Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Was daar werklik ’n tuin van Eden?

Was daar werklik ’n tuin van Eden?

Was daar werklik ’n tuin van Eden?

KEN jy die verhaal van Adam en Eva en die tuin van Eden? Baie mense dwarsoor die wêreld ken dit. Lees dit gerus self. Jy sal dit in Genesis 1:26–3:24 vind. Hier is ’n opsomming daarvan:

Jehovah God a vorm ’n man uit die stof, noem hom Adam en plaas hom in ’n tuin in ’n gebied wat Eden genoem word. God het self hierdie tuin geplant. Dit het baie water en ’n oorvloed pragtige vrugtebome. In die middel staan “die boom van die kennis van goed en kwaad”. God verbied die mens om van hierdie boom te eet en sê dat ongehoorsaamheid die dood tot gevolg sal hê. Later maak Jehovah vir Adam ’n metgesel—die vrou Eva—deur een van Adam se ribbebene te gebruik. God gee hulle die werk om na die tuin om te sien en sê vir hulle om te vermeerder en die aarde te vul.

Wanneer Eva alleen is, praat ’n slang met haar en bring hy haar in die versoeking om van die verbode vrugte te eet deur te beweer dat God vir haar lieg en iets goeds van haar weerhou, iets wat haar soos God sal maak. Sy swig voor die versoeking en eet van die verbode vrugte. Later is Adam saam met haar ongehoorsaam aan God. Jehovah spreek dan ’n vonnis oor Adam, Eva en die slang uit. Nadat die mense uit die paradysagtige tuin verdryf word, versper die engele die ingang.

Geleerdes, intellektuele en geskiedkundiges het voorheen graag die gebeure wat in die Bybelboek Genesis opgeteken is, as waar en geskiedkundig bevestig. Vandag is skeptisisme oor hierdie dinge gewilder. Maar wat gee aanleiding tot die twyfel oor die Genesisverslag van Adam, Eva en die tuin van Eden? Kom ons ondersoek vier algemene besware.

1. Was die tuin van Eden ’n werklike plek?

Waarom bestaan daar twyfel hieroor? Filosofieë het moontlik hiertoe bygedra. Teoloë het eeue lank bespiegel dat God se tuin nog steeds êrens bestaan. Die kerk is egter beïnvloed deur Griekse filosowe soos Plato en Aristoteles, wat beweer het dat niks op die aarde volmaak kan wees nie. Volmaaktheid kan net in die hemel bestaan. Teoloë het dus geredeneer dat die oorspronklike Paradys nader aan die hemel moes gewees het. b Party het gesê dat die tuin bo-op ’n baie hoë berg geleë was wat net bo die omgewing van hierdie verdorwe planeet gestrek het; ander het beweer dat dit by die Noordpool of die Suidpool was; nog ander het gesê dat dit op of naby die maan was. Dit is nie verbasend dat die hele idee van Eden soos ’n fantasie begin klink het nie. Party hedendaagse geleerdes verwerp die geografie van Eden as onsin en sê dat so ’n plek nooit bestaan het nie.

Maar die Bybel beeld die tuin nie so uit nie. In Genesis 2:8-14 vind ons ’n aantal besonderhede oor dié plek. Dit was geleë in die oostelike deel van die gebied wat Eden genoem is. Dit het sy water van ’n rivier gekry wat die bron van vier riviere geword het. Elk van die vier word by name genoem, en ’n kort beskrywing van hulle loop word voorsien. Hierdie besonderhede het geleerdes lank gefassineer, van wie baie hierdie Bybelgedeelte gefynkam het vir leidrade oor die hedendaagse ligging van hierdie eertydse plek. Maar hulle het met tallose teenstrydige menings vorendag gekom. Beteken dit dat die fisiese beskrywing van Eden, sy tuin en sy riviere vals of ’n mite is?

Dink hieraan: Die gebeure in die verslag van die tuin van Eden het sowat 6 000 jaar gelede ontvou. Dit is neergeskryf, klaarblyklik deur Moses, wat moontlik van mondelinge verslae of miskien selfs bestaande dokumente gebruik gemaak het. Moses het dit nietemin ongeveer 2 500 jaar ná die gebeure neergeskryf. Eden was reeds ou geskiedenis. Is dit moontlik vir landmerke soos riviere om met die verloop van tientalle eeue te verander? Die aardkors is dinamies, altyd aan die beweeg. Die gebied waarin Eden waarskynlik geleë was, is ’n aardbewingsgebied—waar nagenoeg 17 persent van die wêreld se grootste aardbewings nou plaasvind. In sulke gebiede is verandering die reël eerder as die uitsondering. Wat meer is, die Vloed van Noag se dag het die topografie moontlik verander op maniere waarvan ons vandag eenvoudig nie weet nie. c

Hier is egter ’n paar feite wat ons wel weet: Die Genesisverslag praat van die tuin as ’n werklike plek. Twee van die vier riviere wat in die verslag gemeld word—die Eufraat en die Tigris, of Hiddekel—vloei vandag nog, en van hulle bronne is baie naby mekaar. Die verslag meld selfs die lande waardeur hierdie riviere gevloei het, asook die hulpbronne wat in die gebied voorgekom het. Vir die mense van eertydse Israel, die oorspronklike lesers van hierdie verslag, was hierdie besonderhede insiggewend.

Verstrek mites en sprokies gewoonlik besonderhede? Of is dit eerder geneig om besonderhede weg te laat wat geredelik bevestig of ontken kan word? “Lank, lank gelede in ’n ver land” is hoe ’n sprokie dikwels begin. Maar geskiedenis sluit gewoonlik toepaslike besonderhede in, soos in die geval van die Edenverslag.

2. Is dit werklik geloofwaardig dat God Adam uit die stof en Eva uit een van Adam se ribbebene gevorm het?

Die moderne wetenskap het bevestig dat die menseliggaam uit verskillende elemente bestaan—soos waterstof, suurstof en koolstof—wat alles in die aardkors gevind word. Maar hoe is hierdie elemente gebruik om ’n lewende skepsel te vorm?

Baie wetenskaplikes bespiegel dat lewe vanself ontstaan het, aanvanklik as uiters eenvoudige lewensvorme wat geleidelik, oor miljoene jare heen, al hoe komplekser geword het. Maar die term ‘eenvoudig’ kan misleidend wees, want alle lewende dinge—selfs mikroskopiese eensellige organismes—is ongelooflik kompleks. Daar is geen bewyse dat enige lewensvorm ooit toevallig ontstaan het of dit ooit kan doen nie. Alle lewende dinge openbaar eerder onmiskenbare bewyse van ontwerp deur ’n intelligensie wat baie groter is as ons s’n. dRomeine 1:20.

Sal jy, as jy na ’n wonderlike simfonie luister of met bewondering na ’n briljante skildery kyk of jou oor ’n tegnologiese uitvindsel verwonder, sê dat hierdie dinge geen maker het nie? Natuurlik nie! Maar sulke meesterstukke vergelyk nie naastenby met die kompleksiteit, prag of vindingryke ontwerp van die menseliggaam nie. Hoe kan ons dan dink dat dit geen Skepper gehad het nie? Verder verduidelik die Genesisverslag dat net mense, van al die lewensvorme op die aarde, na die beeld van God gemaak is (Genesis 1:26). Dit is gepas dat net mense op die aarde God se skeppingsdrang kan weerspieël en soms indrukwekkende musiek-, kuns- en tegnologiese werke kan voortbring. Moet dit ons verbaas dat God baie beter as ons kan skep?

Wat die skepping van die vrou uit ’n ribbebeen van die man betref, waarom sou dit ’n probleem wees? e God kon ’n ander manier gebruik het, maar die manier waarop hy die vrou gemaak het, was baie betekenisvol. Hy wou hê dat die man en die vrou moes trou en ’n hegte band moes vorm, asof hulle “een vlees” is (Genesis 2:24). Is die manier waarop ’n man en vrou mekaar kan aanvul en ’n stewige band van wedersydse ondersteuning kan vorm, nie kragtige bewys van ’n wyse en liefdevolle Skepper nie?

Daarbenewens het hedendaagse genetici erken dat alle mense waarskynlik van net een man en een vrou afstam. Is die Genesisverslag dan vergesog?

3. Die boom van kennis en die boom van die lewe klink na ’n mite.

Die Genesisverslag leer in werklikheid nie dat hierdie bome op sigself enige besondere of bonatuurlike krag gehad het nie. Dit was eerder werklike bome waaraan Jehovah simboliese betekenis geheg het.

Doen mense nie soms iets soortgelyks nie? Byvoorbeeld, ’n regter waarsku miskien teen die misdaad van minagting van die hof. Dit is nie die meubels, die vaste toebehore en die mure van die hofsaal wat die regter teen minagting wil beskerm nie, maar die regstelsel wat deur die hof verteenwoordig word. En verskeie konings het die septer en die kroon as simbole van hulle soewereine gesag gebruik.

Wat het die twee bome dan gesimboliseer? Talle ingewikkelde teorieë is aangevoer. Die ware antwoord, hoewel eenvoudig, is baie betekenisvol. Die boom van die kennis van goed en kwaad het ’n voorreg voorgestel wat net aan God behoort—die reg om te bepaal wat goed en wat kwaad is (Jeremia 10:23). Geen wonder dat dit ’n misdaad was om van hierdie boom te steel nie! Die boom van die lewe daarenteen het ’n gawe voorgestel wat net God kan gee—die ewige lewe.—Romeine 6:23.

4. ’n Pratende slang behoort skynbaar in ’n sprokiesverhaal.

Hierdie aspek van die Genesisverhaal kan wel verwarrend wees, veral as ons nie die res van die Bybel in ag neem nie. Maar die Skrif verklaar geleidelik hierdie fassinerende raaisel.

Wie of wat het dit laat lyk asof daardie slang praat? Die mense van eertydse Israel was bewus van ander faktore wat baie lig op die rol van die slang gewerp het. Hulle het byvoorbeeld geweet dat diere nie praat nie, maar dat ’n geespersoon dit kan laat lyk of ’n dier praat. Moses het ook die verslag van Bileam geskryf; God het ’n engel gestuur om Bileam se donkie soos ’n man te laat praat.—Numeri 22:26-31; 2 Petrus 2:15, 16.

Kan ander geeste, insluitende dié wat vyande van God is, wonderwerke verrig? Moses het gesien hoe die towerpriesters van Egipte party van God se wonderwerke naboots, soos om dit te laat lyk asof ’n staf in ’n slang verander. Die krag om sulke dinge te doen, kon net van God se vyande in die geesteryk gekom het.—Eksodus 7:8-12.

Moses was klaarblyklik ook die geïnspireerde skrywer van die boek Job. Hierdie boek het baie inligting verstrek oor God se vernaamste vyand, Satan, wat die onkreukbaarheid van al Jehovah se knegte deur leuens bevraagteken het (Job 1:6-11; 2:4, 5). Het die eertydse Israeliete derhalwe geredeneer dat Satan die slang in Eden gebruik het deur dit te laat lyk asof dit praat en Eva sodoende bedrieg het sodat sy haar onkreukbaarheid aan God prysgegee het? Waarskynlik.

Was Satan die mag agter die slang? Jesus het later na Satan verwys as “’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). “Die vader van die leuen” sal die bron wees van die eerste leuen wat ooit vertel is, nie waar nie? Die eerste leuen word in die slang se woorde aan Eva gevind. Die slang het God se waarskuwing dat dit tot die dood sou lei as hulle van die verbode vrugte eet, weerspreek en gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie” (Genesis 3:4). Dit is duidelik dat Jesus geweet het dat Satan die slang gebruik het. Die Openbaring wat Jesus aan die apostel Johannes gegee het, bevestig dit deur Satan “die oorspronklike slang” te noem.—Openbaring 1:1; 12:9.

Is dit werklik vergesog om te glo dat ’n magtige geespersoon ’n slang kan gebruik en dit kan laat lyk asof dit praat? Selfs mense, al is hulle nie naastenby so magtig soos geeste nie, kan verstommende kunsies soos buikspraak uitvoer en oortuigende spesiale effekte skep.

Die oortuigendste bewys

Stem jy nie saam dat die skeptisisme oor die Genesisverslag nie eintlik gegrond is nie? Daarteenoor bestaan daar kragtige bewyse dat die verslag ware geskiedenis is.

Jesus Christus word byvoorbeeld “die getroue en waaragtige getuie” genoem (Openbaring 3:14). Omdat hy ’n volmaakte man was, het hy nooit gelieg nie, nooit die waarheid verdraai nie. Wat meer is, hy het ander geleer dat hy bestaan het lank voordat hy as ’n mens op aarde gelewe het—trouens, hy het saam met sy Vader, Jehovah, gewoon “voordat die wêreld was” (Johannes 17:5). Hy het dus gelewe toe lewe op aarde begin het. Wat is die getuienis van hierdie allerbetroubaarste getuie?

Jesus het van Adam en Eva as werklike mense gepraat. Hy het na hulle huwelik verwys toe hy Jehovah se standaard van monogamie verduidelik het (Matteus 19:3-6). As hulle nooit bestaan het nie en die tuin waarin hulle gewoon het, ’n blote mite is, dan was Jesus óf mislei óf ’n leuenaar. Nie een van hierdie gevolgtrekkings is ’n geloofwaardige opsie nie! Jesus was in die hemel en het toegekyk terwyl die tragedie in die tuin ontvou het. Watter getuienis kan oortuigender wees?

Skeptisisme oor die Genesisverslag ondermyn in werklikheid geloof in Jesus. Sulke skeptisisme maak dit ook onmoontlik om party van die Bybel se belangrikste temas en mees gerusstellende beloftes te verstaan. Kom ons kyk waarom dit die geval is.

[Voetnote]

a In die Bybel is Jehovah die persoonlike naam van God.

b Die gedagte is onskriftuurlik. Die Bybel leer dat al God se werk volmaak is; verdorwenheid kom van ’n ander bron (Deuteronomium 32:4, 5). Toe Jehovah sy skepping van die aarde voltooi het, het hy verklaar dat alles wat hy gemaak het, “baie goed” is.—Genesis 1:31.

c Die Vloed, ’n daad van God, het blykbaar alle spore van die tuin van Eden uitgewis. Esegiël 31:18 gee te kenne dat “die bome van Eden” teen die sewende eeu VHJ lank al nie meer bestaan het nie. Almal wat dus in latere tye na ’n steeds bestaande Eden gesoek het, het verniet gesoek.

d Sien die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

e Interessant genoeg, die moderne mediese wetenskap het gevind dat die ribbebeen ’n buitengewone genesingsvermoë het. In teenstelling met ander bene kan dit teruggroei as die bindweefselmembraan nie beskadig word nie.