Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

500 jaar van Calvinisme—Wat het dit bereik?

500 jaar van Calvinisme—Wat het dit bereik?

500 jaar van Calvinisme—Wat het dit bereik?

JEAN CAUVIN (Johannes Calvyn) is in 1509 in Noyon, Frankryk, gebore. Hy het ’n godsdiensbeweging gestig wat ’n belangrike rol gespeel het in die lewe van baie mense in dele van Europa, die Amerikas, Suid-Afrika en elders. Hy word beskou as een van die vername Kerkhervormers in die Westerse geskiedenis.

Vandag, sowat 500 jaar ná Calvyn se geboorte, floreer Calvinisme—die idees en leringe van Calvyn—nog steeds in die een of ander vorm in Protestantse gelowe soos die Gereformeerde, Presbiteriaanse, Kongregasionalistiese en Puriteinse kerke. Verlede September nog het die Wêreldraad van Gereformeerde Kerke volgens hulle 75 miljoen aanhangers in 107 lande gehad.

In konflik met Katolisisme

Calvyn se vader was ’n regsgeleerde en ’n sekretaris vir die Katolieke kerk in Noyon. In sy werk het hy dikwels die wydverspreide wangedrag van die geestelikes van destyds gesien. Ons kan nie seker wees of dit Johannes se vader en broer protes laat aanteken het of disrespekvol laat optree het nie, maar hulle is later albei deur die kerk geëkskommunikeer. Toe sy vader gesterf het, het Johannes gesukkel om ’n Christelike begrafnis vir hom te verkry. Hierdie voorval het waarskynlik Johannes se wantroue in Katolisisme versterk.

Die meeste werke oor Calvyn het min te sê oor hom as ’n jongmens behalwe om hom as stil en teruggetrokke te beskryf. Selfs as ’n student in Parys, Orléans en Bourges het hy blykbaar min vriende gehad. Maar Calvyn was begaaf met ’n skerp verstand en ’n verstommende geheue. Dit, tesame met ’n ongelooflike werksvermoë—hy het elke dag van soggens vyfuur tot middernag gestudeer—het hom in staat gestel om voordat hy 23 was, ’n doktor in die regte te word. Hy het ook Hebreeus, Grieks en Latyn geleer om die Bybel te bestudeer. Maar Calvyn was bowenal bekend vir sy ernstige, gedissiplineerde werketiek, ’n karaktertrek wat baie mense selfs vandag met Calvinisme verbind.

Intussen het Martin Luther, oorkant die grens in Duitsland, die Katolieke Kerk openlik gekritiseer vir sy korrupsie en onbybelse leringe. In 1517 het hy blykbaar sy 95 stellings, of proteste, aan ’n kerkdeur in Wittenberg vasgespyker, waarin hy op kerkhervorming aangedring het. Baie het met Luther saamgestem, en die Hervorming het vinnig dwarsoor Europa versprei. Dit het begryplikerwys sterk teenstand in baie gebiede uitgelok, en die protesteerders, of Protestante, het hulle beskouings ten spyte van lewensgevaar verkondig. In 1533 het Calvyn se vriend Nicolaas Cop ’n toespraak in Parys gehou ter ondersteuning van Luther, en aangesien Calvyn die toespraak help skryf het, moes hy en Cop albei vir hulle lewe vlug. Calvyn het nooit weer na Frankryk teruggekeer om daar te woon nie.

In 1536 het Calvyn die Institusie van die Christelike Godsdiens gepubliseer, ’n uitvoerige handleiding oor die Protestantse geloof. Hy het dit aan koning Frans I gerig ter verdediging van Franse Protestante, wat later Hugenote genoem is. Calvyn het Katolieke leringe aangeval en die hoeksteen van sy eie geloof—God se soewereiniteit—verdedig. Benewens die impak wat dit op godsdienssake gehad het, is Calvyn se Institusie ook bekend vir sy invloed op die Franse taal en literêre styl. Calvyn is as een van die vernaamste Hervormers beskou. Hy het hom uiteindelik in Genève, Switserland, gevestig, en van 1541 af het hy sy hervormingspogings op dié stad toegespits.

Hervormings in Genève

Calvyn het ’n kragtige invloed op Genève uitgeoefen. Aangedryf deur ’n sterk sin vir sedelikheid en regverdigheid, het hy Genève verander van “’n stad met ’n slegte naam in een waarin ’n streng sedewet almal se lewe gerig het”, sê die Encyclopedia of Religion. Veranderinge het ook op ander gebiede plaasgevind. Dr. Sabine Witt, die kurator van Berlyn se Duitse Geskiedkundige Museum, verduidelik: “As gevolg van die godsdiensoorloë in Frankryk het die instroming van duisende Protestantse vlugtelinge die bevolking [van Genève] binne ’n paar jaar laat verdubbel.” Die Hugenote, wat ’n werketiek soos dié van Calvyn gehad het, het die ekonomie van die stad ’n hupstoot gegee, wat Genève ’n sentrum vir die drukkuns en vir die vervaardiging van horlosies gemaak het.

Vlugtelinge uit ander lande het ook na Genève gekom, insluitende baie uit Engeland, waar Protestante deur koningin Maria I bedreig is. Die Calviniste, wat hoofsaaklik uit uitgeweke minderheidsgroepe bestaan het, het dus ontwikkel wat die godsdienstydskrif Christ in der Gegenwart (die Hedendaagse Christen) beskryf as “die teologie van die vervolgdes”. In 1560 het die vlugtelinge die Geneva Bible gepubliseer, die eerste Bybel in Engels met genommerde versindelings. Weens sy kleiner formaat het hierdie Bybel persoonlike studie van God se Woord makliker gemaak. Dit was waarskynlik die Bybelvertaling wat die Puriteine saam met hulle geneem het toe hulle in 1620 na Noord-Amerika geëmigreer het.

Maar Genève was nie vir almal ’n veilige toevlugsoord nie. Michael Servetus, wat in 1511 in Spanje gebore is, het Grieks, Latyn, Hebreeus en die geneeskunde bestudeer en het Calvyn moontlik ontmoet toe hulle albei studente in Parys was. Servetus het uit sy studie van die Bybel besef dat die Drie-eenheidsleer onskriftuurlik is. Hy het met Calvyn oor die onderwerp probeer korrespondeer, maar laasgenoemde het Servetus as ’n vyand eerder as ’n vriend beskou. Omdat Servetus in Frankryk deur Katolieke vervolg is, het hy na Calvyn se stad, Genève, gevlug. In plaas van verwelkom te word, is hy in hegtenis geneem, vir kettery verhoor en in 1553 op die brandstapel tereggestel. “Servetus se teregstelling is nog steeds ’n klad op die lewe en werk van die andersins groot Hervormer [Calvyn]”, sê die geskiedskrywer Friedrich Oehninger.

Calvyn het ’n ontsaglike hoeveelheid werk gelewer terwyl hy die doelwit van hervorming nagestreef het. Na bewering het hy meer as 100 naslaanwerke en 1 000 briewe geskryf en ook sowat 4 000 preke in Genève gehou. Deur dit alles heen het Calvyn nie net sy eie beskouing van wat die Christelike godsdiens moet wees, verkondig nie, maar ook die manier waarop Christene volgens hom behoort te lewe, probeer afdwing, veral in Genève, wat hy as ’n soort stad van God beskou het. a

Wat het Calvyn se onvermoeide hervormingspogings in Genève opgelewer? Volgens die Switserse Federale Statistiekkantoor het net 16 persent van die inwoners van Genève in die jaar 2000 aan die Gereformeerde (Calvinistiese) Kerk behoort, en daar is meer Katolieke as Calviniste in dié stad.

Godsdiensonenigheid neem vinnig toe

Na aanleiding van die Hervorming het sekere stede en state trou gesweer aan Katolisisme, Lutheranisme of Calvinisme, wat Europa ’n kookpot van godsdiensonenigheid gemaak het. Hoewel die Hervormers verenig was in hulle kritiek teen die Katolieke Kerk, was hulle in konflik met mekaar. Dr. Witt, wat vroeër aangehaal is, sê: “Teologiese verskille het selfs in die Protestantse kamp ontstaan.” Hoewel almal erken het dat die Bybel die grondslag van Christelike geloof moet wees, was daar groot verskille in hulle leringe. Die onmiddellike kwessie was die betekenis van die Laaste Avondmaal en van Christus se teenwoordigheid. Mettertyd het Calvinisme een van sy mees omstrede leerstellings ontwikkel: voorbeskikking.

Daar is baie gedebatteer oor die definisie van voorbeskikking. Een groep Calviniste het beweer dat God, voordat die mens gesondig het, besluit het dat ’n paar uitverkorenes redding deur Christus sou ontvang, terwyl alle ander tot ondergang gedoem sou wees. Hierdie groep het dus geglo dat redding die verordening van God is en dat nie alle mense gelyk is nie. Ander Calviniste het geglo dat redding vir alle mense moontlik is en dat dit elkeen se keuse is of hy dit aanvaar of nie. Dit het beteken dat redding afhang van die mens se wilsvryheid. Calvinisme het nog lank ná Calvyn se dood geworstel met onderwerpe soos God se verordening, die mens se wilsvryheid en gelyke geleenthede vir alle mense.

Calvinisme se geskonde nalatenskap

In die 20ste eeu het die Calvinistiese Nederduitse Gereformeerde Kerk voorbeskikking gebruik as ’n grondslag vir rassediskriminasie in Suid-Afrika. Nelson Mandela, Suid-Afrika se eerste swart president, het aangaande die regering se beleid van wit oorheersing gesê: “Die beleid is ondersteun deur die Nederduits Gereformeerde Kerk, wat apartheid uitgerus het met die religieuse ondertone deur te suggereer dat Afrikaners die uitverkore volk van God is en swartes aan hulle diensbaar moet wees. In die Afrikaner se wêreldbeskouing het apartheid en die kerk hand aan hand geloop.”

In die 1990’s het die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die openbaar om verskoning gevra omdat dit apartheid ondersteun het. In ’n formele verklaring wat die Rustenburg-deklarasie genoem word, het kerkleiers erken: “Sommige van ons het die Bybel aktief misbruik om apartheid te regverdig en daardeur baie laat glo dat apartheid die goedkeuring van God het.” Oor die jare heen het die kerk se standpunt ten opsigte van apartheid nie net bygedra tot die lyding wat deur rassevooroordeel veroorsaak is nie, maar selfs te kenne gegee dat God te blameer is!

Johannes Calvyn het in 1564 in Genève gesterf. Aan die einde het hy glo sy kerkgenote bedank “dat hulle soveel eer toegeken het aan iemand wat dit klaarblyklik glad nie verdien het nie” en het hy vergifnis gevra vir sy volgehoue swakhede, naamlik ongeduld en woede. Hoe dit ook al sy, daar bestaan geen twyfel nie dat die Protestantse werketiek—wat deur vlytigheid, selfdissipline en pligsgetrouheid gekenmerk word—’n sterk ooreenkoms toon met Johannes Calvyn se persoonlikheid en waardes.

[Voetnoot]

a Vir meer inligting, sien die boek Die mensdom se soeke na God, bladsye 321-325, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 21]

Na aanleiding van die Hervorming het sekere stede en state trou gesweer aan Katolisisme, Lutheranisme of Calvinisme, wat Europa ’n kookpot van godsdiensonenigheid gemaak het

[Kaart op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SPANJE

FRANKRYK

PARYS

Noyon

Orléans

Bourges

SWITSERLAND

GENÈVE

[Prent op bladsy 19]

Calvyn se “Institusie” (1536) het die grondslag vir die Protestantse geloof voorsien

[Erkenning]

© INTERFOTO/Alamy

[Prent op bladsy 20]

Servetus se teregstelling is nog steeds ’n klad op Calvyn se lewe en werk

[Erkenning]

© Mary Evans Picture Library

[Prent op bladsy 21]

Die “Geneva Bible” (1560) is die eerste Engelse Bybel met genommerde verse

[Erkenning]

Courtesy American Bible Society

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Franse dorp: © Mary Evans Picture Library