Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg jy die Christus ten volle?

Volg jy die Christus ten volle?

Volg jy die Christus ten volle?

“[Julle moet], soos julle in werklikheid reeds wandel, aanhou om dit in voller mate te doen.”—1 TESS. 4:1.

1, 2. (a) Watter wonderlike dinge het baie mense in Jesus se dag gesien? (b) Waarom is die tyd waarin ons leef ook betekenisvol?

 HET jy al ooit gedink hoe wonderlik dit moes gewees het om te lewe toe Jesus op die aarde was? Jy dink dalk aan die moontlikheid dat Jesus jou sou kon genees en jy derhalwe die ellende van die een of ander hinderlike fisiese kwaal gespaar sou bly. Of jy dink dalk aan hoe aangenaam dit sou gewees het om Jesus te sien en te hoor—om by hom te kan leer of te sien hoe hy die een of ander wonderwerk verrig (Mark. 4:1, 2; Luk. 5:3-9; 9:11). Wat ’n groot voorreg sou dit tog gewees het om teenwoordig te wees toe Jesus al dié dinge gedoen het! (Luk. 19:37). Geen geslag sedertdien het sulke dinge gesien nie, en wat Jesus op aarde gedoen het “deur die opoffering van homself”, sal nooit herhaal word nie.—Heb. 9:26; Joh. 14:19.

2 Maar die tyd waarin ons leef, is ook betekenisvol. Hoe so? Ons lewe nou in wat die Skrif voorspel het “die tyd van die einde” en “die laaste dae” sou wees (Dan. 12:1-4, 9; 2 Tim. 3:1). Gedurende hierdie tydperk is Satan uit die hemel gewerp. Binnekort sal hy gebind en “in die afgrond” gegooi word (Op. 12:7-9, 12; 20:1-3). Dit is ook gedurende hierdie tyd dat ons die groot voorreg het om die “goeie nuus van die koninkryk” wêreldwyd te verkondig en vir mense van die hoop op die komende Paradys te vertel—’n werk wat nooit weer gedoen sal word nie.—Matt. 24:14.

3. Watter opdrag het Jesus aan sy volgelinge gegee kort voordat hy na die hemel opgevaar het, en wat sou dit behels?

3 Net voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy volgelinge gesê: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Dit sou ’n wêreldwye onderrigtingswerk behels. Wat was die doel daarvan? Om dissipels—bykomende volgelinge van die Christus—te maak voordat die einde kom (Matt. 28:19, 20). Wat moet ons doen as ons Christus se opdrag met welslae wil uitvoer?

4. (a) Wat word deur Petrus se uitroep in 2 Petrus 3:11, 12 beklemtoon? (b) Waarteen moet ons waak?

4 Let op hierdie uitroep van die apostel Petrus: “Watter soort mense behoort julle . . . te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!” (2 Pet. 3:11, 12). Petrus se woorde beklemtoon hoe belangrik dit is om gedurende hierdie laaste dae waaksaam te bly sodat ons kan seker maak dat ons lewe altyd om dade van godvrugtige toegewydheid draai. Sulke dade sluit die verkondiging van die goeie nuus in. Wat ’n vreugde is dit dus vir ons om die ywer te sien waarmee ons broers regoor die wêreld Christus se predikingsopdrag uitvoer! Terselfdertyd besef ons dat ons versigtig moet wees dat die daaglikse druk van Satan se wêreld en van ons eie oorgeërfde vleeslike neigings nie ons ywer in God se diens laat afneem nie. Kom ons bespreek dan nou hoe ons kan sorg dat ons die Christus bly volg.

Aanvaar godgegewe verantwoordelikhede

5, 6. (a) Waarvoor het Paulus sy medegelowiges in Jerusalem geprys, en waarteen het hy hulle gewaarsku? (b) Waarom moet ons ons godgegewe verantwoordelikhede nie ligtelik opneem nie?

5 In die apostel Paulus se brief aan die Christene in Jerusalem het hy sy medegelowiges geprys vir hulle rekord van getroue volharding ondanks vervolging. Hy het gesê: “Hou . . . aan om die vroeëre dae te onthou waarin julle, nadat julle verlig is, onder baie lyding ’n groot stryd verduur het.” Ja, Jehovah het hulle getroue weg onthou (Heb. 6:10; 10:32-34). Paulus se hartlike woorde van lof het daardie Hebreeuse Christene beslis grootliks aangemoedig. Maar in daardie selfde brief het Paulus ook gewaarsku teen ’n menslike neiging wat ywer vir God se diens kan laat afneem as dit nie onder beheer gehou word nie. Hy het gesê dat Christene versigtig moet wees om nie te “vra om [daarvan] verskoon te word” om God se gebooie te gehoorsaam nie.—Heb. 12:25.

6 Daardie waarskuwing teen die neiging om te “vra om [daarvan] verskoon te word” om godgegewe verantwoordelikhede te aanvaar, is ook op hedendaagse Christene van toepassing. Ons besef dat ons vasbeslote moet wees om nooit ons Christelike verantwoordelikhede ligtelik op te neem of toe te laat dat ons ywer vir God se diens afneem nie (Heb. 10:39). Om heilige diens te verrig, is immers ’n saak van lewe en dood.—1 Tim. 4:16.

7, 8. (a) Wat sal ons help om ons ywer vir God se diens te behou? (b) Wat moet ons omtrent Jehovah en Jesus onthou as ons van ons aanvanklike ywer verloor het?

7 Wat sal ons help om daarteen te waak om verskonings te soek om nie ons verpligtinge teenoor God na te kom nie? Een belangrike manier om teen hierdie neiging te stry, is deur gereeld oor die betekenis van ons toewydingsgelofte te peins. In werklikheid het ons Jehovah belowe dat ons die uitvoering van sy wil eerste in ons lewe sal stel, en ons wil dié belofte nakom. (Lees Matteus 16:24.) Ons moet dus van tyd tot tyd stilstaan en ons afvra: ‘Is ek nog net so vasbeslote om my toewyding aan God na te leef as toe ek gedoop is? Of het ek in die jare daarna van my aanvanklike ywer verloor?’

8 As ’n eerlike selfondersoek toon dat ons nou ietwat minder doen, sal dit goed wees as ons die besielende woorde van die profeet Sefanja in gedagte hou. Hy het gesê: “Laat jou hande nie slap word nie. Jehovah jou God is in jou midde. As ’n Magtige sal hy red. Hy sal hom met blydskap oor jou verheug” (Sef. 3:16, 17). Die eertydse Israeliete wat uit ballingskap in Babilon na Jerusalem teruggekeer het, was die eerste persone op wie hierdie gerusstellende woorde van toepassing was. Maar hierdie versekering geld vandag nog vir God se volk. Omdat die werk wat ons doen, Jehovah se werk is, moet ons in gedagte hou dat Jehovah sowel as sy Seun ons steun en versterk om ons godgegewe verantwoordelikhede ten volle na te kom (Matt. 28:20; Fil. 4:13). As ons daarna streef om God se werk ywerig te bly doen, sal hy ons seën en ons help om geestelik voorspoedig te bly.

‘Soek eers die koninkryk’ met ywer

9, 10. Wat is die punt van Jesus se gelykenis van die groot aandmaal, en watter les kan ons daaruit leer?

9 Terwyl Jesus ’n ete in die huis van ’n heerser van die Fariseërs geniet het, het hy ’n illustrasie oor ’n groot aandmaal gegee. In daardie illustrasie het hy die geleentheid beskryf wat aan verskillende persone gegee is om in aanmerking te kom vir die Koninkryk van die hemele. Hy het ook toegelig wat dit beteken om te “vra om verskoon te word”. (Lees Lukas 14:16-21.) Die genooide gaste in Jesus se illustrasie het verskonings gemaak om nie die fees by te woon nie. Een het gesê dat hy na ’n saailand moet gaan kyk wat hy pas gekoop het. ’n Ander een het gesê dat hy beeste gekoop het en hulle wil gaan ondersoek. Nog ’n ander een het gesê: ‘Ek kan nie kom nie. Ek het so pas getrou.’ Dit was swak verskonings. Iemand wat ’n saailand of beeste koop, ondersoek dit gewoonlik voor die tyd; dit is dus nie baie dringend om dit daarna te gaan ondersoek nie. En waarom sou ’n onlangse huwelik iemand daarvan weerhou om so ’n belangrike uitnodiging te aanvaar? Dit is geen wonder dat die gasheer in die illustrasie woedend was nie!

10 Al God se knegte kan ’n les uit Jesus se gelykenis leer. Wat is dit? Ons moet nooit toelaat dat persoonlike sake, soos dié wat in Jesus se illustrasie genoem is, vir ons so belangrik word dat dit ons diens aan God verdring nie. As ’n Christen persoonlike sake nie op hulle regmatige plek hou nie, sal sy ywer in die bediening geleidelik afneem. (Lees Lukas 8:14.) Om te verhoed dat dit gebeur, lewe ons in ooreenstemming met Jesus se vermaning: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek” (Matt. 6:33). Hoe aanmoedigend is dit tog om te sien dat God se knegte—jonk sowel as oud—hierdie lewensbelangrike raad toepas! Trouens, baie het stappe gedoen om hulle lewe te vereenvoudig sodat hulle meer tyd aan die bediening kan wy. Hulle leer uit persoonlike ondervinding dat dit ware geluk en groot bevrediging meebring as hulle met ywer eers die Koninkryk soek.

11. Watter Bybelverslag lig die belangrikheid daarvan toe om ywerig en heelhartig in ons diens aan God te wees?

11 Let op ’n gebeurtenis in die lewe van koning Joas van Israel wat toelig hoe belangrik dit is om ywerig in God se diens te wees. Joas was bekommerd omdat dit gelyk het asof Israel deur Sirië oorwin sou word en het in trane na Elisa gekom. Die profeet vir hom gesê om ’n pyl in die rigting van Sirië by die venster uit te skiet, wat ’n aanduiding was dat Jehovah hulle die oorwinning oor daardie nasie sou gee. Dit moes die koning sekerlik versterk het. Toe het Elisa vir Joas gesê om sy pyle te neem en die grond daarmee te slaan. Joas het die grond drie keer geslaan. Elisa was woedend hieroor, want as Joas die grond vyf of ses keer geslaan het, sou dit getoon het dat “Sirië . . . heeltemal verslaan” sou word. Nou sou Joas net drie gedeeltelike oorwinnings behaal. Omdat hy met ’n gebrek aan ywer opgetree het, het Joas net beperkte sukses gehad (2 Kon. 13:14-19). Watter les kan ons uit hierdie verslag leer? Jehovah sal ons oorvloedig seën alleenlik as ons sy werk heelhartig en met ywer doen.

12. (a) Wat sal ons help om ons ywer in God se diens te behou terwyl ons die uitdagings van die lewe die hoof bied? (b) Vertel hoe dit jou tot voordeel strek wanneer jy besig bly in die bediening.

12 Die uitdagings van die lewe stel ons ywer vir en toegewydheid aan God se diens op die proef. Baie broers en susters het te kampe met moeilike ekonomiese omstandighede. Ander is gefrustreerd omdat ’n ernstige siekte beperk wat hulle in Jehovah se diens kan doen. Nogtans kan elkeen van ons stappe doen om te verseker dat ons ons ywer behou en dat ons die Christus ten volle bly volg. Let op ’n paar van die wenke en tekste in die venster “Wat sal jou help om die Christus te bly volg?” Dink aan hoe jy dit ten volle kan toepas. As jy dit doen, sal dit jou werklik tot voordeel strek. Wanneer ons besig bly in die bediening, het dit ’n stabiliserende uitwerking op ons, verryk dit ons lewe en bring dit vir ons groter vrede en geluk mee (1 Kor. 15:58). Daarbenewens help heelhartige diens aan God ons om “die dag van Jehovah . . . goed in gedagte [te] hou”.—2 Pet. 3:12.

’n Eerlike ondersoek

13. Hoe kan ons vasstel wat heelhartige diens vir elkeen van ons beteken?

13 Dit is egter goed om te onthou dat heelhartigheid nie bepaal word deur hoeveel tyd ons in die bediening deurbring nie. Individuele omstandighede verskil. Iemand wat elke maand net ’n uur of twee velddiens doen, kan Jehovah grootliks behaag as dit werklik al is wat sy gesondheid hom toelaat om te doen. (Vergelyk Markus 12:41-44.) Om vas te stel wat heelhartige diens aan God vir elkeen van ons beteken, moet ons dus ons vermoëns en omstandighede eerlik ondersoek. As volgelinge van Christus wil ons ook ons beskouing met syne in ooreenstemming bring (Lees Romeine 15:5; 1 Kor. 2:16). Wat het Jesus eerste in sy lewe gestel? Hy het vir die skares van Kapernaum gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Luk. 4:43; Joh. 18:37). Hou Jesus se ywer vir sy bediening in gedagte en kyk na jou omstandighede om te sien of jy jou bediening verder kan uitbrei.—1 Kor. 11:1.

14. Op watter maniere kan ons ons bediening verder uitbrei?

14 ’n Noukeurige ondersoek van ons omstandighede sal ons moontlik tot die slotsom laat kom dat ons meer tyd aan die bediening kan wy (Matt. 9:37, 38). Byvoorbeeld, derduisende van ons jongmense wat onlangs skool verlaat het, het hulle bediening uitgebrei en ervaar nou die vreugde wat ’n mens smaak wanneer jy ywerig as ’n pionier dien. Wil jy ook graag hierdie vreugde geniet? Party broers en susters het hulle omstandighede oorweeg en besluit om na ’n gebied in hulle land, of selfs na ’n ander land, te trek waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Nog ander het ’n vreemde taal geleer om anderstalige mense te help. Hoewel dit ’n uitdaging kan wees om ons bediening uit te brei, bring dit ryk seëninge mee, en ons kan baie ander help om “tot juiste kennis van die waarheid [te] kom”.—1 Tim. 2:3, 4; 2 Kor. 9:6.

Bybelse voorbeelde wat ons kan volg

15, 16. Wie se voorbeelde kan ons volg om ywerige volgelinge van die Christus te wees?

15 Hoe het party wat apostels geword het, gereageer toe Christus hulle geroep het om sy volgelinge te word? Aangaande Matteus sê die verslag: “Hy het alles net so gelaat en opgestaan en hom gevolg” (Luk. 5:27, 28). Van Petrus en Andreas, wat visgevang het, lees ons: “Dadelik het hulle die nette laat staan en hom gevolg.” Daarna het Jesus vir Jakobus en Johannes gesien, wat besig was om hulle nette saam met hulle vader heel te maak. Hoe het hulle op Jesus se uitnodiging gereageer? “Dadelik het hulle die boot en hulle vader verlaat en hom gevolg.”—Matt. 4:18-22.

16 ’n Ander uitstekende voorbeeld is dié van Saulus, wat die apostel Paulus geword het. Al was hy ’n wrede vervolger van Christus se volgelinge, het hy verander en “’n uitverkore vat” geword om Christus se naam te dra. Paulus “het Jesus onmiddellik in die sinagoges begin verkondig, dat hy die Seun van God is” (Hand. 9:3-22). En al moes hy baie ontberinge en vervolging verduur, het Paulus nooit sy ywer verloor nie.—2 Kor. 11:23-29; 12:15.

17. (a) Wat is jou begeerte wat die navolging van die Christus betref? (b) Watter seëninge geniet ons omdat ons Jehovah se wil met ons hele hart en al ons krag doen?

17 Ons wil beslis die goeie voorbeelde van daardie dissipels volg en gretig en sonder voorbehoud daarop reageer (Heb. 6:11, 12). Watter seëninge geniet ons terwyl ons daarna streef om die Christus ywerig en ten volle te volg? Ons put ware genot daaruit om die wil van God te doen en ondervind die bevrediging wat ’n mens kry wanneer jy bykomende diensvoorregte en verantwoordelikhede in die gemeente aanvaar. (Ps. 40:8; lees 1 Tessalonisense 4:1.) Ja, wanneer ons ons ywerig inspan om die Christus te volg, geniet ons ryk en blywende seëninge soos gemoedsrus, voldoening, tevredenheid, God se guns en die vooruitsig op die ewige lewe.—1 Tim. 4:10.

Onthou jy?

• Watter belangrike werk is aan ons gegee, en hoe moet ons dit beskou?

• Teen watter menslike neiging moet ons waak, en waarom?

• Watter eerlike ondersoek moet ons doen?

• Wat sal ons help om die Christus te bly volg?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 27]

Wat sal jou help om die Christus te bly volg?

▪ Lees God se Woord elke dag en peins oor wat jy lees.—Ps. 1:1-3; 1 Tim. 4:15.

▪ Bid dikwels vir die ondersteuning en leiding van God se gees.—Sag. 4:6; Luk. 11:9, 13.

▪ Gaan om met dié wat opregte ywer vir die bediening openbaar.—Spr. 13:20; Heb. 10:24, 25.

▪ Besef hoe dringend die tye is waarin ons lewe.—Ef. 5:15, 16.

▪ Wees bewus van die ernstige gevolge wat dit kan hê as ons ‘vra om verskoon te word’.—Luk. 9:59-62.

▪ Dink gereeld na oor jou toewydingsgelofte en die oorvloedige seëninge wat ’n mens ontvang wanneer jy Jehovah dien en die Christus heelhartig volg.—Ps. 116:12-14; 133:3; Spr. 10:22.