Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons by God leer?

Waarom moet ons by God leer?

Leer uit God se Woord

Waarom moet ons by God leer?

Hierdie artikel opper vrae waaroor jy dalk al gewonder het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Waarom moet ons by God leer?

God het goeie nuus van iets beters vir die mensdom. Hy vertel ons daarvan in die Bybel. Die Bybel is soos ’n brief aan ons van ons liefdevolle Vader in die hemel.—Lees Jeremia 29:11.

2. Wat is die goeie nuus?

Die mensdom het ’n goeie regering nodig. Geen menseheerser het al ooit die mensdom van geweld, ongeregtigheid, siekte of die dood bevry nie. Maar daar is goeie nuus. God sal vir die mens ’n goeie regering gee wat vryheid van al die oorsake van lyding sal teweegbring.—Lees Daniël 2:44.

3. Waarom is dit noodsaaklik om by God te leer?

God sal die aarde binnekort reinig van mense wat lyding veroorsaak. Intussen leer hy miljoene sagmoedige mense om ’n beter lewenswyse, wat op liefde gegrond is, te geniet. Uit God se Woord leer mense hoe om die lewe se probleme die hoof te bied, hoe om ware geluk te vind en hoe om God te behaag.—Lees Sefanja 2:3.

4. Wie is die Outeur van die Bybel?

Die Bybel bestaan uit 66 boekies. Ongeveer 40 manne het dit geskryf. Die eerste vyf is sowat 3 500 jaar gelede deur Moses geskryf. Die laaste boek is meer as 1 900 jaar gelede deur die apostel Johannes geskryf. Maar die Bybelskrywers het God se gedagtes neergeskryf en nie hulle eie nie. God is dus die Outeur van die Bybel.—Lees 2 Timoteus 3:16; 2 Petrus 1:21.

Ons weet dat die Bybel van God af kom, want dit voorspel die toekoms akkuraat en in besonderhede. Geen mens kan dít doen nie (Jesaja 46:9, 10). Die Bybel dra ook die onmiskenbare stempel van God se liefdevolle persoonlikheid. Dit het die krag om mense se lewe ten goede te verander. Hierdie feite oortuig miljoene dat die Bybel God se Woord is.—Lees Josua 23:14; 1 Tessalonisense 2:13.

5. Hoe kan jy die Bybel verstaan?

Jesus het beroemd geword as ’n onderrigter van God se Woord. Hoewel die meeste mense met wie hy gepraat het, die Geskrifte geken het, het hulle hulp nodig gehad om dit te verstaan. Om hulle te help, het Jesus na baie tekste verwys en “die betekenis van die Skrif” aan hulle verduidelik. Hierdie reeks, “Leer uit God se Woord”, sal dieselfde metode gebruik om jou te help.—Lees Lukas 24:27, 45.

Daar is min dinge wat so fassinerend is as om by God van die doel van die lewe te leer. Maar party mense sal moontlik nie bly wees dat jy die Bybel lees nie. Moenie dat dit jou ontmoedig nie. Jou hoop op die ewige lewe hang daarvan af dat jy God leer ken.—Lees Matteus 5:10-12; Johannes 17:3.

Vir verdere inligting, sien hoofstuk 2 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.