Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe Jesus die regverdigheid van God verheerlik

Hoe Jesus die regverdigheid van God verheerlik

Hoe Jesus die regverdigheid van God verheerlik

“God het [Christus] gestel as ’n offer vir versoening deur geloof in sy bloed. Dit was om sy eie regverdigheid te toon.”—ROM. 3:25.

1, 2. (a) Wat leer die Bybel ons oor die toestand van die mensdom? (b) Watter vrae sal hierdie artikel bespreek?

 DIE Bybelverslag oor die opstand in die tuin van Eden is welbekend. Ons almal ervaar die gevolge van Adam se sonde, soos verduidelik word in dié woorde: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het” (Rom. 5:12). Ongeag hoe hard ons probeer om te doen wat reg is, ons maak foute, waarvoor ons God se vergifnis nodig het. Selfs die apostel Paulus het gekla: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek. Ellendige mens wat ek is!”—Rom. 7:19, 24.

2 Ons sondige natuur laat hierdie belangrike vrae ontstaan: Hoe was dit vir Jesus van Nasaret moontlik om vry van oorgeërfde sonde gebore te word, en waarom is hy gedoop? Hoe het Jesus se lewenswandel Jehovah se regverdigheid verheerlik? Bowenal, wat het Christus se dood bereik?

God se regverdigheid word bevraagteken

3. Hoe het Satan Eva bedrieg?

3 Ons eerste ouers, Adam en Eva, het dwaaslik God se soewereiniteit verwerp en gekies om regeer te word deur “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word” (Op. 12:9). Let op hoe dit gebeur het. Satan het die regverdigheid van Jehovah God se manier van regeer bevraagteken. Hy het dit gedoen deur Eva te vra: “Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” Eva het God se uitdruklike bevel herhaal dat hulle aan een spesifieke boom nie moes raak nie, anders sou hulle sterf. Satan het God toe van leuens beskuldig. “Julle sal sekerlik nie sterf nie”, het die Duiwel gesê. Daarna het hy Eva bedrieg en haar wysgemaak dat God iets goeds van haar weerhou en dat sy, as sy van die vrug eet, soos God sou word, dit wil sê sedelike onafhanklikheid sou hê.—Gen. 3:1-5.

4. Hoe het die mensdom onder Satan se mededingende soewereiniteit gekom?

4 Satan het basies te kenne gegee dat die mensdom gelukkiger sou wees as hulle ’n weg onafhanklik van God inslaan. In plaas van die regverdigheid van God se soewereiniteit te verdedig, het Adam na sy vrou geluister en saam met haar die verbode vrug geëet. Sodoende het Adam sy volmaakte posisie voor Jehovah verbeur en ons onder die wrede juk van sonde en die dood gebring. Terselfdertyd het die mensdom onder die mededingende soewereiniteit van Satan, “die god van hierdie wêreld”, gekom.—2 Kor. 4:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling; Rom. 7:14.

5. (a) Hoe het Jehovah aan sy woord getrou gebly? (b) Watter hoop het God aan Adam en Eva se nakomelinge gegee?

5 Getrou aan sy onfeilbare woord het Jehovah die doodsvonnis oor Adam en Eva uitgespreek (Gen. 3:16-19). Maar dit het nie beteken dat God se voorneme misluk het nie. Inteendeel! Toe Jehovah die vonnis oor Adam en Eva uitgespreek het, het hy hulle toekomstige nakomelinge ’n wonderlike hoop gegee. Hy het dit gedoen deur sy voorneme aan te kondig om ’n “saad” te verwek wat deur Satan in die hakskeen gewond sou word. Maar daardie beloofde Saad sou van die hakskeenwond herstel en Satan se “kop vermorsel” (Gen. 3:15). Die Bybel brei op hierdie tema uit deur die volgende aangaande Jesus Christus te sê: “Met dié doel is die Seun van God openbaar gemaak, naamlik om die werke van die Duiwel te verbreek” (1 Joh. 3:8). Maar hoe het Jesus se gedrag en dood die regverdigheid van God verheerlik?

Die betekenis van Jesus se doop

6. Hoe weet ons dat Jesus nie sonde van Adam geërf het nie?

6 As ’n volwasse man sou Jesus die presiese ekwivalent van die eens volmaakte Adam wees (Rom. 5:14; 1 Kor. 15:45). Dit beteken dat Jesus volmaak gebore moes word. Hoe was dit moontlik? Die engel Gabriël het hierdie duidelike verklaring aan Jesus se moeder, Maria, gegee: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word” (Luk. 1:35). Vroeg in Jesus se lewe het Maria hom blykbaar oor sekere feite in verband met sy geboorte ingelig. Toe Maria en Jesus se pleegvader, Josef, Jesus by een geleentheid in God se tempel gevind het, het die jong kind dus gevra: “Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Luk. 2:49). Jesus het klaarblyklik van jongs af geweet dat hy God se Seun is. Die verheerliking van God se regverdigheid was dus vir hom van groot belang.

7. Watter kosbare besittings het Jesus gehad?

7 Jesus het getoon dat hy ’n lewendige belangstelling in geestelike dinge het deur vergaderinge vir aanbidding gereeld by te woon. Met sy volmaakte verstand het hy ongetwyfeld alles wat hy gehoor en in die Hebreeuse Geskrifte gelees het, ingeneem (Luk. 4:16). Hy het ook ’n ander kosbare besitting gehad—’n volmaakte menseliggaam wat ten behoewe van die mensdom geoffer kon word. Toe Jesus gedoop is, het hy gebid en moontlik aan die profetiese woorde van Psalm 40:6-8 gedink.—Luk. 3:21; lees Hebreërs 10:5-10. a

8. Waarom het Johannes die Doper Jesus probeer keer om gedoop te word?

8 Johannes die Doper wou Jesus aanvanklik keer om gedoop te word. Waarom? Omdat Johannes Jode gedoop het as ’n simbool van hulle berou oor sonde teen die Wet. As ’n nabye familielid het Johannes sekerlik geweet dat Jesus regverdig is en derhalwe nie berou nodig het nie. Jesus het Johannes verseker dat dit gepas was dat Hy gedoop word. “Só”, het Jesus verduidelik, “is dit gepas vir ons om alles wat regverdig is, te volbring.”—Matt. 3:15.

9. Wat het Jesus se doop gesimboliseer?

9 As ’n volmaakte mens kon Jesus tot die gevolgtrekking gekom het dat hy, soos Adam, die potensiaal het om die vader te word van ’n volmaakte menseras. Maar Jesus het nooit so ’n toekoms begeer nie omdat dit nie Jehovah se wil vir hom was nie. God het Jesus na die aarde gestuur om die rol van die beloofde Saad, of Messias, te vervul. Dit het ingesluit dat Jesus sy volmaakte menselewe opoffer. (Lees Jesaja 53:5, 6, 12.) Jesus se doop het natuurlik nie dieselfde betekenis gehad as ons s’n nie. Dit het nie toewyding aan Jehovah behels nie, aangesien Jesus reeds deel was van God se toegewyde nasie Israel. Jesus se doop was eerder ’n simbool van sy aanbieding van homself om God se wil te doen, soos dit in die Skrif vir die Messias uiteengesit word.

10. Wat het die uitvoering van God se wil as die Messias behels, en hoe het Jesus hieroor gevoel?

10 Jehovah se wil vir Jesus het behels dat hy die goeie nuus van God se Koninkryk moes verkondig, dissipels moes maak en hulle vir ’n toekomstige dissipelmaakwerk moes voorberei. Jesus se aanbieding van homself het ook sy gewilligheid ingesluit om vervolging en ’n wrede dood te verduur ter ondersteuning van Jehovah God se regverdige soewereiniteit. Omdat Jesus sy hemelse Vader waarlik liefgehad het, het hy daarin behae geskep om God se wil te doen en het dit hom groot bevrediging verskaf om sy liggaam as ’n offerande aan te bied (Joh. 14:31). Dit het hom ook vreugde verskaf om te weet dat die waarde van sy volmaakte lewe as ’n losprys aan God aangebied kan word om ons uit slawerny aan sonde en die dood terug te koop. Het Jesus se aanbieding van homself om hierdie groot verantwoordelikhede te dra, God se goedkeuring weggedra? Inderdaad!

11. Hoe het Jehovah getoon dat hy Jesus as die beloofde Messias, of Christus, aanvaar?

11 Al vier Evangelieskrywers vertel hoe Jehovah God sy goedkeuring duidelik getoon het toe Jesus uit die water van die Jordaanrivier opgekom het. “Ek het die gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal”, het Johannes die Doper getuig, “en dit het op [Jesus] gebly . . . En ek het dit gesien, en ek het getuig dat dié een die Seun van God is” (Joh. 1:32-34). Daarbenewens het Jehovah by hierdie geleentheid verklaar: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.”—Matt. 3:17; Mark. 1:11; Luk. 3:22.

Getrou tot die dood toe

12. Wat het Jesus ná sy doop drie en ’n half jaar lank gedoen?

12 In die daaropvolgende drie en ’n half jaar het Jesus sy hele lewe daaraan gewy om mense aangaande sy Vader en die regverdigheid van God se soewereiniteit te leer. Die reise wat hy te voet deur die lengte en breedte van die Beloofde Land afgelê het, het hom uitgeput, maar niks kon hom keer om deeglik oor die waarheid te getuig nie (Joh. 4:6, 34; 18:37). Jesus het ander omtrent God se Koninkryk geleer. Deur op wonderdadige wyse die siekes te genees, die honger skares te voed en selfs die dooies op te wek, het hy getoon wat die Koninkryk vir die mensdom sou doen.—Matt. 11:4, 5.

13. Wat het Jesus mense omtrent gebed geleer?

13 Jesus het hom nie die eer vir sy leringe en genesingsdade toegeëien nie, maar hy het ’n uitstekende voorbeeld gestel deur nederig alle eer aan Jehovah te gee (Joh. 5:19; 11:41-44). Jesus het ons ook geleer wat die belangrikste sake is om oor te bid. Ons gebede moet versoeke insluit dat God se naam, Jehovah, “geheilig [moet] word” en dat God se regverdige soewereiniteit Satan se goddelose heerskappy moet vervang sodat Sy “wil [sal] geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matt. 6:9, 10). Jesus het ons ook aangespoor om in ooreenstemming met sulke gebede op te tree deur “eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek”.—Matt. 6:33.

14. Waarom het dit inspanning van Jesus geverg om sy rol in God se voorneme te vervul, al was hy volmaak?

14 Namate die tyd vir sy offerdood nader gekom het, het Jesus al hoe meer bewus geraak van die geweldige verantwoordelikheid wat op hom gerus het. Sy Vader se voorneme en goeie naam het daarvan afgehang dat Jesus ’n onregverdige verhoor en ’n wrede dood verduur. Vyf dae voor sy dood het Jesus gebid: “Nou is my siel verontrus, en wat sal ek sê? Vader, red my uit hierdie uur. Nietemin is dit waarom ek tot in hierdie uur gekom het.” Nadat Jesus hierdie natuurlike menslike gevoelens uitgespreek het, het hy sy aandag op onselfsugtige wyse op die saak van groter belang gevestig en gebid: “Vader, verheerlik u naam.” Jehovah het onmiddellik geantwoord: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik” (Joh. 12:27, 28). Ja, Jesus was bereid om die grootste toets van onkreukbaarheid te ondergaan wat enige mens nog ooit moes deurmaak. Maar toe Jesus hierdie woorde van sy hemelse Vader hoor, het dit hom ongetwyfeld sterk vertroue gegee dat hy daarin sou slaag om Jehovah se soewereiniteit te verheerlik en te regverdig. En hy het ook!

Wat Jesus se dood bereik het

15. Waarom het Jesus net voor sy dood gesê: “Dit is volbring”?

15 Terwyl Jesus aan die folterpaal gehang het, het hy met sy laaste pynlike asemteug gesê: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Watter wonderlike dinge was Jesus tog in staat om met God se hulp te volbring gedurende die drie en ’n half jaar van sy doop tot sy dood! Toe Jesus gesterf het, was daar ’n hewige aardbewing, en die Romeinse leëroffisier wat oor die teregstelling toesig gehou het, is beweeg om te sê: “Hy was beslis God se Seun” (Matt. 27:54). Die offisier het blykbaar gesien hoe Jesus bespot word omdat hy gesê het dat hy God se Seun is. Ten spyte van alles wat Jesus deurgemaak het, het hy sy onkreukbaarheid gehandhaaf en bewys dat Satan ’n veragtelike leuenaar is. Aangaande almal wat God se soewereiniteit ondersteun, het Satan hierdie aantyging gemaak: “’n Mens sal alles gee wat hy het om sy lewe te red” (Job 2:4, Complete Jewish Bible). Deur sy getrouheid het Jesus getoon dat Adam en Eva getrou kon gebly het tydens hulle toets wat veel makliker was. Bowenal het Jesus se lewe en dood die regverdigheid van Jehovah se soewereiniteit verdedig en verheerlik. (Lees Spreuke 27:11.) Het Jesus se dood enigiets anders bereik? Ja, beslis!

16, 17. (a) Waarom was dit vir voor-Christelike getuies van Jehovah moontlik om ’n regverdige posisie voor hom te hê? (b) Hoe het Jehovah die getrouheid van sy Seun beloon, en wat doen die Here Jesus Christus steeds?

16 Baie knegte van Jehovah het gelewe voordat Jesus na die aarde toe gekom het. Hulle het ’n regverdige posisie voor God gehad en is die hoop op ’n opstanding gegee (Jes. 25:8; Dan. 12:13). Maar op watter wetlike grondslag kon die heilige God, Jehovah, sondige mense op so ’n wonderlike manier seën? Die Bybel verduidelik: “God het [Jesus Christus] gestel as ’n offer vir versoening deur geloof in sy bloed. Dit was om sy eie regverdigheid te toon, want hy het die sondes vergewe wat in die verlede plaasgevind het terwyl God verdraagsaamheid beoefen het, ten einde sy eie regverdigheid in die teenswoordige tyd te toon, sodat hy regverdig sal wees ook wanneer hy die mens regverdig verklaar wat geloof in Jesus het.”—Rom. 3:25, 26. b

17 Jehovah het Jesus beloon met ’n opstanding tot ’n hoër posisie as wat hy gehad het voordat hy na die aarde toe gekom het. Jesus geniet nou onsterflikheid as ’n glorieryke geesskepsel (Heb. 1:3). As Hoëpriester en Koning help die Here Jesus Christus steeds sy volgelinge om God se regverdigheid te verheerlik. En hoe dankbaar is ons tog dat ons hemelse Vader, Jehovah, die Beloner is van almal wat dit doen en wat hom lojaal dien in navolging van sy Seun!—Lees Psalm 34:3; Hebreërs 11:6.

18. Waaroor sal die volgende studieartikel handel?

18 Van Abel se tyd af het getroue mense ’n hegte verhouding met Jehovah geniet omdat hulle geloof beoefen en vertroue in die beloofde Saad gestel het. Jehovah het geweet dat sy Seun sy onkreukbaarheid sou handhaaf en dat sy dood “die sonde van die wêreld” volmaak sou bedek (Joh. 1:29). Jesus se dood strek ook mense wat vandag lewe, tot voordeel (Rom. 3:26). Watter seëninge kan Christus se losprys dus vir jou meebring? Dit sal in die volgende studieartikel bespreek word.

[Voetnote]

a Die apostel Paulus haal hier aan uit Psalm 40:6-8 volgens die Griekse Septuagint-vertaling, wat die woorde “u het vir my ’n liggaam berei” insluit. Hierdie frase word nie in beskikbare manuskripte van die ou Hebreeuse Geskrifte gevind nie.

b Sien “Vrae van lesers” op bladsye 6 en 7.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe is God se regverdigheid bevraagteken?

• Wat het Jesus se doop gesimboliseer?

• Wat het Jesus se dood bereik?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 9]

Weet jy wat deur Jesus se doop gesimboliseer is?