Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Die regverdiges sal so helder soos die son skyn’

‘Die regverdiges sal so helder soos die son skyn’

‘Die regverdiges sal so helder soos die son skyn’

“In dié tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn in die koninkryk van hulle Vader.”—MATT. 13:43.

1. Watter verskillende aspekte van die Koninkryk het Jesus deur middel van illustrasies verduidelik?

 JESUS CHRISTUS het baie illustrasies, of gelykenisse, gebruik om verskillende aspekte van die Koninkryk te verduidelik. Hy het “deur illustrasies” met die skare gepraat. “Ja, sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie” (Matt. 13:34). In illustrasies oor die saai van die saad van Koninkrykswaarheid het Jesus beklemtoon watter rol ’n persoon se hartstoestand daarin speel om die boodskap te aanvaar, sowel as die rol wat Jehovah daarin speel om geestelike groei te bewerkstellig (Mark. 4:3-9, 26-29). Jesus het ook die uitsonderlike groei in Koninkryksbelange hier op aarde deur illustrasies toegelig, al is daardie groei aan die begin nie altyd sigbaar nie (Matt. 13:31-33). Daarbenewens het hy beklemtoon dat nie almal wat op die Koninkryksboodskap reageer, noodwendig geskikte onderdane van daardie Koninkryk is nie.—Matt. 13:47-50. a

2. Wat stel die goeie saad in Jesus se illustrasie van die koring en die onkruid voor?

2 Maar een van Jesus se illustrasies vestig die aandag op die insameling van dié wat saam met Jesus in sy Koninkryk sal regeer. Dit word dikwels die gelykenis van die koring en die onkruid genoem en is opgeteken in Matteus hoofstuk 13. Terwyl Jesus in ’n ander illustrasie sê dat die saad wat gesaai word “die woord van die koninkryk” is, sê hy vir ons in hierdie illustrasie dat die goeie saad iets anders voorstel—“die kinders van die koninkryk” (Matt. 13:19, 38). Hulle is nie onderdane van die Koninkryk nie, maar eerder “kinders”, of erfgename, van die Koninkryk.—Rom. 8:14-17; lees Galasiërs 4:6, 7.

Die illustrasie van die koring en die onkruid

3. Verduidelik die probleem waarvoor die man in die illustrasie te staan kom en wat hy besluit om daaromtrent te doen.

3 Dít is die illustrasie: “Die koninkryk van die hemele het geword soos ’n man wat goeie saad in sy saailand gesaai het. Terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid daaroor gesaai, tussen die koring in, en weggegaan. Toe die halm uitspruit en vrug voortbring, het die onkruid ook verskyn. En die slawe van die huisheer het nader gekom en vir hom gesê: ‘Heer, het u nie goeie saad in u saailand gesaai nie? Hoe kom dit dan dat dit onkruid het?’ Hy het vir hulle gesê: ‘’n Vyand, ’n mens, het dit gedoen.’ Hulle het vir hom gesê: ‘Wil u dan hê dat ons moet uitgaan en dit bymekaar maak?’ Hy het gesê: ‘Nee; sodat julle nie miskien, terwyl julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat al twee saam groei tot die oes toe; en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, en gaan bring dan die koring in my voorraadskuur bymekaar.’”—Matt. 13:24-30.

4. (a) Wie is die man in die illustrasie? (b) Wanneer en hoe het Jesus hierdie saad begin saai?

4 Wie is die man wat die goeie saad in sy saailand gesaai het? Jesus het later die antwoord gegee toe hy aan sy dissipels verduidelik het: “Die saaier van die goeie saad is die Seun van die mens” (Matt. 13:37). Jesus, die “Seun van die mens”, het die saailand gedurende die drie en ’n half jaar van sy aardse bediening voorberei om besaai te word (Matt. 8:20; 25:31; 26:64). Toe het hy, vanaf Pinkster 33 HJ, die goeie saad—“die kinders van die koninkryk”—begin saai. Hierdie saaiwerk het klaarblyklik begin toe Jesus, as Jehovah se verteenwoordiger, die heilige gees op die dissipels begin uitstort het en hulle sodoende as God se kinders gesalf het (Hand. 2:33). b Die goeie saad het uiteindelik ryp koring geword. Die goeie saad is dus gesaai met die doel om uiteindelik die volle getal in te samel van dié wat saam met Jesus mede-erfgename en heersers in sy Koninkryk sou word.

5. Wie is die vyand in die illustrasie, en wie word deur die onkruid afgebeeld?

5 Wie is die vyand, en wie is die onkruid? Jesus sê vir ons dat die vyand “die Duiwel” is. Die onkruid word beskryf as “die kinders van die bose” (Matt. 13:25, 38, 39). Die onkruid waarna Jesus verwys het, was waarskynlik die letterlike baarddrabok. Hierdie giftige plant lyk baie soos koring in sy vroeë stadiums voordat dit ryp word. Wat ’n gepaste beeld is dit tog van naamchristene, dié wat beweer dat hulle kinders van die Koninkryk is, maar nie die ware vrugte voortbring nie! Hierdie huigelagtige Christene wat beweer dat hulle volgelinge van Christus is, is in werklikheid deel van Satan die Duiwel se “saad”.—Gen. 3:15.

6. Wanneer het die onkruid begin verskyn, en in watter sin het mense gedurende daardie tyd “geslaap”?

6 Wanneer het hierdie onkruidagtige Christene verskyn? “Terwyl die mense geslaap het”, sê Jesus (Matt. 13:25). Wanneer was dit? Ons vind die antwoord in die apostel Paulus se woorde aan die ouer manne uit Efese: “Ek weet dat onderdrukkende wolwe ná my vertrek onder julle sal inkom en die kudde nie met teerheid sal behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Hand. 20:29, 30). Hy het daardie ouer manne toe vermaan om geestelik wakker te bly. Nadat die apostels, wat as “’n teëhouer” teen die afvalligheid gedien het, begin afsterf het, het baie Christene geestelik aan die slaap geraak. (Lees 2 Tessalonisense 2:3, 6-8.) Dít was die begin van die groot afvalligheid.

7. Het party van die koring in onkruid verander? Verduidelik.

7 Jesus het nie gesê dat die koring onkruid sou word nie, maar dat onkruid tussen die koring gesaai is. Hierdie illustrasie beeld dus nie ware Christene uit wat van die waarheid afdwaal nie. Dit verwys eerder na ’n doelbewuste poging van Satan om die Christengemeente te verderf deur goddelose mense daarin te bring. Teen die tyd dat die laaste apostel, Johannes, bejaard was, kon hierdie afvalligheid duidelik gesien word.—2 Pet. 2:1-3; 1 Joh. 2:18.

“Laat al twee saam groei tot die oes toe”

8, 9. (a) Waarom sou die Heer se instruksies aan sy slawe sin gemaak het vir Jesus se toehoorders? (b) In watter sin het die koring en die onkruid in die vervulling saam gegroei?

8 Die Heer se slawe vertel hom van die probleem en vra: “Wil u dan hê dat ons moet uitgaan en [die onkruid] bymekaar maak?” (Matt. 13:27, 28). Sy antwoord is dalk verbasend. Hy sê vir hulle om die koring en die onkruid saam te laat groei tot die oestyd toe. Hierdie opdrag sou sin gemaak het vir Jesus se dissipels. Hulle sou geweet het hoe moeilik dit is om koring van drabok te onderskei. Diegene met landboukundige ondervinding sou ook weet dat die baarddrabok se wortelstelsel gewoonlik met dié van die koring verstrengel raak. c Geen wonder die Heer beveel hulle om te wag nie!

9 Die verskillende sektes van die Christendom het eweneens deur die eeue heen ’n ryk oes van onkruid voortgebring—eers onder die Rooms-Katolieke en Ortodokse kerke en later onder die tallose Protestantse groepe wat verskyn het. Terselfdertyd is ’n paar saadjies van die ware koring in die wêreldveld gesaai. Die huisheer in die illustrasie het gedurende die lang groeityd geduldig gewag totdat die betreklik korter oestyd sou aanbreek.

Die langverwagte oestyd

10, 11. (a) Wanneer vind die oes plaas? (b) Hoe word die simboliese koring in Jehovah se voorraadskuur ingebring?

10 Jesus sê vir ons: “Die oes is ’n voleinding van ’n stelsel van dinge, en dié wat oes, is engele” (Matt. 13:39). Gedurende die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge vind ’n skeiding plaas—die kinders van die Koninkryk word ingesamel en afgeskei van enige onkruidagtige persone. In hierdie verband sê die apostel Petrus vir ons: “Dit is die vasgestelde tyd vir die oordeel om by die huis van God te begin. As dit dan nou eers by ons begin, wat sal die einde wees van dié wat nie aan die goeie nuus van God gehoorsaam is nie?”—1 Pet. 4:17.

11 Kort nadat die laaste dae, of die “voleinding van ’n stelsel van dinge”, begin het, het die oordeel begin van dié wat beweer dat hulle ware Christene is—hetsy hulle in werklikheid “kinders van die koninkryk” of “kinders van die bose” is. Aan die begin van die oestyd het Babilon die Grote “eers” geval, en daarna is die kinders van die Koninkryk bymekaargebring (Matt. 13:30). Maar hoe is die simboliese koring van toe af in Jehovah se voorraadskuur ingebring? Hierdie geoestes is óf in die herstelde Christengemeente ingebring, waar hulle God se guns en beskerming geniet, óf hulle het hulle hemelse beloning ontvang.

12. Hoe lank duur die oes?

12 Hoe lank duur die oordeel? Jesus het van ’n “oestyd” gepraat, dit wil sê die oes strek oor ’n tydperk (Op. 14:15, 16). Die oordeel van individuele lede van die gesalfdes duur voort dwarsdeur die tyd van die einde. Dit sal voortduur totdat hulle finaal verseël is.—Op. 7:1-4.

13. In watter opsig veroorsaak die onkruid struikeling, en hoe bedryf hulle wetteloosheid?

13 Wie sal uit die Koninkryk bymekaargemaak word, en hoe veroorsaak hulle struikeling en bedryf hulle wetteloosheid? (Matt. 13:41). Die onkruidagtige geestelikes van die Christendom mislei miljoene mense al eeue lank. Hulle doen dit deur middel van godonterende leringe, “wat struikeling veroorsaak”, soos die leerstelling van ewige straf in ’n helse vuur en die verwarrende en geheimsinnige Drie-eenheid. Baie godsdiensleiers stel ’n slegte voorbeeld vir hulle kudde deur hulle owerspelige vriendskap met hierdie wêreld en in party gevalle hulle skaamtelose onsedelike gedrag (Jak. 4:4). Verder word die Christendom al hoe verdraagsamer teenoor onsedelikheid onder sy lidmate. (Lees Judas 4.) Ten spyte van alles behou hulle ’n uiterlike vertoon van vroomheid en godsvrug. Hoe bly is die kinders van die Koninkryk tog om afgeskeie te wees van sulke onkruidagtige invloede en verdorwe leringe wat struikeling veroorsaak!

14. In watter opsig huil en kners die onkruidagtiges op hulle tande?

14 In watter opsig huil en kners die onkruidagtiges op hulle tande? (Matt. 13:42). “Die kinders van die bose” word gepynig deur die feit dat “die kinders van die koninkryk” hierdie onkruidagtiges se geestelik giftige toestand aan die kaak stel. Hulle ween ook oor die feit dat hulle al hoe minder steun van hulle kerklidmate ontvang en dat hulle beheer oor hulle lidmate verloor.—Lees Jesaja 65:13, 14.

15. In watter sin word die onkruidagtiges met vuur verbrand?

15 In watter sin word die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand? (Matt. 13:40). Dit verwys na die finale afloop vir die onkruid. Hulle word simbolies gesproke in die vuuroond gewerp, wat toon dat ewige vernietiging op hulle wag (Op. 20:14; 21:8). Die onkruidagtige naamchristene, die bedrieërs, sal gedurende die “groot verdrukking” vernietig word.—Matt. 24:21.

Hulle sal “so helder soos die son skyn”

16, 17. Wat het Maleagi aangaande God se tempel voorspel, en hoe het dit in vervulling begin gaan?

16 Wanneer sal die koringagtiges “so helder soos die son skyn”? (Matt. 13:43). Aangaande die reiniging van God se tempel het Maleagi voorspel: “‘Skielik sal die ware Heer, na wie julle soek, na Sy tempel kom, en die boodskapper van die verbond, in wie julle behae het. Kyk! Hy sal beslis kom’, het Jehovah van die leërs gesê. ‘Maar wie sal die dag van sy koms verdra, en wie sal standhou wanneer hy verskyn? Want hy sal soos die vuur van ’n louteraar wees en soos die loog van die wassers. En hy sal sit as ’n louteraar en reiniger van silwer en sal die seuns van Levi reinig; en hy sal hulle suiwer soos goud en soos silwer, en hulle sal beslis vir Jehovah mense word wat ’n offergawe in regverdigheid aanbied.’”—Mal. 3:1-3.

17 In hedendaagse tye het hierdie profesie blykbaar in 1918 in vervulling begin gaan toe Jehovah, saam met “die boodskapper van die verbond”, Jesus Christus, die geestelike tempel ondersoek het. Maleagi vertel ons wat gebeur nadat hierdie reiniging voltooi is: “Julle sal beslis weer die onderskeid sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie” (Mal. 3:18). Die groot toename in die bedrywighede van ware Christene wat toe hernieude ywer geopenbaar het, dui daarop dat dít die begin van die oestyd was.

18. Wat het Daniël se profesie aangaande ons dag voorspel?

18 Die profeet Daniël het van ons dag gepraat toe hy voorspel het: “Dié wat insig het, sal skyn soos die glans van die uitspansel; en dié wat baie tot regverdigheid bring, soos die sterre tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Dan. 12:3). Wie is dié wat so helder skyn? Wel, niemand anders as gesalfde Christene nie, die ware koring waarna Jesus in sy illustrasie van die koring en die onkruid verwys het! ’n Immer toenemende groot menigte skaapgeaardes sien duidelik hoe onkruidagtige naamchristene “bymekaargemaak” word. Wanneer hulle by die oorblyfsel van geestelike Israel aansluit, laat hierdie voornemende onderdane van die Koninkryk eweneens hulle lig in hierdie donker wêreld skyn.—Sag. 8:23; Matt. 5:14-16; Fil. 2:15.

19, 20. Waarna sien “die kinders van die koninkryk” gretig uit, en wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Vandag sien “die kinders van die koninkryk” gretig uit na hulle glorieryke, hemelse beloning (Rom. 8:18, 19; 1 Kor. 15:53; Fil. 1:21-24). Maar tot dan moet hulle getrou bly deur aan te hou om helder te skyn, oftewel opvallend anders as “die kinders van die bose” te wees (Matt. 13:38; Op. 2:10). Hoe bly kan almal van ons tog wees dat ons die voorreg het om in ons tyd die gevolge te sien van hierdie simboliese insameling van die onkruid!

20 Maar wat is die verwantskap tussen hierdie kinders van die Koninkryk en die immer toenemende groot menigte van dié wat hoop om vir ewig op aarde as onderdane van die Koninkryk te lewe? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.

[Voetnote]

a Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie illustrasies, sien Die Wagtoring van 15 Julie 2008, bladsye 12-21.

b In hierdie gelykenis stel die saaiwerk nie die predikings- en dissipelmaakwerk voor, wat nuwelinge sou inbring wat gesalfde Christene sou word nie. Aangaande die goeie saad wat in die saailand gesaai word, het Jesus gesê: “Dit is die kinders van die koninkryk”, nie dit sal die kinders van die koninkryk word nie. Die saaiwerk verwys na die salwing van hierdie kinders van die Koninkryk regoor die wêreld.

c Die wortels van die baarddrabok raak so verstrengel met die wortels van die koring dat ’n mens van die koring sou verloor as jy die onkruid voor die oes uittrek.—Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 1178.

Onthou jy?

Wat beteken die volgende in Jesus se illustrasie van die koring en die onkruid?

• Die goeie saad

• Die man wat die saad gesaai het

• Die saaiwerk

• Die vyand

• Die onkruid

• Die oestyd

• Die voorraadskuur

• Die geween en gekners van tande

• Die vuuroond

[Studievrae]

[Prente op bladsy 20]

Sedert Pinkster 33 HJ word die goeie saad gesaai

[Prent op bladsy 23]

Die simboliese koring word nou in Jehovah se voorraadskuur ingebring

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.