Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat sal jou kind sê?

Wat sal jou kind sê?

Wat sal jou kind sê?

OUERS: In die nommer van 15 Januarie 2010, bladsye 16-20, het ons voorgestel dat julle oefensessies met julle kinders hou. Hierdie artikel voorsien idees om julle te help om julle jong kind voor te berei om uitdagings by die skool die hoof te bied. Julle kan hierdie sessies gedurende julle aand vir Gesinsaanbidding hou.

KINDERS wat Jehovah se Getuies is, kom voor baie uitdagings te staan. Skoolmaats vra dikwels waarom hulle nie aan sekere bedrywighede deelneem nie, soos om die volkslied te sing, verjaarsdae te vier en take in verband met vakansiedae te doen. Hoe sal jou kind antwoord as hy hierdie vrae gevra word?

Party Christenkinders het al eenvoudig gesê: “Ek mag dit nie doen nie. Dis teen my geloof.” Hulle moet geprys word omdat hulle hulle standpunt inneem. Ná so ’n antwoord sal hulle dalk nie verder uitgevra word nie. Maar die Bybel vermaan ons om ‘gereed te wees om ons te verdedig voor elkeen wat van ons ’n rede eis’ vir ons opvattings (1 Pet. 3:15). Dit beteken meer as om net te sê: “Ek mag dit nie doen nie.” Al stem ander nie met ons saam nie, sal party moontlik daarvan hou om te weet dat daar redes vir ons besluite is.

Talle jong Getuies het al met behulp van publikasies soos Leer by die Groot Onderwyser vir hulle skoolmaats van Bybelverslae vertel. Hierdie verslae kan help verduidelik waarom Getuiekinders sekere dinge doen of nie doen nie. Party leerlinge luister aandagtig na die Bybelverhale, en baie Bybelstudies is al so begin. Vir ander leerlinge kan dit moeilik wees om na ’n hele Bybelverhaal te luister. Party Bybelverslae kan te moeilik wees vir skoolkinders om te verstaan as dit nie goed verduidelik word nie. Toe die 11-jarige Minhee se vriendin haar na ’n verjaarsdagpartytjie genooi het, het Minhee vir haar gesê: “Die Bybel sê nie dat ons verjaarsdae moet vier nie. ’n Bybelkarakter, Johannes die Doper, is op ’n verjaarsdag doodgemaak.” Maar Minhee onthou dat haar vriendin blykbaar nie haar antwoord verstaan het nie.

Soms help dit om ’n ander leerling ’n prent of ’n verhaal in een van ons boeke te wys. Maar gestel die skoolowerheid sê dat kinders verkieslik nie godsdienspublikasies vir ander leerlinge moet wys nie. Kan ons kinders doeltreffend getuig, al het hulle nie enige publikasies by hulle nie? Hoe kan julle julle kinders help om hulle geloof te verdedig?

Hou oefensessies

Dit is nuttig om oefensessies by die huis te hou, met die ouers wat die rol van skoolmaats vertolk. Wanneer kinders hulle geloof probeer verdedig, moet ouers hulle vir hulle pogings prys, hulle wys hoe hulle beter kan redeneer en verduidelik waarom dit nodig is. Hulle kan byvoorbeeld woorde voorstel wat leerlinge van dieselfde ouderdom kan verstaan. Joshua, ’n negejarige seun, sê dat sy skoolmaats nie woorde soos “gewete” en “lojaliteit” verstaan het nie. Hy moes toe makliker woorde gebruik om met hulle te redeneer.—1 Kor. 14:9.

Party skoolkinders wat ’n vraag vra, verloor dalk belangstelling as ’n lang antwoord gegee word. Jong Getuies kan die belangstelling lewendig hou deur hulle by ’n gesprek te betrek en met hulle te redeneer. Haneul, ’n tienjarige meisie, sê: “My skoolmaats hou daarvan om saam te gesels, nie om net na ’n verduideliking te luister nie.” Om iemand te laat gesels, moet jy vrae vra en dan aandagtig luister na wat gesê word.

Die gesprekke hieronder toon hoe Christenkinders met hulle skoolmaats kan redeneer. Dit is nie nodig om hierdie gesprekke uit die kop te leer nie—daar is nie twee kinders wat presies dieselfde is nie, en verskillende omstandighede vereis verskillende antwoorde. ’n Jong Getuie moet dus die idee begryp, dit in sy of haar eie woorde stel en dit dan op ’n manier sê wat gepas is vir die situasie en die skoolmaats. As jy skoolgaande kinders het, kan jy hierdie gesprekke saam met hulle oefen.

Dit verg tyd en inspanning om kinders op te lei. Christenouers wil Bybelbeginsels by hulle kinders inskerp en hulle oorreed om daarvolgens te lewe.—Deut. 6:7; 2 Tim. 3:14.

Oefen tydens julle volgende aand vir Gesinsaanbidding die gesprekke wat hier voorgestel word saam met julle kinders. Julle sal sien hoe doeltreffend dit is. Onthou dat die doelwit nie is om die antwoorde of woorde uit die kop te leer nie. Trouens, julle kan ’n situasie verskeie kere oefen en elke keer ’n ander antwoord gee om te sien hoe julle kinders hulle daarby aanpas. Wanneer hulle probeer verduidelik wat die grondslag vir hulle opvattings is, kan julle hulle help om redelikheid en takt aan te kweek. Julle sal julle kinders mettertyd leer hoe om aan klasmaats, bure sowel as onderwysers te verduidelik wat hulle glo.

[Venster/Prente op bladsy 4, 5]

VERJAARSDAGVIERINGS

Marie: Hallo, Johan. Sal jy na my verjaarsdagpartytjie toe kom?

Johan: Dankie vir die uitnodiging, Marie. Mag ek vra hoekom jy ’n verjaarsdagpartytjie hou?

Marie: Om my verjaarsdag te vier. Vier jy nie jou verjaarsdag nie?

Johan: Nee.

Marie: Hoekom nie? My gesin was bly toe ek gebore is.

Johan: My gesin was ook bly toe ek gebore is. Maar ek dink nie dat dit my ’n rede gee om my geboortedag elke jaar te vier nie. Baie mense dink dat hulle die belangrikste persoon by hulle verjaarsdagpartytjie is. Maar is God nie belangriker nie? En moet ons nie vir hom dankie sê omdat hy ons die lewe gegee het nie?

Marie: Bedoel jy dat ek nie my verjaarsdagpartytjie moet hou nie?

Johan: Marie, jy sal self daaroor moet besluit. Maar dink ’n bietjie hieraan. Baie mense hou daarvan om verjaarsdaggeskenke te kry, maar die Bybel sê dat dit ’n mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang. Sal dit dan nie beter wees om vir God dankie te sê, aan ander te dink en aan hulle goed te doen, in plaas van net aan onsself te dink op ons verjaarsdag nie?

Marie: Ek het nog nooit daaraan gedink nie. Kry jy dan glad nie geskenke by jou ouers nie?

Johan: Natuurlik kry ek geskenke. Maar my ouers wag nie tot my verjaarsdag nie. Hulle gee my geskenke net wanneer hulle wil. Maar sê my, Marie, wil jy graag weet hoe verjaarsdagvierings begin het?

Marie: Kan jy vir my sê?

Johan: Ek sal jou môre ’n interessante verhaal vertel van ’n verjaarsdag wat lank gelede gehou is.

DIE VOLKSLIED

Linda: Hoekom sing jy nie die volkslied nie?

Sanet: Ek is bly jy vra, Linda. Maar sê asseblief eers vir my hoekom jy dit sing.

Linda: Omdat ek van my land hou.

Sanet: Ek hou ook van my land. Maar ons staan nie op aandag en sing ’n lied vir alles en almal waarvan ons hou nie, of hoe?

Linda: Nee, natuurlik nie. Wel, ek weet dan seker nie hoekom ek die volkslied sing nie, miskien omdat almal dit sing.

Sanet: Linda, baie mense dink dat hulle land die beste in die wêreld is. Hulle sal enigiets vir hulle land doen. Maar ek voel nie so nie. Ek sal nooit aan ’n oorlog deelneem en my lewe vir my land gee nie. God hou nie van oorlog en nasionalisme nie, en ek ook nie. Daarom het ek besluit om nie die volkslied te sing nie, al hou ek van my land.

Linda: Ek verstaan.

Sanet: Ek is bly dat jy my hieroor gevra het, Linda. En as jy wil weet waarom ek sekere dinge doen of nie doen nie, kan jy my gerus weer vra. Terloops, die Bybel sê dat ’n koning van Babilon lank gelede die mense beveel het om voor ’n beeld neer te buig. Party wou nie neerbuig nie, al was hulle lewens in gevaar.

Linda: Regtig? Wat het met hulle gebeur?

Sanet: Ek sal jou gedurende pouse van hulle vertel.

SKOOLPOLITIEK

Marius: Chris, wie dink jy moet ons klaskaptein wees?

Chris: Ek is nie aan enige van die kandidate se kant nie.

Marius: Hoekom nie?

Chris: Want ek het reeds die beste leier. As ’n Christen het ek belowe om Jesus te volg. Ek kan dus nie ’n ander leier kies nie. Terloops, weet jy waarom ek dink dat hy ’n volmaakte Leier is?

Marius: Nee, en ek gee ook nie eintlik om nie.

Chris: Nou ja, as jy ooit wil weet, sal ek jou graag vertel.

[Prent]

“Hallo Johan. Sal jy na my verjaarsdagpartytjie toe kom?”

[Prent op bladsy 3]

“Hoekom sing jy nie die volkslied nie?”