Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons Leier tree vandag daadwerklik op

Ons Leier tree vandag daadwerklik op

Ons Leier tree vandag daadwerklik op

“Hy het uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi.”—OP. 6:2.

1, 2. (a) Hoe word Christus se koninklike bedrywighede sedert 1914 in die Bybel uitgebeeld? (b) Watter dade het Christus verrig sedert hy op die troon geplaas is?

 CHRISTUS is in 1914 as Koning van Jehovah se Messiaanse Koninkryk op die troon geplaas. Hoe sien ons hom nou voor ons geestesoog? As ’n peinsende koning wat op sy troon sit en nou en dan afkyk aarde toe om te sien hoe dit met sy gemeente gaan? Indien wel, moet ons ons mening hersien. Die Psalms en die boek Openbaring beeld hom uit as ’n energieke koning op ’n perd wat uitgaan “om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi” en wat tot uiteindelike “sukses” voortgaan.—Op. 6:2; Ps. 2:6-9; 45:1-4.

2 Christus se eerste koninklike daad nadat hy op die troon geplaas is, was sy oorwinning oor “die draak en sy engele”. As die aartsengel Migael wat oor sy engele bevel voer, het Christus Satan en sy demone uit die heilige hemele gewerp en hulle tot die omgewing van die aarde beperk (Op. 12:7-9). Daarna het Jesus in sy rol as Jehovah se “boodskapper van die verbond” saam met sy Vader gekom om die geestelike tempel te ondersoek (Mal. 3:1). Hy het die Christendom, die afkeurenswaardigste deel van “Babilon die Grote”, geoordeel en hulle skuldig bevind aan bloedvergieting en geestelike egbreuk met die politieke stelsel van hierdie wêreld.—Op. 18:2, 3, 24.

Hy reinig sy aardse slaaf

3, 4. (a) Watter werk het Christus as Jehovah se “boodskapper” verrig? (b) Wat het die ondersoek van die tempel aan die lig gebring, en watter aanstelling het Jesus as Hoof van die gemeente gedoen?

3 Die ondersoek deur Jehovah en sy “boodskapper” het ook aan die lig gebring dat daar in die aardse voorhof van hierdie geestelike tempel ’n groep ware Christene is, wat nie deel uitmaak van die Christendom se kerke nie. Maar selfs hierdie gesalfde Christene, of “seuns van Levi”, moes gereinig word. Dit was soos die profeet Maleagi voorspel het: “Hy [Jehovah] sal sit as ’n louteraar en reiniger van silwer en sal die seuns van Levi reinig; en hy sal hulle suiwer soos goud en soos silwer, en hulle sal beslis vir Jehovah mense word wat ’n offergawe in regverdigheid aanbied” (Mal. 3:3). Jehovah het sy “boodskapper van die verbond”, Christus Jesus, gebruik om hierdie geestelike Israeliete te reinig.

4 Maar Christus het gevind dat hierdie getroue gesalfde Christene hulle uiterste bes doen om geestelike voedsel op die regte tyd aan die huisgenote van die geloof te voorsien. Hulle het sedert 1879, in goeie en slegte tye, Bybelwaarhede oor God se Koninkryk in hierdie tydskrif gepubliseer. Jesus het voorspel dat hy “by sy aankoms” om sy huisknegte gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” te ondersoek, ’n slaaf sou vind wat hulle hulle “voedsel op die regte tyd” sou gee. Hy sou daardie slaaf gelukkig noem en “hom oor al sy besittings [op aarde] aanstel” (Matt. 24:3, 45-47). As Hoof van die Christengemeente het Christus hierdie “getroue en verstandige slaaf” gebruik om Sy Koninkryksbelange op aarde te bestuur. Hy het deur middel van ’n Bestuursliggaam leiding voorsien aan die gesalfde “huisknegte” en hulle metgeselle, die “ander skape”.—Joh. 10:16.

Hy samel die oes van die aarde in

5. Wat het die apostel Johannes die Koning in ’n visioen sien doen?

5 Die apostel Johannes het ’n visioen gehad van iets anders wat die Messiaanse Koning in “die dag van die Here” sou doen nadat Hy in 1914 op die troon geplaas is. Johannes het geskryf: “Ek het gesien, en kyk! ’n wit wolk, en op die wolk het iemand soos ’n seun van die mens gesit, met ’n goue kroon op sy kop en ’n skerp sekel in sy hand” (Op. 1:10; 14:14). Johannes het ’n engel van Jehovah vir hierdie Een wat oes, hoor sê dat hy sy sekel moet insteek, want “die oes van die aarde is heeltemal ryp”.—Op. 14:15, 16.

6. Wat het Jesus gesê sou met verloop van tyd gebeur?

6 Hierdie “oes van die aarde” laat ons dink aan Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid. Jesus het hom vergelyk met ’n man wat koring in sy saailand gesaai het met die doel om net goeie koring in te samel, wat “die kinders van die koninkryk”, ware Christene wat gesalf is om saam met hom in sy Koninkryk te regeer, voorstel. Maar gedurende die nag het ’n vyand, “die Duiwel”, onkruid, “die kinders van die bose”, in die saailand gesaai. Die saaier het sy werkers opdrag gegee om die koring en die onkruid saam te laat groei tot die oestyd, aan “die voleinding van die stelsel van dinge”. Dan sou hy sy engele stuur om die koring van die onkruid te skei.—Matt. 13:24-30, 36-41.

7. Hoe samel Christus “die oes van die aarde” in?

7 Ter vervulling van die visioen wat aan Johannes gegee is, is Jesus besig met ’n wêreldwye oeswerk. “Die oes van die aarde” het begin met die insameling van die oorblywende lede van die 144 000 “kinders van die koninkryk”, “die koring” van Jesus se gelykenis. Die onderskeid tussen ware en valse Christene het ná die Eerste Wêreldoorlog al hoe duideliker geword, in so ’n mate dat dit bygedra het tot die tweede deel van “die oes van die aarde”—die insameling van die ander skape. Hulle is nie “die kinders van die koninkryk” nie, maar is eerder “’n groot menigte” gewillige onderdane van daardie Koninkryk. Hulle word ingesamel uit alle “volke, volksgroepe en tale”. Hulle onderwerp hulle aan die Messiaanse Koninkryk, wat bestaan uit Christus Jesus en die 144 000 “heiliges” wat saam met hom in daardie hemelse regering sal heers.—Op. 7:9, 10; Dan. 7:13, 14, 18.

Leierskap van die gemeentes

8, 9. (a) Wat toon dat Christus nie net die gedrag van die hele gemeente sien nie, maar ook die lewenswyse van die afsonderlike lede? (b) Watter “diep dinge van Satan”, wat op bladsy 26 uitgebeeld word, moet ons vermy?

8 Ons het in die vorige artikel gesien hoe noukeurig Christus gelet het op die geestelike toestand van elke gemeente in die eerste eeu HJ. As heersende Koning, wat met “alle gesag in die hemel en op die aarde” beklee is, oefen ons Leier Christus in ons dag daadwerklik hoofskap uit oor die gemeentes in die hele wêreld en hulle opsieners (Matt. 28:18; Kol. 1:18). Jehovah het “hom hoof oor alles gemaak met betrekking tot die gemeente” van gesalfdes (Ef. 1:22). As sodanig ontglip niks wat in die meer as 100 000 gemeentes van Jehovah se Getuies gebeur, sy aandag nie.

9 Jesus het die volgende boodskap aan die eertydse gemeente van Tiatira gestuur: “Hierdie dinge sê die Seun van God, hy wat oë het soos ’n vuurvlam . . . : ‘Ek ken jou dade’” (Op. 2:18, 19). Hy het lede van daardie gemeente oor hulle onsedelike, genotsugtige lewenswyse berispe en vir hulle gesê: “Dit [is] ek . . . wat die niere en harte deursoek, en ek sal aan elkeen van julle gee volgens julle dade” (Op. 2:23). Hierdie woorde toon dat Christus nie net die gesamentlike gedrag van elke gemeente sien nie, maar ook die lewenswyse van die afsonderlike lede. Jesus het Christene in Tiatira geprys “wat nie die ‘diep dinge van Satan’ . . . leer ken het nie” (Op. 2:24). Vandag keur hy ook diegene goed, hetsy jonk of oud, wat nie die “diep dinge van Satan” leer ken deur middel van die Internet of gewelddadige videospeletjies of deur hulle aan permissiewe redenasies van mense oor te gee nie. Hy is beslis bly om die pogings en opofferings te sien van die talle Christene van vandag wat hulle uiterste bes doen om sy leiding in alle aspekte van hulle lewe te volg!

10. Hoe word Christus se leiding van gemeentelike ouer manne uitgebeeld, maar watter reëling moet erken word?

10 Christus voorsien liefdevolle toesig oor sy gemeentes op aarde deur middel van aangestelde ouer manne (Ef. 4:8, 11, 12). In die eerste eeu was al die opsieners geesverwektes. In Openbaring is hulle as sterre in Christus se regterhand uitgebeeld (Op. 1:16, 20). Vandag is die meeste gemeentelike ouer manne van die ander skape. Hulle word ná gebed en onder leiding van die heilige gees aangestel, en daarom is hulle ook onder Christus se bevel, of hand van leiding (Hand. 20:28). Hulle erken egter dat Christus ’n klein groepie gesalfde Christenmanne as ’n Bestuursliggaam gebruik om sy dissipels op aarde te lei en te rig.—Lees Handelinge 15:6, 28-30.

“Kom, Here Jesus”

11. Waarom wil ons baie graag sien dat ons Leier gou kom?

11 In die openbaring wat aan die apostel Johannes gegee is, het Jesus verskeie kere gesê dat hy gou kom (Op. 2:16; 3:11; 22:7, 20). Hy het ongetwyfeld verwys na sy koms om oordeel te voltrek aan Babilon die Grote en die res van Satan se goddelose stelsel van dinge (2 Tess. 1:7, 8). Die bejaarde apostel Johannes was gretig om die vervulling te sien van al die wonderlike gebeure wat voorspel is en het uitgeroep: “Amen! Kom, Here Jesus.” Ons wat gedurende die tyd van die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge lewe, wil ook baie graag sien dat ons Leier en Koning in Koninkryksmag kom om sy Vader se naam te heilig en Sy soewereiniteit te regverdig.

12. Watter werk sal Christus voltooi voordat die winde van vernietiging losgelaat word?

12 Voordat Jesus kom om teen Satan se sigbare organisasie op te tree, sal die laaste van die 144 000 lede van geestelike Israel finaal verseël word. Die Bybel sê duidelik dat die winde van vernietiging teen Satan se stelsel nie losgelaat sal word voordat hierdie verseëling van die 144 000 voltooi is nie.—Op. 7:1-4.

13. Hoe sal Christus sy teenwoordigheid openbaar maak tydens die eerste deel van die “groot verdrukking”?

13 Die meeste van die aarde se bewoners het nie Christus se “teenwoordigheid” sedert 1914 opgemerk nie (2 Pet. 3:3, 4). Maar hy sal binnekort sy teenwoordigheid openbaar maak deur Jehovah se oordele teen die verskillende dele van Satan se stelsel van dinge te voltrek. Die vernietiging van “die mens van wetteloosheid”, die geestelikes van die Christendom, sal ’n onmiskenbare “openbaarwording van sy teenwoordigheid” wees. (Lees 2 Tessalonisense 2:3, 8.) Dit sal afdoende bewys lewer dat Christus as Jehovah se aangestelde Regter begin optree het. (Lees 2 Timoteus 4:1.) Die vernietiging van die afkeurenswaardigste deel van Babilon die Grote sal die begin van die algehele vernietiging van daardie goddelose wêreldryk van valse godsdiens wees. Jehovah sal dit in die harte van politieke leiers sit om hierdie geestelike hoer te vernietig (Op. 17:15-18). Dit sal die eerste deel van die “groot verdrukking” wees.—Matt. 24:21.

14. (a) Waarom sal die eerste deel van die groot verdrukking verkort word? (b) Wat sal “die teken van die Seun van die mens” vir Jehovah se volk beteken?

14 Jesus het gesê dat die dae van daardie verdrukking verkort sou word “weens die uitverkorenes”, die oorblyfsel van gesalfde Christene wat nog op aarde is (Matt. 24:22). Jehovah sal nie toelaat dat hierdie vernietigende aanval op valse godsdiens gesalfde Christene en hulle metgeselle, die ander skape, uitwis nie. Jesus het bygevoeg dat daar “ná die verdrukking van daardie dae” tekens in son, maan en sterre sal wees, “en dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn”. Dit sal daartoe lei dat die nasies van die aarde “hulleself in weeklag slaan”. Dit sal nie die geval wees met die gesalfdes, wat ’n hemelse hoop het, en hulle metgeselle, wat ’n aardse hoop het nie. Hulle sal ‘regop staan en hulle koppe oplig, want hulle verlossing kom nader’.—Matt. 24:29, 30; Luk. 21:25-28.

15. Watter werk sal Christus doen wanneer hy kom?

15 Voordat die Seun van die mens sy oorwinning voltooi, kom hy op nog ’n manier. Hy het voorspel: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy glorieryke troon gaan sit. En al die nasies sal voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei. En hy sal die skape aan sy regterhand sit, maar die bokke aan sy linkerhand” (Matt. 25:31-33). Dit verwys na Christus se koms as Regter wanneer hy mense van “al die nasies” in twee groepe sal verdeel: “die skape”, diegene wat sy geestelike broers (gesalfde Christene op aarde) daadwerklik ondersteun, en “die bokke”, diegene wat “die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” (2 Tess. 1:7, 8). Die skape, wat as “regverdiges” beskryf word, sal “die ewige lewe” op aarde ontvang, maar die bokke “sal weggaan, die ewige vernietiging in”.—Matt. 25:34, 40, 41, 45, 46.

Jesus voltooi sy oorwinning

16. Hoe sal ons Leier Christus sy oorwinning voltooi?

16 Wanneer al sy mede-koning-priesters verseël is en die skape geïdentifiseer en vir redding aan sy regterhand gesit is, kan Christus voortgaan om “sy oorwinning te voltooi” (Op. 5:9, 10; 6:2). Hy sal aan die hoof van ’n leër magtige engele, en ongetwyfeld sy verrese broers, staan en Satan se hele politieke, militêre en handelstelsel op aarde vernietig (Op. 2:26, 27; 19:11-21). Christus se oorwinning sal voltooi wees wanneer hy Satan se goddelose stelsel vernietig het. Dan sal hy Satan en die demone vir ’n duisend jaar in die afgrond werp.—Op. 20:1-3.

17. Waarna sal Christus sy ander skape gedurende die Duisendjarige Heerskappy lei, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

17 Die apostel Johannes het gepraat van die “groot menigte” ander skape, wat die groot verdrukking sal oorleef, en het voorspel: “Die Lam, wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei” (Op. 7:9, 17). Ja, Christus sal deur sy Duisendjarige Heerskappy heen aanhou om die ander skape, wat waarlik na sy stem luister, te rig en hulle na die ewige lewe te lei. (Lees Johannes 10:16, 26-28.) Mag ons ons koninklike Leier getrou volg—nou en tot in Jehovah se beloofde nuwe wêreld!

Ter hersiening

• Wat het Christus gedoen nadat hy op die troon geplaas is?

• Wie gebruik Christus op aarde om die gemeentes te lei?

• Op watter maniere sal ons Leier Christus nog kom?

• Hoe sal Christus aanhou om ons in die nuwe wêreld te lei?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 29]

Die vernietiging van Satan se goddelose stelsel sal Christus se teenwoordigheid openbaar maak