Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help jou kinders om hulle talle uitdagings die hoof te bied

Help jou kinders om hulle talle uitdagings die hoof te bied

Help jou kinders om hulle talle uitdagings die hoof te bied

ONS jongmense verkeer onder hewige druk. Hulle word blootgestel aan die gees van Satan se goddelose wêreld, en hulle moet stry teen “die begeertes wat eie is aan die jeug” (2 Tim. 2:22; 1 Joh. 5:19). En omdat hulle daarna streef om ‘aan hulle Grootse Skepper te dink’, moet hulle bespotting—selfs teistering—verduur van diegene wat hulle godsdiensoortuigings teëstaan (Pred. 12:1). ’n Broer met die naam Vincent dink terug aan sy kinderdae en sê: “Daar was altyd iemand wat my getreiter, geboelie of met my skoor gesoek het omdat ek ’n Getuie is. Baie keer was dit so erg dat ek nie wou skool toe gaan nie.” a

Benewens die druk van die wêreld moet ons seuns en dogters dalk ook stry teen hulle eie begeerte om soos hulle portuurs te wees. “Dit is nie maklik om anders te wees nie”, sê Cathleen, ’n suster in haar laat tienerjare. ’n Jong broer met die naam Alan erken: “My skoolmaats het my dikwels genooi om oor naweke saam met hulle uit te gaan, en ek wou regtig graag gaan.” Verder kan jongmense ’n sterk begeerte hê om aan skoolsport deel te neem, wat maklik tot slegte assosiasie kan lei. “Ek is lief vir sport”, sê ’n jong suster met die naam Tanya. “Die afrigters by die skool het my gedurig in die span probeer kry. Dit was moeilik om nee te sê.”

Hoe kan jy jou kinders help om hulle talle uitdagings die hoof te bied? Jehovah het ouers die opdrag gegee om hulle kinders van leiding te voorsien (Spr. 22:6; Ef. 6:4). Die doelwit van godvresende ouers is om in hulle kinders se hart ’n begeerte te wek om Jehovah te gehoorsaam (Spr. 6:20-23). Sodoende sal kinders beweeg word om die wêreld se druk te weerstaan selfs wanneer hulle ouers nie daar is nie.

Dit is ’n uitdaging vir ouers om ’n bestaan te maak, kinders groot te maak en na gemeentelike bedrywighede om te sien—alles tegelykertyd. Party moet dit as ’n enkelouer doen of terwyl hulle deur ’n ongelowige huweliksmaat teëgestaan word. Nogtans vereis Jehovah dat ouers tyd opsysit om hulle kinders te ondersteun. Wat kan jy dan doen om jou kinders te help om ’n skans te bou teen die portuurdruk, versoekings en teistering waarvoor hulle dag ná dag te staan kom?

’n Persoonlike verhouding met Jehovah

In die eerste plek moet ons jongmense Jehovah as ’n werklike Persoon leer ken. Hulle moet gehelp word om “die Onsigbare [te] sien” (Heb. 11:27). Vincent, wat vroeër genoem is, onthou hoe sy ouers hom gehelp het om ’n persoonlike verhouding met Jehovah op te bou. Hy sê: “Hulle het my geleer hoe belangrik gebed is. Ek kan onthou dat ek van kleins af elke aand voordat ek gaan slaap het, tot Jehovah gebid het. Jehovah was vir my ’n werklike persoon.” Bid jy saam met jou kinders? Luister gerus na wat hulle in hulle persoonlike gebede vir Jehovah sê. Herhaal hulle net dieselfde woorde? Of sê hulle in hulle gebede hoe hulle werklik oor Jehovah voel? As jy na hulle gebede luister, sal jy dalk kan sien in watter mate hulle geestelike vooruitgang maak.

Nog ’n belangrike manier waarop jongmense nader aan Jehovah kom, is deur self die Woord van God te lees. Cathleen, wat vroeër genoem is, sê: “Die feit dat ek die Bybel op ’n jong ouderdom deurgelees het, het my gehelp. Dit het my die vertroue gegee dat ek Jehovah se steun het, selfs al was mense teen my.” Het jou kinders hulle eie Bybelleesprogram?—Ps. 1:1-3; 77:12.

Dit is waar dat kinders verskillend op hulle ouers se leiding reageer. Hulle geestelike vooruitgang hang moontlik ook van hulle ouderdom af. Maar sonder leiding sal dit vir jongmense moeilik wees om Jehovah as ’n werklike Persoon te leer ken. Ouers moet God se woorde by hulle kinders inskerp sodat die kinders Jehovah as ’t ware kan hoor praat, waar hulle ook al is (Deut. 6:6-9). Jou kinders moet glo dat Jehovah vir hulle as individue omgee.

Kommunikasie—Hoe om dit betekenisvol te maak

Kommunikasie is nog ’n belangrike manier waarop jy jou kinders kan help. Goeie kommunikasie behels natuurlik meer as om net met jou kinders te praat. Dit sluit in dat jy vrae vra en geduldig na hulle antwoorde luister—selfs al is dit nie die antwoorde wat jy wil hoor nie. “Ek vra vrae totdat ek voel dat ek verstaan wat hulle dink en waarmee hulle te kampe het in hulle lewe”, sê Anne, ’n ma van twee seuns. Voel jou kinders dat jy na hulle luister? Tanya, wat vroeër aangehaal is, sê: “My ouers het regtig na my geluister en het ons gesprekke onthou. Hulle het die name van my klasmaats geken. Hulle het gevra hoe dit met hulle gaan en ook gevra oor ander situasies waaroor ons al voorheen gesels het.” Om te luister en te onthou, is baie belangrik vir suksesvolle kommunikasie.

Baie gesinne het gevind dat etenstye goeie geleenthede vir betekenisvolle kommunikasie bied. “In ons gesin was dit belangrik dat ons saam eet”, verduidelik Vincent. “Daar is van ons verwag om, wanneer moontlik, saam met die gesin aan tafel te wees. Ons is nie toegelaat om televisie te kyk, na die radio te luister of te lees terwyl ons eet nie. Omdat die gesprekke meestal lig was, was dit vir my elke dag ’n rustige tydjie wat my gehelp het om die chaos en druk by die skool te hanteer.” Hy voeg by: “Omdat ek gewoond daaraan was om etenstye met my ouers te gesels, het ek ook op my gemak gevoel om oor ernstiger sake met hulle te praat.”

Vra jou af: ‘Hoeveel keer elke week eet ons saam as ’n gesin?’ Sal aanpassings op hierdie gebied jou die geleentheid gee om meer dikwels en beter met jou kinders te kommunikeer?

Waarom oefensessies so waardevol is

’n Weeklikse aand vir Gesinsaanbidding bevorder ook betekenisvolle kommunikasie en help jongmense om spesifieke probleme te hanteer. Alan, wat vroeër genoem is, sê: “My ouers het die gesinstudie gebruik om te hoor wat ons op die hart het. Hulle het onderwerpe bespreek wat van toepassing was op kwessies waarvoor ons te staan gekom het.” Alan se ma sê: “Ons het ’n deel van die studietyd vir oefensessies gebruik. Hierdie oefensessies het ons kinders gehelp om te leer hoe om hulle geloof te verdedig en om te bewys dat die dinge wat hulle glo, die waarheid is. Dit het hulle die nodige vertroue gegee om uitdagings te bowe te kom.”

Ja, wanneer kinders voor portuurdruk te staan kom, moet hulle dikwels meer doen as om net nee te sê en weg te stap. Hulle moet vrae soos waarom en waarom nie kan beantwoord. Hulle moet ook seker wees van wat hulle gaan doen wanneer hulle weens hulle geloof bespot word. As hulle nie hulle godsdiensoortuigings kan verdedig nie, sal dit vir hulle moeilik wees om ’n moedige standpunt vir ware aanbidding in te neem. Oefensessies kan kinders help om daardie vertroue op te bou.

Die  venster op bladsy 18 noem ’n paar scenario’s wat gedurende julle aand vir Gesinsaanbidding geoefen kan word. Maak hierdie oefensessies realisties deur jou kinders se antwoorde te bevraagteken. Bespreek ook party van die praktiese lesse wat ons uit Bybelvoorbeelde kan leer. Sulke opleiding by die huis sal jou kinders ongetwyfeld toerus om die uitdagings by die skool en elders die hoof te bied.

Is julle huis ’n veilige hawe?

Is julle huis die soort plek waarna jou kinders uitsien om na terug te keer aan die einde van elke skooldag? As dit ’n veilige hawe is, sal dit jou kinders help om hulle daaglikse uitdagings die hoof te bied. ’n Suster wat nou ’n lid van ’n Bethelgesin is, sê: “Toe ek grootgeword het, was een van die belangrikste dinge vir my die feit dat ons huis ’n veilige hawe was. Ongeag hoe sleg die situasie by die skool was, ek het geweet dat alles weer reg sal wees as ek by die huis kom.” Wat is kenmerkend van die atmosfeer in julle huis? Is dit ’n plek waar “vlae van toorn, rusies [en] verdeeldhede” iets algemeens is, of word dit geken aan “liefde, vreugde [en] vrede”? (Gal. 5:19-23). As vrede dikwels ontbreek, kan jy jou afvra: Probeer ek hard om uit te vind watter veranderinge nodig is om ons huis ’n veilige hawe vir my kinders te maak?

Nog ’n manier om jou kinders te help om uitdagings die hoof te bied, is deur die inisiatief te neem om opbouende assosiasie vir hulle te voorsien. Kan jy byvoorbeeld ’n paar geestelikgesinde broers en susters van die gemeente by jou gesin se ontspanning insluit? Of kan jy die reisende opsiener of ander in voltydse diens na jou huis nooi vir ’n eenvoudige ete? Ken jy enige sendelinge of Betheliete met wie jou kinders vriende kan maak, selfs al is dit net per brief, e-pos of deur telefoonoproepe van tyd tot tyd? Sulke verhoudings kan jou kinders help om reguit paaie vir hulle voete te maak en geestelike doelwitte te stel. Dink aan die goeie uitwerking wat die apostel Paulus op jong Timoteus gehad het (2 Tim. 1:13; 3:10). Paulus se noue omgang met hom het Timoteus gehelp om sy verstand op geestelike doelwitte gerig te hou.—1 Kor. 4:17.

Prys jou kinders

Dit behaag Jehovah om te sien dat jongmense hulle standpunt inneem vir wat reg is, ten spyte van die druk van Satan se wêreld (Ps. 147:11; Spr. 27:11). Jy is ongetwyfeld ook bly wanneer jy sien dat ons jongmense ’n wyse weg kies (Spr. 10:1). Sê vir jou kinders hoe jy oor hulle voel en prys hulle gereeld op liefdevolle wyse. Jehovah het ’n uitstekende voorbeeld vir ouers gestel. Toe Jesus gedoop is, het Jehovah gesê: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur” (Mark. 1:11). Hoe moes sy Vader se versekering Jesus tog versterk het om die talle uitdagings waarvoor hy te staan sou kom, die hoof te bied! Net so moet jy vir jou kinders sê dat jy hulle liefhet en aan hulle erkenning gee vir wat hulle bereik.

Toegegee, jy kan jou kinders nie heeltemal teen druk, teistering en bespotting beskerm nie. Maar jy kan wel baie doen om hulle te help. Hoe? Help hulle om ’n persoonlike verhouding met Jehovah aan te kweek. Skep ’n atmosfeer wat sinvolle gesprekke bevorder. Maak die aand vir Gesinsaanbidding prakties, en maak jou huis ’n veilige hawe. Deur dit te doen, sal jy ongetwyfeld jou kinders toerus om hulle talle uitdagings die hoof te bied.

[Voetnoot]

a Van die name in hierdie artikel is verander.

[Venster/Prent op bladsy 18]

 OEFENSESSIES KAN HELP

Hier is ’n paar voorbeelde van situasies waarvoor ons jongmense te staan kom. Oefen gerus ’n paar van hierdie scenario’s gedurende julle aand vir Gesinsaanbidding.

▸ ’n Afrigter vra jou dogter om by die skoolspan aan te sluit.

▸ Iemand bied jou seun ’n sigaret aan op pad huis toe van die skool af.

▸ ’n Paar seuns dreig om jou seun te slaan as hulle hom weer sien preek.

▸ Terwyl jou dogter in velddiens van huis tot huis werk, kom sy ’n skoolmaat teë.

▸ Jou dogter word voor die hele klas gevra waarom sy nie die vlag salueer nie.

▸ ’n Seun bespot jou seun gedurig omdat hy ’n Getuie is.

[Prent op bladsy 17]

Het jou kinders hulle eie Bybelleesprogram?

[Prent op bladsy 19]

Sluit jy geestelikgesinde persone by julle ontspanning in?