Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat Jehovah se dag sal openbaar

Wat Jehovah se dag sal openbaar

Wat Jehovah se dag sal openbaar

‘Jehovah se dag sal soos ’n dief kom, en die aarde en die werke daarin sal ontdek word.’—2 PET. 3:10.

1, 2. (a) Hoe sal die teenswoordige goddelose stelsel van dinge tot ’n einde kom? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

 DIE teenswoordige goddelose stelsel van dinge is gegrond op die leuen dat die mens met sukses onafhanklik van Jehovah oor die aarde kan regeer (Ps. 2:2, 3). Kan enigiets wat op onwaarheid gegrond is, vir ewig bly staan? Beslis nie! Ons hoef nogtans nie te wag dat Satan se wêreld vanself tot ’n einde kom nie. God sal dit eerder op sy vasgestelde tyd en op sy manier vernietig. God se optrede teen hierdie goddelose wêreld sal sy geregtigheid sowel as sy liefde op volmaakte wyse weerspieël.—Ps. 92:7; Spr. 2:21, 22.

2 “Jehovah se dag”, het die apostel Petrus geskryf, “[sal] soos ’n dief kom, waarop die hemele met ’n sissende gedruis sal verbygaan, die elemente, wat intens warm sal wees, tot niet gemaak sal word, en die aarde en die werke daarin ontdek sal word” (2 Pet. 3:10). Wat is “die hemele” en “die aarde” waarvan hier gepraat word? Wat is “die elemente” wat tot niet gemaak sal word? En wat het Petrus bedoel toe hy gesê het dat “die aarde en die werke daarin ontdek sal word”? As ons weet wat die antwoorde op hierdie vrae is, sal dit ons help om voorbereid te wees op die vreesinboesemende gebeure wat in die nabye toekoms sal plaasvind.

Die hemele en die aarde wat sal verbygaan

3. Wat is die “hemele” wat in 2 Petrus 3:10 genoem word, en hoe sal dit verbygaan?

3 Wanneer die term “hemele” simbolies gebruik word in die Bybel, verwys dit dikwels na heersende moondhede, wat verhewe is bo hulle onderdane (Jes. 14:13, 14; Op. 21:1, 2). “Die hemele [wat] sal verbygaan”, verteenwoordig menseheerskappy oor ’n goddelose samelewing. Die feit dat hulle met ’n “sissende gedruis”—of volgens ’n ander vertaling “’n geweldige gedreun”—sal verbygaan, toon moontlik dat hierdie hemele vinnig vernietig sal word.

4. Wat is “die aarde”, en hoe sal dit vernietig word?

4 “Die aarde” verteenwoordig die mensewêreld wat van God vervreemd is. So ’n wêreld het in Noag se dag bestaan en het op God se bevel met die Vloed geëindig. “Deur dieselfde woord is die hemele en die aarde wat nou is, vir die vuur weggelê en word dit bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Pet. 3:7). Terwyl die Vloed al die goddelose mense op een slag vernietig het, sal die komende vernietiging in stadiums gedurende “die groot verdrukking” plaasvind (Op. 7:14). In die eerste fase van dié verdrukking sal God die politieke heersers van hierdie wêreld beweeg om “Babilon die Grote” te vernietig, waardeur hy sy veragting van daardie godsdienshoer toon (Op. 17:5, 16; 18:8). Daarna sal Jehovah self die res van Satan se wêreld in die oorlog van Armageddon, die laaste fase van die groot verdrukking, vernietig.—Op. 16:14, 16; 19:19-21.

‘Die elemente sal tot niet gemaak word’

5. Wat sluit die figuurlike elemente in?

5 Wat is “die elemente” wat “tot niet gemaak sal word”? ’n Bybelwoordeboek omskryf “elemente” as “eerste beginsels”, of “grondbeginsels”. Die term, sê dit, “is gebruik vir die letters van die alfabet, as elemente van spraak”. “Die elemente” waarvan Petrus praat, verwys dus na die fundamentele dinge wat aan hierdie wêreld sy goddelose kenmerke, gesindhede, weë en doelwitte gee. “Die elemente” sluit “die gees van die wêreld” in, wat “in die seuns van die ongehoorsaamheid werk”. (1 Kor. 2:12; lees Efesiërs 2:1-3.) Hierdie gees, of “lug”, kan in Satan se hele wêreld gevind word. Dit dryf mense aan om te dink, planne te maak, te praat en op te tree op ’n manier wat die denke weerspieël van Satan, die trotse, uitdagende “heerser van die gesag van die lug”.

6. Hoe word die gees van die wêreld geopenbaar?

6 Derhalwe laat diegene wat deur die wêreld se gees besmet is, bewustelik of onbewustelik, toe dat hulle verstande en harte deur Satan beïnvloed word sodat hulle sy denke en gesindheid weerspieël. Gevolglik doen hulle wat hulle wil, sonder om die wil van God in ag te neem. Hulle reageer op trotse of selfsugtige wyse op situasies, hulle toon ’n opstandige gesindheid teenoor gesag en hulle gee vrye teuels aan “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë”.—Lees 1 Johannes 2:15-17. a

7. Waarom moet ons ‘ons hart bewaak’?

7 Hoe belangrik is dit dan tog dat ons ‘ons hart bewaak’ deur goddelike wysheid aan die dag te lê in ons keuse van vriende, leesstof, vermaak en webwerwe wat ons op die Internet besoek! (Spr. 4:23). Die apostel Paulus het geskryf: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kol. 2:8). Hierdie opdrag word al hoe dringender namate Jehovah se dag nader kom, want die ongeëwenaarde hitte daarvan sal al “die elemente” van Satan se stelsel laat wegsmelt, wat sal toon dat hulle hoegenaamd geen vuurvaste eienskappe het nie. Dit laat ons dink aan die woorde van Maleagi 4:1: “Die dag kom wat soos die oond brand, en al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedryf, sal soos stoppels word. En die dag wat kom, sal hulle beslis verslind.”

‘Die aarde en die werke daarin sal ontdek word’

8. Hoe word die aarde en die werke daarin “ontdek”?

8 Wat het Petrus bedoel toe hy geskryf het dat “die aarde en die werke daarin ontdek sal word”? Die woord “ontdek” kan ook vertaal word as “te wete gekom” of “blootgelê”. Petrus het bedoel dat Jehovah Satan se wêreld gedurende die groot verdrukking sal blootlê en sal toon dat dit Hom en Sy Koninkryk teëstaan en gevolglik verdien om vernietig te word. Jesaja 26:21 praat profeties van daardie tyd en sê: “Jehovah kom uit sy plek te voorskyn om van die inwoner van die land rekenskap te eis vir sy oortreding, en die land sal beslis sy bloedvergieting openbaar en sal nie langer sy doodgemaaktes bedek nie.”

9. (a) Wat moet ons verwerp, en waarom? (b) Wat moet ons aankweek, en waarom?

9 Gedurende Jehovah se dag sal diegene wat deur die wêreld en sy goddelose gees gevorm is, toon wat hulle werklik is en sal hulle mekaar selfs doodmaak. Trouens, die verskeie soorte gewelddadige vermaak wat vandag gewild is, kondisioneer heel moontlik die verstande van baie mense vir die tyd wanneer elke mens se hand “teen die hand van sy metgesel [sal] kom” (Sag. 14:13). Hoe belangrik is dit dan dat ons enigiets—rolprente, boeke, videospeletjies, ensovoorts—verwerp wat eienskappe in ons kan voortbring wat vir God verfoeilik is, soos trots en die liefde vir geweld! (2 Sam. 22:28; Ps. 11:5). Laat ons eerder die vrug van God se heilige gees aankweek, want sulke eienskappe sal die hitte van Jehovah se dag kan deurstaan.—Gal. 5:22, 23.

“Nuwe hemele en ’n nuwe aarde”

10, 11. Wat is die “nuwe hemele” en die “nuwe aarde”?

10 Lees 2 Petrus 3:13. Die “nuwe hemele” is God se hemelse Koninkryk, wat in 1914 opgerig is toe “die vasgestelde tye van die nasies” tot ’n einde gekom het (Luk. 21:24). Hierdie koninklike regering bestaan uit Christus Jesus en sy 144 000 medeheersers, van wie die meeste al hulle hemelse beloning ontvang het. In die boek Openbaring word hierdie uitverkorenes uitgebeeld as “die heilige stad, Nuwe Jerusalem, [wat] van God af uit die hemel . . . neerdaal, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is” (Op. 21:1, 2, 22-24). Net soos aardse Jerusalem in eertydse Israel die setel van die regering was, maak die Nuwe Jerusalem en haar Bruidegom die regering van die nuwe stelsel van dinge uit. Hierdie hemelse stad sal “uit die hemel . . . neerdaal” deur sy aandag op die aarde te vestig.

11 Die “nuwe aarde” verwys na die nuwe aardse gemeenskap van mense wat hulle gewillige onderdanigheid aan God se Koninkryk getoon het. Die geestelike paradys wat God se volk nou al geniet, sal uiteindelik in sy regmatige omgewing wees in daardie pragtige “toekomstige bewoonde aarde” (Heb. 2:5). Hoe kan ons ’n deel van daardie nuwe stelsel van dinge wees?

Berei jou voor vir Jehovah se groot dag

12. Waarom sal Jehovah se dag die wêreld skok?

12 Paulus sowel as Petrus het voorspel dat Jehovah se dag “soos ’n dief” sal kom—stilletjies, onverwags. (Lees 1 Tessalonisense 5:1, 2.) Selfs ware Christene, wat in afwagting van daardie dag bly, sal verbaas wees deur die skielike koms daarvan (Matt. 24:44). Maar die wêreld sal baie meer as net verbasing ervaar. Paulus het geskryf: “Wanneer hulle [dié wat van Jehovah vervreemd is] ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie.”—1 Tess. 5:3.

13. Hoe kan ons voorkom dat ons deur die uitroep “Vrede en veiligheid!” bedrieg word?

13 Die uitroep “Vrede en veiligheid!” sal net nog ’n demoongeïnspireerde leuen wees; maar dit sal nie Jehovah se knegte om die bos lei nie. “Julle is nie in die duisternis sodat daardie dag julle sal oorval soos vir diewe nie,” het Paulus geskryf, “want julle almal is kinders van die lig en kinders van die dag” (1 Tess. 5:4, 5). Laat ons dus in die lig bly, ver weg van die duisternis van Satan se wêreld. Petrus het geskryf: “Geliefdes, aangesien julle hierdie voorkennis het, moet julle op julle hoede wees dat julle nie saam met hulle [valse onderrigters in die Christengemeente] deur die dwaling van die wettrotserende mense weggelei word en van julle eie standvastigheid wegval nie.”—2 Pet. 3:17.

14, 15. (a) Hoe gee Jehovah eer aan ons? (b) Watter geïnspireerde woorde moet ons ter harte neem?

14 Let daarop dat Jehovah nie net vir ons sê om ‘op ons hoede te wees’ en dit dan daar laat nie. Hy gee aan ons eer deur ons liefdevol “voorkennis” te gee in die vorm van ’n algemene oorsig van wat in die toekoms gaan gebeur.

15 Maar ongelukkig het party ongeërg of selfs sinies geraak oor herinneringe in verband met die belangrikheid om wakker te bly. ‘Ons hoor daardie selfde herinnering al dekades lank’, sê hulle dalk. Daardie persone moet egter in gedagte hou dat hulle, deur sulke dinge te sê, in werklikheid Jehovah en sy Seun bevraagteken, nie net die ‘getroue slaaf’-klas nie. “Bly in afwagting”, het Jehovah gesê (Hab. 2:3). Jesus het eweneens gesê: “Hou . . . aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matt. 24:42). Daarbenewens het Petrus geskryf: “Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!” (2 Pet. 3:11, 12). Die ‘getroue slaaf’-klas en sy Bestuursliggaam sal nooit ’n ongeërgde houding teenoor hierdie ernstige woorde aanneem nie!

16. Watter gesindheid moet ons vermy, en waarom?

16 Dit is in werklikheid die “bose slaaf” wat tot die gevolgtrekking kom dat die Heer talm (Matt. 24:48). Daardie bose slaaf is deel van ’n groep wat in 2 Petrus 3:3, 4 beskryf word. ‘In die laaste dae’, het Petrus geskryf, ‘sal daar spotters kom wat ooreenkomstig hulle eie begeertes’ diegene bespot wat uit gehoorsaamheid Jehovah se dag goed in gedagte hou. Ja, pleks dat sulke spotters op Koninkryksbelange konsentreer, konsentreer hulle op hulleself en hulle eie selfsugtige begeertes. Mag ons nooit so ’n ongehoorsame en gevaarlike gesindheid ontwikkel nie! Laat ons eerder ‘die geduld van ons Here as redding beskou’ deur besig te bly in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk en deur nie oormatig besorg te wees oor die tydsberekening van gebeure wat aan Jehovah God behoort nie.—2 Pet. 3:15; lees Handelinge 1:6, 7.

Vertrou op die God van redding

17. Hoe het getroue Christene gereageer op Jesus se vermaning om uit Jerusalem te vlug, en waarom?

17 Nadat die Romeinse leërs Judea in 66 HJ binnegeval het, het getroue Christene opgetree in ooreenstemming met Jesus se vermaning om by die eerste geleentheid uit die stad Jerusalem te vlug (Luk. 21:20-23). Waarom het hulle onmiddellik en daadwerklik opgetree? Hulle het ongetwyfeld Jesus se waarskuwing goed in gedagte gehou. Hulle het weliswaar verwag dat hulle besluit ontberinge sou beteken, soos Christus hulle gewaarsku het. Maar hulle het terselfdertyd geweet dat Jehovah sy lojale knegte nooit sal verlaat nie.—Ps. 55:22.

18. Watter uitwerking het Jesus se woorde in Lukas 21:25-28 op jou beskouing van die komende groot verdrukking?

18 Ons moet ook ten volle op Jehovah vertrou, want net hy sal ons redding wees wanneer die teenswoordige stelsel van dinge die grootste verdrukking in die ganse mensegeskiedenis ondergaan. Op die een of ander stadium ná die begin van die groot verdrukking, maar voordat Jehovah sy oordeel aan die res van die wêreld voltrek, sal mense “flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom”. Maar terwyl God se vyande bewe van vrees, sal Jehovah se lojale knegte geen angs ervaar nie. Inteendeel, hulle sal verheug wees, want hulle weet dat hulle verlossing naby is.—Lees Lukas 21:25-28.

19. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Ja, wat ’n wonderlike toekoms wag tog op dié wat afgeskeie bly van die wêreld en die “elemente” daarvan! Maar as ons die lewe wil ontvang, moet ons, soos die volgende artikel verduidelik, meer doen as om net slegte dinge te vermy. Ons moet eienskappe aankweek wat Jehovah behaag en werke doen wat vir hom aanneemlik is.—2 Pet. 3:11.

[Voetnoot]

a Vir ’n vollediger beskrywing van die eienskappe wat deur die wêreld se gees bevorder word, sien Redenering uit die Skrif, bladsye 148-152.

Kan jy verduidelik?

• Wat word voorgestel deur . . . 

die teenswoordige ‘hemele en aarde’?

“die elemente”?

die ‘nuwe hemele en nuwe aarde’?

• Waarom stel ons ons volle vertroue in God?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 5]

Hoe kan jy ‘jou hart bewaak’ en afgeskeie van die wêreld bly?

[Prent op bladsy 6]

Hoe toon ons dat ons ‘die geduld van ons Here as redding beskou’?