Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Messias! God se middel tot redding

Die Messias! God se middel tot redding

Die Messias! God se middel tot redding

“Net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.”—1 KOR. 15:22.

1, 2. (a) Hoe het Andreas en Filippus gereageer toe hulle Jesus ontmoet het? (b) Waarom sê ons dat ons meer bewyse van Jesus se Messiasskap het as wat eerste-eeuse Christene gehad het?

 “ONS het die Messias gevind”, het Andreas vir sy broer Petrus gesê, oortuig dat Jesus van Nasaret God se Gesalfde is. Filippus was ook oortuig en het sy vriend Natanael gevind en vir hom gesê: “Ons het die een gevind van wie Moses, in die Wet, en die Profete geskryf het, Jesus, die seun van Josef, van Nasaret.”—Joh. 1:40, 41, 45.

2 Is jy ten volle daarvan oortuig dat Jesus die beloofde Messias, Jehovah se ‘Hoofbewerker van redding’, is? (Heb. 2:10). Vandag het ons baie meer bewyse van sy Messiasskap as wat sy eerste-eeuse volgelinge gehad het. Die Woord van God voorsien vanaf Jesus se geboorte tot en met sy opstanding onweerlegbare bewys dat hy die Christus was. (Lees Johannes 20:30, 31.) Die Bybel toon ook dat Jesus sou voortgaan om sy rol as Messias vanuit die hemel te vervul. (Joh. 6:40; lees 1 Korintiërs 15:22.) In geestelike sin kan jy vandag ook sê dat jy “die Messias gevind” het. Maar kom ons kyk eers hoe daardie vroeë dissipels tereg tot die slotsom gekom het dat hulle die Messias gevind het.

Die “heilige geheim” van die Messias word stelselmatig geopenbaar

3, 4. (a) Hoe kon eerste-eeuse dissipels ‘die Messias vind’? (b) Waarom sou jy sê dat slegs Jesus al die Messiaanse profesieë kon vervul het?

3 Hoe kon Jesus se eerste-eeuse volgelinge met sekerheid sê dat hy die Messias is? Jehovah het deur middel van die profete stelselmatig geopenbaar hoe die komende Messias geïdentifiseer sou word. Een Bybelgeleerde het hierdie proses vergelyk met die stukke van ’n marmerbeeld wat aanmekaargesit word. Stel jou voor dat ’n klomp mans wat nog nooit met mekaar gekommunikeer het nie, elkeen ’n stuk marmer in ’n vertrek inbring. As daardie dele inmekaarpas en dit ’n volmaakte standbeeld vorm, sou jy logieserwys tot die slotsom kom dat daar iemand agter die skerms moet wees wat die plan van die beeld opgestel het en vir elke man sy deel gestuur het. Soos elke stuk van die standbeeld, voorsien elke Messiaanse profesie ’n noodsaaklike brokkie inligting oor die Messias.

4 Wat sou die kanse dan wees dat al die profesieë oor die Messias toevallig in een persoon vervul sou word? Een navorser het gesê dat die kanse dat iemand al die Messiaanse profesieë toevallig kon vervul het, “só skraal” is dat dit as onmoontlik beskou moet word. “Jesus—en net Jesus in die ganse geskiedenis—het daarin geslaag.”

5, 6. (a) Hoe sal die oordeel aan Satan voltrek word? (b) Hoe het God die geslagslyn van die beloofde “saad” stelselmatig geopenbaar?

5 Die fokus van die Messiaanse profesieë is ’n “heilige geheim” met baie fasette van universele belang (Kol. 1:26, 27; Gen. 3:15). Daardie geheim sluit die oordeel in teen Satan die Duiwel, “die oorspronklike slang”, wat die mensdom in sonde en die dood gedompel het (Op. 12:9). Hoe sou hierdie oordeel voltrek word? Jehovah het voorspel dat ’n “vrou” ’n “saad” sou voortbring wat Satan se kop sal vermorsel. Die voorspelde “saad” sal die slang se kop verbrysel en sodoende die oorsaak van opstand, siekte en die dood vernietig. Maar God sou toelaat dat Satan eers die vrou se “saad” ’n simboliese hakskeenwond toedien.

6 Jehovah het stelselmatig geopenbaar wie die beloofde “saad” sou wees. God het met ’n eed aan Abraham belowe: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Gen. 22:18). Moses het voorspel dat hierdie Een “’n profeet” groter as Moses sou wees (Deut. 18:18, 19). Dawid is verseker, en profete het dit later bevestig, dat die Messias van hom sou afstam en die Dawidiese troon vir ewig sou erf.—2 Sam. 7:12, 16; Jer. 23:5, 6.

Bewyse dat Jesus die Messias was

7. In watter sin is Jesus deur God se “vrou” voortgebring?

7 God het sy Seun, sy eerste skepping, vanuit Sy gemalinorganisasie van geesskepsele in die hemel gestuur om die beloofde “saad” te wees. Dit het vereis dat God se enigverwekte Seun “homself ontledig” van hemelse lewe en as ’n volmaakte mens gebore word (Fil. 2:5-7; Joh. 1:14). Die feit dat Maria deur heilige gees “oorskadu” is, het gewaarborg dat die een wat gebore word, “heilig, God se Seun, genoem [sou] word”.—Luk. 1:35.

8. Hoe het Jesus Messiaanse profesieë vervul toe hy hom vir waterdoop aangebied het?

8 Die Messiaanse profesieë het aangedui waar en wanneer Jesus sou verskyn. Soos voorspel is, is Jesus in Betlehem gebore (Miga 5:2). In die eerste eeu het die Jode in groot afwagting verkeer. Omdat hulle die Messias se verskyning verwag het, het party aangaande Johannes die Doper gevra: “Is hy miskien die Christus?” Maar Johannes het geantwoord: “Een wat sterker is as ek, kom” (Luk. 3:15, 16). Deur in die herfs van 29 HJ op 30-jarige ouderdom na Johannes te gaan om gedoop te word, het Jesus hom op die regte tyd as die Messias aangebied (Dan. 9:25). Hy het toe sy gebeurtenisvolle bediening begin en gesê: “Die vasgestelde tyd is vervul, en die koninkryk van God het naby gekom.”—Mark. 1:14, 15.

9. Watter vaste oortuiging het Jesus se dissipels gehad, hoewel hulle nie al die besonderhede gehad het nie?

9 Maar mense se verwagtinge moes aangepas word. Jesus is tereg as Koning verwelkom, maar die feit dat hy in die toekoms en vanuit die hemel sou regeer, sou eers later ten volle verstaan word (Joh. 12:12-16; 16:12, 13; Hand. 2:32-36). Toe Jesus egter gevra het: “Wie sê julle is ek?” het Petrus sonder aarseling geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt. 16:13-16). Petrus het ’n soortgelyke antwoord gegee toe baie weggegaan het nadat hulle weens ’n lering gestruikel het.—Lees Johannes 6:68, 69.

Luister na die Messias

10. Waarom het Jehovah beklemtoon dat dit belangrik is om na sy Seun te luister?

10 In die hemel was God se enigverwekte Seun ’n magtige geespersoon. Op die aarde was Jesus “die Vader se verteenwoordiger” (Joh. 16:27, 28). Hy het gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Joh. 7:16). Jehovah het Jesus se Messiasskap gedurende die gedaanteverandering bevestig en gesê: “Luister na hom” (Luk. 9:35). Ja, luister na, of gehoorsaam, hierdie Uitverkorene. Dit verg geloof en goeie werke—albei uiters noodsaaklik om God te behaag en die ewige lewe te beërf.—Joh. 3:16, 35, 36.

11, 12. (a) Om watter redes het die eerste-eeuse Jode Jesus as die Messias verwerp? (b) Wie het geloof in Jesus gestel?

11 Hoewel daar oorweldigende bewyse was dat Jesus die Messias is, het die meeste eerste-eeuse Jode hom nie aanvaar nie. Waarom nie? Omdat hulle hulle eie vooropgesette idees oor die Messias gehad het, onder andere dat hy ’n politieke messias sou wees wat hulle van Romeinse onderdrukking sou bevry. (Lees Johannes 12:34.) Hulle kon dus nie die Messias aanvaar wat die profesieë vervul het wat gesê het dat hy verag, vermy deur mense, bestem vir pyn en bekend met siekte sou wees en uiteindelik doodgemaak sou word nie (Jes. 53:3, 5). Selfs party van Jesus se lojale dissipels was teleurgesteld dat hy nie politieke bevryding teweeggebring het nie. Maar hulle het lojaal gebly en mettertyd juiste kennis ontvang.—Luk. 24:21.

12 Nog ’n rede waarom mense Jesus as die beloofde Messias verwerp het, was sy leringe, wat vir baie mense moeilik was om te aanvaar. Om in die Koninkryk in te gaan, moet iemand “homself verloën”, Jesus se vlees “eet” en sy bloed “drink”, “weer gebore word” en “geen deel van die wêreld” wees nie (Mark. 8:34; Joh. 3:3; 6:53; 17:14, 16). Die hoogmoediges, die rykes en die huigelaars het gevoel dat hierdie vereistes te moeilik was om na te kom. Maar nederige Jode het Jesus as die Messias aanvaar, en so ook party Samaritane wat gesê het dat “hierdie man vir seker die redder van die wêreld is”.—Joh. 4:25, 26, 41, 42; 7:31.

13. Hoe is Jesus simbolies in die hakskeen gewond?

13 Jesus het voorspel dat die hoofpriesters hom sou veroordeel en dat nie-Jode hom aan ’n paal sou hang, maar dat hy op die derde dag opgewek sou word (Matt. 20:17-19). Toe hy voor die Sanhedrin bevestig het dat hy “die Christus, die Seun van God,” is, is dit as laster beskou (Matt. 26:63-66). Pilatus het gevind dat hy “niks gedoen [het] wat die dood verdien nie”, maar omdat die Jode hom ook van sedisie aangekla het, het Pilatus “Jesus aan hulle wil oorgelewer” (Luk. 23:13-15, 25). Sodoende het hulle “die Hoofbewerker van die lewe” “verloën” en ’n komplot gesmee om hom dood te maak, ten spyte van die oorweldigende bewyse dat hy deur God gestuur is (Hand. 3:13-15). Die Messias is “uitgeroei” soos voorspel is, toe hy op die Pasgadag van 33 HJ aan ’n paal gehang is (Dan. 9:26, 27; Hand. 2:22, 23). Sy wrede dood was die “hakskeen”-wond wat in Genesis 3:15 voorspel is.

Waarom die Messias moes sterf

14, 15. (a) Om watter twee redes het Jehovah toegelaat dat Jesus sterf? (b) Wat het Jesus gedoen nadat hy opgewek is?

14 Jehovah het om twee belangrike redes toegelaat dat Jesus sterf. Eerstens, Jesus se getrouheid tot die dood het ’n belangrike aspek van die “heilige geheim” opgeklaar. Hy het tot die uiterste graad bewys dat ’n volmaakte mens “godvrugtige toegewydheid” kan handhaaf en God se soewereiniteit kan verdedig ten spyte van die hewigste toets wat Satan oor hom bring (1 Tim. 3:16). Tweedens, soos Jesus gesê het, het “die Seun van die mens gekom . . . om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Hierdie “ooreenstemmende losprys” het betaal vir die sonde wat Adam se nageslag geërf het en het dit moontlik gemaak om die ewige lewe te gee aan almal wat Jesus as God se middel tot redding aanvaar.—1 Tim. 2:5, 6.

15 Ná drie dae in die graf is Christus opgewek, en hy het oor ’n tydperk van 40 dae aan sy dissipels verskyn, waardeur hy bewys het dat hy lewend was, en hy het vir hulle verdere instruksies gegee (Hand. 1:3-5). Daarna het hy na die hemel opgevaar om die waarde van sy kosbare offerande vir Jehovah aan te bied en te wag tot die vasgestelde tyd wanneer sy teenwoordigheid as Messiaanse Koning sou begin. Intussen het hy baie gehad om te doen.

Hy vervul sy rol as die Messias

16, 17. Beskryf Jesus se rol as die Messias nadat hy na die hemel opgevaar het.

16 Jesus het in die eeue sedert sy opstanding getrou toesig gehou oor die bedrywighede van die Christengemeente waaroor hy as Koning regeer (Kol. 1:13). Op die vasgestelde tyd sou hy sy gesag as Koning van God se Koninkryk begin uitoefen. Bybelprofesieë en wêreldgebeure bevestig dat sy teenwoordigheid as Koning, sowel as “die voleinding van die stelsel van dinge”, in 1914 begin het (Matt. 24:3; Op. 11:15). Kort daarna het hy die heilige engele teen Satan en sy demone aangevoer en hulle uit die hemel gewerp.—Op. 12:7-10.

17 Die predikings- en onderrigtingswerk waarmee Jesus in 29 HJ begin het, nader ’n groot klimaks. Binnekort sal hy almal wat lewe, oordeel. Hy sal dan vir die skaapgeaardes wat hom as Jehovah se middel tot redding aanvaar, sê: “Beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is” (Matt. 25:31-34, 41). Dié wat Jesus as Koning verwerp, sal vernietig word wanneer hy die hemelse leërs teen alle goddeloosheid aanvoer. Dan sal Jesus Satan bind en hom en sy demone in “die afgrond” werp.—Op. 19:11-14; 20:1-3.

18, 19. Wat doen Jesus om sy rol as die Messias te vervul, en met watter resultate vir gehoorsame mense?

18 Gedurende sy Duisendjarige Heerskappy sal Jesus al sy titels, soos “Wonderlike Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors”, ten volle naleef (Jes. 9:6, 7). Sy Koninkryksheerskappy sal mense tot volmaaktheid verhef, insluitende dié wat uit die dood opgewek sal word (Joh. 5:26-29). Die Messias sal gewillige mense na “fonteine van waters van die lewe” lei, wat die gehoorsame mensdom in staat sal stel om ’n vreedsame verhouding met Jehovah te geniet. (Lees Openbaring 7:16, 17.) Ná die finale toets sal alle opstandelinge, insluitende Satan en sy demone, “in die poel van vuur en swael geslinger” word, die dodelike kopwond van die “slang”.—Op. 20:10.

19 Hoe wonderlik en volmaak vervul Jesus tog sy rol as die Messias! ’n Paradysaarde sal gevul wees met losgekoopte mense, wat vir ewig in volmaakte gesondheid en geluk sal lewe. Jehovah se heilige naam sal dan gesuiwer wees van alle smaad, en die regmatigheid van sy universele soewereiniteit sal ten volle geregverdig wees. Wat ’n wonderlike erfenis wag tog in die nabye toekoms op almal wat God se Gesalfde gehoorsaam!

Het jy die Messias gevind?

20, 21. Watter redes het jy om ander van die Messias te vertel?

20 Sedert 1914 lewe ons in die tyd van Christus se pa·rou·siʹa, of teenwoordigheid. Hoewel sy teenwoordigheid as Koning van God se Koninkryk onsigbaar is, kan dit duidelik gesien word aan die vervulling van profesieë (Op. 6:2-8). Maar net soos die eerste-eeuse Jode, ignoreer die meeste mense vandag die bewyse van die Messias se teenwoordigheid. Hulle wil ook ’n politieke messias hê of ten minste een wat deur menslike politieke regeerders sal werk. Jy het egter tot die besef gekom dat Jesus nou reeds as Koning van God se Koninkryk regeer. Was jy nie verheug om dit uit te vind nie? Net soos die eerste-eeuse dissipels is jy beweeg om uit te roep: “Ons het die Messias gevind.”

21 Vestig jy vandag die aandag op Jesus se rol as die Messias wanneer jy oor die waarheid praat? Dit sal jou waardering vergroot vir wat hy vir jou gedoen het, wat hy nou doen en wat hy nog gaan doen. Soos Andreas en Filippus, het jy ongetwyfeld reeds met jou familielede en vriende oor die Messias gepraat. Nader hulle gerus weer met hernieude ywer en wys hulle dat Jesus Christus inderdaad die beloofde Messias, God se middel tot redding, is.

Kan jy verduidelik?

• Hoe kon die eerste-eeuse dissipels die Messias vind?

• Om watter twee belangrike redes het Jesus gesterf?

• Wat sal Jesus nog doen om sy rol as die Messias te vervul?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 21]

Hoe het mense in die eerste eeu geweet dat Jesus die beloofde Messias is?

[Prent op bladsy 23]

Vestig jy die aandag op Jesus se rol as die Messias wanneer jy met ander praat?