Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Weerstaan die druk van die openbare mening

Weerstaan die druk van die openbare mening

Weerstaan die druk van die openbare mening

IDEES oor wat gepas of onaanvaarbaar is en wat lofwaardig of afkeurenswaardig is, verskil van plek tot plek. Dit verander ook met die verloop van tyd. Wanneer ons Bybelverslae lees van gebeure wat in die gryse verlede gebeur het, moet ons dus die openbare mening en waardes in Bybeltye in ag neem en moet ons nie wat ons lees aan ons eie standaarde meet nie.

Neem byvoorbeeld twee konsepte wat herhaaldelik in die Christelike Griekse Geskrifte genoem word—eer en skande. Om ’n beter begrip van die Skrifgedeeltes te kry wat van eer en skande praat, moet ons nadink oor hoe dit deur die mense van daardie tyd beskou is.

Waardes in die eerste eeu

“Grieke, Romeine en Judeërs het almal eer en skande beskou as sleutelwaardes in hulle kulture”, sê een geleerde. “Mense het geleef en gesterf in hulle soeke na eer, aansien, roem, goedkeuring en respek.” Sulke waardes het hulle vatbaar gemaak vir die menings van ander.

Status, posisie en eer was van die grootste belang in ’n gemeenskap wat gekenmerk is deur ’n intense bewustheid van stand, wat gewissel het van die adelstand tot die slawe. Eer was ’n persoon se waarde, nie net in sy eie oë nie, maar ook in die oë van ander. Om iemand te eer, het beteken om in die openbaar te erken dat hy hom gedra het op ’n manier wat van hom verwag is. Om eer te gee, het ook beteken dat ’n mens uiterlik beïndruk is deur ’n persoon se rykdom, amp of adellikheid en hom gevolglik die gepaste agting gegee het. Eer kon verwerf word deur deugsame dade te verrig of bo ander uit te blink. In teenstelling hiermee het openbare vernedering of bespotting met skande, of oneer, gepaardgegaan. Dit was nie soseer ’n persoonlike gevoel of ’n reaksie van ’n mens se gewete nie; dit was die gevolg van veroordeling deur die gemeenskap.

Toe Jesus gepraat het van iemand wat “die vernaamste plek” of “die geringste plek” by ’n fees gegee is, het dit in die destydse kultuur verband gehou met eer of skande (Luk. 14:8-10). By ten minste twee geleenthede het Jesus se dissipels gestry oor “wie van hulle blykbaar die grootste was” (Luk. 9:46; 22:24). Hierdeur is ’n saak wat van groot belang was in die gemeenskap waarin hulle geleef het, geopenbaar. Intussen het trotse en mededingende Joodse godsdiensleiers gevoel dat Jesus se prediking hulle eer en gesag ondermyn het. Maar hulle pogings om hom in openbare debatte te troef, het elke keer misluk.—Luk. 13:11-17.

’n Ander beskouing wat algemeen was in die eerste-eeuse Joodse, Griekse en Romeinse denke, was dat dit ’n skande is om “in hegtenis geneem en in die openbaar van oortreding aangekla te word”. Dit is as vernederend beskou om gebind of in aanhouding geplaas te word. Sulke behandeling het ’n persoon se eer voor vriende, familie en die gemeenskap oor die algemeen geskend—of hy nou aan ’n misdaad skuldig bevind is of nie. Die stigma wat daarna aan sy reputasie gekleef het, kon sy selfrespek vernietig en sy verhouding met ander skaad. Nog skandeliker as om gebind te word, was die vernedering om uitgetrek of geslaan te word. Sulke behandeling het veragting en bespotting uitgelok, wat die persoon sy eer ontneem het.

Teregstelling aan ’n folterpaal het die slagoffer aan die ergste vernedering denkbaar blootgestel. So ’n teregstelling was “die straf vir slawe”, sê die geleerde Martin Hengel. “As sodanig het dit die uiterste vernedering, skande en marteling voorgestel.” Daar was sosiale druk op die familie en vriende van iemand wat op hierdie manier in oneer gebring is, om hom te verstoot. Aangesien Christus op hierdie manier gesterf het, moes almal wat in die eerste eeu HJ Christene wou wees, ook openbare bespotting verduur. Die meeste mense het dit waarskynlik as belaglik beskou dat iemand hom sou identifiseer as ’n volgeling van ’n man wat aan ’n paal gehang is. “Ons verkondig Christus wat aan die paal gehang is,” het die apostel Paulus geskryf, “vir die Jode ’n oorsaak van struikeling maar vir die nasies dwaasheid” (1 Kor. 1:23). Hoe het die vroeë Christene hierdie uitdaging die hoof gebied?

’n Ander stel waardes

Eerste-eeuse Christene het die wet gehoorsaam en het die skande wat die gevolg was van verkeerde gedrag, probeer vermy. “Laat niemand van julle . . . ly as ’n moordenaar of ’n dief of ’n kwaaddoener of as iemand wat hom met ander se sake bemoei nie”, het die apostel Petrus geskryf (1 Pet. 4:15). Jesus het egter voorspel dat sy volgelinge ter wille van sy naam vervolg sou word (Joh. 15:20). “As [’n persoon] ly as ’n Christen,” het Petrus geskryf, “moet hy hom nie skaam nie, maar aanhou om God . . . te verheerlik” (1 Pet. 4:16). Om nie skaam te voel wanneer hulle as volgelinge van Christus gely het nie, het daarop neergekom dat hulle die sosiale norme van daardie tyd verwerp het.

Christene kon nie toelaat dat ander mense se standaarde bepaal hoe hulle hulle gedra nie. ’n Messias wat aan ’n paal gehang is, was dwaasheid in die eerste-eeuse samelewing. Hierdie beskouing kon druk op Christene uitgeoefen het om hulle by die aanvaarde denkpatroon aan te pas. Maar hulle geloof dat Jesus die Messias was, het vereis dat hulle hom moes volg, al word hulle bespot. Jesus het gesê: “Elkeen wat hom in hierdie owerspelige en sondige geslag vir my en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens hom ook skaam wanneer hy in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele kom.”—Mark. 8:38.

Vandag word daar moontlik druk op ons geplaas wat daarop gemik is om ons sover te kry om die Christelike godsdiens te verlaat. Dit kom dalk van skoolmaats, bure of kollegas wat ons by onsedelike, oneerlike of andersins twyfelagtige bedrywighede probeer betrek. Sulke persone probeer ons dalk in die verleentheid bring weens ons standpunt vir regte beginsels. Hoe moet ons reageer?

Volg diegene na wat die skande verag het

Jesus is op die vernederendste manier moontlik tereggestel om sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf. “Hy [het] ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het” (Heb. 12:2). Jesus se vyande het hom geklap, op hom gespoeg, sy klere uitgetrek, hom geslaan, hom aan ’n paal gehang en hom uitgeskel (Mark. 14:65; 15:29-32). Maar Jesus het die skande wat hulle oor hom probeer bring het, verag. Hoe? Hy het geweier om terug te deins van sulke behandeling. Jesus het geweet dat hy in Jehovah se oë geen waardigheid verloor het nie, en hy het beslis nie heerlikheid by mense gesoek nie. Al het Jesus die dood van ’n slaaf gesterf, het Jehovah aan hom waardigheid verleen deur hom op te wek en hom die eervolste plek naas Hom te gee. In Filippense 2:8-11 lees ons: “[Christus Jesus het] homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal. Juis daarom het God hom ook tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader.”

Jesus het nie onverskillig gestaan teenoor die skande wat met sy teregstelling gepaardgegaan het nie. God se Seun was besorg oor die moontlike oneer wat dit vir sy Vader tot gevolg sou hê omdat Jesus as ’n godslasteraar veroordeel is. Jesus het Jehovah gevra om hom daardie vernedering te spaar. “Neem hierdie beker van my af weg”, het hy gebid. Maar Jesus het hom aan God se wil onderwerp (Mark. 14:36). Nogtans het Jesus die druk weerstaan wat oor hom gebring is en het hy die skande verag. Sulke skande sou immers net deur diegene ervaar word wat die waardes wat in sy dag algemeen was, ten volle aanvaar het. Jesus het dit klaarblyklik nie aanvaar nie.

Jesus se dissipels is ook in hegtenis geneem en geslaan. Sulke behandeling het hulle in die oë van baie in die skande gesteek. Daar is op hulle neergesien, en hulle is verag. Maar hulle het hulle nie laat afskrik nie. Ware dissipels het die druk van die openbare mening weerstaan en die skande verag (Matt. 10:17; Hand. 5:40; 2 Kor. 11:23-25). Hulle het geweet dat hulle ‘hulle folterpaal moet opneem en Jesus voortdurend moet volg’.—Luk. 9:23, 26.

Wat van ons wat vandag leef? Dinge wat die wêreld as dwaas, swak en onedel beskou, beskou God as wys, sterk en eervol (1 Kor. 1:25-28). Sou dit nie dwaas en kortsigtig van ons wees om deur die openbare mening meegesleur te word nie?

Enigiemand wat eer soek, heg waarde aan wat die wêreld van hulle dink. Aan die ander kant, wil ons, soos Jesus en sy eerste-eeuse volgelinge, Jehovah as ons Vriend hê. Daarom sal ons wat in sy oë eerbaar is, as eerbaar beskou en wat in sy oë skandelik is, as skandelik beskou.

[Prent op bladsy 4]

Jesus is nie beïnvloed deur wat die wêreld as skandelik beskou het nie