, watter soort instrumente is gebruik, en watter soort liedere is gesing? Watter rol het musiek in Dawid se lewe gespeel en, op groter skaal, in die lewe van die Israeliete as ’n nasie?

Die plek van musiek in eertydse Israel

Wanneer ’n mens die woorde van ’n lied sê, laat dit jou dikwels dink aan die melodie wat daarmee gepaardgaan. Die Bybel bevat die lirieke van etlike liedere, waarvan die musiek ongelukkig onbekend is. Dit moes beslis pragtig, selfs hartverheffend, gewees het. Die digterlike verhewenheid van die boek Psalms dui daarop dat die musiek wat dit begelei het, net so besonder pragtig was.

Die instrumente word net kortliks in die Bybel beskryf. (Sien die venster  “Instrumente in Bybeltye”.) Ons weet nie eers met sekerheid watter soort harp Dawid gebruik het nie. Dit is nietemin noemenswaardig dat die Israeliete uitvinders was van etlike instrumente, soos seldsame en kosbare houtharpe.—2 Kronieke 9:11; Amos 6:5.

Maar een ding is seker. Musiek het ’n belangrike plek in die lewe van die Hebreërs beklee, veral in hulle aanbidding van God. Musiek is gespeel by kronings, dit is gebruik in godsdiensseremonies en dit het ’n rol gespeel in oorlogvoering. Dit het ook die koninklike hof vermaak, troues en gesinsgesellighede opgevrolik en atmosfeer gedurende die druiwe- en graanoesfeeste geskep. Ongelukkig is musiek ook geassosieer met verderflike plekke. En laastens, wanneer die dood ingetree het, het musiek die oorlewendes tydens hulle droefheid vertroos.

In Israel het musiek ook ander rolle gehad. Dit was daarvoor bekend dat dit die verstand verhef en profete ontvanklik gemaak het vir geestelike dinge. Eers nadat Elisa die geluid van ’n snaarinstrument gehoor het, het hy goddelike inspirasie gevind (2 Konings 3:15). Musiek is ook gebruik om gebeurtenisse op die kalender aan te dui. Nuwemane en feeste is aangekondig met die geluid van twee silwertrompette. Op die eerste dag van die Jubeljaar het die geluid van die horing aangekondig dat die slawe vrygelaat moet word en dat grond en huise wat prysgegee moes word, aan hulle eienaars teruggegee moet word. Hoe verheug moes die armes tog gewees het wanneer hulle die musiek gehoor het wat aankondig dat hulle hulle vryheid of besittings terugkry!—Levitikus 25:9; Numeri 10:10.

Sekere Israeliete was uitsonderlike musikante of sangers. Trouens, volgens ’n Assiriese vlakreliëf het koning Sanherib gevra dat koning Hiskia hom ’n skatting in die vorm van manlike en vroulike musikante betaal. Hulle was blykbaar eersteklasmusikante. Maar Dawid het bo alle kunstenaars uitgestaan.

’n Merkwaardige musikant

Dawid was merkwaardig omdat hy ’n musikant sowel as ’n digter was. Meer as die helfte van die psalms word aan hom toegeskryf. Terwyl hy ’n jong seun was, was hy ’n herder, en sy skerpsinnige, helder verstand is deur die landelike tonele van Betlehem gestimuleer. Hy het die eenvoudige vreugdes geken, soos om te luister na kabbelende waterstroompies en die geblêr van lammers wat op sy stem reageer. Diep getref deur die prag van hierdie “musiek” in die wêreld om hom, het hy sy harp opgetel en sy stem in lof tot God verhef. Wat ’n aangrypende ondervinding moes dit tog gewees het om die musiek te hoor wat Dawid vir Psalm 23 gekomponeer het!

As ’n jong man het Dawid die harp so pragtig gespeel dat hy aanbeveel is by Saul, die koning, wat hom in diens geneem het. Wanneer Saul deur angs en verontrustende gedagtes geteister is, het Dawid na hom toe gekom en op sy harp die melodieuse en strelende refreine gespeel wat die hart van die koning gekalmeer het. Die donker gedagtes wat Saul gekwel het, het verdwyn en sy angstigheid het hom verlaat.—1 Samuel 16:16.

Musiek, waarvoor Dawid so lief was en wat hom soveel vreugde verskaf het, het soms probleme veroorsaak. Eendag, toe Dawid en Saul van ’n oorwinning oor die Filistyne teruggekeer het, het die koning triomfantlike en vreugdevolle musiek gehoor. Die vroue het gesing: “Saul het sy duisende verslaan, en Dawid sy tienduisende.” Daarop het Saul so woedend en jaloers geword dat hy “van dié dag af . . . Dawid voortdurend agterdogtig aangekyk [het]”.—1 Samuel 18:7-9.

Deur musiek ontroer

Dawid se goddelik geïnspireerde komposisies was in baie opsigte uitsonderlik. Sy liedere sluit peinsende sowel as herderlike psalms in. Dit wissel van lofbetuigings tot verhalende geskiedenis, van die vreugdes van die druiweoes tot die prag en praal van die paleisinwyding, van herinneringe tot hoop, van versoeke tot smekinge. (Sien Psalm 32, 23, 145, 8, 30, 38, 72, 51, 86 en hulle opskrifte.) By die dood van Saul en sy seun Jonatan het Dawid ’n klaaglied gekomponeer, wat “Die boog” genoem is en met hierdie woorde begin: “Die sieraad, o Israel, lê verslaan op jou hoogtes.” Die toon was droewig. Dawid het geweet hoe om ’n groot verskeidenheid gevoelens uit te druk, hetsy in woorde of in musiek op sy harp.—2 Samuel 1:17-19.

Weens sy lewenslustige persoonlikheid was Dawid lief vir vrolike, opgewekte musiek wat vol ritme was. Toe hy die verbondsark na Sion gebring het, het hy uitbundig gespring en gedans om die gebeurtenis te vier. Die Bybelverslag gee te kenne dat die musiek baie lewendig was. Kan jy jou die toneel voorstel? Dit het veroorsaak dat sy vrou Migal hom verwyt het. Maar dit het nie vir Dawid saak gemaak nie. Hy was lief vir Jehovah, en hierdie musiek, wat hom met soveel vreugde vervul het, het hom voor sy God laat rondspring.—2 Samuel 6:14, 16, 21.

Wat meer is, Dawid het bo ander uitgeblink as ’n uitvinder van nuwe musiekinstrumente (2 Kronieke 7:6). Dit wil dus voorkom of Dawid oor die algemeen ’n besonder begaafde kunstenaar was—’n instrumentmaker, ’n digter, ’n komponis en ’n musikant. Maar Dawid het selfs groter dinge gedoen.

Sang en musiek by die tempel

’n Nalatenskap van Dawid was die organisering van sang en musiek in die huis van Jehovah. Aan die hoof van 4 000 sangers en musikante het hy Asaf, Heman en Jedutun (blykbaar ook Etan genoem) geplaas. Dawid het hulle saam met 288 deskundiges laat werk, wat die res van die groep opgelei en oor hulle toesig gehou het. Die 4 000 sangers en musikante was almal teenwoordig by die tempel vir die drie groot jaarlikse feeste. Stel jou voor hoe ontsagwekkend daardie manjifieke koor was!—1 Kronieke 23:5; 25:1, 6, 7.

By die tempel het net mans gesing. Die uitdrukking “op ‘Die meisies’” in die opskrif van Psalm 46 dui op ’n hoë stem of instrument. Hulle het eenstemmig gesing, soos blyk uit 2 Kronieke 5:13: “Die sangers [was] soos een man.” Die liedere was moontlik melodieë, soos Psalm 3 en baie ander psalms van Dawid, en dit het soms refreine ingesluit, soos dié in Psalm 42:5, 11 en 43:5. Die volk het ook liedere waarin gebruik gemaak is van beurtsang met kore en/of solosangers wat om die beurt gesing het, baie geniet. Dit is die geval in Psalm 24, wat ongetwyfeld gekomponeer is vir die tyd toe Dawid die verbondsark na Sion gebring het.—2 Samuel 6:11-17.

Maar sang was nie tot die Leviete beperk nie. Die volk het gesing wanneer hulle vir die jaarlikse feeste na Jerusalem opgegaan het. Dit is moontlik wat bedoel word met “’n Lied van die opgange” (Psalm 120 tot 134). In Psalm 133 prys Dawid byvoorbeeld die broederskap wat die Israeliete gedurende sulke tye geniet het. Hy begin met hierdie woorde: “Kyk! Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!” Probeer jou die musiek voorstel wat hierdie lied begelei het!

Musiek en aanbidding van Jehovah

’n Tiende van die Bybel bestaan uit sulke liedere, en die boek Psalms spoor alle mense aan om lofliedere te sing (Psalm 150). Musiek het die krag om ’n mens te laat vergeet van die probleme in die lewe, en sang kan soos salf ’n gebroke hart genees. Maar die Bybel beveel ook aan dat dié wat opgeruimd is, psalms moet sing.—Jakobus 5:13.

Deur middel van sang kan ’n mens uiting gee aan jou geloof en liefde vir God. Die aand voor Jesus se teregstelling het hy en die apostels hulle maaltyd met liedere afgesluit (Matteus 26:30). Wat ’n stem moes die Seun van Dawid tog gehad het—hy wat die glorieryke sang van God se hemelse hof geken het! Hulle het waarskynlik die Hallel, Psalm 113 tot 118, gesing. Indien wel, sou Jesus uit volle bors saam met die apostels, wat onbewus was van al die gebeure wat voorgelê het, gesing het: “Ek het lief, want Jehovah hoor my stem, my dringende versoeke. . . . Die toue van die dood het my omring en die angswekkende omstandighede van Sjeool het my getref. . . . ‘Ag, Jehovah, verskaf tog aan my siel ontkoming!’”—Psalm 116:1-4.

Die mens is nie die uitvinder van musiek nie. Die Bybel beskryf musiek en sang in die hemele, waar geesskepsele op figuurlike harpe speel en lofliedere om Jehovah se troon sing (Openbaring 5:9; 14:3; 15:2, 3). Jehovah God het musiek aan die mensdom gegee en in hulle hart ’n gevoel vir musiek geplaas, asook die onweerstaanbare begeerte om hulle gevoelens deur middel van ’n instrument of in sang uit te druk. Vir die man van geloof is musiek bowenal ’n gawe van God.—Jakobus 1:17.

[Lokteks op bladsy 27]

“Op die dag van julle vreugde

en in julle feestye . . . moet julle . . .

op die trompette blaas.”—NUMERI 10:10

[Lokteks op bladsy 28]

“Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. In grasryke weivelde laat hy my neerlê; by waterryke rusplekke bring hy my.”—PSALM 23:1, 2

[Lokteks op bladsy 29]

“[Daar was] vierduisend wat Jehovah loof op die instrumente wat, so het Dawid gesê, ‘ek gemaak het om lof te bring’.”—1 KRONIEKE 23:4, 5

[Lokteks op bladsy 29]

Dawid het ’n groot verskeidenheid gevoelens in woorde en in musiek uitgedruk

[Lokteks op bladsy 30]

 “Loof Jah! Loof hom met tamboeryn en kringdans. Laat alles wat asemhaal, Jah loof.”—PSALM 150:1, 4, 6

[Venster/Prente op bladsy 28]

Instrumente in Bybeltye

Snaarinstrumente het luite, harpe en tiensnarige instrumente ingesluit (Psalm 92:3). Hulle is ingestem op Alamot en Sjeminit, uitdrukkings wat moontlik verwys na hoër en laer oktawe (1 Kronieke 15:20, 21, voetnoot in NW). Onder die koper- en blaasinstrumente was die pyp, die fluit, die horing, sowel as trompette, waarop daar ‘hard geblaas’ is (2 Kronieke 7:6; 1 Samuel 10:5; Psalm 150:3, 4). By die tempelinwyding het trompette en sangers “een geluid laat hoor” (2 Kronieke 5:12, 13). Dit beteken blykbaar dat hulle op dieselfde noot ingestem was en dat daar geen wanklanke was nie. Slaginstrumente het tamboeryne en sistrums, ’n soort musikale rammelaar, sowel as “allerhande instrumente van jenewerhout” ingesluit. Daar was ook simbale—die kleintjies was “welluidende simbale” en die grotes “galmende simbale”.—2 Samuel 6:5; Psalm 150:5.

[Prente]

Bo: ’n Deel van die Titusboog, Rome, Italië, wat trompette uitbeeld wat in 70 HJ uit die tempel in Jerusalem geneem is. Muntstukke wat uit omstreeks 130 HJ dateer, beeld Joodse musiekinstrumente uit

[Erkenning]

Muntstukke: © 2007 by David Hendin. All rights reserved.