Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vertrou op Jehovah—Hy sal jou werklik help

Vertrou op Jehovah—Hy sal jou werklik help

Vertrou op Jehovah—Hy sal jou werklik help

SOOS Vertel deur Edmund Schmidt

Kort voordat ek in Oktober 1943 voor ’n hof in New York verskyn het, het ek aan die raad hierbo gedink. Teen die tyd dat ek 25 was, was ek al byna vier jaar in die tronk weens my Christelike neutraliteit. Soos Jesus se vroeë volgelinge, het ek my voorgeneem om ‘eerder aan God as heerser gehoorsaam te wees as aan mense’ (Handelinge 5:29). Maar voordat ek verder gaan, wil ek eers verduidelik hoe ek sulke vaste geloof in God ontwikkel het.

EK IS op 23 April 1922 in Cleveland, Ohio, VSA, gebore, in ons woonstel bokant my pa se bakkery. Vier maande later het my pa, Edmund, ’n byeenkoms van die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds genoem is) in Cedar Point bygewoon, naby Sandusky, omtrent 160 kilometer van ons huis af.

By daardie byeenkoms is die byeenkomsgangers aangespoor: “Adverteer, adverteer, adverteer [God se] Koning en sy koninkryk.” Die Sondag hierna het my pa aan hierdie werk begin deelneem. Hy het dit die volgende 66 jaar lank gedoen, tot sy dood op 4 Julie 1988. My ma, Mary, het in 1981 getrou aan God gesterf.

Ek aanbid God saam met my ouers

Ons gesin het die vergaderinge van die Poolse gemeente in Cleveland bygewoon. Op Saterdagmiddae het baie van ons as kinders saam met die volwassenes die goeie nuus van huis tot huis verkondig. Op Sondae het ons ouers na ’n Bybeltoespraak in die hoofsaal van ons vergaderplek geluister. Terselfdertyd het ’n ervare Bybelonderrigter ’n Bybelstudie met omtrent 30 van ons kinders uit die Bybelstudiehulp Die harp van God gehou. a Kort voor lank het ek self Bybelstudies gehou, met goeie resultate.

In Julie 1931 het ons gesin, wat nou my broer Frank ingesluit het, nog ’n streekbyeenkoms van die Bybelstudente bygewoon, dié keer in Columbus, ongeveer 160 kilometer suid van ons. Daar het die Bybelstudente die Bybelse naam Jehovah se Getuies heelhartig aangeneem (Jesaja 43:10-12). By dié geleentheid het ek aan die openbare bediening deelgeneem en mense genooi om te kom luister na die hooftoespraak deur J.F. Rutherford, wat destyds die leiding geneem het in die werk van Jehovah se Getuies. En sedert daardie byeenkoms dien ek Jehovah God al meer as 79 jaar lank getrou saam met sy volk.

Moeilike tye en ’n bevredigende bediening

Teen 1933 was die hele wêreld in die greep van die Groot Depressie. In die Verenigde State was meer as 15 miljoen mense, of ’n kwart van die arbeidsmag, werkloos. Stede was bankrot, en daar was geen voorsiening vir maatskaplike hulp of welsyn vir die armes nie. Maar ons Christenbroers en -susters het mekaar gehelp. Op Sondae het ons gesin brood en pasteie uit ons bakkery na die vergaderinge geneem om vir ander te gee. Enige geld wat my pa aan die einde van die maand oorgehad het nadat al die uitgawes gedek was, het hy na die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gestuur. Hy het geweet dat hierdie geld gebruik sou word om Bybellektuur te druk.

Gedurende daardie jare het radio-uitsendings ’n belangrike rol in ons bediening gespeel. Meer as 400 stasies het Bybeltoesprake uitgesaai wat by ons byeenkomste gehou is. In die 1930’s het die Getuies ook grammofone en plate by hulle fabriek in Brooklyn vervaardig. Ons het dit in ons bediening gebruik en gerapporteer hoeveel keer ons Bybeltoesprake gespeel het vir mense wat nie Getuies was nie en hoeveel mense daarna geluister het.

In 1933 het Adolf Hitler en die Nazi-party in Duitsland aan bewind gekom. Jehovah se Getuies daar is kwaai vervolg weens hulle Christelike neutraliteit (Johannes 15:19; 17:14). ’n Groot persentasie Getuies in Duitsland is na tronke of konsentrasiekampe gestuur omdat hulle geweier het om aan politieke bedrywighede deel te neem of “Heil Hitler” te sê. Baie is tereggestel; ander moes so hard werk dat hulle gesterf het. En weens die wrede behandeling het baie kort ná hulle vrylating gesterf. Die mishandeling wat Jehovah se Getuies in ander lande, insluitende die Verenigde State, verduur het, is nie so bekend nie.

In 1940 het ons ’n streekbyeenkoms in Detroit, Michigan, bygewoon. Daar is ek, op 28 Julie, gedoop as ’n simbool van my toewyding aan Jehovah God. Die maand voor hierdie byeenkoms het die Hooggeregshof van die Verenigde State beslis dat weiering om die vlag te salueer, ’n federale oortreding is wat met skorsing uit die skool gestraf kan word. Hoe het die Getuies op hierdie beslissing gereageer? Baie van hulle het hulle eie skole begin om hulle kinders skoolopleiding te gee. Dit is Koninkrykskole genoem.

Die Tweede Wêreldoorlog het in September 1939 in Europa uitgebreek, en oorlogshisterie het deur die Verenigde State versprei. Jong Getuies is deur misleide jongmense en volwassenes geteister en geslaan. Volgens berig het Jehovah se Getuies in die Verenigde State vanaf 1940 tot 1944 meer as 2 500 gewelddadige aanvalle deur oproerige skares verduur. Die vervolging het toegeneem nadat Pearl Harbor op 7 Desember 1941 deur die Japannese aangeval is. ’n Paar weke vroeër het ek begin dien as ’n pionier, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Ek het geld gespaar en ’n karavaan van sewe meter gekoop, en ’n hele paar van ons het na Louisiana getrek om daar te dien.

Vervolging in die Suide

Ons het by die plaaslike inwoners toestemming gekry om ons karavaan in ’n pekanboord naby die stad Jeanerette te parkeer. Een Saterdag het ons besluit om op straat te getuig, maar die polisiehoof het sy manne ontbied en ons as gevangenes na die stadshuis geneem. ’n Oproerige skare van omtrent 200 het buite saamgedrom, en die polisie het ons na hulle toe uitgestuur sonder enige beskerming. Tot ons verligting het die skare verdeel en ons toegelaat om deur te kom. Die volgende dag is ons na Baton Rouge, ’n groot stad daar naby, om vir mede-Getuies te vertel wat gebeur het.

Toe ons na Jeanerette teruggekeer het, was daar ’n nota aan ons karavaandeur: “Kom sien my asseblief by die oliekamp.” Dit was onderteken “E.M. Vaughn”. Ons het mnr. Vaughn gevind, en hy het ons genooi om saam met hom en sy vrou te kom eet. Hy het gesê dat hy en sy manne Saterdag onder die skare was en dat hy ons teen die oproeriges sou verdedig het as dit nodig was. Ons het sy aanmoediging en ondersteuning waardeer.

Die volgende dag het ondersheriffs met vuurwapens ons in hegtenis geneem en ons lektuur gekonfiskeer. Hulle het my karavaansleutels geneem en my vir 17 dae in alleenopsluiting gesit, met feitlik niks om te eet nie. Mnr. Vaughn het ons probeer help, maar tevergeefs. Terwyl ons opgesluit was, het die oproeriges ons besteel en al ons besittings, insluitende my karavaan, verbrand. Op daardie stadium het ek nie besef dat Jehovah my voorberei vir wat vir my voorgelê het nie.

In die tronk in die Noorde

’n Maand nadat ek na die Noorde teruggekeer het, is ek as ’n spesiale pionier aangestel om in Olean, New York, saam met ander Getuies te dien. Terwyl ek daar was, het die regering vereis dat ek vir diensplig registreer, en ek is as ’n gewetensbeswaarde geklassifiseer. Nadat ek die mediese ondersoek en ’n intelligensietoets ondergaan het, is my dokument gestempel “Kandidaat vir die Offisiersakademie”.

Ek het nog ’n jaar of wat aanhou pionier. Maar omdat ek geweier het om my bediening prys te gee en my vir militêre opleiding aan te meld, het die FBI my in 1943 in hegtenis geneem en beveel om die volgende week voor die federale hof in Syracuse, New York, te verskyn. Ek is aangekla, en my verhoor sou twee dae later plaasvind.

Ek het myself verteenwoordig. By ons Christelike vergaderinge is ons as jong Getuies geleer hoe om ons grondwetlike regte in die hof te verdedig en hoe om daar op te tree. Ek het die raad wat aan die begin van hierdie artikel gemeld is, goed onthou. Party aanklaers het selfs gekla dat die Getuies meer van die wet weet as hulle! Die jurie het my nietemin skuldig bevind. Toe die regter vra of ek enigiets het om by te voeg, het ek eenvoudig geantwoord: “Die nasie staan vandag voor God tereg oor hoe dit diegene behandel wat hom dien.”

Ek is tot vier jaar in die federale tronk in Chillicothe, Ohio, gevonnis. Daar het ek as sekretaris vir een van die tronkbeamptes gewerk. Ná ’n paar weke het ’n spesiale ondersoeker uit Washington, DC, na ons kantoor gekom en gesê dat hulle Hayden Covington ondersoek. Hy was ’n regsgeleerde wat Jehovah se Getuies verdedig het en is alom beskou as een van die beste staatsregsgeleerdes in Amerika.

Die ondersoeker het gesê dat hy die volledige lêers wou hê van twee gevangenes—Danny Hurtado en Edmund Schmidt. “Wat ’n toeval”, het die beampte gesê, “hier is mnr. Schmidt.” Die ondersoeker het ’n geheime opdrag gehad, maar hy het skielik besef dat ons nou almal daarvan weet. Ek is kort daarna gestuur om in die kombuis te gaan werk.

Pionierdiens, Betheldiens en die huwelik

Op 26 September 1946 is ek op parool vrygelaat, en ek het weer begin pionier, dié keer in die Highland Park-gemeente in Kalifornië. Later, in September 1948, het ek ’n doelwit bereik wat ek lank nagestreef het. Ek is genooi om te dien as die bakker by die hoofkwartier (Bethel) in Brooklyn, waar Bybellektuur gedruk word vir gebruik in ons wêreldwye predikingswerk. Ek het dadelik my werk as pasteibakker by ’n restaurant in Glendale opgegee en Bethel toe gegaan.

Sewe jaar later, in 1955, is etlike internasionale byeenkomste in Europa gehou. My familie het vir my geld gegee om van hulle by te woon. Ek het die byeenkomste in Londen, Parys en Rome geniet, en veral die een in Neurenberg, Duitsland, waar meer as 107 000 teenwoordig was in die groot stadion waar Hitler vroeër sy troepe met trots besigtig het. Onder die byeenkomsgangers was daar Getuies wat Hitler plegtig belowe het om uit te wis. Hoe opwindend was dit tog om saam met hulle te wees!

By die Neurenberg-byeenkoms het ek ’n jong Duitse Getuie—Brigitte Gerwien—ontmoet en op haar verlief geraak. Ons is minder as ’n jaar later getroud en het na Glendale teruggekeer om naby my ouers te woon. Ons eerste seun, Tom, is in 1957 gebore, ons tweede, Don, in 1958, en ons dogter, Sabena, in 1960.

’n Vol, bevredigende lewe

Party het gevra of ek al ooit spyt was oor die aanvalle deur oproeriges en tronkstraf wat ek moes verduur omdat ek God dien. Inteendeel, ek dank Jehovah dat ek die voorreg gehad het om hom saam met soveel van sy getroue knegte te dien. En ek hoop dat my ondervindinge ander aanspoor om nader aan God te kom en hom nooit te verlaat nie.

Baie knegte van God het verskriklik gely omdat hulle hom dien. Maar is dit nie wat daar vir ons gesê is om te verwag nie? “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word”, sê die Bybel (2 Timoteus 3:12). Maar hoe waar is die woorde van Psalm 34:19 tog: “Baie is die rampspoede van die regverdige, maar uit hulle almal verlos Jehovah hom”!

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

[Prent op bladsy 27]

Terwyl ons in die vroeë 1940’s in Louisiana gepreek het

[Prent op bladsy 29]

As bakker vir die hoofkantoorpersoneel

[Prent op bladsy 29]

Saam met my vrou, Brigitte