Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

In Genesis 6:3 lees ons: “My gees sal nie vir ’n onbepaalde tyd teenoor die mens optree nie, aangesien hy ook vlees is. Gevolglik sal sy dae honderd-en-twintig jaar wees.” Het Jehovah die lewensduur van die mens tot 120 jaar beperk, en is dit hoe lank Noag oor die komende Vloed gepreek het?

Die antwoord op albei dele van die vraag is nee.

Voor die Vloed het baie mense eeue lank geleef. Noag was 600 jaar oud toe die Vloed gekom het, en hy het 950 jaar oud geword (Gen. 7:6; 9:29). Party mense wat ná die Vloed gebore is, het ook baie langer as 120 jaar gelewe. Arpagsad het gesterf toe hy 438 jaar oud was en Selag toe hy 433 jaar oud was (Gen. 11:10-15). Maar teen Moses se tyd het die normale lewensduur tot 70 of 80 jaar verminder (Ps. 90:10). Genesis 6:3 het dus nie vir mense ’n maksimum of normale lewensduur van 120 jaar vasgestel nie.

Beteken hierdie vers dan dat God vir Noag gesê het dat hy ander moet waarsku oor die vernietiging wat oor 120 jaar sou plaasvind? Nee. God het wel by ’n aantal geleenthede met Noag gepraat. Tien verse later in die verslag lees ons: “God [het] vir Noag gesê: ‘Die einde van alle vlees het voor my gekom, want die aarde is vol geweld.’” In die daaropvolgende jare het Noag die ontsaglike taak voltooi om die ark te bou, en toe “het Jehovah vir Noag gesê: ‘Gaan in die ark in, jy en jou hele huisgesin’” (Gen. 6:13; 7:1). En Jehovah het Noag ook by ander geleenthede oor sekere feite ingelig.—Gen. 8:15; 9:1, 8, 17.

Maar Genesis 6:3 sê iets anders; dit praat nie van Noag nie en sê ook nie dat God hom aangespreek het nie. Dit kan beskou word as bloot ’n mededeling van wat God hom voorgeneem of besluit het. (Vergelyk Genesis 8:21.) Dit is betekenisvol dat daar in die geskiedenisverslag oor verwikkelinge lank voor Adam se tyd uitdrukkings is soos: “God het verder gesê” (Gen. 1:6, 9, 14, 20, 24). Jehovah het natuurlik nie met ’n mens op die aarde gepraat nie, want die mens was toe nog nie geskep nie.

Dit is dus logies om tot die gevolgtrekking te kom dat Genesis 6:3 praat van God se besluit om ’n einde te maak aan die verdorwe stelsel van dinge op die aarde. Jehovah het ’n regterlike verordening uitgevaardig om dit binne 120 jaar te doen, al was Noag nog nie daarvan bewus nie. Maar waarom is ’n tydgrens gestel? Waarom moes daar gewag word?

Volgens die apostel Petrus is van die redes dat “die geduld van God in Noag se dae gewag het, terwyl die ark gebou is, waarin ’n paar mense, naamlik agt siele, veilig deur die water heen gevoer is” (1 Pet. 3:20). Ja, toe God sy besluit oor die 120 jaar geneem het, was daar nog dinge wat gedoen moes word. Sowat 20 jaar later het Noag en sy vrou hulle eerste kind gehad (Gen. 5:32; 7:6). Hulle drie seuns het grootgeword en getrou en die familie was toe “agt siele”. Toe moes hulle die ark bou, en as ’n mens die grootte daarvan en die grootte van Noag se familie in aanmerking neem, was dit nie ’n taak wat gou afgehandel sou word nie. Ja, omdat God 120 jaar lank geduldig was, kon hierdie dinge gedoen word en kon lewens gered word deurdat agt getroue mense “veilig deur die water heen gevoer is”.

Die Bybel sê nie in watter jaar Jehovah Noag ingelig het dat die Vloed sou kom nie. Aangesien sy seuns reeds gebore was, grootgeword het en getrou het, was dit moontlik nog 40 of 50 jaar voor die Vloed. Toe het Jehovah vir Noag gesê: “Die einde van alle vlees het voor my gekom.” Hy het bygevoeg dat Noag ’n ontsaglike ark moet bou en saam met sy familie daar moet ingaan (Gen. 6:13-18). Gedurende die oorblywende dekades het Noag meer gedoen as om deur sy lewe ’n voorbeeld van regverdigheid te stel. Hy was “’n prediker van regverdigheid” wat ’n baie duidelike waarskuwingsboodskap moes bekend maak—God se besluit om die goddeloses van daardie tyd te vernietig. Noag het nie lank voor die tyd geweet in watter jaar nie, maar hy het geweet dat dit beslis sou gebeur. En jy weet dat dit wel gebeur het.—2 Pet. 2:5.