Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Nou is die besonder aanneemlike tyd”

Nou is die besonder aanneemlike tyd”

Nou is die besonder aanneemlike tyd”

“Kyk! Nou is die besonder aanneemlike tyd. Kyk! Nou is die dag van redding.”—2 KOR. 6:2.

1. Waarom moet ons onderskei wat op ’n bepaalde tyd gedoen moet word?

 “VIR alles is daar ’n vasgestelde tyd, ja, ’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel” (Pred. 3:1). Salomo het geskryf oor die belangrikheid daarvan om te onderskei wat die beste tyd is vir enige strewe wat die moeite werd is—hetsy landbou, reis, handel of kommunikasie met ander. Maar ons moet ook onderskei wat die belangrikste werk is wat ons op ’n bepaalde tyd moet doen. Met ander woorde, ons moet die regte prioriteite hê.

2. Hoe weet ons dat Jesus deeglik bewus was van die tyd waarin hy gelewe het terwyl hy gepreek het?

2 Toe Jesus op die aarde was, was hy deeglik bewus van die tyd waarin hy gelewe het en wat hy moes doen. Aangesien hy sy prioriteite duidelik in gedagte gehad het, het hy geweet dat die langverwagte tyd vir die vervulling van baie Messiaanse profesieë op hande was (1 Pet. 1:11; Op. 19:10). Hy het werk gehad om te doen sodat hy duidelik kon toon dat hy die beloofde Messias is. Hy moes deeglik van Koninkrykswaarheid getuig en dié insamel wat in die toekoms sy mede-erfgename in die Koninkryk sou wees. En hy moes die grondslag lê vir die Christengemeente, wat die predikings- en dissipelmaakwerk tot aan die eindes van die aarde sou doen.—Mark. 1:15.

3. Watter uitwerking het Jesus se bewustheid van tyd op sy dade gehad?

3 Hierdie bewustheid het ’n goeie uitwerking op Jesus se lewe gehad en het hom beweeg om sy Vader se wil ywerig te doen. Hy het vir sy dissipels gesê: “Die oes is werklik groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Luk. 10:2; Mal. 4:5, 6). Jesus het eers 12 en toe 70 uit sy dissipels gekies, hulle spesifieke instruksies gegee en hulle uitgestuur om hierdie treffende boodskap te verkondig: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Ons lees omtrent Jesus self: “Toe [hy] klaar instruksies aan sy twaalf dissipels gegee het, het hy daarvandaan vertrek om in hulle stede te leer en te preek.”—Matt. 10:5-7; 11:1; Luk. 10:1.

4. In watter opsig het Paulus Jesus Christus nagevolg?

4 Jesus was vir al sy volgelinge ’n volmaakte voorbeeld van ywer en toegewydheid. Dit is waarvan die apostel Paulus gepraat het toe hy sy medegelowiges aangespoor het: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is” (1 Kor. 11:1). In watter opsig het Paulus Christus nagevolg? Hoofsaaklik deur hom in te span in die verkondiging van die goeie nuus. In die briewe wat Paulus aan die gemeentes geskryf het, is daar uitdrukkings soos “moenie traag wees in julle bedrywighede nie”, “dien Jehovah as slawe”, “julle [moet] altyd baie [hê] om in die werk van die Here te doen” en “wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah” (Rom. 12:11; 1 Kor. 15:58; Kol. 3:23). Paulus het nooit vergeet van die ontmoeting wat hy met die Here Jesus Christus op die pad na Damaskus gehad het en van Jesus se woorde wat die dissipel Ananias ongetwyfeld aan hom oorgedra het nie: “Hierdie man is vir my ’n uitverkore vat om my naam na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra.”—Hand. 9:15; Rom. 1:1, 5; Gal. 1:16.

“Die besonder aanneemlike tyd”

5. Wat het Paulus beweeg om sy bediening ywerig uit te voer?

5 Wanneer ons die boek Handelinge lees, kan ons nie anders as om te sien dat Paulus sy bediening met moed en ywer uitgevoer het nie (Hand. 13:9, 10; 17:16, 17; 18:5). Paulus het besef dat hy in ’n betekenisvolle tyd lewe. Hy het gesê: “Kyk! Nou is die besonder aanneemlike tyd. Kyk! Nou is die dag van redding” (2 Kor. 6:2). In 537 VHJ was dit vir die ballinge in Babilon die aanneemlike tyd om na hulle geboorteland terug te keer (Jes. 49:8, 9). Maar waarna het Paulus hier verwys? Die konteks help ons om te sien wat hy in gedagte gehad het.

6, 7. Watter groot eer is aan gesalfde Christene van vandag gegee, en wie werk saam met die gesalfdes?

6 Paulus het vroeër in sy brief gepraat van ’n groot eer wat hy en ander gesalfde Christene ontvang het. (Lees 2 Korintiërs 5:18-20.) Hy het verduidelik dat hulle vir ’n spesifieke doel deur God geroep is, naamlik om “die bediening van die versoening” uit te voer, om mense te smeek om ‘met God versoen te raak’. Dit het beteken dat vriendskap of vrede met God herstel moet word.

7 Sedert die opstand in Eden is die hele mensdom van Jehovah vervreemd (Rom. 3:10, 23). Hierdie vervreemding het die mensdom oor die algemeen in geestelike duisternis gedompel, wat lyding en die dood tot gevolg gehad het. Paulus het geskryf: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Rom. 8:22). Maar God het stappe gedoen om mense aan te spoor, om hulle in werklikheid te “smeek”, om tot hom terug te keer, of met hom versoen te raak. Dít is die bediening wat destyds aan Paulus en aan ander gesalfde Christene toevertrou is. Hierdie “aanneemlike tyd” kon ’n “dag van redding” wees vir dié wat geloof in Jesus gestel het. Al die gesalfde Christene en hulle metgeselle wat saam met hulle werk, die “ander skape”, hou aan om mense te nooi om by die “aanneemlike tyd” baat te vind.—Joh. 10:16.

8. Wat maak die uitnodiging om versoen te raak, merkwaardig?

8 Wat die uitnodiging om versoen te raak, nog merkwaardiger maak, is die feit dat die vervreemding geheel en al eensydig was—die gevolg van die mens se opstand in Eden—maar dat God self nogtans die eerste stap gedoen het om die vrede te herstel (1 Joh. 4:10, 19). Wat het hy gedoen? Paulus het geantwoord: “God [het] deur middel van Christus ’n wêreld met homself versoen . . . en hulle hulle oortredings nie toegereken . . . nie, en hy het die woord van die versoening aan ons toevertrou.”—2 Kor. 5:19; Jes. 55:6.

9. Wat het Paulus gedoen om te toon dat hy God se barmhartigheid waardeer?

9 Deur die losprysoffer te voorsien, het Jehovah dit moontlik gemaak dat die sondes van dié wat geloof beoefen, vergewe kan word en dat vriendskap of vrede met hom herstel kan word. Daarbenewens het hy sy woordvoerders uitgestuur om mense oral aan te spoor om vrede met hom te maak terwyl hulle kan. (Lees 1 Timoteus 2:3-6.) Aangesien Paulus besef het wat God se wil is en in watter tyd hy geleef het, het hy hom onvermoeid in “die bediening van die versoening” ingespan. Jehovah se wil het nie verander nie. Sy hand is in ons tyd nog steeds uitgestrek. Paulus se woorde “nou is die besonder aanneemlike tyd” en “nou is die dag van redding” geld nog steeds. Wat ’n barmhartige en medelydende God is Jehovah tog!—Eks. 34:6, 7.

Moenie ‘die doel daarvan mis nie’

10. Wat het “die dag van redding” vir gesalfde Christene van die verlede beteken, en wat beteken dit vir dié wat vandag lewe?

10 Die eerstes wat by hierdie blyk van onverdiende goedhartigheid baat gevind het, is dié wat “in eenheid met Christus is” (2 Kor. 5:17, 18). Vir hulle het “die dag van redding” op Pinkster 33 HJ begin. Die werk om “die woord van die versoening” te verkondig, is van toe af aan hulle toevertrou. Vandag voer die oorblyfsel van gesalfde Christene nog steeds “die bediening van die versoening” uit. Hulle besef dat die vier engele wat die apostel Johannes in ’n profetiese visioen gesien het, “die vier winde van die aarde styf vashou, sodat geen wind op die aarde . . . sou waai nie”. Dit is dus nog steeds “die dag van redding” en “die besonder aanneemlike tyd” (Op. 7:1-3). Gevolglik spits die gesalfde oorblyfsel hulle al sedert die vroeë 20ste eeu ywerig toe op die werk om “die bediening van die versoening” tot in die uithoeke van die aarde uit te voer.

11, 12. Hoe het gesalfde Christene vroeg in die 20ste eeu getoon dat hulle bewus is van die tyd waarin hulle lewe? (Sien prent op bladsy 15.)

11 Volgens die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk het C.T. Russell en sy metgeselle byvoorbeeld aan die begin van die 20ste eeu “vas geglo dat hulle in ’n oestyd lewe en dat mense die bevrydende waarheid moet hoor”. Wat het hulle hieromtrent gedoen? Omdat hierdie broers besef het dat hulle in ’n oestyd, ’n “besonder aanneemlike tyd”, lewe, was hulle nie tevrede om mense bloot na die een of ander kerkdiens te nooi nie. Dit is wat die geestelikes van die Christendom lank reeds gedoen het. Hierdie gesalfde Christene het eerder begin soek na ander praktiese maniere om die goeie nuus te versprei. Hulle het onder andere die nuutste tegnologie verstandig gebruik om hulle werk te bevorder.

12 Hierdie groepie ywerige bedienaars het traktate, pamflette, tydskrifte en boeke gebruik om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Hulle het ook preke en artikels vir gelyktydige publikasie in duisende koerante voorberei. Hulle het skriftuurlike programme oor nasionale en internasionale radionetwerke uitgesaai. Hulle het rolprente met gesinchroniseerde klankopnames vervaardig en gebruik, selfs nog voordat die filmbedryf rolprente met klank vir die publiek uitgereik het. Wat was die resultaat van hierdie onvermoeide ywer? Vandag is daar sowat sewemiljoen mense wat op die boodskap: “Raak met God versoen”, gereageer het en dit ook nou verkondig. Ja, hierdie vroeë knegte van Jehovah was uitstekende voorbeelde van ywer ondanks beperkende omstandighede.

13. Watter doel van God moet ons ter harte neem?

13 Paulus se woorde “nou is die besonder aanneemlike tyd” geld nog steeds. Ons wat Jehovah se onverdiende goedhartigheid al ondervind het, is dankbaar dat ons die geleentheid gebied is om die boodskap van versoening te hoor en aan te neem. Ons is nie selfvoldaan nie, maar neem die woorde wat Paulus daarna gesê het, ter harte: “[Ons] versoek . . . julle ook dringend om nie die onverdiende goedhartigheid van God aan te neem en die doel daarvan te mis nie” (2 Kor. 6:1). Die doel van God se onverdiende goedhartigheid is om “’n wêreld met homself [te] versoen” deur middel van Christus.—2 Kor. 5:19.

14. Watter geleenthede is daar nou in baie lande?

14 Die meerderheid van die mensdom, wat deur Satan verblind word, is nog steeds van God vervreemd en onkundig omtrent die doel van God se onverdiende goedhartigheid (2 Kor. 4:3, 4; 1 Joh. 5:19). Maar verslegtende wêreldtoestande het daartoe gelei dat baie al gunstig gereageer het wanneer daar vir hulle gewys is dat vervreemding van God die grondoorsaak van boosheid en lyding onder die mensdom is. Selfs in lande waar die meeste mense onverskillig teenoor ons predikingswerk is, neem baie nou die goeie nuus aan en doen hulle stappe om met God versoen te raak. Besef ons dus dat dit nou die tyd is om ons selfs yweriger in te span om die dringende versoek: “Raak met God versoen”, bekend te maak?

15. Wat wil ons hê moet mense oral weet, in plaas daarvan dat ons ’n boodskap verkondig wat hulle goed laat voel?

15 Ons werk is nie net om vir mense te sê dat God hulle met al hulle probleme sal help en dat hulle beter sal voel as hulle hulle tot hom wend nie. Dit is wat baie mense wil hê wanneer hulle kerk toe gaan, en die kerke is gretig om hierdie begeerte te bevredig (2 Tim. 4:3, 4). Dit is nie die doel van ons bediening nie. Die goeie nuus wat ons verkondig, is dat Jehovah, in sy liefde, bereid is om oortredings deur middel van Christus te vergewe. Individue kan dus met God versoen raak sodat hulle nie meer van hom vervreemd is nie (Rom. 5:10; 8:32). Maar “die besonder aanneemlike tyd” sal binnekort tot ’n einde kom.

“Gloei van die gees”

16. Wat was die rede vir Paulus se moed en ywer?

16 Hoe kan ons dan ywer vir ware aanbidding aankweek en behou? Party is miskien van nature skaam of stillerig en vind dit dalk moeilik om hulle gevoelens te openbaar of om spontaan te wees. Maar dit is goed om in gedagte te hou dat ywer nie bloot ’n uiterlike vertoon van emosie of opgewondenheid is nie; dit hang ook nie van ’n mens se persoonlikheid af nie. Paulus het aangedui wat die sleutel is toe hy sy mede-Christene aangespoor het: “Gloei van die gees” (Rom. 12:11). Jehovah se gees het die apostel baie gehelp om moed en uithouvermoë in die predikingswerk aan die dag te lê. Vandat hy deur Jesus geroep is tot sy laaste gevangenskap en marteldood in Rome—’n tydperk van meer as 30 jaar—het Paulus se ywer nie afgeneem nie. Hy het hom altyd tot God gewend, wat Paulus deur die gees die nodige krag gegee het. Hy het gesê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Fil. 4:13). Ons sal grootliks daarby baat vind as ons uit sy voorbeeld leer!

17. Hoe kan ons “gloei van die gees”?

17 Die woord wat met “gloei” vertaal word, beteken letterlik “kokend” (Kingdom Interlinear). As ons ’n ketel water aan die kook wil hou, moet ons dit voortdurend aan hitte blootstel. Net so moet ons God se gees voortdurend in ons lewe laat vloei as ons wil “gloei van die gees”. Om dit reg te kry, moet ons al die voorsienings benut wat Jehovah maak om ons geestelik te versterk. Dit beteken dat ons ons aanbidding in die gesin en in die gemeente ernstig opneem—dat ons gereeld persoonlike en gesinstudie doen, bid en met mede-Christene vergader. Dit sal ons help om die “vuur” te hê om “kokend” te bly en gevolglik aan te hou ‘gloei van die gees’.—Lees Handelinge 4:20; 18:25.

18. Op watter doel moet ons ons as toegewyde Christene toespits?

18 ’n Toegewyde persoon spits hom geheel en al toe op ’n doel en word nie maklik daarvan afgelei of ontmoedig om hierdie doel na te streef nie. As toegewyde Christene is ons doel om, net soos Jesus, alles te doen wat Jehovah wil hê ons moet doen (Heb. 10:7). Jehovah se wil is vandag dat soveel mense moontlik met hom versoen raak. Laat ons ons dus—in navolging van Jesus en Paulus—ywerig toespits op hierdie baie belangrike, ja dringende, werk wat vandag gedoen moet word.

Onthou jy?

• Wat was “die bediening van die versoening” wat aan Paulus en ander gesalfde Christene toevertrou is?

• Hoe het die gesalfde oorblyfsel “die besonder aanneemlike tyd” goed gebruik?

• Hoe kan Christenbedienaars “gloei van die gees”?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 12]

Paulus het nooit vergeet van die ontmoeting wat hy met die Here Jesus Christus gehad het nie