Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer jou kinders om beleefd te wees

Leer jou kinders om beleefd te wees

Leer jou kinders om beleefd te wees

’N DUITSE spreekwoord sê: “Met die hoed in die hand kom ’n mens deur die hele land.” In baie kulture is die feit dat ’n man sy hoed afhaal wanneer hy in iemand se huis ingaan of iemand groet, as ’n hoflikheidsgebaar beskou waardeur hy respek afgedwing het. Die bogenoemde spreekwoord beteken dus dat mense geneig is om goedhartiger en vriendeliker te wees teenoor iemand wat goeie maniere het.

Hoe verkwikkend is dit tog wanneer jongmense goedgemanierd is! ’n Kringopsiener in Honduras wat saam met verkondigers van verskillende ouderdomme aan die evangelisasiewerk van deur tot deur deelneem, sê: “Ek het al dikwels gesien dat ’n kind wat goed opgelei en beleefd is, ’n huisbewoner meer beïndruk as my woorde.”

In hierdie tye waarin al hoe minder mense beleefd is, is dit prakties en nuttig om te weet hoe jy ander moet behandel. Wat meer is, die Skrif vermaan ons: “Gedra julle . . . op ’n wyse wat die goeie nuus oor die Christus waardig is” (Fil. 1:27; 2 Tim. 3:1-5). Dit is noodsaaklik dat ons ons kinders leer om ander te respekteer. Hoe kan hulle geleer word om nie net ’n skyn van hoflikheid te hê nie, maar om werklik beleefd te wees? a

Leer hulle goeie maniere deur die voorbeeld te stel

Kinders leer deur die voorbeelde wat hulle sien, na te volg. Dit is dus noodsaaklik dat ouers self goedgemanierd moet wees as hulle goeie maniere by hulle kinders wil inskerp (Deut. 6:6, 7). Dit is belangrik om met jou kind oor hoflikheid te redeneer, maar dit is nie al wat nodig is nie. Tesame met die herinneringe is ’n goeie voorbeeld onontbeerlik.

Kyk na die geval van Paula, b wat deur ’n enkelouer in ’n Christenhuis grootgemaak is. Dit het ’n deel van haar persoonlikheid geword om teenoor almal beleefd te wees. Waarom? Sy antwoord: “My ma het die voorbeeld gestel, en daarom was ons as kinders van nature beleefd.” ’n Christen met die naam Walter het sy seuns geleer om hulle ongelowige ma te respekteer. Hy sê: “Ek het my seuns deur my eie voorbeeld probeer leer om hulle ma te respekteer deur nooit neerhalend van my vrou te praat nie.” Walter het aangehou om sy seuns in God se Woord te onderrig, en hy het vir Jehovah se hulp gebid. Een van die seuns dien nou by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies en die ander een is ’n pionier. Sy seuns het albei hulle ouers lief en respekteer hulle.

Die Bybel sê: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Kor. 14:33). Alles wat Jehovah doen, is ordelik. Christene moet daarna streef om hierdie goddelike eienskap na te volg en die huis netjies te hou. Party ouers het hulle kinders geleer om elke dag hulle bed op te maak voordat hulle skool toe gaan, om hulle klere weg te sit en om met huishoudelike takies te help. As kinders sien dat die res van die huis ordelik en skoon is, is dit waarskynliker dat hulle hulle kamer en besittings netjies sal hou.

Hoe beskou jou kinders dít wat hulle by die skool leer? Spreek hulle waardering uit vir wat hulle onderwysers vir hulle doen? Spreek jy as ouer waardering daarvoor uit? Jou kinders sal geneig wees om dieselfde gesindheid as jy teenoor hulle skoolwerk en onderwysers te weerspieël. Spoor hulle gerus aan om ’n gewoonte daarvan te maak om hulle onderwysers te bedank. Om waardering uit te spreek vir dienste wat gelewer is, is ’n uitstekende manier om beleefd te wees, hetsy teenoor ’n onderwyser, ’n dokter, ’n winkelier of enigiemand anders (Luk. 17:15, 16). Jong Christene wat weens hulle beleefdheid en goeie gedrag opvallend anders as hulle skoolmaats is, moet geprys word.

Lede van die Christengemeente moet ’n goeie voorbeeld stel wat maniere betref. Hoe verfrissend is dit tog om te sien dat jongmense in die gemeente beleefd is deur “asseblief” en “dankie” te sê! Wanneer volwassenes respek vir Jehovah toon deur aandagtig na die onderrigting tydens vergaderinge te luister, word jongmense aangemoedig om hulle na te volg. Kinders kan leer om respek vir ander te toon wanneer hulle uitstekende voorbeelde van goeie maniere by die Koninkryksaal sien. Die vierjarige Andrew het byvoorbeeld reeds geleer om “verskoon my” te sê wanneer hy verby volwassenes moet loop.

Wat kan ouers nog doen om hulle kinders te leer watter soort gedrag van hulle verwag word? Ouers kan en moet tyd inruim om hulle kinders te vertel van die lesse wat uit die talle voorbeelde in God se Woord geleer kan word.—Rom. 15:4.

Leer hulle deur middel van Bybelvoorbeelde

Samuel se moeder het haar seun heel moontlik geleer om voor die hoëpriester Eli neer te buig. Toe sy Samuel na die tabernakel geneem het, was hy waarskynlik net drie of vier jaar oud (1 Sam. 1:28). Kan jy saam met jou jong kind oefen om te groet deur “goeiemôre”, “goeiemiddag”, “goeienaand”, of wat ook al in jou omgewing gebruiklik is, te sê? Soos jong Samuel kan jou kinders ook “geliefd [word] vanuit Jehovah se standpunt sowel as vanuit dié van mense”.—1 Sam. 2:26.

Kan jy miskien Bybelverslae gebruik om die verskil tussen respek en ’n gebrek daaraan te verduidelik? Toe Israel se ontroue koning Ahasia die profeet Elia wou sien, het hy “’n hoof oor vyftig met sy vyftig” gestuur om hom te laat roep. Die offisier het daarop aangedring dat die profeet hom vergesel. Dit was glad nie gepas om so te praat met iemand wat God se verteenwoordiger is nie. Hoe het Elia geantwoord? “As ek dan ’n man van God is,” het hy gesê, “laat daar vuur uit die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer.” En dit is presies wat gebeur het. “Daar het vuur uit die hemel neergedaal en hom en sy vyftig verteer.”—2 Kon. 1:9, 10.

’n Tweede hoof oor 50 is gestuur om Elia te gaan haal. Hy het Elia ook probeer beveel om saam met hom te gaan. Weer eens het vuur uit die hemel neergedaal. Maar toe het ’n derde hoof oor 50 na Elia toe gekom. Hierdie man was beleefd. In plaas daarvan om Elia ’n bevel te gee, het hy voor hom neergekniel en hom gesmeek: “Man van die ware God, laat my siel en die siel van hierdie vyftig knegte van u asseblief kosbaar wees in u oë. Kyk, vuur het uit die hemel neergedaal en die twee vorige hoofde oor vyftig en hulle vyftigtalle verteer, maar laat my siel nou kosbaar wees in u oë.” Sou God se profeet vra dat vuur neerdaal op iemand wat dalk bang was en tog met soveel respek gepraat het? Dit sou ondenkbaar wees! Jehovah se engel het eerder vir Elia gesê om saam met hierdie offisier te gaan (2 Kon. 1:11-15). Beklemtoon dit nie die waarde daarvan om beleefd te wees nie?

Toe die apostel Paulus by die tempel deur Romeinse soldate in hegtenis geneem is, het hy nie aangeneem dat hy die reg het om te praat nie. Hy het die bevelvoerder beleefd gevra: “Mag ek vir u iets sê?” Gevolglik is Paulus die geleentheid gegun om ter sy eie verdediging te praat.—Hand. 21:37-40.

Terwyl Jesus verhoor is, is hy in die gesig geklap. Hy het egter geweet hoe om op ’n gepaste manier daarteen beswaar te maak: “As ek iets verkeerds gesê het, getuig dan oor wat verkeerd is; maar as dit reg was, waarom slaan jy my dan?” Niemand kon enigsins foutvind met die manier waarop Jesus gepraat het nie.—Joh. 18:22, 23.

God se Woord voorsien ook voorbeelde van hoe ons op streng teregwysing kan reageer en hoe ons met respek kan erken dat ons in die verlede iets verkeerds gedoen het of nalatig was (Gen. 41:9-13; Hand. 8:20-24). Abigail het byvoorbeeld verskoning gevra vir die vermetele manier waarop haar man, Nabal, Dawid behandel het. Sy het nie net verskoning gevra nie, maar het ook milddadige voorsienings as ’n geskenk gegee. Dawid was so beïndruk deur wat Abigail gedoen het dat hy haar ná Nabal se dood as sy vrou geneem het.—1 Sam. 25:23-41.

Leer jou kinders om beleefd te wees, hetsy hulle dit onder moeilike omstandighede moet doen of bloot goeie maniere aan die dag moet lê. As ons op hierdie manier ‘ons lig voor die mense laat skyn’, sal dit ‘heerlikheid gee aan ons Vader, wat in die hemele is’.—Matt. 5:16.

[Voetnote]

a Ouers moet natuurlik hulle kinders help om te sien dat beleefdheid teenoor volwassenes verskil van onderworpenheid aan iemand wat dalk slegte beweegredes het. Sien die Ontwaak! van Oktober 2007, bladsye 3-11.

b Van die name is verander.