Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gebruik elke dag van jou lewe tot heerlikheid van God

Gebruik elke dag van jou lewe tot heerlikheid van God

Gebruik elke dag van jou lewe tot heerlikheid van God

“LAAT my u liefderyke goedhartigheid in die oggend hoor”, het die psalmis Dawid tot Jehovah gebid. “Maak aan my die weg bekend waarop ek moet wandel” (Ps. 143:8). Wanneer jy wakker word en Jehovah dank vir ’n nuwe dag van lewe, smeek jy Jehovah dan om jou te help om die regte besluite te neem en op die beste manier op te tree, net soos Dawid gedoen het? Jy doen dit ongetwyfeld.

As toegewyde knegte van Jehovah streef ons daarna om, “hetsy [ons] eet of drink of enigiets anders doen, . . . alles tot heerlikheid van God” te doen (1 Kor. 10:31). Ons besef dat die manier waarop ons ons daaglikse lewe lei, Jehovah óf tot eer óf tot oneer sal strek. Ons onthou ook dat God se Woord sê dat Satan Christus se broers—en in werklikheid al God se knegte op aarde—“dag en nag” beskuldig (Op. 12:10). Daarom is ons vasbeslote om ’n antwoord op Satan se valse aantygings te voorsien en om Jehovah se hart bly te maak deur “dag en nag” heilige diens aan ons hemelse Vader te verrig.—Op. 7:15; Spr. 27:11.

Kom ons kyk kortliks na twee belangrike maniere waarop ons elke dag van ons lewe tot heerlikheid van God kan gebruik. Die eerste behels dat ons die regte prioriteite moet hê, en die tweede dat ons bedagsaam teenoor ander moet wees.

Hoe om ons belofte na te kom

Toe ons ons aan Jehovah toegewy het, het ons ons opregte begeerte uitgespreek om hom te dien. Ons het Jehovah ook belowe dat ons “dag na dag”—ja, vir ewig—in sy weë sal wandel (Ps. 61:5, 8). Maar hoe kom ons hierdie belofte na? Hoe toon ons elke dag ons heelhartige liefde vir Jehovah?

God se Woord sit die verantwoordelikhede duidelik uiteen wat Jehovah verwag dat ons moet nakom (Deut. 10:12, 13). ’n Paar hiervan verskyn in die venster  “Godgegewe verantwoordelikhede”, op bladsy 22. Al hierdie toewysings kom van God en is dus belangrik. Hoe besluit ons watter een die voorkeur moet geniet wanneer twee of meer tegelykertyd ons aandag vereis?

Ons gee voorkeur aan ons heilige diens, wat Bybelstudie, gebed, Christelike vergaderinge en die bediening insluit (Matt. 6:33; Joh. 4:34; 1 Pet. 2:9). Maar geestelike bedrywighede kan nie ons hele dag in beslag neem nie. Werk, skool en talle huishoudelike take moet ook ingepas word. Nietemin doen ons ons bes om sekulêre werk en ander bedrywighede so te reël dat dit nie inbreuk maak op ons heilige diens, soos om Christelike vergaderinge by te woon nie. Wanneer ons byvoorbeeld ’n vakansie beplan, maak ons seker dat ons nie die kringopsiener se besoek, ’n spesiale byeenkomsdag of ’n kring- of streekbyeenkoms sal misloop nie. Soms kan ons ’n paar van ons verantwoordelikhede kombineer. Ons kan dit byvoorbeeld ’n gesinsprojek maak om die Koninkryksaal skoon te maak, of ons kan etenstyd by die werk of skool gebruik om vir werks- of skoolmaats te getuig. Trouens, wanneer ons ook al ’n keuse in ons lewe moet maak—soos om werk te vind, ’n besluit in verband met opvoeding te neem of vriende te kies—wil ons hê dat ons besluite beïnvloed moet word deur ons hoogste prioriteit in die lewe—die aanbidding van Jehovah, ons liefdevolle Vader.—Pred. 12:13.

Wees bedagsaam teenoor ander

Jehovah wil hê dat ons besorg oor ander moet wees en aan hulle goed moet doen. Satan daarenteen bevorder selfsug. Sy wêreld is vol mense wat “liefhebbers van hulleself” en “liefhebbers van genot” is, sowel as dié wat “met die oog op [die] vlees saai” (2 Tim. 3:1-5; Gal. 6:8). Baie dink nie juis aan die uitwerking wat hulle dade op ander het nie. “Die werke van die vlees” is oral te sien.—Gal. 5:19-21.

Hoe anders tog is die gesindheid van diegene wat deur Jehovah se heilige gees beweeg word om liefde, goedhartigheid en goedheid in hulle handelinge met ander te openbaar! (Gal. 5:22). God se Woord sê dat ons ander se behoeftes bo ons eie moet stel. Daarom stel ons opreg belang in mekaar, hoewel ons daarop let om nie in persoonlike sake in te meng nie (1 Kor. 10:24, 33; Fil. 2:3, 4; 1 Pet. 4:15). Ons is veral bedagsaam teenoor medegelowiges. Maar ons probeer ook behulpsaam teenoor ongelowiges wees (Gal. 6:10). Kan jy vandag op die uitkyk wees na ’n geleentheid om goedhartigheid te betoon aan iemand wat jy teëkom?—Sien die venster  “Wees bedagsaam teenoor hulle”, op bladsy 23.

Ons moenie net op sekere tye of in spesifieke situasies bedagsaam wees nie (Gal. 6:2; Ef. 5:2; 1 Tess. 4:9, 10). Ons probeer eerder elke dag bewus wees van ander se omstandighede en help geredelik wanneer nodig, selfs wanneer dit dalk vir ons ongeleë is. Ons wil vrygewig wees met wat ons ook al tot ons beskikking het—ons tyd, materiële besittings, ondervinding en wysheid. Jehovah verseker ons dat hy vrygewig teenoor ons sal wees as ons vrygewig teenoor ander is.—Spr. 11:25; Luk. 6:38.

Heilige diens “dag en nag”

Is dit werklik moontlik om “dag en nag” heilige diens aan Jehovah te verrig? Ja, deur gereeld en pligsgetrou in alle aspekte van ons aanbidding te wees (Hand. 20:31). Ons kan ons lewe met heilige diens vul deur elke dag God se Woord te lees en daaroor te peins, onophoudelik te bid, daarna te streef om by al die vergaderinge te wees en van elke geleentheid gebruik te maak om te getuig.—Ps. 1:2; Luk. 2:37; Hand. 4:20; 1 Tess. 3:10; 5:17.

Verrig ons persoonlik sulke heilige diens aan Jehovah? Indien wel, sal ons begeerte om hom te behaag en ’n antwoord op Satan se aantygings te voorsien, weerspieël word in alle aspekte van ons daaglikse lewe. Ons streef daarna om Jehovah te verheerlik in alles wat ons doen en in watter situasie ons ons ook al bevind. Ons laat toe dat sy beginsels ons spraak en gedrag rig en ons lei in die besluite wat ons neem. Ons toon ons waardering vir sy liefdevolle sorg en ondersteuning deur ons volle vertroue in hom te stel en al ons krag in sy diens te gebruik. En ons verwelkom sy raad en dissipline wanneer ons weens ons onvolmaakthede nie aan sy standaarde voldoen nie.—Ps. 32:5; 119:97; Spr. 3:25, 26; Kol. 3:17; Heb. 6:11, 12.

Laat ons aanhou om elke dag tot heerlikheid van God te lewe. Sodoende sal ons verkwikking vir ons siele vind en vir ewig die liefdevolle sorg van ons hemelse Vader geniet.—Matt. 11:29; Op. 7:16, 17.

[Venster/Prente op bladsy 22]

 Godgegewe verantwoordelikhede

• Bid dikwels.—Rom. 12:12.

• Lees en bestudeer die Bybel en pas dit persoonlik toe.—Ps. 1:2; 1 Tim. 4:15.

• Aanbid Jehovah in die gemeente.—Ps. 35:18; Heb. 10:24, 25.

• Voorsien in ons gesin se materiële, geestelike en emosionele behoeftes.—1 Tim. 5:8.

• Verkondig die goeie nuus van die Koninkryk en maak dissipels.—Matt. 24:14; 28:19, 20.

• Sien om na ons fisiese, geestelike en emosionele gesondheid, wat heilsame ontspanning insluit.—Mark. 6:31; 2 Kor. 7:1; 1 Tim. 4:8, 16.

• Sien om na gemeentelike verantwoordelikhede.—Hand. 20:28; 1 Tim. 3:1.

• Sien om na die voorkoms van ons huis en die Koninkryksaal.—1 Kor. 10:32.

[Venster/Prent op bladsy 23]

 Wees bedagsaam teenoor hulle

• ’n Bejaarde broer of suster.—Lev. 19:32.

• Iemand wat aan ’n fisiese of ’n emosionele siekte ly.—Spr. 14:21.

• ’n Gemeentelid met ’n dringende behoefte waarin jy kan voorsien.—Rom. 12:13.

• ’n Lid van jou gesin.—1 Tim. 5:4, 8.

• ’n Medegelowige wie se huweliksmaat oorlede is.—1 Tim. 5:9.

• ’n Hardwerkende ouer man in julle gemeente.—1 Tess. 5:12, 13; 1 Tim. 5:17.