Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gedoop in die naam van wie en wat?

Gedoop in die naam van wie en wat?

Gedoop in die naam van wie en wat?

“Gaan dus en maak dissipels . . . , en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees.”—MATT. 28:19.

1, 2. (a) Wat het op Pinkster 33 HJ in Jerusalem gebeur? (b) Wat het baie in die skare beweeg om gedoop te word?

 JERUSALEM het gewemel van skares uit baie lande. Op Pinksterdag 33 HJ was ’n belangrike fees aan die gang, en baie besoekers het dit gevier. Maar iets buitengewoons het plaasgevind, waarna die apostel Petrus ’n treffende toespraak gehou het wat ’n verstommende uitwerking gehad het. Sowat 3 000 Jode en proseliete is deur sy woorde geroer, het berou getoon en is in water gedoop. Hulle is sodoende by die pas gestigte Christengemeente gevoeg (Hand. 2:41). Die doop van soveel mense in die poele of damme om Jerusalem het ongetwyfeld groot opskudding veroorsaak!

2 Wat het daartoe gelei dat soveel mense gedoop is? Vroeër daardie dag “het daar ’n gedruis uit die hemel gekom soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries”. In die bovertrek van ’n huis is 120 van Jesus se dissipels met heilige gees vervul. Daarna het godvresende manne en vroue bymekaargekom en hulle daaroor verwonder dat hierdie dissipels “in ander tale . . . praat”. Terwyl mense geluister het na wat Petrus gesê het, insluitende sy reguit kommentaar oor Jesus se dood, is baie van hulle “diep in die hart getref”. Wat moes hulle doen? Petrus het geantwoord: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word . . . , en julle sal die heilige gees as vrye gawe ontvang.”—Hand. 2:1-4, 36-38.

3. Wat moes berouvolle Jode en proseliete op Pinksterdag doen?

3 Dink aan die godsdienssituasie van die Jode en proseliete wat na Petrus se toespraak geluister het. Hulle het Jehovah reeds as hulle God aanvaar. En in die Hebreeuse Geskrifte het hulle geleer van die heilige gees, God se werkende krag wat gedurende die skepping en daarna gebruik is (Gen. 1:2; Rigt. 14:5, 6; 1 Sam. 10:6; Ps. 33:6). Maar hulle moes nog iets doen. Dit was noodsaaklik dat hulle ’n begrip verkry van God se middel tot redding—die Messias, Jesus—en dat hulle hom aanvaar. Daarom het Petrus beklemtoon hoe belangrik dit is dat hulle “in die naam van Jesus Christus gedoop word”. ’n Paar dae vroeër het die verrese Jesus Petrus en ander beveel om mense te doop “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” (Matt. 28:19, 20). Dit het groot betekenis in die eerste eeu gehad, en dit het nog steeds. Wat is dit?

In die naam van die Vader

4. Watter verandering het plaasgevind in verband met mense se verhouding met Jehovah?

4 Soos genoem is, het diegene wat op Petrus se toespraak gereageer het, Jehovah reeds aanbid en ’n verhouding met hom gehad. Hulle het sy Wet probeer nakom, wat die rede was waarom mense uit ander lande na Jerusalem gekom het (Hand. 2:5-11). God het egter so pas ’n betekenisvolle verandering in sy handelinge aangebring. Hy het die Jode as sy spesiale nasie verwerp; hulle kon nie meer sy goedkeuring verkry deur die Wet te onderhou nie (Matt. 21:43; Kol. 2:14). As hierdie luisteraars ’n voortgesette verhouding met Jehovah wou geniet, moes hulle iets anders doen.

5, 6. Wat het baie eerste-eeuse Jode en proseliete gedoen om ’n verhouding met God te hê?

5 Dit was beslis nie om hulle rug te draai op Jehovah, hulle Lewegewer nie (Hand. 4:24). Nee, diegene wat op Petrus se verduideliking gereageer het, kon nou meer as ooit tevore sien dat Jehovah ’n liefdevolle Vader is. Hy het die Messias gestuur om hulle te verlos en was bereid om selfs diegene te vergewe vir wie Petrus gesê het: “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God hom Here sowel as Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle aan die paal gehang het.” Trouens, diegene wat Petrus se woorde toegepas het, sou nou selfs groter rede hê om te waardeer wat die Vader gedoen het vir almal wat ’n verhouding met God wil hê!—Lees Handelinge 2:30-36.

6 Ja, daardie Jode en proseliete kon nou sien dat ’n verhouding met Jehovah beteken het dat hulle hom moet erken as die Voorsiener van redding deur middel van Jesus. Jy kan dus verstaan waarom hulle berou getoon het oor hulle sondes, onder andere dat hulle wetend of onwetend verantwoordelik was vir Jesus se dood. En dit is ook te verstane dat hulle gedurende die daaropvolgende dae “voortgegaan [het] om hulle toe te lê op die leer van die apostels” (Hand. 2:42). Hulle kon en wou sekerlik “met vrymoedigheid van spraak tot die troon van onverdiende goedhartigheid nader”.—Heb. 4:16.

7. Hoe het baie mense vandag hulle beskouing van God verander en is hulle in die naam van die Vader gedoop?

7 Vandag het miljoene mense uit verskeie agtergronde die waarheid oor Jehovah uit die Bybel geleer (Jes. 2:2, 3). Party was ateïste of deïste, a maar hulle het tot die oortuiging gekom dat daar ’n Skepper is met wie hulle ’n betekenisvolle verhouding kan hê. Ander het ’n drie-enige god of verskeie afgode aanbid. Hulle het geleer dat Jehovah alleen die almagtige God is, en nou noem hulle hom by sy persoonlike naam. Dit strook met die feit dat Jesus gesê het dat sy dissipels in die naam van die Vader gedoop moet word.

8. Wat moes diegene wat geen benul van Adamitiese sonde gehad het nie, omtrent die Vader besef?

8 Hulle het ook geleer dat hulle sonde van Adam geërf het (Rom. 5:12). Dit was iets nuuts wat hulle as die waarheid moes aanvaar. Hierdie persone kan vergelyk word met ’n siek man wat onbewus was van sy siekte. Hy het dalk sekere simptome gehad, soos pyn af en toe. Maar omdat hy nie met ’n spesifieke siekte gediagnoseer is nie, het hy miskien gedink dat hy redelik gesond is. Die feite het egter die teendeel bewys. (Vergelyk 1 Korintiërs 4:4.) Sê nou hy kry ’n akkurate diagnose van sy siekte? Sou dit nie verstandig van hom wees om bekende, beproefde en doeltreffende behandeling te soek en dit te aanvaar nie? Net so het baie, nadat hulle die waarheid oor oorgeërfde sonde geleer het, die Bybel se “diagnose” aanvaar en tot die besef gekom dat God die “geneesmiddel” aanbied. Ja, almal wat van die Vader vervreemd is, moet hulle wend tot die Een wat hulle kan “genees”.—Ef. 4:17-19.

9. Wat het Jehovah gedoen om ’n verhouding met hom moontlik te maak?

9 As jy reeds jou lewe aan Jehovah God toegewy het en ’n gedoopte Christen geword het, weet jy hoe wonderlik dit is om ’n verhouding met hom te hê. Jy besef nou hoe liefdevol jou Vader, Jehovah, is. (Lees Romeine 5:8.) Hoewel Adam en Eva teen hom gesondig het, het God die inisiatief geneem sodat hulle nakomelinge—insluitende ons—’n goeie verhouding met hom kan hê. Met die oog hierop moes God die pyn verduur om te sien hoe sy geliefde Seun ly en sterf. Help hierdie wete ons nie om God se gesag te erken en sy gebooie uit liefde te gehoorsaam nie? As jy dit nog nie gedoen het nie, het jy goeie rede om jou aan God toe te wy en jou te laat doop.

In die naam van die Seun

10, 11. (a) Wat is jy alles aan Jesus verskuldig? (b) Hoe voel jy oor die feit dat Jesus as ’n losprys gesterf het?

10 Maar dink weer aan wat Petrus vir die skare gesê het. Hy het die feit beklemtoon dat hulle Jesus moet aanvaar, wat regstreeks daarmee verband hou om “in die naam . . . van die Seun” gedoop te word. Waarom was dit destyds noodsaaklik, en waarom is dit vandag noodsaaklik? Om Jesus te aanvaar en in sy naam gedoop te word, beteken dat ons sy rol in ons verhouding met die Skepper erken. Jesus moes aan ’n folterpaal gehang word om die vloek van die Wet van die Jode te verwyder; maar sy dood het ’n groter voordeel ingehou (Gal. 3:13). Hy het die losprysoffer voorsien wat die hele mensdom nodig gehad het (Ef. 2:15, 16; Kol. 1:20; 1 Joh. 2:1, 2). Met die oog hierop het Jesus ongeregtigheid, smaad, marteling en uiteindelik die dood verduur. Hoe groot is jou waardering vir sy offerande? Stel jou voor dat jy ’n 12-jarige seun is op die Titanic, die skip wat in 1912 ’n ysberg getref en gesink het. Jy probeer in ’n reddingsboot spring, maar dit is vol. Dan soen ’n man op die reddingsboot sy vrou, spring terug op die dek en sit jou in die reddingsboot. Hoe voel jy? Jy is beslis dankbaar teenoor hom! Jy kan verstaan hoe ’n seun gevoel het met wie dit werklik gebeur het. b Maar Jesus het baie meer vir jou gedoen. Hy het gesterf sodat jy eindelose lewe kan verkry.

11 Hoe het jy gevoel toe jy geleer het wat die Seun van God vir jou gedoen het? (Lees 2 Korintiërs 5:14, 15.) Jy het waarskynlik innig dankbaar gevoel. Dit het daartoe bygedra dat jy jou lewe aan God toegewy het en ‘nie langer vir jouself lewe nie, maar vir hom wat vir jou gesterf het’. Om in die naam van die Seun gedoop te word, beteken dat jy erken wat Jesus vir jou gedoen het en dat jy sy gesag as “die Hoofbewerker van die lewe” aanvaar (Hand. 3:15; 5:31). Voorheen het jy geen verhouding met die Skepper gehad nie en het jy in werklikheid geen gegronde hoop gehad nie. Maar omdat jy geloof beoefen het in die vergote bloed van Jesus Christus en jou laat doop het, het jy nou ’n verhouding met die Vader (Ef. 2:12, 13). “Julle wat eens vervreemd en vyande was omdat julle verstande gerig was op die werke wat goddeloos was”, het die apostel Paulus geskryf, “het [God] nou weer versoen deur middel van [Jesus] se vleeslike liggaam deur sy dood, om julle heilig en smetloos . . . voor hom te stel.”—Kol. 1:21, 22.

12, 13. (a) Hoe behoort die feit dat jy in die naam van die Seun gedoop is, jou reaksie te beïnvloed as iemand jou aanstoot gee? (b) Wat is jy verplig om te doen omdat jy as ’n Christen in die naam van Jesus gedoop is?

12 Hoewel jy in die naam van die Seun gedoop is, is jy deeglik bewus van jou eie sondige neigings. Hierdie bewustheid help jou elke dag. Byvoorbeeld, as iemand jou aanstoot gee, hou jy in gedagte dat albei van julle sondaars is? Julle het albei God se vergifnis nodig, en julle moet albei vergewensgesind wees (Mark. 11:25). Jesus het die belangrikheid hiervan toegelig met ’n illustrasie: Die heer van ’n slaaf het hom sy skuld van tienduisend talente (60 miljoen denarii) kwytgeskeld. Later wou hierdie slaaf sy medeslaaf wat hom 100 denarii geskuld het, nie vergewe nie. Toe het Jesus hierdie punt duidelik gestel: Jehovah sal nie die persoon vergewe wat sy broer nie vergewe nie (Matt. 18:23-35). Ja, om in die naam van die Seun gedoop te word, beteken om Jesus se gesag te erken en daarna te streef om sy voorbeeld en leringe te volg, wat insluit dat ons bereid moet wees om ander te vergewe.—1 Pet. 2:21; 1 Joh. 2:6.

13 Omdat jy onvolmaak is, kan jy Jesus nie ten volle navolg nie. Nogtans wil jy, in ooreenstemming met jou heelhartige toewyding aan God, Jesus na die beste van jou vermoë navolg. Dit behels dat jy jou voortdurend moet inspan om die ou persoonlikheid af te lê en jou met die nuwe te beklee. (Lees Efesiërs 4:20-24.) Wanneer jy ’n vriend respekteer, probeer jy waarskynlik uit sy voorbeeld en goeie eienskappe leer. Jy wil eweneens by Christus leer en hom navolg.

14. Hoe kan jy toon dat jy Jesus se gesag as hemelse Koning erken?

14 Daar is nog ’n manier waarop jy kan toon dat jy verstaan wat dit behels om in die naam van die Seun gedoop te wees. God het “alles onder [Jesus se] voete onderwerp en hom hoof oor alles gemaak met betrekking tot die gemeente” (Ef. 1:22). Jy moet dus die manier respekteer waarop Jesus diegene rig wat aan Jehovah toegewy is. Christus gebruik onvolmaakte mense in die plaaslike gemeente, veral die geestelik volwasse manne, die aangestelde ouer manne. Hierdie manne word aangestel met die doel “om die heiliges reg te help . . . , vir die opbouing van die liggaam van die Christus” (Ef. 4:11, 12). Selfs as ’n onvolmaakte mens ’n fout begaan, kan Jesus as Koning van die hemelse Koninkryk die saak op sy tyd en manier hanteer. Glo jy dit?

15. As jy nog nie gedoop is nie, na watter seëninge kan jy uitsien ná jou doop?

15 Daar is egter party wat hulle nog nie aan Jehovah toegewy en hulle laat doop het nie. As dit met jou die geval is, kan jy dan uit die bogenoemde sien dat dit redelik en ’n blyk van waardering is om die Seun te erken? As jy jou in die naam van die Seun laat doop, sal jy in aanmerking kom vir wonderlike seëninge.—Lees Johannes 10:9-11.

In die naam van die heilige gees

16, 17. Wat beteken dit vir jou om in die naam van die heilige gees gedoop te word?

16 Wat beteken dit om in die naam van die heilige gees gedoop te word? Soos vroeër genoem is, het diegene wat op Pinksterdag na Petrus geluister het, geweet wat die heilige gees is. Trouens, hulle kon met hulle eie oë bewyse sien dat God steeds die heilige gees gebruik. Petrus was een van diegene wat ‘met heilige gees vervul is en in ander tale begin praat het’ (Hand. 2:4, 8). Die uitdrukking “in die naam van” verwys nie noodwendig na die naam van ’n persoon nie. Vandag word baie dinge gedoen “in die naam van die regering”, wat nie ’n persoon is nie. Dit word op gesag van die regering gedoen. Iemand wat in die naam van die heilige gees gedoop is, erken eweneens dat die heilige gees nie ’n persoon is nie, maar Jehovah se werkende krag. En hierdie doop beteken dat iemand die rol erken wat die heilige gees in God se voorneme speel.

17 Het jy nie uit jou studie van die Bybel van die heilige gees geleer nie? Jy het byvoorbeeld geleer dat die Skrif onder inspirasie van die heilige gees geskryf is (2 Tim. 3:16). Namate jy geestelike vooruitgang gemaak het, het jy waarskynlik dieper waardering opgebou vir die feit dat “die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra”, jy inkluis (Luk. 11:13). Jy het heel moontlik al die werking van die heilige gees in jou lewe gesien. As jy daarenteen nog nie in die naam van die heilige gees gedoop is nie, beteken Jesus se versekering dat die Vader heilige gees gee, dat ware seëninge vir jou voorlê wanneer jy hierdie gees ontvang.

18. Watter seëninge ontvang diegene wat in die naam van die heilige gees gedoop word?

18 Dit is vandag ook duidelik dat Jehovah die Christengemeente deur sy gees rig en lei. Hierdie gees help ons ook as individue in ons daaglikse bedrywighede. Die feit dat ons in die naam van die heilige gees gedoop is, behels dat ons die rol wat dit in ons lewe speel, erken en in dankbaarheid met hierdie gees saamwerk. Maar party wonder dalk hoe ons ons toewyding aan Jehovah kan naleef en hoe die heilige gees betrokke is. Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

[Voetnote]

a Diegene met deïstiese idees glo in die bestaan van God, maar dink nie dat hy in sy skepping belangstel nie.

b Sien die Ontwaak! van 22 Februarie 1982, bladsye 3-8.

Onthou jy?

• Wat beteken dit vir jou om in die naam van die Vader gedoop te word?

• Wat beteken dit om in die naam van die Seun gedoop te word?

• Hoe kan jy toon dat jy besef hoe belangrik dit is om in die naam van die Vader en die Seun gedoop te word?

• Wat beteken dit om in die naam van die heilige gees gedoop te word?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 10]

Watter verhouding het die nuwe dissipels ná Pinkster 33 HJ met die Vader gehad?

[Erkenning]

By permission of the Israel Museum, Jerusalem