Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Spesiale kampanje in Bulgarye behaal sukses

Spesiale kampanje in Bulgarye behaal sukses

Spesiale kampanje in Bulgarye behaal sukses

“Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.”—MATT. 9:37, 38.

HIERDIE woorde van Jesus is beslis ’n goeie beskrywing van die situasie in Bulgarye, ’n pragtige Balkanland in Suidoos-Europa! Meer werkers is dringend nodig om die goeie nuus aan die meer as sewemiljoen inwoners te verkondig. Daar is ongeveer 1 700 verkondigers in Bulgarye, maar hulle kan nie die hele gebied dek nie. Die Bestuursliggaam het gevolglik toestemming gegee dat Bulgaarse Getuies van verskeie Europese lande genooi kan word om in 2009 aan ’n spesiale kampanje deel te neem. Die kampanje is gereël vir sewe weke gedurende die somer en het ’n hoogtepunt bereik met die “Hou aan waak!”-streekbyeenkoms in Sofia, 14-16 Augustus 2009.

’n Oorweldigende reaksie

Die broers by die takkantoor in Sofia het gewonder hoeveel uit Duitsland, Frankryk, Griekeland, Italië, Pole en Spanje sou kom. Dit het beteken dat hulle op eie onkoste na Bulgarye moes reis en hulle vakansietyd moes gebruik om te preek. Hoe opwindend was dit tog dat al hoe meer aansoeke elke week ontvang is, totdat daar uiteindelik 292 was! Aangesien soveel bereid was om te kom, kon hierdie vrywilligers na drie verskillende stede in Bulgarye gestuur word: Kazanlak, Sandanski en Silistra. Kringopsieners in Bulgarye het plaaslike pioniers en verkondigers genooi om ook die kampanje te ondersteun. Uiteindelik het 382 vrywilligers ywerig gepreek in gebiede wat voorheen selde met die goeie nuus bereik is.

Broers van nabygeleë gemeentes is voor die tyd gestuur om verblyf te reël. Hulle het kamers gehuur en by goedkoop hotelle plek bespreek. Hierdie plaaslike broers het onvermoeid gewerk om die vrywilligers wat daar aangekom het, tuis te laat voel en na hulle behoeftes om te sien. Vergaderplekke is in al drie stede gehuur. Daar is gereël dat die besoekende broers die gemeentelike vergaderinge hou. Dit was opwindend om te sien dat 50 verkondigers vergader om Jehovah te loof in plekke waar geen Getuies gewoon het nie.

Diegene wat van ander lande gekom het om die kampanje te ondersteun, was baie ywerig. In die somer kan die temperatuur in Bulgarye tot meer as 40 grade Celsius styg. Maar niks kon hierdie ywerige broers en susters keer nie. Silistra, ’n stad aan die Donaurivier met meer as 50 000 inwoners, het binne die eerste drie weke ’n deeglike getuienis ontvang. Die broers het dus hulle pogings na nabygeleë dorpe uitgebrei en selfs Toetrakan, 55 kilometer wes van Silistra, bereik. Hulle het gewoonlik soggens teen halftien met hulle bediening begin. Nadat hulle middagete geëet het, het hulle aangehou werk, dikwels tot seweuur saans of later. Omdat hierdie vrywilligers so ywerig was, is die kampanje in Kazanlak en Sandanski ook na naburige dorpe en stede uitgebrei.

Wat het hulle bereik?

’n Uitstekende getuienis is gedurende dié sewe weke gegee. Die inwoners van hierdie stede kon soos in die dae van die apostels sê: ‘Julle het ons stad met julle leer vervul’ (Hand. 5:28). Die Getuies wat aan die kampanje deelgeneem het, het ongeveer 50 000 tydskrifte versprei en 482 Bybelstudies begin. Ons is bly dat daar vanaf 1 September 2009 ’n gemeente in Silistra gestig en groepe in Kazanlak en in Sandanski begin is. Dit is hartverblydend om te sien dat mense wat die goeie nuus vir die eerste keer tydens hierdie kampanje gehoor het, goeie geestelike vooruitgang maak.

In die eerste week van die kampanje het ’n Bulgaarse spesiale pioniersuster van Spanje getuig vir Karina, ’n vrou in Silistra wat koerante op straat verkoop het. Karina het belangstelling getoon en ’n vergadering bygewoon. Sy het met graagte ’n Bybelstudie aanvaar. Haar man is ’n ateïs, en daarom het sy gevra dat die Bybelstudie in ’n park gehou word. Haar twee dogters het ook tydens die Bybelstudie bygesit. Die oudste dogter, Daniela, het besondere waardering vir Bybelwaarheid getoon. Sy het die Leer Bybel-boek binne ’n week deurgelees en dadelik die Bybel se raad toegepas om nie beelde in aanbidding te gebruik nie. Toe het sy haar vriende van die waarheid begin vertel. Net drie weke nadat sy haar eerste gemeentelike vergadering bygewoon het, het sy vir die suster wat die studie gehou het, gesê: “Ek voel soos een van julle. Wat moet ek doen sodat ek ook kan begin preek?” Daniela hou aan om goeie vooruitgang te maak, saam met haar ma en haar jonger suster.

In Kazanlak het Orlin, ’n Bulgaarse broer wat vir die kampanje van Italië af gekom het, na sy verblyfplek geloop nadat hy velddiens gedoen het. Op pad het Orlin vir twee jong mans getuig wat op ’n bank in die park gesit het. Hy het ’n Leer Bybel-boek by hulle gelaat en gereël om die volgende dag ’n herbesoek te doen. Tydens daardie besoek het Orlin ’n Bybelstudie met Swetomir begin en dit die volgende dag weer gehou. Orlin het binne nege dae agt keer met Swetomir gestudeer. Swetomir het gesê: “Twee dae voordat ek jou ontmoet het, het ek gebid dat God my moet help om hom te leer ken. En ek het belowe dat ek my lewe aan hom sal toewy as hy my help.” Nadat Orlin na Italië teruggekeer het, het die plaaslike broers die studie met Swetomir voortgesit, en sy liefde vir die waarheid neem toe.

Ryk seëninge vir diegene wat opofferings maak

Hoe voel diegene wat bereid was om hulle vakansie te gebruik en op eie onkoste na ’n ander land te reis om die goeie nuus te verkondig? ’n Ouer man wat in Spanje dien, het geskryf: “Die kampanje het die Bulgaarse broers in Spanje nader aan mekaar laat kom. Dit het ’n baie goeie uitwerking gehad op die broers wat daaraan deelgeneem het.” ’n Egpaar van Italië het geskryf: “Dit was die wonderlikste maand van ons lewe!” Hulle het bygevoeg: “Die kampanje het ons lewe verander! Ons is nou ander mense.” Hierdie egpaar het ernstig begin dink aan die moontlikheid om na Bulgarye te trek om te dien waar hulp nodig is. Carina is ’n ongetroude gewone pioniersuster van Spanje wat die kampanje in Silistra ondersteun het. Daarna het sy haar werk in Spanje opgegee en na Bulgarye getrek om die nuwe gemeente in daardie stad te ondersteun. Sy het genoeg geld gespaar om ’n jaar lank in Bulgarye te woon. Carina sê van haar besluit: “Ek is so bly dat Jehovah my toelaat om hier in Bulgarye te dien, en ek hoop dat ek nog lank hier sal kan bly. Ek het reeds vyf Bybelstudies, en drie van hulle woon die vergaderinge by.”

’n Italiaanse suster wou aan die kampanje deelneem, maar omdat sy kort tevore ’n nuwe werk begin het, het sy nie enige vakansie gehad nie. Dit het haar nie afgeskrik nie, en sy het ’n maand van onbetaalde verlof gevra en was bereid om te bedank as haar versoek nie toegestaan word nie. Tot haar verbasing het haar werkgewer gesê: “Goed, maar op een voorwaarde: Jy moet vir my ’n poskaart uit Bulgarye stuur.” Die suster het beslis gevoel dat Jehovah haar gebede verhoor het.

Stanislawa, ’n jong suster van die Bulgaarse stad Warna wat ’n goed betaalde voltydse werk gehad het, het verlof geneem om die kampanje in Silistra te ondersteun. Toe sy sien hoe vreugdevol al die pioniers was wat so ver gekom het om die goeie nuus in haar land te verkondig, het haar oë vol trane geskiet. Sy het begin dink oor wat sy met haar lewe doen deur ’n sekulêre loopbaan te volg. Toe sy twee weke later huis toe gaan, het sy haar werk opgegee en ’n gewone pionier geword. Nou is sy waarlik gelukkig omdat sy in haar jeug aan haar Skepper dink.—Pred. 12:1.

Dit is beslis ’n seën om in Jehovah se diens bedrywig te wees. Jy kan niks beters doen as om jou tyd en krag te gebruik in die belangrike werk om ander te onderrig en die goeie nuus te verkondig nie. Is daar maniere waarop jy ’n groter aandeel aan hierdie lewensreddende bediening kan hê? Daar is dalk gebiede in jou eie land waar hulp nodig is. Kan jy na so ’n gebied toe trek? Of miskien oorweeg jy dit om ’n ander taal te leer om mense in jou land wat na Bybelwaarheid dors, te help. Jy kan seker wees dat Jehovah jou ryklik sal seën as jy enige veranderinge aanbring sodat jy ’n groter aandeel aan die bediening kan hê.—Spr. 10:22.

[Venster/Prent op bladsy 32]

’n Onvergeetlike dag

Baie van dié wat van ander Europese lande gekom het om die spesiale kampanje in Bulgarye te ondersteun, het gereël om die “Hou aan waak!”-streekbyeenkoms in Sofia by te woon. Vir die plaaslike broers en susters was dit baie aanmoedigend om soveel besoekers uit verskillende lande te ontmoet. Hoe opgewonde was die 2 039 byeenkomsgangers tog toe broer Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Bulgaars vrygestel het! Almal wat dié Vrydag teenwoordig was, het hulle hartgrondige waardering getoon deur geesdriftig en lank hande te klap. Baie het selfs trane van vreugde gestort. Hierdie akkurate vertaling in ’n taal wat maklik is om te verstaan, sal opregte Bulgare help om Jehovah te leer ken.

[Kaart op bladsy 30, 31]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BULGARYE

SOFIA

Sandanski

Silistra

Kazanlak

[Prente op bladsy 31]

’n Uitstekende getuienis is gedurende daardie sewe weke gegee