Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Een Kudde, een herder

Een Kudde, een herder

Een kudde, een herder

“Julle wat my gevolg het, [sal ook] op twaalf trone sit en die twaalf stamme van Israel oordeel.”—MATT. 19:28.

1. Hoe het Jehovah met Abraham se afstammelinge gehandel, en waarom beteken dit nie dat hy alle ander nasies heeltemal geïgnoreer het nie?

 JEHOVAH het Abraham liefgehad, en daarom het Hy lojale liefde aan Abraham se afstammelinge betoon. Meer as 15 eeue lank het hy die nasie Israel, wat van Abraham afgestam het, as sy uitverkore volk, sy “spesiale eiendom”, beskou. (Lees Deuteronomium 7:6.) Het dit beteken dat Jehovah mense van ander nasies heeltemal geïgnoreer het? Nee. Gedurende daardie tyd is nie-Israeliete wat Jehovah graag wou aanbid, toegelaat om by sy spesiale nasie aan te sluit. Hierdie bekeerlinge, of proseliete, is as deel van die nasie beskou. Hulle moes as broers behandel word (Lev. 19:33, 34). En daar is van hulle vereis om al Jehovah se wette te gehoorsaam.—Lev. 24:22.

2. Watter verbasende stelling het Jesus gemaak, en watter vrae laat dit ontstaan?

2 Maar Jesus het iets verbasends vir die Jode van sy dag gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matt. 21:43). Uit wie sou hierdie nuwe nasie bestaan, en hoe raak hierdie verandering ons vandag?

Die nuwe nasie

3, 4. (a) Hoe het die apostel Petrus die nuwe nasie geïdentifiseer? (b) Uit wie bestaan hierdie nuwe nasie?

3 Die apostel Petrus het hierdie nuwe nasie duidelik geïdentifiseer. Hy het die volgende aan sy mede-Christene geskryf: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Pet. 2:9). Soos voorspel is, was natuurlike Jode wat Jesus as die Messias aanvaar het, die eerste lede van daardie nuwe nasie (Dan. 9:27a; Matt. 10:6). Later het baie nie-Israeliete ook deel van hierdie nasie geword, want Petrus het verder gesê: “Julle was eens nie ’n volk nie, maar is nou God se volk.”—1 Pet. 2:10.

4 Met wie het Petrus hier gepraat? Aan die begin van sy brief sê hy: “[God het] ons ’n nuwe geboorte tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode gegee, tot ’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis. Dit word in die hemele bewaar vir julle” (1 Pet. 1:3, 4). Hierdie nuwe nasie bestaan dus uit gesalfde Christene, wat die hemelse hoop het. Hulle is “die Israel van God” (Gal. 6:16). In ’n visioen het die apostel Johannes gesien dat daar 144 000 van hierdie geestelike Israeliete is. Hulle is “uit die mensdom gekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam” om as “priesters” te dien en “duisend jaar lank saam met [Jesus] as konings [te] heers”.—Op. 5:10; 7:4; 14:1, 4; 20:6; Jak. 1:18.

Sluit dit ander ook in?

5. (a) Na wie verwys die uitdrukking “Israel van God”? (b) Waarom is die betekenis van die term “Israel” nie altyd beperk nie?

5 Dit is dus duidelik dat die frase “Israel van God” in Galasiërs 6:16 uitsluitlik na gesalfde Christene verwys. Maar is daar gevalle waar Jehovah die nasie Israel as ’n afbeelding, of ’n illustrasie, gebruik wat ander Christene insluit benewens die gesalfdes? Die antwoord kan gevind word in hierdie woorde van Jesus aan sy getroue apostels: “Ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Luk. 22:28-30). Dit sal gedurende “die herskepping”, of tyd van hernuwing, gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy plaasvind.—Lees Matteus 19:28, vtn. in NW.

6, 7. Na wie verwys die uitdrukking “die twaalf stamme van Israel” in die konteks van Matteus 19:28 en Lukas 22:30?

6 Die 144 000 sal gedurende die Duisendjarige Heerskappy as hemelse konings, priesters en regters dien (Op. 20:4). Wie sal deur hulle geoordeel word, en oor wie sal hulle regeer? In Matteus 19:28 en Lukas 22:30 word daar vir ons gesê dat hulle “die twaalf stamme van Israel” sal oordeel. Wie stel “die twaalf stamme van Israel” in hierdie konteks voor? Hulle stel almal voor wat ’n aardse hoop het—diegene wat geloof in Jesus se offerande stel, maar nie deel is van die koninklike, priesterlike klas nie. (Die stam Levi was nie ingesluit in die lys van die 12 stamme van natuurlike Israel nie.) Diegene wat in hierdie konteks deur die 12 stamme van Israel afgebeeld word, is dié wat die geestelike voordele uit die priesterlike dienste van die 144 000 sal geniet. Hierdie niepriesterlike bevoordeeldes is ook God se knegte, en hy is lief vir hulle en aanvaar hulle. Dit is gepas dat hulle met sy eertydse volk vergelyk word.

7 Nadat die apostel Johannes gesien het hoe die 144 000 geestelike Israeliete voor die groot verdrukking permanent verseël word, het hy heel gepas ook ’n ontelbare “groot menigte” gesien, wat “uit alle nasies” kom (Op. 7:9). Hulle sal die groot verdrukking oorleef tot in Christus se Duisendjarige Heerskappy. Duisendmiljoene verresenes sal by hulle aansluit (Joh. 5:28, 29; Op. 20:13). Saam sal hulle die simboliese “twaalf stamme van Israel” uitmaak, wat deur Jesus en sy 144 000 medeheersers geoordeel sal word.—Hand. 17:31; 24:15; Op. 20:12.

8. Hoe het gebeure op die jaarlikse Versoendag die verwantskap tussen die 144 000 en die res van die mensdom voorafgeskadu?

8 Hierdie verwantskap tussen die 144 000 en die res van die mensdom is voorafgeskadu deur gebeure wat op die jaarlikse Versoendag plaasgevind het (Lev. 16:6-10). Die hoëpriester moes eerstens ’n bul as ’n sondoffer bring “vir hom en sy huis”. Jesus se offerande word dus eerstens aangewend ten behoewe van sy huis van onderpriesters, dié wat saam met hom in die hemel sal dien. Op die eertydse Versoendag is daar ook twee bokke voorsien vir die sondes van die ander Israeliete. In hierdie konteks, waar die priesterlike stam die 144 000 afbeeld, stel die res van Israel almal voor wat ’n aardse hoop het. Hierdie toepassing toon dat die term “die twaalf stamme van Israel” in Matteus 19:28 nie na Jesus se geesverwekte onderpriesters verwys nie, maar na alle ander wat geloof in Jesus se offerande stel. a

9. Wie word deur die priesters in Esegiël se tempelvisioen voorgestel, en wie stel die niepriesterlike Israeliete voor?

9 Kyk na nog ’n voorbeeld. Die profeet Esegiël het ’n breedvoerige visioen van Jehovah se tempel ontvang (Eseg., hfst. 40-48). In daardie visioen het die priesters in die tempel gewerk, onderrigting voorsien en Jehovah se raad en teregwysing ontvang (Eseg. 44:23-31). In dieselfde visioen het lede van die verskillende stamme gekom om te aanbid en offerandes te bring (Eseg. 45:16, 17). In hierdie konteks beeld die priesters die gesalfdes af, terwyl Israeliete van die niepriesterlike stamme dié met ’n aardse hoop afbeeld. Die visioen beklemtoon dat die twee groepe in eenheid saamwerk, met die priesterlike klas wat die leiding neem in rein aanbidding.

10, 11. (a) Watter geloofversterkende vervulling van Jesus se woorde het ons gesien? (b) Watter vraag ontstaan aangaande die ander skape?

10 Jesus het gepraat van “ander skape”, wat nie van dieselfde “kraal” as die “klein kuddetjie” gesalfde volgelinge sou wees nie (Joh. 10:16; Luk. 12:32). Hy het gesê: “Ook hulle moet ek bring, en hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde onder een herder word.” Hoe geloofversterkend is dit tog om die vervulling van hierdie woorde te sien! Twee groepe mense is byeengebring—die klein groepie gesalfdes en die groot menigte ander skape. (Lees Sagaria 8:23.) Hoewel die ander skape nie simbolies in die binneste voorhof van die geestelike tempel dien nie, dien hulle wel in die buitenste voorhof van daardie tempel.

11 Maar as Jehovah soms die niepriesterlike lede van eertydse Israel gebruik om hierdie ander skape af te beeld, moet diegene met ’n aardse hoop dan ook die Gedenkmaalembleme gebruik? Ons sal nou die antwoord op hierdie vraag bespreek.

Die nuwe verbond

12. Watter nuwe reëling het Jehovah voorspel?

12 Jehovah het ’n nuwe reëling vir sy volk voorspel toe hy gesê het: “Dit is die verbond wat ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit. . . . Ek sal my wet in hulle binneste sit, en in hulle hart sal ek dit skryf. En ek sal hulle God word, en hulle sal my volk word” (Jer. 31:31-33). Deur middel van hierdie nuwe verbond sou Jehovah se belofte aan Abraham ’n glorieryke en blywende vervulling hê.—Lees Genesis 22:18.

13, 14. (a) Wie is deelgenote in die nuwe verbond? (b) Wie is bevoordeeldes, en hoe ‘hou hulle vas’ aan hierdie nuwe verbond?

13 Jesus het op die aand voor sy dood na hierdie nuwe verbond verwys toe hy gesê het: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle uitgestort sal word” (Luk. 22:20; 1 Kor. 11:25). Is alle Christene deel van hierdie nuwe verbond? Nee. Party, soos die apostels wat daardie aand uit die beker gedrink het, is deelgenote in die nuwe verbond. b Jesus het ’n ander verbond met hulle gesluit om saam met hom in sy Koninkryk te regeer (Luk. 22:28-30). Hulle sal saam met Jesus in sy Koninkryk wees.—Luk. 22:15, 16.

14 Wat van diegene wat op die aarde onder sy Koninkryk sal lewe? Hulle is bevoordeeldes van die nuwe verbond (Gal. 3:8, 9). Hoewel hulle nie deelgenote is nie, ‘hou hulle vas’ aan hierdie verbond deur hulle aan die vereistes daarvan te onderwerp, net soos die profeet Jesaja voorspel het: “Die uitlanders wat hulle met Jehovah verbind het om hom te dien en om die naam van Jehovah lief te hê, ten einde sy knegte te word, almal wat die sabbat hou om dit nie te ontheilig nie en wat aan my verbond vashou, hulle sal ek ook na my heilige berg bring en in my huis van gebed vreugde gee.” Jehovah sê dan: “Want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.”—Jes. 56:6, 7.

Wie moet die embleme gebruik?

15, 16. (a) Waarmee verbind die apostel Paulus die nuwe verbond? (b) Waarom moet diegene met ’n aardse hoop nie die Gedenkmaalembleme gebruik nie?

15 Persone wat in die nuwe verbond is, het “vrymoedigheid . . . ten opsigte van die weg wat toegang tot die heiligdom verleen”. (Lees Hebreërs 10:15-20.) Dit is hulle wat “’n koninkryk gaan ontvang wat nie geskud kan word nie” (Heb. 12:28). Om dié rede moet net diegene wat konings en priesters in die hemel saam met Jesus Christus sal wees, uit die “beker” drink wat die nuwe verbond voorstel. Hierdie deelgenote in die nuwe verbond is dié wat aan die Lam in die huwelik beloof is (2 Kor. 11:2; Op. 21:2, 9). Alle ander wat die jaarlikse Gedenkmaal bywoon, is eerbiedige waarnemers, wat nie die embleme gebruik nie.

16 Paulus help ons ook om te verstaan dat diegene met ’n aardse hoop nie die Gedenkmaalembleme gebruik nie. Hy het vir gesalfde Christene gesê: “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, hou julle aan om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom” (1 Kor. 11:26). Wanneer “kom” die Here? Wanneer hy kom om die laaste van sy gesalfde bruidsklas na hulle hemelse tuiste te neem (Joh. 14:2, 3). Dit is duidelik dat die jaarlikse herdenking van die Here se Aandmaal nie tot in alle ewigheid gehou sal word nie. “Die oorblywendes” van die vrou se saad wat nog op die aarde is, sal aanhou om hierdie maal te gebruik totdat hulle almal hulle hemelse beloning ontvang het (Op. 12:17). Maar as dié wat vir ewig op die aarde gaan woon, daarop geregtig was om die embleme te gebruik, sou hierdie Gedenkmaal vir ewig moes voortduur.

“Hulle sal my volk word”

17, 18. Hoe is die profesie in Esegiël 37:26, 27 vervul?

17 Jehovah het die eenheid van sy volk soos volg voorspel: “Ek sal ’n vredesverbond met hulle sluit; ’n verbond wat tot onbepaalde tyd duur, sal daar met hulle wees. En ek sal hulle ’n plek gee en hulle vermenigvuldig en my heiligdom tot onbepaalde tyd in hulle midde plaas. En my tabernakel sal oor hulle wees, en ek sal beslis hulle God word, en hulle sal my volk word.”—Eseg. 37:26, 27.

18 Al God se knegte het die voorreg om by die vervulling van hierdie wonderlike belofte, hierdie verbond vir Christelike vrede, baat te vind. Ja, Jehovah het vrede vir al sy gehoorsame knegte gewaarborg. Die vrug van sy gees kan duidelik onder hulle gesien word. Sy heiligdom, wat hier rein Christelike aanbidding voorstel, is in hulle midde. Hulle het waarlik sy volk geword, want hulle het alle vorme van afgodediens die rug toegekeer en hulle aanbid Jehovah as hulle enigste God.

19, 20. Wie tel onder diegene wat Jehovah “my volk” noem, en wat word deur die nuwe verbond moontlik gemaak?

19 Hoe opwindend is dit tog om hierdie vereniging van twee groepe in ons tyd te sien! Hoewel die immer toenemende groot menigte nie die hemelse hoop het nie, is hulle trots daarop om vereenselwig te word met dié wat wel daardie hoop het. Hulle het by die Israel van God aangesluit. Daarom tel hulle onder diegene wat Jehovah “my volk” noem. Hulle vervul hierdie profesie: “Baie nasies sal beslis in dié dag by Jehovah aansluit, en hulle sal my volk word; en ek sal in jou midde woon.”—Sag. 2:11; 8:21; lees Jesaja 65:22; Openbaring 21:3, 4.

20 Jehovah het dit alles deur middel van die nuwe verbond moontlik gemaak. Miljoene geestelike uitlanders het deel geword van Jehovah se begunstigde nasie (Miga 4:1-5). Hulle is vasbeslote om voort te gaan om aan daardie verbond vas te hou deur die voorsienings daarvan te aanvaar en die vereistes daarvan na te kom (Jes. 56:6, 7). Om dié rede geniet hulle, tesame met die Israel van God, die ryk seëninge van volgehoue vrede. Mag dit jou geseënde lot wees—nou en tot in alle ewigheid!

[Voetnote]

a Op soortgelyke wyse word daar hoofsaaklik van die gesalfdes gepraat as “die gemeente” (Heb. 12:23). Maar die woord “gemeente” kan ’n ander betekenis hê en na alle Christene verwys, ongeag watter hoop hulle het.—Sien Die Wagtoring van 15 April 2007, bladsye 21-23.

b Jesus is die Middelaar van hierdie verbond, nie ’n deelgenoot daarin nie. As die Middelaar het hy klaarblyklik nie die embleme gebruik nie.

Onthou jy?

• Wie is “die twaalf stamme van Israel” wat deur die 144 000 geoordeel gaan word?

• Hoe raak die nuwe verbond die gesalfdes en die ander skape?

• Moet alle Christene die Gedenkmaalembleme gebruik?

• Watter eenheid is vir ons dag voorspel?

[Studievrae]

[Grafiek/Prente op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Baie dien nou saam met die Israel van God

1950 | 373 430

1970 | 1 483 430

1990 | 4 017 213

2009 | 7 313 173