Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se manier van regeer word geregverdig!

Jehovah se manier van regeer word geregverdig!

Jehovah se manier van regeer word geregverdig!

“Die Allerhoogste [is] die Heerser in die koninkryk van die mensdom.”—DAN. 4:17.

1, 2. Wat is party redes waarom menseheerskappy misluk het?

 MENSEHEERSKAPPY het misluk! Dit ly geen twyfel nie. ’n Vername rede vir hierdie mislukking is dat mense nie wys genoeg is om met welslae te regeer nie. Die mislukking van menseheerskappy kan vandag baie duidelik gesien word aan die feit dat soveel heersers ‘liefhebbers van hulleself is, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, dislojaal, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers en opgeblase van trots’.—2 Tim. 3:2-4.

2 Lank gelede het ons eerste ouers God se manier van regeer verwerp. Deur dit te doen, het hulle dalk gedink dat hulle onafhanklikheid kies. Maar in werklikheid het hulle hulle aan Satan se manier van regeer onderwerp. Sesduisend jaar van wanbestuur deur mense—onder die kragtige invloed van “die heerser van hierdie wêreld”, Satan—het tot die huidige laagtepunt in die mensegeskiedenis gelei (Joh. 12:31). In ’n kommentaar oor die toestand waarin die mensdom vandag verkeer, sê The Oxford History of the Twentieth Century dat dit tevergeefs is “om na ’n volmaakte wêreld te soek”. Dit verduidelik: “Dit is nie net onmoontlik om dit te vind nie, maar pogings om dit te skep, lei tot rampspoed, totalitarisme en die wreedste oorloë.” Wat ’n openlike erkenning dat menseheerskappy ’n mislukking is!

3. Wat kan ons sê oor die manier waarop God sou regeer het indien Adam en Eva nie gesondig het nie?

3 Hoe tragies dan dat ons eerste ouers die enigste soort heerskappy wat wel werk—God se heerskappy—verwerp het! Ons weet natuurlik nie presies hoe Jehovah sy heerskappy oor die aarde sou uitgeoefen het indien Adam en Eva aan hom getrou gebly het nie. Maar ons kan seker wees dat goddelike heerskappy wat deur die hele mensdom aanvaar word, deur liefde en onpartydigheid gekenmerk sou word (Hand. 10:34; 1 Joh. 4:8). Met die oog op God se weergalose wysheid kan ons ook seker wees dat al die foute wat deur die voorstanders van menseheerskappy begaan is, vermy kon gewees het indien die mensdom onder Jehovah se heerskappy gebly het. Heerskappy deur God, met ander woorde teokrasie, sou daarin geslaag het om “die begeerte van alles wat lewe” te bevredig (Ps. 145:16). Kortom, dit sou ’n volmaakte heerskappy gewees het (Deut. 32:4). Hoe tragies tog dat mense dit verwerp het!

4. In watter mate is Satan toegelaat om te regeer?

4 Dit is nogtans goed om te onthou dat Jehovah, hoewel hy mense toegelaat het om oor hulleself te regeer, nooit afstand gedoen het van sy reg om oor sy skepsele te regeer nie. Selfs die magtige koning van Babilon is gedwing om te erken dat die Allerhoogste per slot van sake “die Heerser in die koninkryk van die mensdom is” (Dan. 4:17). Op die lange duur sal God se Koninkryk sy wil laat geskied (Matt. 6:10). Jehovah het Satan weliswaar op kort termyn toegelaat om as “die god van hierdie stelsel van dinge” op te tree sodat hy ’n bevredigende antwoord kan voorsien op die geskille wat hierdie teenstander geopper het (2 Kor. 4:4; 1 Joh. 5:19). Maar Satan kon nooit verder gaan as wat Jehovah hom toelaat nie. (2 Kron. 20:6; vergelyk Job 1:11, 12; 2:3-6.) En daar was nog altyd mense wat gekies het om hulle aan God te onderwerp, al het hulle in ’n wêreld gelewe wat deur God se groot Teenstander regeer is.

God se heerskappy oor Israel

5. Watter verbintenis het Israel met God aangegaan?

5 Van die tyd van Abel af tot die tyd van die aartsvaders het ’n aantal getroue mense Jehovah aanbid en sy gebooie gehoorsaam (Heb. 11:4-22). In Moses se dag het Jehovah ’n verbond met die nageslag van die aartsvader Jakob gesluit, en hulle het die nasie Israel geword. In 1513 VHJ het die Israeliete hulle en hulle afstammelinge daartoe verbind om Jehovah as Heerser te aanvaar en gesê: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen.”—Eks. 19:8.

6, 7. Waardeur is God se heerskappy oor Israel gekenmerk?

6 Jehovah het ’n doel voor oë gehad toe hy die Israeliete gekies het om sy volk te wees. (Lees Deuteronomium 7:7, 8.) Hierdie keuse het meer as net die welsyn van die Israeliete behels. God se naam en soewereiniteit was ook daarby betrokke, en dit was van groter belang. Israel moes ’n getuie wees van die feit dat Jehovah die enigste ware God is (Jes. 43:10; 44:6-8). Daarom het Jehovah vir hierdie nasie gesê: “Jy is ’n heilige volk vir Jehovah jou God, en Jehovah het jou uitgekies om sy volk te word, ’n spesiale eiendom, uit al die volke wat op die oppervlak van die aarde is.”—Deut. 14:2.

7 Die manier waarop God oor die Israeliete regeer het, het getoon dat hy hulle onvolmaaktheid in ag geneem het. Terselfdertyd was sy wette volmaak en het dit die eienskappe van die Gewer daarvan weerspieël. Jehovah se gebooie wat deur Moses gegee is, het God se heiligheid, sy liefde vir geregtigheid, sy bereidwilligheid om te vergewe en sy geduld duidelik na vore laat kom. Later, in die tyd van Josua en sy geslag, het die nasie Jehovah se gebooie gehoorsaam en het hulle vrede en geestelike seëninge geniet (Jos. 24:21, 22, 31). Daardie tydperk in Israel se geskiedenis het getoon hoe suksesvol Jehovah se manier van regeer is.

Menseheerskappy—Teen ’n hoë prys

8, 9. Watter onverstandige versoek het Israel gerig, en met watter gevolge?

8 Mettertyd het die Israeliete egter God se heerskappy dikwels verwerp en gely omdat hulle nie sy beskerming geniet het nie. Uiteindelik het die Israeliete deur die profeet Samuel ’n sigbare mensekoning geëis. Jehovah het vir Samuel gesê om hulle versoek toe te staan. Maar Jehovah het bygevoeg: “Nie jou het hulle verwerp nie, maar my het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie” (1 Sam. 8:7). Hoewel Jehovah Israel toegelaat het om ’n sigbare koning te hê, het hy gewaarsku dat heerskappy deur ’n mensekoning hulle duur te staan sou kom.—Lees 1 Samuel 8:9-18.

9 Die geskiedenis het getoon hoe waar Jehovah se waarskuwing was. Israel het ernstige probleme onder die heerskappy van ’n mensekoning ondervind, veral wanneer daardie koning ontrou was. Met die oog op Israel se voorbeeld is dit nie verbasend dat regerings in die hande van mense wat Jehovah nie ken nie, deur die eeue heen nie blywende goeie resultate kon teweegbring nie. Ja, party politici vra wel God se seën op hulle pogings om vrede en veiligheid te bewerkstellig, maar hoe kan God dié seën wat hulle nie aan sy manier van regeer onderwerp nie?—Ps. 2:10-12.

’n Nuwe nasie onder God se heerskappy

10. Waarom is Israel as God se uitverkore volk vervang?

10 Die nasie Israel was nie bereid om Jehovah getrou te dien nie. Hulle het uiteindelik God se aangestelde Messias verwerp, en Jehovah het hulle verwerp en hom voorgeneem om hulle te vervang met ’n groep mense wat ’n nuwe nasie uitmaak. Gevolglik het die Christengemeente van gesalfde aanbidders van Jehovah in die jaar 33 HJ tot stand gekom. Hierdie gemeente was in werklikheid ’n nuwe nasie onder Jehovah se regeringsmag. Paulus het hierna verwys as “die Israel van God”.—Gal. 6:16.

11, 12. Watter ooreenkomste is daar tussen Israel en “die Israel van God” wat toesig betref?

11 Daar is verskille sowel as ooreenkomste tussen die oorspronklike nasie Israel en die nuwe “Israel van God”. Anders as eertydse Israel het die Christengemeente geen mensekoning nie en is dit nie nodig om diereoffers ten behoewe van sondaars te bring nie. Een ooreenkoms tussen die nasie Israel en die Christengemeente is die reëling van ouer manne (Eks. 19:3-8). Hierdie Christen- ouer manne heers nie oor die kudde nie. Hulle hou eerder as herders toesig oor die gemeente en neem ywerig die leiding in Christelike bedrywighede. Hulle behandel elkeen in die gemeente liefdevol deur eer en waardigheid aan almal te verleen.—2 Kor. 1:24; 1 Pet. 5:2, 3.

12 Wanneer lede van “die Israel van God” en hulle metgeselle, die “ander skape”, oor God se handelinge met Israel peins, vergroot dit hulle waardering vir Jehovah en sy manier van regeer (Joh. 10:16). Die geskiedenis toon byvoorbeeld dat die menseheersers van Israel ’n groot invloed op hulle onderdane gehad het, hetsy goed of sleg. Hierdie feit laat dié wat onder Christene die leiding neem, besef dat hulle, hoewel hulle nie soos daardie eertydse konings heersers is nie, altyd ’n goeie voorbeeld van geloof moet stel.—Heb. 13:7.

Hoe Jehovah vandag regeer

13. Watter belangrike mylpaal is in 1914 bereik?

13 Christene verkondig vandag vir die wêreld dat heerskappy deur mense oor mense binnekort tot ’n einde sal kom. In 1914 het Jehovah sy Koninkryk in die hemele opgerig onder die toesig van sy aangestelde Koning, Jesus Christus. Op daardie tydstip het hy Jesus die gesag gegee om uit te gaan “om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi” (Op. 6:2). Daar is vir die pas gekroonde Koning gesê: “Gaan oorwin te midde van jou vyande” (Ps. 110:2). Ongelukkig het die nasies nog altyd geweier om hulle aan Jehovah se heerskappy te onderwerp. Hulle het voortdurend opgetree asof “daar . . . geen Jehovah [is] nie”.—Ps. 14:1.

14, 15. (a) Hoe word ons vandag deur God se Koninkryk regeer, en watter vrae moet ons ons in hierdie verband afvra? (b) Hoe word die voortreflikheid van God se heerskappy vandag gesien?

14 ’n Paar gesalfde lede van “die Israel van God” bly nog oor, en as Jesus se broers gaan hulle voort om te dien as “ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree” (2 Kor. 5:20). Hulle is aangestel as ’n “getroue en verstandige slaaf”-klas om geestelike voedsel te voorsien aan die gesalfdes en aan ’n toenemende skare Christene, wat nou miljoene tel en die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe (Matt. 24:45-47; Op. 7:9-15). Jehovah se seën op hierdie reëling kan duidelik gesien word in die geestelike voorspoed wat ware aanbidders vandag geniet.

15 Dit sal verstandig wees as elkeen van ons ons afvra: ‘Besef ek ten volle watter verantwoordelikheid ek in die Christengemeente moet dra? Ondersteun ek Jehovah se manier van regeer behoorlik? Is ek trots om ’n onderdaan van Jehovah se heersende Koninkryk te wees? Is ek vasbeslote om, in die mate wat ek redelikerwys kan, voort te gaan om ander van God se Koninkryk te vertel?’ As ’n groep onderwerp ons ons gewillig aan die leiding van die Bestuursliggaam en gee ons ons samewerking aan die aangestelde ouer manne in die gemeentes. Op hierdie maniere bewys ons dat ons God se manier van regeer aanvaar. (Lees Hebreërs 13:17.) Gewillige onderdanigheid lei tot wêreldwye eenheid wat uniek is in hierdie verdeelde wêreld. Dit bring ook vrede en regverdigheid voort en verheerlik Jehovah, wat bewys dat sy manier van regeer verreweg die beste is.

Jehovah se heerskappy seëvier

16. Voor watter besluit staan almal vandag?

16 Die tyd kom vinnig nader wanneer die geskille wat in Eden geopper is, besleg sal word. Dit is dus nou die tyd vir mense om ’n besluit te neem. Elke individu moet besluit of hy Jehovah se manier van regeer gaan aanvaar en of hy aan menseheerskappy gaan vasklou. Dit is ons voorreg om sagmoediges te help om die regte besluit te neem. Binnekort, by Armageddon, sal menseregerings onder Satan se invloed permanent deur Jehovah se manier van regeer vervang word (Dan. 2:44; Op. 16:16). Menseheerskappy sal tot ’n einde kom, en God se Koninkryk sal oor die hele aarde regeer. Jehovah se manier van regeer sal in die volste sin van die woord geregverdig word.—Lees Openbaring 21:3-5.

17. Watter feite help sagmoediges om ’n goeie besluit ten opsigte van heerskappy te neem?

17 Dié wat nog nie ’n definitiewe besluit ten gunste van Jehovah geneem het nie, moet biddend nadink oor die voordele wat God se manier van regeer vir die mensdom inhou. Menseheerskappy kon nie die probleem van misdaad, insluitende terrorisme, oplos nie. God se heerskappy sal al die goddeloses van die aarde verwyder (Ps. 37:1, 2, 9). Die mens se heerskappy het tot onophoudelike oorlogvoering gelei, maar God se heerskappy sal “oorloë [laat] ophou tot aan die einde van die aarde” (Ps. 46:9). God se heerskappy sal selfs vrede tussen mense en diere herstel! (Jes. 11:6-9). Onder menseheerskappy was daar nog altyd armoede en hongersnood, maar God se heerskappy sal dit verwyder (Jes. 65:21). Selfs menseheersers met die allerbeste bedoelings kan nie siekte en die dood verwyder nie, maar onder God se heerskappy sal bejaardes en siekes hulle verheug wanneer hulle tot jeugdige krag terugkeer (Job 33:25; Jes. 35:5, 6). Die aarde sal inderdaad ’n paradys word waarin daar selfs ’n opstanding van die dooies sal wees.—Luk. 23:43; Hand. 24:15.

18. Hoe kan ons toon dat ons glo dat God se manier van regeer die beste is?

18 Ja, God se heerskappy sal al die skade ongedaan maak wat Satan aangerig het toe hy ons eerste ouers beïnvloed het om hulle Skepper die rug toe te keer. En dink net, Satan rig al sowat 6 000 jaar lank skade aan, maar God sal, deur middel van Christus, al daardie skade binne 1 000 jaar ongedaan maak! Wat ’n glorieryke bewys van die voortreflikheid van God se manier van regeer! As Getuies vir ons God aanvaar ons hom as ons Heerser. Laat ons dus elke dag, trouens elke uur, van ons lewe bewys dat ons aanbidders van Jehovah en onderdane van sy Koninkryk is en dat ons trots is om sy Getuies te wees. En laat ons elke geleentheid gebruik om elkeen wat sal luister, te vertel dat Jehovah se manier van regeer die allerbeste is.

Wat het ons oor God se heerskappy geleer uit . . . 

Deuteronomium 7:7, 8?

1 Samuel 8:9-18?

Hebreërs 13:17?

Openbaring 21:3-5?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 29]

Jehovah het nog altyd sy heerskappy behou

[Prent op bladsy 31]

Gewillige onderdanigheid aan Jehovah se manier van regeer lei tot wêreldwye eenheid