Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Besig en vreugdevol in God se diens

Besig en vreugdevol in God se diens

Besig en vreugdevol in God se diens

JEHOVAH wil hê dat jy vreugdevol moet wees (Ps. 100:2). As een van sy knegte is jy waarskynlik ook besig. Dalk was jy nie só besig toe jy jou lewe aan God toegewy het nie, maar nou laat sekulêre en geestelike verantwoordelikhede jou moontlik onder druk voel. Jy voel dalk selfs skuldig wanneer jy nie alles kan doen wat jy beplan het nie. Hoe kan jy behoorlike balans vind en “die vreugde van Jehovah” behou?—Neh. 8:10.

Jy lewe in kritieke tye en word aan baie druk onderwerp, en daarom moet jy goed georganiseerd wees. In dié verband is die volgende geïnspireerde raad van die apostel Paulus veral gepas: “Let dan voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae boos is.”—Ef. 5:15, 16.

Hoe kan jy, met die oog op hierdie wyse raad, vir jou realistiese doelwitte stel en ’n balans tussen persoonlike studie, gesinsorg, velddiens, sekulêre werk en ander nodige bedrywighede handhaaf?

Onthou jy nog jou vreugde toe jy jou aan God toegewy het en gedoop is? Jou vreugde was die resultaat van kennis omtrent Jehovah en sy voornemens. Dit het dalk maande van ywerige studie geverg om hierdie insig en vreugde te verkry. Maar dit was beslis die moeite werd. Daardie studie het jou lewe ten goede verander.

Om jou vreugde te behou, moet jy aanhou om jou geestelik te voed. As jy sukkel om tyd te vind om die Bybel te lees en te bestudeer, moet jy na jou rooster kyk. Selfs net ’n paar minute se studie en bepeinsing per dag sal jou nader aan Jehovah bring, en dit sal beslis tot jou vreugde bydra.

Die meeste van God se knegte kan ’n bietjie tyd vir belangrike bedrywighede uitkoop uit die tyd wat aan minder belangrike dinge bestee word. Vra jou af: ‘Hoeveel tyd bestee ek daaraan om sekulêre tydskrifte of koerante te lees, TV te kyk, na musiek te luister of ’n stokperdjie te beoefen?’ Sulke bedrywighede kan genotvol wees, maar slegs wanneer dit in balans gehou word (1 Tim. 4:8). As jy agterkom dat dit vir jou moeilik is om jou tyd goed in te deel, moet jy stappe doen om jou rooster te verander.

Adam, ’n getroude man, die pa van drie en ’n ouer man, verduidelik wat hom help: “Ek probeer ’n eenvoudige lewe lei. Ek vermy tydrowende stokperdjies en besittings wat baie aandag verg. Dit is nie asof ek ’n lewe van selfonthouding lei nie—ek geniet net eenvoudige vorme van ontspanning.”

As jy peins oor die goeie resultate van jou besluite, kan dit jou vreugde hernieu en jou help om ’n positiewe beskouing te behou. Byvoorbeeld, Mariusz, ’n ouer man wat drie kinders het, sê: “Toe ek die Bybel begin studeer het, het ek ’n optimis geword. Van tyd tot tyd kom ek nog steeds voor probleme te staan, baie waarvan net Jehovah weet. Maar danksy sy ondersteuning sien ek met vreugde uit na die toekoms.”

Soos in Mariusz se geval sal ’n positiewe gesindheid nie alle bekommernisse laat verdwyn nie. Maar dit kan jou help om beter te voel en om die lewe se uitdagings beter die hoof te bied. Ons lees: “Al die dae van die geteisterde is sleg; maar wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal” (Spr. 15:15). Dink ook aan die liefde wat God reeds aan jou betoon het. Sulke bepeinsing kan jou liefde vir hom versterk en jou goddelike vreugde vergroot.—Matt. 22:37.

Dit vergroot ’n gesin se vreugde as hulle Jehovah en sy belange eerste in hulle lewe stel. Wanneer ons Christelike eienskappe aan die dag lê, verminder dit wrywing en het dit hegter en aangenamer gesinsverhoudinge tot gevolg. Julle huis sal dus ’n ware hawe van vrede en eenheid vir die hele gesin wees.—Ps. 133:1.

Dit dra ook by tot ware vreugde as ’n gesin betrokke is by geestelike bedrywighede. Mariusz verduidelik: “Ek heg groot waarde aan die tyd wat ons as ’n gesin saam deurbring. My vrou ondersteun my baie. Sy is aan my sy wanneer dit ook al moontlik is, of ek aan die veldbediening deelneem of die stadion voor byeenkomste skoonmaak, en sy gaan saam met my wanneer ek openbare toesprake by ander gemeentes hou. Ek vind dit aanmoedigend.”

Die Skrif beveel Christene om in die materiële behoeftes van hulle gesin te voorsien (1 Tim. 5:8). Maar as sekulêre werk te veel van jou tyd en energie in beslag neem, kan dit jou van jou vreugde in God se diens beroof. Bid tot Jehovah oor die saak (Ps. 55:22). Party het tot die slotsom gekom dat hulle ander werk moet soek as hulle die Koninkryk eerste wil stel. Geen Christen moet toelaat dat die finansiële voordele van ’n veeleisende werk veroorsaak dat hy belangriker geestelike dinge uit die oog verloor nie.—Spr. 22:3.

Jy sal dit dalk nuttig vind om al die voor- en nadele van ’n potensiële of huidige werk neer te skryf. ’n Goeie salaris en bevredigende werk is natuurlik dinge wat almal wil hê. Maar help jou huidige werk jou om jou gesin se geestelike welsyn te bevorder? Oorweeg al die faktore objektief en maak besluite wat voorrang gee aan jou verhouding met Jehovah.

As jou huidige werk nie jou geestelike groei bevorder nie, moet jy jou situasie aanpas. Baie Christene het al drastiese veranderinge aangebring om tyd te maak vir geestelike sake. ’n Broer in Pole vertel: “Ek het eenkeer geen ander keuse gehad nie as om die maatskappy te verlaat waar ek gewerk het, want ek was dikwels weg op sakereise. Ek het nie genoeg tyd gehad om behoorlik na geestelike sake of na my gesin om te sien nie.” Hy het nou ’n werk wat baie minder van sy tyd en energie in beslag neem.

Put vreugde daaruit om ander te help

Jesus het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Christene het baie geleenthede om te gee. Soms is ’n vriendelike glimlag, ’n handdruk of ’n opregte dankie vir iemand se harde werk in ’n teokratiese toewysing, al wat nodig is om aan julle albei vreugde te verskaf.

Die apostel Paulus het mede-Christene aangemoedig: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes” (1 Tess. 5:14). Terneergedrukte siele voel dalk dat hulle nie in hulle eie krag probleme te bowe kan kom nie. Kan jy sulke persone help? As jy sien dat een van jou broers sy vreugde in Jehovah se diens verloor, moet jy hom probeer aanmoedig. As jy dit doen, sal dit jou ook aanmoedig. Party probleme kan deur geen mens opgelos word nie. Maar jy kan opregte medelye betoon en jou broer aanspoor om op Jehovah se onfeilbare ondersteuning te vertrou. Diegene wat dit doen, sal nooit teleurgestel word nie.—Ps. 27:10; Jes. 59:1.

Nog ’n praktiese stap is om die persoon wat blykbaar sy vreugde verloor het, te nooi om saam met jou aan die bediening deel te neem. Toe Jesus die 70 dissipels uitgestuur het, het hy hulle “twee-twee” uitgestuur (Luk. 10:1). Dink jy nie dat hy sodoende ’n geleentheid vir wedersydse aanmoediging geskep het nie? Kan jy vandag hierdie voorbeeld volg en party help om hulle vreugde te herwin?

Die lewe is vol gegronde bekommernisse. Nietemin vermaan Paulus ons: “Verbly julle altyd in die Here. Weer eens sal ek sê: Verbly julle!” (Fil. 4:4). Omdat jy lief is vir God, hom gehoorsaam en ywerig volhard in die werk wat hy jou gegee het om te doen, is jou lewe sinvol. Dit verskaf jou vreugde. Wat meer is, Jehovah help jou om die druk en probleme waarvoor jy te staan kom, die hoof te bied.—Rom. 2:6, 7.

Met oë van geloof sien ons hoe naby ons aan Jehovah se beloofde nuwe wêreld is. Hoeveel seëninge en redes tot vreugde sal daar dan tog wees! (Ps. 37:34). Ons kan dus vol moed wees, terwyl ons nie uit die oog verloor hoeveel Jehovah ons nou reeds seën nie. Daarom kan ons ‘Jehovah met blydskap dien’.—Ps. 100:2.

[Diagram op bladsy 8]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

As jy vreugdevol wil bly, moet jy dalk jou tyd anders indeel

ONTSPANNING en VERMAAK

HUIS en GESINSORG

WERK

CHRISTELIKE VERGADERINGE

PERSOONLIKE STUDIE

DIE BEDIENING

[Prente op bladsy 10]

Kan jy ander help om hulle vreugde te herwin?