Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons moet Jehovah se seën ernstig soek

Ons moet Jehovah se seën ernstig soek

Ons moet Jehovah se seën ernstig soek

‘God word die beloner van dié wat hom ernstig soek.’—HEB. 11:6.

1, 2. (a) Hoe probeer baie mense seëninge van God ontvang? (b) Waarom moet ons veral daarin belangstel om Jehovah se seën te verkry?

 “GOD seën jou!” In party lande sê mense dit wanneer hulle iemand vir iets bedank of vra dat iemand hulle moet help. Die geestelikes van verskeie godsdienste seën mense, diere en lewelose voorwerpe. Reisigers word moontlik na die een of ander godsdiensterrein gelok deur die vooruitsig om ’n seën te ontvang. Politici vra gereeld dat God hulle land moet seën. Dink jy dat hierdie versoeke om geseën te word, gepas is? Is dit doeltreffend? Wie ontvang werklik God se seën, en waarom?

2 Jehovah het voorspel dat hy in die laaste dae ’n rein en vredeliewende volk uit al die nasies sou hê, wat die goeie nuus van die Koninkryk ondanks haat en teenstand tot aan die eindes van die aarde sou verkondig (Jes. 2:2-4; Matt. 24:14; Op. 7:9, 14). Dié van ons wat die verantwoordelikheid aanvaar het om in ooreenstemming met hierdie geïnspireerde beskrywing te leef, wil God se seën hê—en het dit nodig—want daarsonder kan ons nooit sukses behaal nie (Ps. 127:1). Maar hoe kan ons God se seën verkry?

Seëninge haal gehoorsames in

3. Wat sou die gevolg gewees het as die Israeliete gehoorsaam was?

3 Lees Spreuke 10:6, 7. Net voordat die nasie Israel die Beloofde Land binnegegaan het, het Jehovah aangedui dat hulle uitsonderlike voorspoed en beskerming sou geniet as hulle na sy stem luister (Deut. 28:1, 2). Jehovah se seëninge sou nie net oor God se volk kom nie, maar dit sou hulle “inhaal”. Vir hierdie gehoorsames sou die seëninge ’n uitgemaakte saak wees.

4. Wat behels ware gehoorsaamheid?

4 Met watter gesindheid moes die Israeliete gehoorsaam wees? God se Wet het gesê dat hy ontevrede sou wees as sy volk hom nie “met blydskap en vreugde van hart” dien nie. (Lees Deuteronomium 28:45-47.) Jehovah verdien meer as net werktuiglike gehoorsaamheid aan spesifieke opdragte, wat selfs diere of demone kan betoon (Mark. 1:27; Jak. 3:3). Ware gehoorsaamheid aan God is ’n blyk van liefde. Dit word gekenmerk deur vreugde wat voortspruit uit geloof dat Jehovah se gebooie nie swaar is nie en dat “hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek”.—Heb. 11:6; 1 Joh. 5:3.

5. Hoe sou vertroue in Jehovah se belofte iemand help om die wet in Deuteronomium 15:7, 8 te onderhou?

5 Dink aan hoe hierdie gehoorsaamheid wat met vertroue gepaardgaan, moontlik betoon is deur die wet in Deuteronomium 15:7, 8 te onderhou. (Lees.) Teësinnige gehoorsaamheid aan hierdie wet het dalk aanvanklik vir die armes ’n mate van verligting gebring, maar sou dit goeie verhoudings en ’n hartlike atmosfeer onder God se volk bevorder? Nog belangriker, sou dit bewys lewer van geloof in Jehovah se vermoë om vir sy knegte te sorg en van waardering vir die geleentheid om sy vrygewigheid na te volg? Glad nie! God het gelet op die hartstoestand van die waarlik vrygewige persoon en het belowe om hom te seën in al sy werk en in alles wat hy onderneem (Deut. 15:10). Geloof in hierdie belofte sou tot optrede lei en sou talle ryk seëninge meebring.—Spr. 28:20.

6. Waarvan moet Hebreërs 11:6 ons verseker?

6 Behalwe om geloof in Jehovah as die Beloner te hê, is daar volgens Hebreërs 11:6 nog ’n eienskap wat nodig is om God se seën te ontvang. Let op dat Jehovah diegene beloon wat “hom ernstig soek”. Die woord wat hier in die oorspronklike taal gebruik word, impliseer intensiteit en groot inspanning. As ons ons so inspan, kan ons seker wees dat ons die seën sal ontvang! Die bron daarvan is die enigste ware God, “wat nie kan lieg nie” (Tit. 1:2). Hy het deur die millenniums heen getoon dat sy beloftes volkome betroubaar is. Sy woorde faal nooit nie; dit word altyd bewaarheid (Jes. 55:11). As ons ware geloof openbaar, kan ons dus vol vertroue wees dat hy in ons geval ’n Beloner sal wees.

7. Hoe kan ons seker maak dat ons deur middel van Abraham se “saad” ’n seën ontvang?

7 Jesus Christus was die primêre deel van Abraham se “saad”. Gesalfde Christene is die sekondêre deel van hierdie voorspelde “saad”. Hulle het die opdrag ontvang om “die voortreflikhede alom bekend [te] maak van die een wat [hulle] uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (Gal. 3:7-9, 14, 16, 26-29; 1 Pet. 2:9). Ons sal nie ’n goeie verhouding met Jehovah kan verkry as ons diegene ignoreer wat deur Jesus aangestel is om na sy besittings om te sien nie. Sonder die hulp van “die getroue en verstandige slaaf” sou ons nie die volle betekenis verstaan van wat ons in God se Woord lees, of weet hoe om dit toe te pas nie (Matt. 24:45-47). As ons toepas wat ons uit die Skrif leer, kan ons seker maak dat ons God se seën ontvang.

Bly toegespits op God se wil

8, 9. Hoe het die aartsvader Jakob hom ingespan in ooreenstemming met God se belofte?

8 Die gedagte dat ywerige inspanning nodig is om God se seën te verkry, laat ons moontlik dink aan die aartsvader Jakob. Hy het nie geweet hoe God se belofte aan Abraham vervul sou word nie, maar hy het geglo dat Jehovah sy grootvader se nageslag grootliks sou vermeerder en dat sy nakomelinge ’n groot nasie sou word. Jakob het dus in 1781 VHJ na Haran gereis om ’n vrou te vind. Hy wou nie bloot iemand vind wat ’n aangename metgesel sou wees nie; hy het eerder ’n geestelikgesinde vrou gesoek wat ’n aanbidder van Jehovah was en ’n goeie moeder vir sy kinders sou wees.

9 Ons weet dat Jakob sy familielid Ragel ontmoet het. Hy het lief geword vir Ragel en ingestem om sewe jaar lank vir haar vader, Laban, te werk om haar as vrou te kry. Dit was nie net ’n onvergeetlike liefdesverhaal nie. Jakob het ongetwyfeld geweet van die belofte wat God die Almagtige aan sy grootvader Abraham gemaak en aan sy vader, Isak, herhaal het (Gen. 18:18; 22:17, 18; 26:3-5, 24, 25). Isak het op sy beurt vir sy seun Jakob gesê: “God die Almagtige sal jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, en jy sal beslis ’n versameling van volke word. En hy sal aan jou die seën van Abraham gee, aan jou en jou saad by jou, sodat jy die land van jou vreemdelingskap, wat God aan Abraham gegee het, in besit kan neem” (Gen. 28:3, 4). Jakob se inspanning om die regte vrou te vind en kinders voort te bring, het dus sy vertroue weerspieël in wat Jehovah gesê het.

10. Waarom het dit Jehovah behaag om Jakob te seën?

10 Jakob het nie rykdom nagestreef om vir sy gesin te sorg nie. God se belofte aangaande sy nakomelinge was vir hom van die grootste belang. Hy het hom altyd toegespits op die uitvoering van Jehovah se wil. Jakob was vasbeslote om alles in sy vermoë te doen om God se seën te verkry ondanks struikelblokke. Hy het hierdie gesindheid tot sy oudag behou, en Jehovah het hom daarvoor geseën.—Lees Genesis 32:24-29.

11. Hoe moet ons ons inspan in ooreenstemming met God se geopenbaarde wil?

11 Soos Jakob ken ons nie al die besonderhede oor die verwesenliking van Jehovah se voorneme nie. Maar deur God se Woord te bestudeer, kry ons ’n algemene oorsig van wat om te verwag aangaande “Jehovah se dag” (2 Pet. 3:10, 17). Ons weet byvoorbeeld nie presies wanneer hierdie dag sal kom nie, maar ons weet dat dit naby is. Ons glo God se Woord wat sê dat ons, deur deeglik te getuig in die kort tyd wat oorbly, onsself sal red sowel as dié wat na ons luister.—1 Tim. 4:16.

12. Waarvan kan ons seker wees?

12 Ons besef dat die einde enige tyd kan kom; Jehovah se tydsbepaling hang nie daarvan af dat ons vir elkeen op aarde persoonlik getuig nie (Matt. 10:23). En ons ontvang goeie riglyne oor hoe om ons predikingswerk doeltreffend te doen. Ons doen hierdie werk in alle opregtheid so goed as wat ons kan en gebruik watter middele ons ook al tot ons beskikking het. Sal ons altyd in baie produktiewe gebied preek? Ons sal nie voor die tyd weet nie. (Lees Prediker 11:5, 6.) Ons werk is om te preek, in die vertroue dat Jehovah ons sal seën (1 Kor. 3:6, 7). Ons kan seker wees dat hy ons ywerige inspanning raaksien en dat hy deur middel van sy heilige gees die spesifieke riglyne sal voorsien wat ons nodig het.—Ps. 32:8.

Soek heilige gees

13, 14. Hoe is daar getoon dat God se heilige gees sy knegte bekwaam kan maak?

13 Gestel ons voel onbekwaam om ’n toewysing uit te voer of om aan die predikingswerk deel te neem. Ons moet Jehovah vra om ons sy heilige gees te gee om enige vermoëns wat ons in sy diens het, te verbeter. (Lees Lukas 11:13.) God se gees kan mense bekwaam maak vir ’n werk of ’n diensvoorreg ongeag hulle vorige omstandighede of ondervinding. Net ná die uittog uit Egipte het God se gees byvoorbeeld herders en slawe in staat gestel om hulle vyande te oorwin, al het hulle nie ondervinding in oorlogvoering gehad nie (Eks. 17:8-13). Kort daarna het hierdie selfde gees Besaleël en Oholiab toegerus om die voortreflike, goddelik geïnspireerde bouplanne vir die tabernakel uit te voer.—Eks. 31:2-6; 35:30-35.

14 Hierdie kragtige gees het hedendaagse knegte van God toegerus om in die behoeftes van die organisasie te voorsien toe dit nodig geword het om hulle eie drukwerk te begin doen. Die destydse opsiener van die drukkery, broer R.J. Martin, het in ’n brief verduidelik wat hulle teen 1927 uitgerig het. “Op die regte tyd het die Here die deur geopen; en die groot rotasie[pers] was in ons hande, hande wat niks geweet het van die oprigting en werking daarvan nie. Maar die Here weet hoe om die verstande van diegene wat ten volle aan hom toegewyd is, flinker te maak. . . . Binne net ’n paar weke kon ons hierdie pers goed laat loop; en dit loop nog steeds goed en doen werk wat selfs die vervaardigers daarvan nooit geweet het dit kan doen nie.” Jehovah seën vandag nog sulke ywerige inspanning.

15. Hoe kan Romeine 8:11 aanmoedigend wees vir diegene wat voor versoeking te staan kom?

15 Jehovah se gees werk op verskillende maniere. Hierdie gees is beskikbaar aan al God se knegte, en dit help hulle om ontsaglike struikelblokke te oorkom. Sê nou ons voel dat ons nie versoeking kan weerstaan nie? Ons kan krag put uit Paulus se woorde in Romeine 7:21, 25 en 8:11. Ja, “die gees van hom wat Jesus uit die dode opgewek het”, kan op ons inwerk en ons die krag gee om die stryd teen vleeslike begeertes te wen. Hierdie Skrifgedeelte is aan geesgesalfde Christene geskryf, maar die beginsel is op al God se knegte van toepassing. Ons almal verkry die lewe deur geloof in Christus te beoefen, deur ons in te span om verkeerde begeertes dood te maak en deur in ooreenstemming met die gees se leiding te lewe.

16. Wat moet ons doen om God se heilige gees te ontvang?

16 Kan ons verwag dat God ons sy werkende krag sal gee sonder enige inspanning van ons kant af? Nee. Ons moenie net daarvoor bid nie, maar ons moet ons ook ywerig met God se geïnspireerde Woord voed (Spr. 2:1-6). God se gees rus ook op die Christengemeente. As ons vergaderinge gereeld bywoon, toon ons dat ons wil “hoor wat die gees vir die gemeentes sê” (Op. 3:6). Ons moet ook nederig reageer op wat ons leer. Spreuke 1:23 gee ons die raad: “Draai terug wanneer ek julle teregwys. Dan sal ek vir julle my gees laat uitstroom.” Ja, God gee sy heilige gees “aan dié . . . wat hom as heerser gehoorsaam”.—Hand. 5:32.

17. Waarmee kan ons die uitwerking wat God se seën op ons pogings het, vergelyk?

17 Hoewel ywerige inspanning nodig is om God se seën te verkry, moet ons onthou dat harde werk op sigself nie die rede is waarom Jehovah soveel goeie dinge in oorvloed aan sy volk gee nie. Die uitwerking wat sy seën op ons pogings het, kan vergelyk word met die manier waarop ons liggaam baat vind by gesonde kos. God het ons liggaam so ontwerp dat ons kos geniet en lewensbelangrike voedingstowwe daaruit kry. Hy voorsien ook die kos. Ons verstaan nie heeltemal hoe die voedingstowwe in ons kos kom nie, en die meeste van ons kan ook nie verduidelik hoe ons liggaam energie vervaardig uit die kos wat ons eet nie. Ons weet net dat die proses werk en dat ons daarmee saamwerk deur te eet. As ons besluit om gesonde kos te eet, is die resultate selfs beter. Net so stel Jehovah die vereistes vir ewige lewe, en hy gee ons die nodige hulp om aan daardie vereistes te voldoen. Dit is duidelik dat hy baie van die werk doen en die lof verdien. Maar ons moet met hom saamwerk en in ooreenstemming met God se wil optree, om die seën te ontvang.—Hag. 2:18, 19.

18. Wat is jy vasbeslote om te doen, en waarom?

18 Lê jou dus met hart en siel toe op elke toewysing. Vertrou altyd op Jehovah as jy sukses wil behaal (Mark. 11:23, 24). Terwyl jy dit doen, kan jy seker wees dat “elkeen wat soek, vind” (Matt. 7:8). Geesgesalfdes sal geseën word met “die kroon van die lewe” in die hemel (Jak. 1:12). Christus se “ander skape”, wat daarna streef om deur middel van Abraham se saad ’n seën te ontvang, sal verheug wees om Hom te hoor sê: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is” (Joh. 10:16; Matt. 25:34). Ja, “dié wat deur [God] geseën word, sal die aarde besit, . . . en hulle sal vir ewig daarop woon”.—Ps. 37:22, 29.

Kan jy verduidelik?

• Wat behels ware gehoorsaamheid?

• Wat is nodig om God se seën te verkry?

• Hoe kan ons God se heilige gees ontvang, en hoe kan dit op ons inwerk?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 9]

Jakob het met ’n engel geworstel om Jehovah se seën te ontvang.

Span jy jou ook ywerig in?

[Prent op bladsy 10]

God se heilige gees het Besaleël en Oholiab toegerus om voortreflike werk te doen