Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sing vir Jehovah!

Sing vir Jehovah!

Sing vir Jehovah!

“Ek sal my God met melodieë besing solank ek daar is.”—PS. 146:2.

1. Wat het die jong Dawid beweeg om party van sy psalms te komponeer?

 DAWID het in sy jeug tallose ure in die velde naby Betlehem deurgebring as herder van sy vader se kuddes. Terwyl hy die skape opgepas het, kon Dawid Jehovah se pragtige skeppingswerke waarneem: die sterrehemel, “die diere van die oop veld” en “die voëls van die hemel”. Hy is diep geraak deur wat hy gesien het—in so ’n mate dat hy beweeg is om hartroerende lofliedere vir die Maker van hierdie wonderlike dinge te komponeer. Baie van Dawid se komposisies kan in die boek Psalms gevind word. aLees Psalm 8:3, 4, 7-9.

2. (a) Watter uitwerking kan musiek op ’n mens hê? Gee ’n voorbeeld. (b) Wat kan ons uit Psalm 34:7, 8 en Psalm 139:2-8 leer omtrent Dawid se verhouding met Jehovah?

2 Dawid het waarskynlik gedurende hierdie tyd in sy lewe sy vaardighede as musikant vervolmaak. Trouens, hy het so vaardig geword dat hy genooi is om die harp vir koning Saul te speel (Spr. 22:29). Dawid se musiek het ’n kalmerende uitwerking op die verontruste koning gehad, soos goeie musiek vandag ook dikwels op mense het. “Daar was verligting vir Saul en dit het met hom goed gegaan” wanneer Dawid ook al sy instrument bespeel het (1 Sam. 16:23). Die liedere wat hierdie godvresende musikant en liedjieskrywer gekomponeer het, het die toets van die tyd deurstaan. Dink net daaraan! Vandag, meer as 3 000 jaar ná Dawid se geboorte, wend miljoene mense uit alle agtergronde en wat oral in die wêreld woon, hulle gereeld tot die psalms van Dawid vir vertroosting en hoop.—2 Kron. 7:6; lees Psalm 34:7, 8; 139:2-8; Amos 6:5.

Musiek se eerbare plek in ware aanbidding

3, 4. Watter reëlings is in Dawid se dag getref om gewyde musiek uit te voer?

3 Dawid was talentvol, en hy het sy talent op die allerbeste manier gebruik—om Jehovah te verheerlik. Nadat hy koning van Israel geword het, het Dawid gereël dat die dienste by die tabernakel pragtige musiek insluit. Meer as ’n tiende van al die dienende Leviete—sowat 4 000—is aangestel as dié “wat Jehovah loof”, en 288 was “geoefen . . . in sang tot Jehovah, almal meesters”.—1 Kron. 23:3, 5; 25:7.

4 Dawid het self baie van die liedere gekomponeer wat deur die Leviete uitgevoer is. Enige Israeliet wat die voorreg gehad het om teenwoordig te wees wanneer Dawid se psalms gesing is, is ongetwyfeld diep geraak deur wat hy gehoor het. Toe die verbondsark later na Jerusalem gebring is, het “Dawid . . . vir die hoofde van die Leviete gesê om hulle broers, die sangers, op te stel met die instrumente vir sang, snaarinstrumente en harpe en simbale, om hard te speel ten einde vreugdeklanke te laat opgaan”.—1 Kron. 15:16.

5, 6. (a) Waarom is daar gedurende Dawid se heerskappy soveel aandag aan musiek gegee? (b) Hoe weet ons dat musiek in eertydse Israel ’n belangrike plek in aanbidding beklee het?

5 Waarom is daar in Dawid se tyd soveel aandag aan musiek gegee? Was dit net omdat die koning ’n musikant was? Nee, daar was nog ’n rede, wat eeue later aan die lig gekom het toe die regverdige koning Hiskia die dienste by die tempel weer ingestel het. In 2 Kronieke 29:25 lees ons: “Hy [dit wil sê Hiskia het] die Leviete by die huis van Jehovah opgestel, met simbale, met snaarinstrumente en met harpe, volgens die gebod van Dawid en van Gad, die koning se siener, en van die profeet Natan, want deur die hand van Jehovah was die gebod deur middel van sy profete.”

6 Ja, Jehovah het sy aanbidders deur middel van sy profete opdrag gegee om hom met sang te loof. Sangers uit die priesterlike stam is selfs vrygestel van pligte wat ander Leviete moes uitvoer, sodat hulle genoeg tyd daaraan kon wy om te komponeer, en heel waarskynlik om te oefen.—1 Kron. 9:33.

7, 8. Wat is belangriker as vaardigheid wanneer dit by die sing van ons Koninkryksliedere kom?

7 Jy sê dalk: “Wanneer dit by sang kom, sou ek beslis nooit onder die meesters gewees het wat by die tabernakel opgetree het nie!” Maar nie al die Levitiese musikante was meesters nie. Volgens 1 Kronieke 25:8 was daar ook ‘leerlinge’. En hier is nog iets om in gedagte te hou: Daar was moontlik onder die ander stamme van Israel musikante en sangers wat baie vaardig was, maar Jehovah het die Leviete aangestel om vir die musiek te sorg. Ons kan seker wees dat al die getroue Leviete, hetsy ‘meesters’ of ‘leerlinge’, hulle met hart en siel op die taak toegelê het.

8 Dawid was lief vir musiek en was vaardig daarin. Maar is talent alleen vir God van belang? In Psalm 33:3 het Dawid geskryf: “Speel so goed as julle kan op die snaarinstrumente tesame met gejuig.” Die boodskap is duidelik: Wat van belang is, is dat ons Jehovah loof ‘so goed as ons kan’.

Die rol van musiek ná Dawid se tyd

9. Beskryf wat jy moontlik sou sien en hoor as jy die inwyding van die tempel gedurende Salomo se heerskappy bygewoon het.

9 Gedurende Salomo se heerskappy het musiek ’n belangrike rol in rein aanbidding gespeel. By die inwyding van die tempel was daar ’n indrukwekkende orkes, met 120 trompette in die koperblaasafdeling. (Lees 2 Kronieke 5:12.) Die Bybel sê dat “die trompetblasers [wat almal priesters was] en die sangers soos een man een geluid laat hoor [het] om Jehovah te loof en te dank, . . . ‘want hy is goed, want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd’”. Net toe daardie vreugdevolle geluid gehoor is, “is die huis met ’n wolk gevul”, wat ’n aanduiding was van Jehovah se goedkeuring. Hoe opwindend, hoe ontsagwekkend moes dit tog gewees het om te hoor hoe al daardie trompette tesame met duisende sangers in eenheid saamsmelt!—2 Kron. 5:13.

10, 11. Wat toon dat die vroeë Christene musiek in aanbidding gebruik het?

10 Die vroeë Christene het ook musiek in aanbidding gebruik. Eerste-eeuse aanbidders het natuurlik nie in ’n tabernakel of tempel vergader nie, maar in huise. Weens vervolging en ander faktore het hulle dikwels onder moeilike omstandighede vergader. Tog het daardie Christene God wel met sang geloof.

11 Die apostel Paulus het sy Christenbroers in Kolosse aangespoor: “Hou aan om mekaar . . . te vermaan met psalms, lofliedere tot God, geestelike liedere met welwillendheid” (Kol. 3:16). Nadat Paulus en Silas in die gevangenis gegooi is, het hulle begin “om te bid en God met sang te loof”, al het hulle nie ’n liedereboek gehad om in te volg nie (Hand. 16:25). Hoeveel van ons Koninkryksliedere sal jy uit jou kop kan sing as jy dalk in die gevangenis gegooi word?

12. Hoe kan ons waardering toon vir ons Koninkryksliedere?

12 Aangesien musiek ’n eerbare plek in ons aanbidding beklee, sal dit goed wees as ons ons afvra: ‘Toon ek gepaste waardering daarvoor? Doen ek my bes om betyds by vergaderinge en byeenkomste aan te kom sodat ek die openingslied saam met my broers en susters kan sing, en sing ek dan uit volle bors? Help ek my kinders om nie die lied tussen die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering of die een tussen die openbare toespraak en die Wagtoring-studie as ’n soort pouse te beskou, asof dit ’n geleentheid is om hulle sitplek onnodig te verlaat, miskien net om ’n entjie te gaan stap nie?’ Sang is ’n deel van ons aanbidding. Ja, hetsy ons ‘meesters’ of ‘leerlinge’ is, ons almal kan—en moet—ons stemme tot lof van Jehovah verenig.—Vergelyk 2 Korintiërs 8:12.

Behoeftes verander met verloop van tyd

13, 14. Van watter nut is dit om gedurende gemeentelike vergaderinge uit volle bors te sing? Lig toe.

13 Meer as 100 jaar gelede het Zion’s Watch Tower verduidelik wat een van die redes is waarom ons Koninkryksliedere so belangrik is. Dit het gesê: “Om die waarheid te sing, is ’n goeie manier om dit in die verstande en harte van God se volk te laat insink.” Baie van ons liedere se woorde hou verband met Skrifgedeeltes, en daarom kan dit ’n uitstekende manier wees om die waarheid diep in ons hart te laat insink as ons die woorde van ten minste party van die liedere leer. Baie mense wat vir die eerste keer na ons vergaderinge toe gekom het, is al diep geraak wanneer hulle die gemeente uit volle bors hoor sing het.

14 Toe C.T. Russell een aand in 1869 van die werk af op pad huis toe was, het hy liedere vanuit ’n keldersaal gehoor. Op daardie tyd in sy lewe het hy reeds alle hoop opgegee om ooit die waarheid oor God te vind. Hy het dus besluit om hom aan sy sakebelange te wy, met die gedagte dat hy, as hy geld maak, ten minste in die fisiese behoeftes van mense sou kon voorsien, al sou hy hulle nie op geestelike gebied kon help nie. Broer Russell het in die stowwerige, verwaarloosde saal ingegaan en gevind dat kerkdienste daar gehou word. Hy het gaan sit en luister. Hy het later geskryf dat wat hy daardie aand gehoor het, “deur God se leiding voldoende was om [sy] wankelende geloof in die goddelike inspirasie van die Bybel te herstel”. Let daarop dat dit die sang was wat broer Russell aanvanklik na die vergadering gelok het.

15. Weens watter verfynings in ons begrip was dit raadsaam om die liedereboek te hersien?

15 Ons begrip van die Skrif word met verloop van tyd verfyn. Spreuke 4:18 sê: “Die pad van die regverdiges is soos die helder lig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is.” Helderder lig lei noodwendig tot aanpassings in die manier waarop ons ‘die waarheid sing’. Jehovah se Getuies in baie lande gebruik al die afgelope 25 jaar die liedereboek Sing lofliedere voor Jehovah. b In die jare sedert hierdie boek aanvanklik uitgegee is, het die lig oor ’n aantal onderwerpe helderder geword, en party van die uitdrukkings wat in hierdie liedereboek gebruik word, is nou verouderd. Ons praat byvoorbeeld nie meer van “die nuwe orde” nie, maar van “die nuwe wêreld”. En ons sê nou dat Jehovah se naam “geheilig” sal word, nie dat dit “geregverdig” sal word nie. Dit is duidelik dat ons liedereboek weens sulke leerstellige verfynings bygewerk moes word.

16. Hoe sal ons nuwe liedereboek ons help om Paulus se raad in Efesiërs 5:19 te volg?

16 Om hierdie en ander redes het die Bestuursliggaam dit goedgekeur dat ’n nuwe liedereboek met die titel Sing vir Jehovah uitgegee word. Die aantal liedere in ons nuwe boek is tot 135 verminder. Aangesien daar minder liedere is om te leer, behoort dit vir ons moontlik te wees om die woorde van ten minste party van die nuwe liedere uit die kop te leer. Dit is in ooreenstemming met Paulus se raad in Efesiërs 5:19.—Lees.

Jy kan jou waardering toon

17. Watter gedagtes kan ons help om vrees om in die verleentheid gebring te word, te oorkom wanneer ons in die gemeente sing?

17 Moet ons toelaat dat vrees om in die verleentheid gebring te word, keer dat ons by Christelike vergaderinge uit volle bors sing? Kyk so daarna: Is dit nie waar dat ons ‘almal dikwels struikel’ wanneer dit by die gesproke woord kom nie? (Jak. 3:2). Maar ons laat nie toe dat ons onvolmaakte spraak keer dat ons Jehovah van huis tot huis loof nie. Waarom moet ons onvolmaakte sangstemme dan keer dat ons God met sang loof? Jehovah, wat “vir die mens ’n mond gemaak” het, luister graag wanneer ons ons stemme gebruik om sy lof te besing.—Eks. 4:11.

18. Gee wenke oor hoe ons die woorde van die liedere kan leer.

18 Die CD’s Sing to Jehovah—Vocal Renditions is in ’n hele paar tale beskikbaar. Dit bevat pragtige weergawes van die nuwe liedere met orkesmusiek en koorsang. Dit is aangenaam om na hierdie musiekverwerkings te luister. Luister dikwels daarna; dan sal jy gou die woorde van ten minste party van ons nuwe liedere leer. Die woorde van baie van die liedere is só geskryf dat jy, wanneer jy een reël sing, amper sal kan raai wat daarna kom. Wanneer jy die CD’s speel, kan jy dus gerus saam met die refrein probeer sing. As jy by die huis goed vertroud raak met die woorde en die musiek, sal jy ongetwyfeld by die Koninkryksaal met meer vertroue uit volle bors kan sing.

19. Wat is daarby betrokke om orkesuitvoerings van ons Koninkryksliedere voor te berei?

19 Dit is maklik om die musiek wat ons by ons spesiale byeenkomsdae en kring- en streekbyeenkomste geniet, as vanselfsprekend te aanvaar. Baie werk is by die voorbereiding daarvan betrokke. Nadat die musiek gekies is, moet orkesverwerkings sorgvuldig geskryf word sodat die Wagtoringorkes met 64 lede dit kan speel. Die musikante bestee dan tallose ure daaraan om die musiek deur te gaan wat hulle sal oefen en uiteindelik sal opneem by ons ateljees in Patterson, New York. Tien van hierdie broers en susters woon nie in die Verenigde State nie. Almal beskou dit as ’n voorreg om ’n aandeel daaraan te hê om pragtige musiek vir ons teokratiese geleenthede te voorsien. Ons kan ons waardering vir hulle liefdevolle pogings toon. Wanneer die voorsitter by ons byeenkomste ons nooi om ons sitplekke in te neem, moet ons dit dus dadelik doen en in stilte luister na die musiek wat so liefdevol voorberei is.

20. Wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Jehovah let op ons lofliedere. Dit is vir hom belangrik. Ons kan sy hart bly maak deur uit volle bors te sing wanneer ons vir aanbidding vergader. Ja, hetsy ons meesters of leerlinge is, laat ons sing vir Jehovah!—Ps. 104:33.

[Voetnote]

a Interessant genoeg, tien eeue ná Dawid se dood het ’n groot groep engele die geboorte van die Messias bekend gemaak aan herders wat in die velde naby Betlehem oor hulle kuddes wag gehou het.—Luk. 2:4, 8, 13, 14.

b Die hele versameling van 225 liedere was in meer as 100 tale beskikbaar.

Wat dink jy?

• Watter voorbeelde uit Bybeltye toon dat musiek ’n belangrike rol in ons aanbidding speel?

• Hoe hou gehoorsaamheid aan Jesus se bevel in Matteus 22:37 verband daarmee om ons Koninkryksliedere uit volle bors te sing?

• Wat is party maniere waarop ons gepaste waardering vir ons Koninkryksliedere kan toon?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Leer jy jou kinders om nie hulle sitplek onnodig tydens die lied te verlaat nie?

[Prent op bladsy 24]

Leer jy die woorde van ons nuwe liedere by die huis?