Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet jy jou aan Jehovah toewy?

Waarom moet jy jou aan Jehovah toewy?

Waarom moet jy jou aan Jehovah toewy?

“Vannag het daar ’n engel van die God aan wie ek behoort . . . , naby my gestaan.”—HAND. 27:23.

1. Watter stappe het dié wat hulle vir doop aanbied, reeds gedoen, en watter vrae laat dit ontstaan?

 “HET jy, op grond van die offerande van Jesus Christus, berou oor jou sondes en het jy jou aan Jehovah toegewy om sy wil te doen?” Dit is een van die twee vrae wat aan die einde van ’n dooptoespraak deur doopkandidate beantwoord word. Waarom moet Christene hulle aan Jehovah toewy? Hoe vind ons daarby baat as ons ons aan God toewy? Waarom kan iemand God nie op aanneemlike wyse aanbid as hy hom nie aan God toewy nie? Om die antwoorde te verstaan, moet ons eers kyk na wat toewyding is.

2. Wat beteken dit om jou aan Jehovah toe te wy?

2 Wat beteken dit om jou aan God toe te wy? Let op hoe die apostel Paulus sy verhouding met God beskryf het. Toe hy op ’n skip was wat in gevaar verkeer het, het hy Jehovah in die teenwoordigheid van baie ander beskryf as “die God aan wie ek behoort”. (Lees Handelinge 27:22-24.) Alle ware Christene behoort aan Jehovah. In teenstelling hiermee lê die wêreld oor die algemeen “in die mag van die bose” (1 Joh. 5:19). Christene behoort aan Jehovah van die oomblik af dat hulle hulle op aanneemlike wyse aan hom toewy in gebed. So ’n toewyding is ’n persoonlike gelofte. Dit word gevolg deur waterdoop.

3. Wat het Jesus se doop gesimboliseer, en hoe kan sy volgelinge sy voorbeeld volg?

3 Jesus het ’n voorbeeld vir ons gestel toe hy persoonlik gekies het om God se wil te doen. Omdat hy as lid van die toegewyde nasie Israel gebore is, was hy reeds aan God toegewy. Maar by sy doop het hy iets meer gedoen as wat deur die Wet vereis is. God se Woord toon dat hy gesê het: “Kyk! Ek het gekom . . . om u wil te doen, o God” (Heb. 10:7; Luk. 3:21). Jesus se doop het dus gesimboliseer dat hy hom vir God aangebied het om sy Vader se wil te doen. Sy volgelinge volg sy voorbeeld wanneer hulle hulle laat doop. Maar in hulle geval is waterdoop ’n openbare bewys dat hulle hulle persoonlik in gebed aan God toegewy het.

Hoe ons baat vind by ons toewyding

4. Wat leer ons oor verbondenheid uit die vriendskap tussen Dawid en Jonatan?

4 Christelike toewyding is ’n ernstige saak. Dit is meer as ’n blote verbintenis. Maar hoe vind ons daarby baat wanneer ons ons toewy? Kom ons kyk, by wyse van vergelyking, hoe mense daarby baat vind wanneer hulle in menseverhoudings verbintenisse aangaan. Een voorbeeld is vriendskap. As jy die voorreg wil geniet om ’n vriend te hê, moet jy die verantwoordelikheid aanvaar om ’n vriend te wees. Dit behels dat jy jou tot iemand verbind—jy voel verplig om vir jou vriend om te gee. Een van die uitsonderlikste vriendskappe wat in die Bybel beskryf word, is dié van Dawid en Jonatan. Hulle het selfs ’n vriendskapsverbond met mekaar gesluit. (Lees 1 Samuel 17:57; 18:1, 3.) Hoewel hierdie soort verbondenheid in vriendskappe skaars is, floreer die meeste vriendskappe wanneer daar ’n gevoel van verbondenheid, of verpligting, tussen vriende bestaan.—Spr. 17:17; 18:24.

5. Hoe kon ’n slaaf permanent daarby baat vind om aan ’n goeie heer te behoort?

5 Die Wet wat God aan Israel gegee het, beskryf nog ’n verhouding waarin mense daarby baat gevind het om ’n verbintenis aan te gaan. As ’n slaaf die sekuriteit wou geniet om permanent aan ’n goeie heer te behoort, kon hy ’n permanente en bindende ooreenkoms met hom aangaan. Die Wet sê: “As die slaaf nadruklik sê: ‘Ek het my heer, my vrou en my seuns werklik lief; ek wil nie as vrygelatene weggaan nie’, dan moet sy heer hom nader bring voor die ware God en hom tot by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ’n els deurboor, en hy moet tot onbepaalde tyd sy slaaf wees.”—Eks. 21:5, 6.

6, 7. (a) Hoe vind mense daarby baat om ’n verbintenis aan te gaan? (b) Wat toon dit omtrent ons verhouding met Jehovah?

6 Die huwelik is ’n verhouding wat sterk verbondenheid vereis. In ’n huwelik verbind ’n mens jou nie tot ’n kontrak nie, maar tot ’n persoon. Twee mense wat bloot saamwoon sonder om te trou, kan nooit werklik veilig voel in die verhouding nie; hulle kinders ook nie. Maar twee persone wat in ’n eerbare huwelik tot mekaar verbind is, het ’n dwingende skriftuurlike rede om hulle probleme in liefde te probeer oplos.—Matt. 19:5, 6; 1 Kor. 13:7, 8; Heb. 13:4.

7 In Bybeltye het mense daarby baat gevind om bindende sake- en werkskontrakte te hê (Matt. 20:1, 2, 8). Dieselfde geld vandag. Ons vind byvoorbeeld daarby baat om ’n bindende geskrewe ooreenkoms, of geskrewe kontrak, op te stel voordat ons ’n sakeonderneming begin of by ’n maatskappy begin werk. As dit verhoudings tussen vriende, huweliksmaats en in die werksplek verbeter, hoeveel te meer sal jy dan in jou verhouding met Jehovah baat vind as jy jou onvoorwaardelik aan hom toewy! Kom ons bespreek nou hoe mense in die verlede daarby baat gevind het om hulle aan Jehovah God toe te wy en hoe dit baie meer as net ’n verbintenis was.

Hoe Israel baat gevind het by hulle toewyding aan God

8. Wat het dit vir Israel beteken om aan God toegewy te wees?

8 Die nasie Israel is in sy geheel aan Jehovah toegewy toe hulle ’n gelofte aan God afgelê het. Jehovah het hulle naby die berg Sinai laat vergader en vir hulle gesê: “As julle dan nou my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word.” Die volk het eenparig geantwoord: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen” (Eks. 19:4-8). Vir Israel het hulle toewyding baie meer beteken as om net verplig te voel om iets te doen. Dit het beteken dat hulle aan Jehovah behoort, en Jehovah het hulle as sy “spesiale eiendom” behandel.

9. Hoe het Israel daarby baat gevind om aan God toegewy te wees?

9 Die Israeliete het daarby baat gevind om aan Jehovah te behoort. Hy was lojaal en het vir hulle gesorg soos ’n liefdevolle ouer vir ’n kind sorg. God het vir Israel gesê: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie? Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie” (Jes. 49:15). Jehovah het hulle die riglyne van die Wet, die aanmoediging van die profete en die beskerming van die engele gegee. ’n Psalmis het geskryf: “Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en sy regterlike beslissings aan Israel. So het hy aan geen ander nasie gedoen nie.” (Ps. 147:19, 20; lees Psalm 34:7, 19; 48:14.) Net soos Jehovah gesorg het vir die nasie wat in die verlede aan hom behoort het, sal hy sorg vir dié wat hulle vandag aan hom toewy.

Waarom ons ons aan God moet toewy

10, 11. Word ons as lede van God se universele gesin gebore? Verduidelik.

10 Wanneer party Christelike toewyding en doop oorweeg, wonder hulle dalk: ‘Waarom kan ek God nie aanbid sonder om my aan hom toe te wy nie?’ Die rede word duidelik gesien wanneer ons in ag neem wat ons huidige posisie voor God werklik is. Onthou dat ons almal, weens Adam se sonde, buite God se gesin gebore word (Rom. 3:23; 5:12). As ons in God se universele gesin aanvaar wil word, is dit noodsaaklik dat ons ons aan hom toewy. Kom ons kyk waarom.

11 Nie een van ons het ’n natuurlike vader wat lewe in die ware sin van die woord—volmaakte lewe—aan ons kan oordra nie (1 Tim. 6:19). Ons word nie as kinders van God gebore nie, want toe die eerste mensepaar gesondig het, is die mensdom van hulle liefdevolle Vader en Skepper afgesny. (Vergelyk Deuteronomium 32:5.) Sedertdien lewe die mensdom buite Jehovah se universele gesin, vervreemd van God.

12. (a) Hoe kan onvolmaakte mense lede van God se gesin word? (b) Watter stappe moet ons doen voordat ons gedoop word?

12 Nietemin kan ons as individue vra dat God ons in sy gesin van goedgekeurde knegte aanvaar. a Hoe is dit vir sondaars soos ons moontlik? Die apostel Paulus het geskryf dat “ons, toe ons vyande was, met God versoen geraak het deur die dood van sy Seun” (Rom. 5:10). By ons doop versoek ons God om ons ’n goeie gewete te gee sodat ons vir hom aanneemlik kan wees (1 Pet. 3:21). Voordat ons gedoop word, is daar egter stappe wat ons moet doen. Ons moet God leer ken, leer om op hom te vertrou, berou toon en ons weë verander (Joh. 17:3; Hand. 3:19; Heb. 11:6). Maar daar is nog iets wat ons moet doen voordat ons in God se gesin aanvaar kan word. Wat is dit?

13. Waarom is dit gepas dat iemand ’n toewydingsgelofte aan God aflê om deel van Sy gesin van goedgekeurde aanbidders te word?

13 Voordat iemand wat van God vervreemd is, ’n lid van God se gesin van goedgekeurde knegte kan word, moet hy eers ’n plegtige belofte aan Jehovah aflê. Om die rede hiervoor te verstaan, kan jy jou ’n gerespekteerde vader voorstel wat liefdevolle belangstelling in ’n weeskind toon en hom as ’n lid van sy eie gesin wil aanneem. Die vader is bekend as ’n goeie man. Maar voordat hy die kind as sy seun aanvaar, wil die man hê dat die seun ’n belofte moet maak. Die man sê dus: “Voordat ek jou as ’n seun aanvaar, moet ek eers weet dat jy my as jou vader sal liefhê en sal respekteer.” Slegs as die jong persoon bereid is om ’n plegtige belofte te maak, sal die man hom in sy gesin aanvaar. Is dit nie redelik nie? Net so aanvaar Jehovah in sy gesin slegs dié wat bereid is om ’n toewydingsgelofte aan hom af te lê. Die Bybel sê: “Offer julle aan hom: ’n lewende offerande, toegewy en vir hom aanneemlik.”—Rom. 12:1, The New English Bible.

’n Daad van liefde en geloof

14. In watter opsig is toewyding ’n blyk van liefde?

14 Wanneer ons ’n toewydingsgelofte aan God aflê, is dit ’n blyk van ons innige liefde vir Jehovah. In party opsigte is dit soortgelyk aan ’n huweliksgelofte. ’n Christenbruidegom druk sy liefde uit deur plegtig te belowe om aan sy bruid lojaal te bly, kom wat wil. Dit is ’n belofte aan ’n persoon en nie bloot ’n belofte om iets te doen nie. ’n Christenbruidegom verstaan dat hy nie die voorreg kan hê om saam met sy bruid te woon as hy nie ’n huweliksgelofte aflê nie. So ook kan ons nie die volle voordeel daarvan geniet om ’n lid van Jehovah se gesin te wees as ons nie ’n toewydingsgelofte aflê nie. Ons wy ons dus aan God toe omdat ons, ten spyte van ons onvolmaaktheid, graag aan hom wil behoort en vasbeslote is om lojaal aan hom te bly, kom wat wil.—Matt. 22:37.

15. In watter opsig is toewyding ’n daad van geloof?

15 Wanneer ons ons aan God toewy, verrig ons ’n daad van geloof. Hoe so? Ons geloof in Jehovah gee ons die vertroue dat dit vir ons goed is om nader aan God te kom (Ps. 73:28). Ons weet dat dit nie altyd maklik sal wees om met God te wandel terwyl ons te midde van “’n verdorwe en verdraaide geslag” lewe nie, maar ons vertrou op God se belofte om ons in ons pogings te ondersteun (Fil. 2:15; 4:13). Ons weet dat ons onvolmaak is, maar ons is vol vertroue dat Jehovah barmhartig teenoor ons sal optree selfs wanneer ons foute begaan. (Lees Psalm 103:13, 14; Romeine 7:21-25.) Ons glo dat Jehovah ons sal beloon vir ons vasbeslotenheid om ons onkreukbaarheid te handhaaf.—Job 27:5.

Toewyding aan God lei tot geluk

16, 17. Waarom lei dit tot geluk wanneer ons ons aan Jehovah toewy?

16 Toewyding aan Jehovah lei tot geluk omdat dit behels dat ons van onsself gee. Jesus het ’n grondwaarheid genoem toe hy gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Gedurende sy aardse bediening het Jesus die geluk wat dit meebring om te gee, ten volle ondervind. Wanneer dit nodig was, het hy sonder rus, kos en geriewe gebly sodat hy ander kon help om die weg na die lewe te vind (Joh. 4:34). Jesus het behae daarin geskep om sy Vader se hart bly te maak. Jesus het gesê: “Ek [doen] altyd die dinge . . . wat hom behaag.”—Joh. 8:29; Spr. 27:11.

17 Jesus het dus vir sy volgelinge getoon hoe om ’n bevredigende lewenswyse te geniet toe hy gesê het: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën” (Matt. 16:24). Wanneer ons dit doen, kom ons nader aan Jehovah. Kan ons ons in die sorg van enigiemand anders plaas wat met groter liefde na ons sal omsien?

18. Waarom verskaf dit groter geluk om in ooreenstemming met ons toewyding aan Jehovah te lewe as om aan enigiets of enigiemand anders toegewy te wees?

18 As ons ons aan Jehovah toewy en daarna in ooreenstemming met daardie toewyding lewe deur sy wil te doen, verskaf dit ons groter geluk as om aan enigiets of enigiemand anders toegewy te wees. Byvoorbeeld, baie mense wy hulle lewe aan die najaging van materiële rykdom sonder om ware geluk en ware bevrediging te vind. Maar dié wat hulle aan Jehovah toewy, vind blywende geluk (Matt. 6:24). Die eer om “God se medewerkers” te wees, maak hulle gelukkig, en tog is hulle toewyding nie aan ’n werk nie, maar aan ons waarderende God (1 Kor. 3:9). Daar is niemand wat hulle selfopoffering meer waardeer as hy nie. Hy sal selfs sy lojale knegte tot hulle jeug laat terugkeer sodat hulle vir ewig by sy sorg kan baat vind.—Job 33:25; lees Hebreërs 6:10.

19. Watter voorreg geniet dié wat hulle aan Jehovah toewy?

19 Wanneer jy jou lewe aan Jehovah toewy, bring dit jou in ’n hegte verhouding met hom. Die Bybel sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jak. 4:8; Ps. 25:14). In die volgende artikel sal ons bespreek waarom ons met vertroue kan kies om aan Jehovah te behoort.

[Voetnoot]

a Jesus se “ander skape” sal eers aan die einde van die duisend jaar kinders van God word. Maar omdat hulle hulle aan God toegewy het, kan hulle God gepas as “Vader” aanspreek en kan hulle tereg as lede van Jehovah se gesin van aanbidders beskou word.—Joh. 10:16; Jes. 64:8; Matt. 6:9; Op. 20:5.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe sal jy antwoord?

• Wat beteken dit om jou aan God toe te wy?

• Hoe vind ons daarby baat as ons ons aan God toewy?

• Waarom moet Christene hulle aan Jehovah toewy?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 6]

As ons in ooreenstemming met ons toewyding lewe, lei dit tot ons blywende geluk