Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

HOE kon ’n kroegmeisie wat gevloek, oormatig gedrink en met dwelms geëksperimenteer het, haar lewenswyse verander? Waarom het ’n voormalige politikus wat nie van godsdiens gehou het nie, ’n godsdiensbedienaar geword? Watter uitdagings moes ’n gevegsinstrukteur in die Russiese polisiemag te bowe kom om een van Jehovah se Getuies te word? Lees wat hulle te sê het.

“Ek en my ma geniet nou weer ’n hegte verhouding.”—NATALIE HAM

GEBORE: 1965

GEBOORTELAND: AUSTRALIË

GESKIEDENIS: HET MET DWELMS GEËKSPERIMENTEER

MY VERLEDE: Ek het in die vissersdorpie Robe, Suid-Australië, grootgeword. In sulke gemeenskappe is die plaaslike hotel die plek waar almal bymekaarkom. Ouers bring baie tyd by die hotel deur, en hulle kinders word dus van kleins af blootgestel aan drankmisbruik, slegte taal en sigaretrook.

Teen die ouderdom van 12 het ek gerook, soos ’n matroos gevloek en die hele tyd met my ma gestry. Toe ek 15 was, het my ouers uitmekaargegaan, en 18 maande later het ek die huis verlaat. Ek het drank misbruik, met dwelms geëksperimenteer en ’n onsedelike lewe gelei. Ek was kwaad en verward. Maar omdat ek vyf jaar lank opleiding in die verweerkuns en selfverdediging vir vroue ontvang het, het ek gedink dat ek na myself kan omsien. Maar wanneer ek stilgesit en nagedink het, het ek baie hartseer gevoel en God gevra om my te help. “Moet my net nie vra om kerk toe te gaan nie”, het ek vir hom gesê.

’n Ruk later het ’n vriend wat godsdienstig was, maar nie aan ’n spesifieke kerk behoort het nie, vir my ’n Bybel gegee. Soos ons ander vriende het hy dwelms gerook. Tog het hy gesê dat hy opreg in God glo, en hy het my oortuig dat ek gedoop moet word. Hy het my na ’n meer daar naby geneem en my gedoop. Van toe af het ek gevoel dat ek ’n spesiale verhouding met God het. Nietemin het ek nooit tyd gekry om die Bybel te lees nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In 1988 het twee Getuies aan my deur geklop. Een van hulle het my gevra: “Weet jy wat God se naam is?” Die Getuie het Psalm 83:18 uit sy Bybel gelees, wat sê: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” Ek was uit die veld geslaan! Nadat hulle daar weg is, het ek 56 kilometer na ’n Christenboekwinkel gery om die naam in ander Bybelvertalings en toe in ’n woordeboek op te soek. Dit het my oortuig dat God se naam Jehovah is, en ek het gewonder wat anders ek nie weet nie.

My ma het vir my gesê dat Jehovah se Getuies ’n vreemde klomp is. Die bietjie wat ek van hulle geweet het, het my die indruk gegee dat hulle te konserwatief is en nie weet hoe om die lewe te geniet nie. Ek het dit oorweeg om weg te kruip wanneer hulle weer kom. Maar toe die tyd aanbreek, het ek van plan verander. Ek het hulle ingenooi, en ons het onmiddellik die Bybel begin studeer.

Ná elke studie het ek met my kêrel, Craig, gepraat oor wat ek geleer het. Uiteindelik het hy so geïrriteerd geraak dat hy die boek wat ons vir ons studie gebruik het, uit my hande geneem en dit self begin lees het. Binne drie weke het hy tot die slotsom gekom dat hy die waarheid omtrent God gevind het. Ek en Craig het uiteindelik opgehou om dwelms en drank te misbruik, en ek het my werk as ’n kroegmeisie opgegee. Om ons lewens met Bybelstandaarde in ooreenstemming te bring, het ons besluit om te trou.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Toe ek en Craig die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ons op die punt gestaan om uitmekaar te gaan. Vandag is Craig ’n wonderlike huweliksmaat, en ons het twee pragtige kinders. Ons het ook dierbare vriende wat ons godsdiensoortuigings deel.

Aan die begin was my ma kwaad toe sy uitgevind het dat ek met Jehovah se Getuies assosieer. Maar dit was die gevolg van wanopvattings. Ek en my ma geniet nou weer ’n hegte verhouding. Ek voel nie meer ’n leemte in my nie. My lewe is nou doelgerig en sinvol, en ek voel dat my geestelike behoeftes bevredig word.—Matteus 5:3.

“Ek het talle verbasende dinge uit die Bybel geleer.”—ISAKALA PAENIU

GEBORE: 1939

GEBOORTELAND: TUVALU

GESKIEDENIS: POLITIKUS

MY VERLEDE: Ek is gebore op Nukulaelae, ’n pragtige eiland in die Stille Oseaan, wat nou deel is van Tuvalu. Die mense op die eiland is oorheers deur predikante wat hulle godsdiensopleiding by ’n kollege in Samoa gekry het. Die eilandbewoners was verplig om daagliks vir die predikante en hulle gesinne kos te gee en aan hulle huisvesting te voorsien; trouens, om hulle die beste van alles te gee. Selfs as die eilandbewoners nie genoeg kos vir hulle eie gesinne gehad het nie, moes hulle aan die predikante kos voorsien.

Die predikant op my eiland het die dorpie se skool bestuur en het les gegee in godsdiensonderrig, in wiskunde en soms in aardrykskunde. Ek onthou hoe die predikant party studente so erg geslaan het dat hulle vol bloed was. Maar niemand het dit gewaag om te kla nie, nie eers die ouers nie. Die mense het die predikant beskou asof hy God self is.

Toe ek tien was, het ek die huis verlaat om die enigste staatskool in die gebied by te woon, wat op ’n ander eiland was. Toe ek klaar was met skool, het ek vir die regering begin werk. Die eilande was destyds deel van die Britse kolonie wat as die Gilbert- en Ellice-eilande bekend gestaan het. Ek het in verskeie departemente gewerk voordat ek die redakteur van die regering se weeklikse nuusblad geword het. Alles het goed verloop totdat ek ’n lesersbrief gepubliseer het wat kritiek bevat het oor hoeveel geld uitgegee is op voorbereidings vir ’n besoek deur die Prins van Wallis. Die skrywer van die brief het ’n skuilnaam gebruik, en my hoof het daarop aangedring dat ek vir hom sê wat die persoon se werklike naam is. Ek het geweier om hom te sê, en baie mense het van hierdie konfrontasie te hore gekom.

Kort ná hierdie voorval het ek die staatsdiens verlaat en die politiek betree. Ek het ’n verkiesing in Nukulaelae gewen en is as die Minister van Handel en Natuurlike Hulpbronne aangestel. Later, toe die mense van Kiribati en Tuvalu (voorheen die Gilbert- en Ellice-eilande onderskeidelik) onafhanklikheid van Brittanje verkry het, het die goewerneur my die pos as die hoof van die Tuvalu-administrasie aangebied. Maar ek wou nie die indruk skep dat ek iets met die koloniale bewind te doen het nie. Ek het die aanbod dus van die hand gewys en het sonder daardie ondersteuning aan die algemene verkiesing vir die hoogste politieke pos deelgeneem. Ek het verloor. Daarna het ek en my vrou na my tuiseiland teruggekeer en besluit om ’n normale dorpslewe te lei.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Op die eilande was Sondag die Sabbat, en almal het dit as heilig beskou, behalwe ek. Dit was my dag om te gaan seil en vis te vang. Ek wou nie as ’n godsdienstige persoon bekend staan nie. My pa het vir my gesê hoe my optrede hom en ander teleurgestel het. Maar ek was vasbeslote om nie onder die invloed van die kerk te kom nie.

Op een van my reise na Funafuti—die eiland waarop die hoofstad van Tuvalu geleë is—het my jonger broer my genooi om saam met hom na ’n vergadering van Jehovah se Getuies te gaan. Later het ’n Getuiesendeling my ’n klomp Wagtoring- en Ontwaak!-tydskrifte gegee om te lees. Hy het ook vir my ’n boek gegee wat die heidense oorsprong blootlê van baie van die sogenaamde Christelike kerke se leerstellings. Ek het daardie boek etlike kere deurgelees. Ek het talle verbasende dinge uit die Bybel geleer, insluitende die feit dat Christene nie verplig is om die weeklikse Sabbat te hou nie. a Ek het my vrou van hierdie dinge vertel, en sy het onmiddellik opgehou om kerk toe te gaan.

Ek het myself egter belowe dat ek niks met godsdiens te doen sal hê nie. Byna twee jaar het verloop, maar ek kon nie vergeet wat ek geleer het nie. Uiteindelik het ek aan die sendeling op Funafuti geskryf en vir hom gesê dat ek gereed is om ’n verandering te maak. Hy het op die volgende boot geklim en my kom help om meer van die Bybel te leer. My pa was woedend toe hy uitvind dat ek een van Jehovah se Getuies wil word. Maar ek het vir hom gesê dat ek soveel by die Getuies omtrent die Bybel geleer het dat ek vasbeslote is.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek is in 1986 as een van Jehovah se Getuies gedoop, en my vrou is ’n jaar later gedoop. Ons twee dogters het ook kennis van die Bybel opgedoen en besluit om Jehovah se Getuies te word.

Nou het ek die voorreg om aan ’n godsdiensgroep te behoort wat, soos die eerste-eeuse Christene, geen onderskeid tussen geestelikes en leke tref nie (Matteus 23:8-12). Hulle volg ook nederig Jesus se voorbeeld na en preek vir ander oor God se Koninkryksregering (Matteus 4:17). Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah God dat hy my toegelaat het om die waarheid oor hom en sy volk te leer!

‘Die Getuies het nie vir my gesê wat om te glo nie.’—ALEKSANDER SOSKOF

GEBORE: 1971

GEBOORTELAND: RUSLAND

GESKIEDENIS: GEVEGSINSTRUKTEUR

MY VERLEDE: Ek is in Moskou gebore, wat destyds die hoofstad van die Sowjetunie was. My gesin het in ’n groot woonstelblok gewoon, en baie van ons bure het saam in dieselfde fabriek gewerk. Ek onthou dat hulle gekla het dat ek ’n baie woelige kind is en voorspel het dat ek óf vroegtydig sal sterf óf uiteindelik in die tronk sal beland. Trouens, op tienjarige ouderdom het ek reeds ’n polisierekord gehad.

Toe ek 18 geword het, is ek vir diensplig opgeroep en het ek as ’n grenswag gedien. Ná twee jaar het ek teruggekeer huis toe en in ’n fabriek gaan werk, maar die werk het my verveel. Ek het dus by die Moskou-polisie se oproerafdeling aangesluit en as ’n instrukteur in man-teen-man-gevegsmetodes gewerk. Ek het gehelp om misdadigers in Moskou in hegtenis te neem en het na verskillende probleemgebiede regoor die land gereis. Die spanning binne-in my was soos ’n saamgeperste spiraalveer. Wanneer ek teruggekeer het huis toe, moes ek soms op ’n ander bed slaap as my vrou—ek was bang dat ek haar in my slaap sou seermaak.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek besef dat my gewelddadige lewenswyse nie met Bybelstandaarde ooreenstem nie. Ek het ook gesien hoe belangrik dit is dat ek ophou rook en minder drink. Maar ek het geredeneer dat ek nie van werk kan verander nie, aangesien ek geen ander vaardighede gehad het waarmee ek my gesin kon onderhou nie. Ek het ook gevoel dat ek nooit soos die Getuies sou kon preek nie.

Uiteindelik het ek daarvan oortuig geraak dat die Bybelverslag akkuraat is. En ek het vertroosting geput uit Esegiël 18:21, 22. Daardie verse sê: “Wat dan nou ’n goddelose betref, as hy hom afkeer van al sy sondes wat hy gepleeg het . . . , al sy oortredings wat hy begaan het—dit sal nie teen hom in herinnering gebring word nie.”

Ek het gehou van die feit dat die Getuies nie vir my gesê het wat ek moet glo nie, maar my gehelp het om te redeneer oor wat ek leer. Ek het sowat 40 of meer van hulle tydskrifte geneem en dit binne drie weke deurgelees. Wat ek geleer het, het my oortuig dat ek die ware godsdiens gevind het.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Voordat ons die Bybel gestudeer het, het ek en my vrou op die punt gestaan om te skei. Ons huwelik het nou verbeter. My vrou het die Bybel op dieselfde tyd as ek begin studeer, en ons het besluit om Jehovah saam te dien. Nou geniet ons ’n gelukkiger gesinslewe. Ek kon ook werk vind wat nie met Bybelbeginsels strydig is nie.

Toe ek aan die deur-tot-deur-predikingswerk begin deelneem het, het ek gewoonlik baie gespanne geraak—die gevoelens wat ek voor ’n klopjag ondervind het, het in my opgewel. Nou is ek seker dat ek kalm kan bly, selfs as iemand my probeer uitlok. Mettertyd het ek geleer om geduldig te wees met mense. Ek is spyt dat ek so ’n groot deel van my lewe verkwis het, maar nou voel ek dat my lewe werklik sinvol is. Ek geniet dit om al my krag te gebruik om Jehovah God te dien en ander te help.

[Voetnoot]

a Vir meer inligting, sien die artikel “Moet jy die weeklikse Sabbat hou?” in Die Wagtoring van 1 Februarie 2010, bladsye 11-15.