Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kweek liefde aan wat nooit faal nie

Kweek liefde aan wat nooit faal nie

Kweek liefde aan wat nooit faal nie

‘Die liefde verduur alles. Die liefde faal nooit nie.’—1 KOR. 13:7, 8.

1. (a) Hoe word liefde dikwels uitgebeeld? (b) Waarvan is baie mense liefhebbers?

 BAIE inligting is al oor die onderwerp liefde gepubliseer. Hierdie eienskap word in liedjies opgehemel en geromantiseer. Liefde is ’n basiese behoefte van die mens. Maar boeke en rolprente beeld dit dikwels in opgemaakte liefdesverhale uit, en die mark word deur sulke materiaal oorstroom. Maar daar is ’n jammerlike gebrek aan ware liefde vir God en naaste. Ons sien die vervulling van wat die Bybel oor hierdie laaste dae voorspel het. Mense is “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God”.—2 Tim. 3:1-5.

2. Watter waarskuwing gee die Bybel oor misplaaste liefde?

2 Mense het die vermoë om liefde te betoon, maar God se Woord waarsku ons teen misplaaste liefde. En die Bybel beskryf wat gebeur wanneer sulke liefde in iemand se hart wortelskiet (1 Tim. 6:9, 10). Onthou jy wat die apostel Paulus oor Demas geskryf het? Hoewel hy met Paulus geassosieer het, het Demas lief geword vir die dinge wat die wêreld aangebied het (2 Tim. 4:10). Die apostel Johannes het Christene teen hierdie einste gevaar gewaarsku. (Lees 1 Johannes 2:15, 16.) Liefde vir die wêreld en sy verganklike dinge en weë is nie verenigbaar met liefde vir God en vir wat by hom ontstaan nie.

3. Voor watter uitdaging kom ons te staan, en tot watter vrae lei dit?

3 Hoewel ons nog in hierdie wêreld lewe, is ons geen deel daarvan nie. Gevolglik kom ons te staan voor die uitdaging om die wêreld se verwronge beskouing van liefde te vermy. Dit is noodsaaklik dat ons ons nie laat verstrik deur misplaaste of verdorwe liefde nie. Teenoor wie moet ons dan beginselvaste liefde aankweek en openbaar? Watter voorsienings stel ons in staat om liefde aan te kweek wat alles verduur en nooit faal nie? Hoe strek hierdie lewenswyse ons nóú tot voordeel, en hoe raak dit ons toekoms? Ons moet uitvind wat God se beskouing oor die saak is sodat ons ons daardeur kan laat lei.

Kweek liefde vir Jehovah aan

4. Hoe neem liefde vir God toe?

4 Om te kweek, verwys na die voorbereiding of bevordering van die groei van iets. Dink aan ’n landbouer wat hom inspan om die grond te bewerk en die saad te saai. Hy verwag dat die saad sal groei (Heb. 6:7). So ook moet ons liefde vir God groei. Wat is nodig voordat dit kan gebeur? Ons moet die goeie grond van ons hart, waar die saad van Koninkrykswaarheid gesaai word, bewerk. Ons kan dit doen deur God se Woord ywerig te bestudeer om ons kennis van hom te vermeerder (Kol. 1:10). As ons gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon en daaraan deelneem, sal dit ons ook help om in kennis toe te neem. Span ons ons as individue voortdurend in om ’n dieper kennis te verkry?—Spr. 2:1-7.

5. (a) Hoe kan ons Jehovah se hoofeienskappe leer ken? (b) Wat kan jy sê oor God se geregtigheid, wysheid en krag?

5 Jehovah openbaar sy persoonlikheid deur sy Woord. As ons die Skrif bestudeer en stelselmatig kennis van Jehovah inneem, kan ons waardering vir sy eienskappe toeneem—sy geregtigheid, krag, wysheid en bowenal uitnemende liefde. Jehovah openbaar geregtigheid in al sy weë en in sy volmaakte wet (Deut. 32:4; Ps. 19:7). Ons kan peins oor al Jehovah se skeppingswerke en met ontsag vervul word vir sy verhewe wysheid (Ps. 104:24). Die heelal voorsien ook bewyse dat Jehovah die Bron van dinamiese energie en onuitputlike krag is.—Jes. 40:26.

6. Hoe het God sy liefde teenoor ons geopenbaar, en watter uitwerking het dit op jou gehad?

6 Wat kan gesê word oor God se vernaamste eienskap, sy liefde? Dit is omvangryk en raak ons almal. Hy het daardie liefde geopenbaar deur die losprys vir die mensdom se verlossing te voorsien. (Lees Romeine 5:8.) Hierdie voorsiening is beskikbaar aan die hele mensdom, maar slegs dié wat God se liefde beantwoord en geloof in sy Seun beoefen, sal daarby baat vind (Joh. 3:16, 36). Die feit dat God Jesus as ’n soenoffer vir ons sondes gegee het, behoort dan weer by ons liefde te wek.

7, 8. (a) Wat word van ons vereis om ons liefde vir God te toon? (b) Ten spyte waarvan bewaar God se knegte sy gebooie?

7 Hoe kan ons ons liefde vir God toon vir alles wat hy vir ons gedoen het? Die geïnspireerde antwoord is betekenisvol: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Joh. 5:3). Ja, liefde vir Jehovah God beweeg ons om sy gebooie te bewaar. Dit is een rede waarom ons van sy naam en Koninkryk getuig, wat ander tot voordeel strek. As ons dit uit die oorvloed van ons hart doen, bewys ons dat ons God se gebooie met suiwer beweegredes bewaar.—Matt. 12:34.

8 Ons broers regoor die aarde volhard daarin om God se gebooie te bewaar, al toon mense geen belangstelling nie of al verwerp hulle die Koninkryksboodskap heeltemal. Hulle span hulle voortdurend in om hulle bediening ten volle uit te voer (2 Tim. 4:5). Ons word eweneens beweeg om kennis van God aan ander oor te dra en om al sy ander gebooie te bewaar.

Waarom ons ons Here Jesus Christus liefhet

9. Wat het Christus verduur, en waardeur is hy beweeg?

9 Benewens die feit dat ons God liefhet, is daar ook baie redes waarom ons liefde vir sy Seun aankweek. Hoewel ons Jesus nog nooit gesien het nie, word ons liefde vir hom sterker namate ons meer oor hom leer (1 Pet. 1:8). Wat is ’n paar van die dinge wat Jesus verduur het? Terwyl hy sy Vader se wil gedoen het, is Jesus sonder oorsaak gehaat, vervolg, valslik beskuldig en uitgeskel. Hy het ook ander vernederings verduur. (Lees Johannes 15:25.) Jesus se liefde vir sy hemelse Vader het hom beweeg om tydens hierdie beproewinge te volhard. En liefde het hom beweeg om deur middel van sy offerdood ’n losprys vir baie te voorsien.—Matt. 20:28.

10, 11. Waarna moet ons streef met die oog op wat Christus vir ons gedoen het?

10 Jesus se lewensweg spoor ons tot dade aan. Wanneer ons nadink oor wat Christus vir ons gedoen het, word ons liefde vir hom sterker. Omdat ons sy volgelinge is, behoort ons daarna te streef om Christelike liefde aan te kweek en dit voortdurend te openbaar sodat ons sy opdrag om oor die Koninkryk te getuig en dissipels te maak, getrou sal nakom.—Matt. 28:19, 20.

11 Christus se liefde vir die hele mensdom dring ons om ons toewysing te voltooi voordat die einde kom. (Lees 2 Korintiërs 5:14, 15.) Die liefde wat Christus betoon het, het ten nouste verband gehou met alles wat hy gedoen het om God se voorneme met die mensdom te vervul. En die voorbeeld wat Christus vir ons gelaat het om noukeurig te volg, stel elkeen van ons in staat om ’n rol in daardie goddelike voorneme te speel. Dit vereis dat ons liefde vir God in die volste mate moontlik moet aankweek (Matt. 22:37). Deur toe te pas wat Jesus geleer het en sy gebooie te bewaar, toon ons dat ons hom liefhet en dat ons vasbeslote is om God se soewereiniteit ten alle koste te verdedig, net soos Jesus gedoen het.—Joh. 14:23, 24; 15:10.

Streef die allesoortreffende weg van liefde na

12. Wat het Paulus bedoel met die uitdrukking “’n allesoortreffende weg”?

12 Die apostel Paulus was ’n navolger van Christus. Omdat hy Christus se voetstappe noukeurig gevolg het, het Paulus die vrymoedigheid van spraak gehad om sy broers aan te spoor om navolgers van hom te word (1 Kor. 11:1). Hoewel hy Christene in Korinte aangespoor het om hulle te beywer om sekere gawes van die gees te verkry wat in die eerste eeu beskikbaar was, soos genesing en talespraak, het Paulus vir hulle getoon dat daar iets beters was om na te streef. In 1 Korintiërs 12:31 het hy verduidelik: “Tog toon ek julle ’n allesoortreffende weg.” Die konteks van die daaropvolgende verse toon dat dit die allesoortreffende weg van liefde was. In watter sin was dit allesoortreffend? Paulus het hierna toegelig wat hy bedoel het. (Lees 1 Korintiërs 13:1-3.) As hy sekere uitsonderlike vermoëns gehad het en groot dinge vermag het, maar nie liefde gehad het nie, van watter waarde sou dit vir hom wees? Geen! Onder leiding van God se gees het hy hierdie belangrike punt beklemtoon. Hoe kragtig het hy hierdie gedagte tog by ons tuisgebring!

13. (a) Wat is die jaarteks vir 2010? (b) In watter sin faal die liefde nooit nie?

13 Paulus het vervolgens vir ons beskryf wat liefde is en wat dit nie is nie. (Lees 1 Korintiërs 13:4-8.) Neem nou die tyd om te bepaal in watter mate jy voldoen aan wat liefde vereis. Skenk veral aandag aan die laaste frase in vers 7 en die eerste sin in vers 8: ‘Die liefde verduur alles. Die liefde faal nooit nie’, wat ons jaarteks vir 2010 sal wees. Let op dat Paulus in vers 8 gesê het dat daar weggedoen sal word met gawes van die gees, wat profesie en talespraak insluit en wat tydens die beginstadium van die Christengemeente gebruik is. Dit sou tot ’n einde kom. Maar liefde sal altyd daar wees. Jehovah is die beliggaming van liefde, en hy lewe vir ewig. Daarom sal liefde nooit faal, of tot ’n einde kom, nie. Dit sal vir ewig bestaan as ’n eienskap van ons ewige God.—1 Joh. 4:8.

Die liefde verduur alles

14, 15. (a) Hoe kan liefde ons help om beproewinge te verduur? (b) Waarom het een jong broer geweier om sy geloof prys te gee?

14 Wat stel Christene in staat om te volhard ondanks die beproewinge, moeilike situasies en probleme waarmee hulle te kampe het? Basies is dit liefde wat op beginsel gegrond is. Hierdie soort liefde strek verder as om slegs materiële dinge prys te gee. Dit strek sover dat ons bereid is om ons onkreukbaarheid te handhaaf en selfs ons lewe ter wille van Christus te verloor (Luk. 9:24, 25). Dink na oor die getrouheid van Getuies wat gedurende en ná die Tweede Wêreldoorlog in konsentrasiekampe, strafkampe en tronke gely het.

15 ’n Jong Duitse Getuie met die naam Wilhelm is ’n goeie voorbeeld hiervan. Hy het nie sy geloof prysgegee nie, maar lojaal gebly tot sy dood voor ’n Nazi-vuurpeloton. In ’n afskeidsbrief aan sy gesin het hy geskryf: “Ons moet bowenal God liefhê, soos ons leier Jesus Christus ons beveel het. As ons ons standpunt vir hom inneem, sal hy ons beloon.” Later het een van sy gesinslede in ’n Wagtoring-artikel gesê: “Deur al die beroeringe van die tyd heen het ons as ’n gesin seker gemaak dat ons liefde vir God altyd die eerste plek geniet.” Baie broers wat tans in tronke in Armenië, Eritrea, Suid-Korea en ander lande is, openbaar ’n soortgelyke gesindheid. Hierdie broers bly standvastig in hulle liefde vir Jehovah.

16. Wat het ons broers in Malawi verduur?

16 Op baie plekke word die geloof en volharding van ons broers deur ander soort beproewinge getoets. Jehovah se Getuies in Malawi het 26 jaar lank regeringsverbooie, hewige teenstand en baie gruweldade verduur. Hulle volharding is beloon. Toe vervolging uitgebreek het, was daar omtrent 18 000 Getuies in daardie land. Dertig jaar later het die syfer verdubbel tot 38 393. Soortgelyke resultate is in ander lande gesien.

17. Waarvoor kom party in verdeelde huisgesinne te staan, en wat stel hulle in staat om die slegte behandeling te verduur?

17 Direkte aanvalle teen God se knegte oor die algemeen is een ding. Maar dit is iets heeltemal anders wanneer individuele Christene deur hulle eie gesin teëgestaan word. Huisgenote of ander familielede veroorsaak dalk spanning. Het Jesus nie voorspel dat dit sou gebeur nie? Ja, en baie het al die waarheid van sy woorde ondervind (Matt. 10:35, 36). Tieners is deur ongelowige ouers teëgestaan. Party is selfs uit die huis gesit, maar is deur goedhartige Getuies ingeneem. Ander is deur hulle gesin verwerp. Wat het hierdie persone in staat gestel om slegte behandeling te verduur? Nie net hulle liefde vir die broederskap nie, maar bowenal hulle opregte liefde vir Jehovah en sy Seun.—1 Pet. 1:22; 1 Joh. 4:21.

18. Hoe help die liefde wat alles verduur, getroude Christene?

18 Daar is baie ander situasies in die lewe wat vereis dat die liefde wat alles verduur, geopenbaar word. Liefde stel egpare in staat om Jesus se woorde te respekteer: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:6). Wanneer getroude Christene “verdrukking in hulle vlees” ondervind, moet hulle onthou dat Jehovah ’n vername rol in hulle huwelik speel (1 Kor. 7:28). Sy Woord sê dat ‘die liefde alles verduur’, en ’n man en vrou wat hulle met hierdie eienskap beklee, is meer vasbeslote om bymekaar te bly en hulle huwelik te bewaar.—Kol. 3:14.

19. Wat het God se knegte ná natuurrampe al vir mekaar gedoen?

19 Liefde help ons om alles te verduur in tye van natuurrampe. Dit was die geval toe ’n aardbewing die suidelike deel van Peru getref het en orkaan Katrina dele van die Golf-gebied in die Verenigde State verwoes het. Baie van ons broers het hulle huise of materiële besittings in dié rampe verloor. Liefde het die wêreldwye gemeente beweeg om noodleniging te voorsien, en vrywilligers het gehelp om huise te herbou en Koninkryksale te herstel. Sulke dade bewys dat ons broers te alle tye en onder alle omstandighede mekaar liefhet en vir mekaar sorg.—Joh. 13:34, 35; 1 Pet. 2:17.

Die liefde faal nooit nie

20, 21. (a) Waarom het die liefde oortreffende waarde? (b) Waarom is jy vasbeslote om die weg van liefde na te streef?

20 Vandag sien ons onder Jehovah se knegte hoe wys dit is om die allesoortreffende weg van liefde na te streef. Dit is werklik uitnemend in alle situasies. Let op hoe die apostel Paulus hierdie waarheid beklemtoon het. Eerstens het hy daarop gewys dat die gawes van die gees sou ophou en dat die Christengemeente tot volwassenheid sou groei. Toe het hy afgesluit: “Nou bly geloof, hoop, liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”—1 Kor. 13:13.

21 Uiteindelik sal die dinge waarin ons geloof stel, ’n werklikheid word, en daarom sal die behoefte aan geloof daarin tot ’n einde kom. Die hoop wat ons het in beloftes wat ons graag vervul wil sien, sal nie meer bestaan nadat alles nuut gemaak is nie. Maar wat van liefde? Dit sal nooit faal, of tot ’n einde kom, nie. Dit sal altyd bestaan. Met ewige lewe in die vooruitsig sal ons beslis al hoe meer fasette van God se liefde sien en verstaan. As jy God se wil doen en die allesoortreffende weg nastreef van die liefde wat nooit faal nie, kan jy vir ewig lewe.—1 Joh. 2:17.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom moet ons waak teen misplaaste liefde?

• Wat kan ons verduur as ons liefde het?

• In watter sin faal die liefde nooit nie?

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 27]

Die jaarteks vir 2010 sal wees: ‘Die liefde verduur alles. Die liefde faal nooit nie.’—1 Kor. 13:7, 8.

[Prent op bladsy 25]

Liefde vir God beweeg ons om te getuig

[Prent op bladsy 26]

Onwankelbare liefde het ons broers en susters in Malawi in staat gestel om beproewinge te verduur