Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mans, onderwerp julle julle aan Christus se hoofskap?

Mans, onderwerp julle julle aan Christus se hoofskap?

Mans, onderwerp julle julle aan Christus se hoofskap?

“Die Christus [is] die hoof . . . van elke man.”—1 KOR. 11:3.

1. Wat toon dat Jehovah ’n God van orde is?

 “U IS waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang,” sê Openbaring 4:11, “want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Aangesien hy die Skepper is, is Jehovah God die Allerhoogste Soewerein van die heelal en is hy verhewe bo al sy skeppingswerke. Dat Jehovah “nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” is, kan gesien word aan die manier waarop sy engelegesin georganiseer is.—1 Kor. 14:33; Jes. 6:1-3; Heb. 12:22, 23.

2, 3. (a) Wie was Jehovah se eerste skepping? (b) Watter posisie beklee die eersgebore Seun ten opsigte van die Vader?

2 Voordat enigiets geskep is, het God tallose eeue lank alleen bestaan. Sy heel eerste skepping was die geesskepsel wat as “die Woord” bekend gestaan het omdat hy die Woordvoerder van Jehovah was. Die Woord is die een deur wie alle ander dinge ontstaan het. Later het hy as ’n volmaakte mens na die aarde toe gekom en as Jesus Christus bekend geword.—Lees Johannes 1:1-3, 14.

3 Wat sê die Skrif oor die relatiewe posisies van God en sy eersgebore Seun? Die apostel Paulus het onder inspirasie geskryf en vir ons gesê: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus” (1 Kor. 11:3). Die Christus is onder die hoofskap van sy Vader. Hoofskap en onderdanigheid is onontbeerlik vir vrede en orde onder intelligente skepsele. Selfs die een ‘deur middel van wie alle ander dinge geskep is’, moet hom aan God se hoofskap onderwerp.—Kol. 1:16.

4, 5. Hoe het Jesus gevoel oor sy posisie ten opsigte van Jehovah?

4 Hoe het Jesus daaroor gevoel om hom aan Jehovah se hoofskap te onderwerp en na die aarde toe te kom? Die Skrif sê: “Christus Jesus [het], hoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg . . . nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword. Wat meer is, toe hy hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.”—Fil. 2:5-8.

5 Jesus het hom te alle tye nederig onderwerp aan sy Vader se wil. Hy het gesê: “Ek kan hoegenaamd niks op eie inisiatief doen nie; . . . die oordeel wat ek vel, is regverdig, omdat ek nie my eie wil soek nie, maar die wil van hom wat my gestuur het” (Joh. 5:30). “Ek [doen] altyd die dinge . . . wat [my Vader] behaag”, het hy gesê (Joh. 8:29). Teen die einde van sy lewe op aarde het Jesus in gebed tot sy Vader gesê: “Ek het u op die aarde verheerlik, aangesien ek die werk volbring het wat u my gegee het om te doen” (Joh. 17:4). Dit was klaarblyklik nie vir Jesus ’n probleem om God se hoofskap oor hom te erken en te aanvaar nie.

Onderdanigheid aan die Vader bring vir die Seun voordele mee

6. Watter wonderlike eienskappe het Jesus aan die dag gelê?

6 Toe Jesus op aarde was, het hy talle wonderlike eienskappe aan die dag gelê. Een hiervan was die groot liefde wat hy vir sy Vader gehad het. ‘Ek het die Vader lief’, het hy gesê (Joh. 14:31). Hy het ook groot liefde vir mense geopenbaar. (Lees Matteus 22:35-40.) Jesus was goedhartig en bedagsaam, nie hardvogtig of dominerend nie. “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is,” het hy gesê, “en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matt. 11:28-30). Skaapgeaardes van alle ouderdomme, veral dié wat vertrap en onderdruk is, het groot vertroosting geput uit Jesus se aangename persoonlikheid en bemoedigende boodskap.

7, 8. Hoe is die vrou wat aan bloedvloeiing gely het onder die Wet beperk, maar hoe het Jesus haar behandel?

7 Dink aan hoe Jesus vroue behandel het. Deur die geskiedenis heen het baie mans vroue al baie sleg behandel. Dit was waar van die godsdiensleiers in eertydse Israel. Maar Jesus het vroue met respek behandel. Dit kan gesien word aan sy optrede teenoor ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het. “Sy is baie pyn besorg” deur geneeshere en het al haar middele bestee om te probeer gesond word. Ten spyte van al haar pogings het sy “erger geword”. Onder die Wet is sy as onrein beskou. Enigiemand wat aan haar geraak het, sou ook onrein word.—Lev. 15:19, 25.

8 Toe die vrou gehoor het dat Jesus siekes gesond maak, het sy aangesluit by die skare wat hom omring het en gesê: “As ek net aan sy boklere raak, sal ek gesond word.” Sy het aan Jesus geraak en het onmiddellik gesond geword. Jesus het geweet dat sy nie veronderstel was om aan sy kleed te raak nie. Nietemin het hy haar nie uitgeskel nie. Inteendeel, hy was goedhartig teenoor haar. Hy het verstaan hoe sy moes gevoel het nadat sy soveel jare lank siek was en het onderskei dat sy desperaat was vir hulp. Jesus het vol medelye vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.”—Mark. 5:25-34.

9. Wat was Jesus se reaksie toe sy dissipels kinders probeer keer het om na hom toe te kom?

9 Selfs kinders kon op hulle gemak voel by Jesus. Toe mense by een geleentheid kinders na hom toe gebring het, het sy dissipels hulle berispe, blykbaar omdat hulle gedink het dat hy nie sou wou hê dat kinders hom pla nie. Maar dit is nie hoe Jesus gevoel het nie. Die Bybelverslag sê vir ons: “Toe Jesus dit sien, was hy verontwaardig en het hy vir [die dissipels] gesê: ‘Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie, want die koninkryk van God behoort aan dié wat soos hulle is.’” Verder “het [hy] die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën terwyl hy hulle die hande opgelê het”. Jesus het kinders nie bloot verdra nie; hy het hulle hartlik ontvang.—Mark. 10:13-16.

10. Hoe het Jesus die eienskappe verkry wat hy geopenbaar het?

10 Hoe het Jesus die eienskappe verkry wat hy gedurende sy lewe op aarde geopenbaar het? In sy voormenslike bestaan het hy sy hemelse Vader ontelbare eeue lank waargeneem en sy weë aangeleer. (Lees Spreuke 8:22, 23, 30.) In die hemel het hy die liefdevolle manier gesien waarop Jehovah sy hoofskap oor al Sy skeppingswerke uitoefen, en hy het dit sy eie gemaak. Sou Jesus dit kon gedoen het as hy nie onderdanig was nie? Dit was vir hom ’n genot om onderdanig te wees aan sy Vader, en dit was vir Jehovah ’n plesier om so ’n Seun te hê. Toe Jesus op aarde was, het hy die wonderlike eienskappe van sy hemelse Vader op volmaakte wyse weerspieël. Wat ’n voorreg is dit tog vir ons om onderdanig te wees aan Christus, God se aangestelde Heerser van die hemelse Koninkryk!

Volg Christus se eienskappe na

11. (a) Wie moet ons ons inspan om na te volg? (b) Waarom moet veral die mans in die gemeente daarna streef om Jesus na te volg?

11 Almal in die Christengemeente, veral die mans, moet hulle voortdurend inspan om Christus se eienskappe na te volg. Soos reeds genoem is, sê die Bybel: “Christus [is] die hoof . . . van elke man.” Soos Christus sy Hoof, die ware God, nagevolg het, moet Christenmans daarna streef om hulle hoof—die Christus—na te volg. Toe die apostel Paulus ’n Christen geword het, is dit presies wat hy gedoen het. “Word navolgers van my”, het hy mede-Christene vermaan, “net soos ek dit van Christus is” (1 Kor. 11:1). En die apostel Petrus het gesê: “Tot hierdie weg is julle geroep, want ook Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Pet. 2:21). Daar is nog ’n rede waarom die vermaning om die Christus na te volg vir mans van besondere belang is. Dit is húlle wat ouer manne en bedieningsknegte word. Net soos Jesus vreugde daaruit geput het om Jehovah na te volg, moet Christenmans vreugde daaruit put om Christus en sy eienskappe na te volg.

12, 13. Hoe moet ouer manne die skape in hulle sorg behandel?

12 Die ouer manne in die Christengemeente is onder verpligting om te leer om soos Christus te wees. Petrus het hierdie raad aan die ouer manne gegee: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig; ook nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word” (1 Pet. 5:1-3). Christen- ouer manne moenie tiranniek, dominerend, dogmaties of hardvogtig wees nie. Hulle volg Christus se voorbeeld na en probeer liefdevol, bedagsaam, nederig en goedhartig wees in hulle handelinge met die skape wat aan hulle sorg toevertrou is.

13 Dié wat die leiding neem in die gemeente, is onvolmaakte manne, en hulle moet te alle tye bewus wees van hierdie beperking (Rom. 3:23). Hulle moet dus gretig wees om oor Jesus te leer en sy liefde na te volg. Hulle moet peins oor die manier waarop God en Christus mense behandel en hulle dan probeer navolg. Petrus vermaan ons: “Omgord julle almal met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.”—1 Pet. 5:5.

14. In watter mate moet ouer manne aan ander eer betoon?

14 Die aangestelde manne in die gemeente moet goeie eienskappe aan die dag lê in hulle handelinge met die kudde van God. Romeine 12:10 sê: “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.” Ouer manne en bedieningsknegte betoon eer aan ander. Soos Christene oor die algemeen, moet hierdie manne ‘niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as hulleself ag’ (Fil. 2:3). Dié wat die leiding neem, moet ander gewis as hoër as hulleself beskou. Deur dit te doen, sal die aangestelde manne Paulus se raad volg: “Ons wat sterk is, behoort die swakhede te dra van dié wat nie sterk is nie en nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy naaste behaag in wat goed is vir sy opbouing. Want selfs die Christus het homself nie behaag nie.”—Rom. 15:1-3.

‘Ken eer toe aan julle vrouens’

15. Hoe moet mans hulle vrouens behandel?

15 Let nou op Petrus se raad aan getroude mans. Hy het geskryf: “Net so moet julle, mans, voortgaan om ooreenkomstig kennis met [julle vrouens] saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike” (1 Pet. 3:7). Om iemand te eer, beteken om hoë agting vir daardie persoon te hê. Jy sal dus die menings, behoeftes en begeertes van daardie persoon in ag neem en sal moontlik toegee aan sy wense tensy daar ’n belangrike rede is om dit nie te doen nie. Dit is hoe ’n man sy vrou moet behandel.

16. Watter waarskuwing gee God se Woord aan mans in verband met eerbetoning aan hulle vrouens?

16 Waar Petrus vir mans sê om hulle vrouens te eer, voeg hy ’n waarskuwing by: “Sodat julle gebede nie verhinder word nie” (1 Pet. 3:7). Dit toon duidelik in watter ernstige lig Jehovah die manier beskou waarop ’n man sy vrou behandel. As hy nie aan haar eer betoon nie, kan dit sy gebede verhinder. En reageer vrouens oor die algemeen nie positief daarop as hulle mans aan hulle eer toeken nie?

17. In watter mate moet ’n man sy vrou liefhê?

17 Oor die manier waarop ’n man sy vrou moet liefhê, maan God se Woord: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. . . . Want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen . . . Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself” (Ef. 5:28, 29, 33). In watter mate moet mans hulle vrouens liefhê? “Mans,” het Paulus geskryf, “hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Ef. 5:25). Ja, ’n man moet bereid wees om selfs sy lewe vir sy vrou af te lê, soos Christus dit vir ander gedoen het. Wanneer die Christenman sy vrou met teerheid, bedagsaamheid, beleefdheid, onselfsugtigheid behandel, is dit makliker vir sy vrou om haar aan sy hoofskap te onderwerp.

18. Watter hulp het mans om na hulle verantwoordelikhede in die huwelik om te sien?

18 Sou dit te veel gevra wees van mans om op hierdie manier eer aan hulle vrouens toe te ken? Nee, Jehovah sou hulle nooit vra om iets te doen wat bo hulle vermoëns is nie. Boonop het Jehovah se aanbidders toegang tot die sterkste krag in die heelal—God se heilige gees. Jesus het gesê: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Luk. 11:13). Mans kan in hulle gebede vra dat Jehovah hulle deur middel van sy gees sal help in hulle optrede teenoor ander, insluitende hulle vrouens.—Lees Handelinge 5:32.

19. Wat sal ons volgende studieartikel bespreek?

19 Ja, mans het die groot verantwoordelikheid om te leer hoe om aan Christus onderdanig te wees en sy hoofskap na te volg. Maar wat van vroue, veral dié wat getroud is? Die volgende artikel sal bespreek hoe hulle hulle rol in Jehovah se reëling moet beskou.

Onthou jy?

• Watter eienskappe van Jesus moet ons navolg?

• Hoe moet ouer manne die skape behandel?

• Hoe moet ’n man sy vrou behandel?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 10]

Volg Jesus na deur aan ander eer te betoon