Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet nooit jou medegelowiges versaak nie

Moet nooit jou medegelowiges versaak nie

Moet nooit jou medegelowiges versaak nie

“ONS is tien jaar lank deur die aanloklikhede van die sakewêreld betower, en ons was baie ryk. Al is ons in die waarheid grootgemaak, het ons te ver afgedwaal en het ons nie die geestelike krag gehad om terug te keer nie”, vertel Jarosław en sy vrou, Beata. a

’n Ander broer, Marek, sê: “Weens sosiale en politieke veranderinge in Pole het ek die een werk na die ander verloor. Ek was gefrustreerd. Ek was bang om my eie maatskappy te begin omdat ek geen sakevernuf gehad het nie. Uiteindelik het ek voor die versoeking geswig om my eie besigheid te begin, met die idee dat dit my sal help om beter vir my gesin te sorg sonder om my geestelikheid te benadeel. Ek het mettertyd uitgevind hoe verkeerd ek was.”

In ’n wêreld waar die lewenskoste onophoudelik styg en werkloosheid voortdurend toeneem, word party mense wanhopig en neem hulle gevolglik onverstandige besluite. ’n Aantal broers het besluit om oortyd te werk, om bykomende werk te doen of om hulle eie besigheid te begin, al het hulle geen ervaring nie. Hulle neem aan dat die ekstra inkomste die gesin sal help en hulle geen geestelike skade sal berokken nie. Maar onvoorsiene omstandighede en die onbestendige ekonomie kan selfs goed bedoelde planne in die wiele ry. Gevolglik het party in die strik van gierigheid getrap en geestelike belange ter wille van materiële belange opgeoffer.—Pred. 9:11, 12.

Party broers en susters het so betrokke geraak by wêreldse strewes dat hulle nie meer tyd het vir persoonlike studie, vergaderinge of die bediening nie. Dit is duidelik dat hierdie versuim hulle geestelikheid en hulle verhouding met Jehovah benadeel. Hulle gee moontlik ook ’n ander belangrike verhouding prys—hulle band met dié ‘wat in die geloof aan hulle verwant is’ (Gal. 6:10). Party onttrek hulle geleidelik aan die Christenbroederskap. Dink ernstig na oor hierdie aspek van die saak.

Ons verpligting teenoor medegelowiges

As broers en susters het ons baie geleenthede om liefde teenoor mekaar te betoon (Rom. 13:8). Jy het waarskynlik al in julle gemeente ‘geteisterdes wat om hulp roep’, gesien (Job 29:12). Party het dalk nie die basiese lewensmiddele nie. Die apostel Johannes het ons herinner aan die geleentheid wat dit bied. “Wie hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud het en sy broer sien gebrek ly en tog die deur van sy tere medelye vir hom sluit, in watter opsig bly die liefde vir God in hom?”—1 Joh. 3:17.

Jy het moontlik al in sulke behoeftes voorsien en ruimhartige hulp aan ander verleen. Maar ons belangstelling in die broederskap is nie tot materiële hulp beperk nie. Party roep dalk om hulp omdat hulle eensaam of ontmoedig is. Hulle voel miskien onwaardig, ly aan ’n ernstige siekte of het ’n geliefde aan die dood afgestaan. Een manier waarop ons hulle kan aanmoedig, is deur na hulle te luister en met hulle te praat en sodoende in hulle emosionele en geestelike behoeftes te voorsien (1 Tess. 5:14). Dit maak dikwels die band van liefde met ons broers nog hegter.

Veral geestelike herders is in ’n posisie om met empatie te luister, begrip te toon en liefdevolle skriftuurlike raad te gee (Hand. 20:28). Sodoende volg opsieners die apostel Paulus na, wat “tere geneentheid” vir sy geestelike broers en susters gehad het.—1 Tess. 2:7, 8.

Maar wat word van ’n Christen se verpligting teenoor sy medegelowiges as hy van die kudde afdwaal? Selfs opsieners kan swig voor die versoeking om materiële dinge na te jaag. Sê nou ’n Christen swig voor so ’n versoeking?

Wanneer die sorge van die lewe ’n swaar las word

Soos gemeld is, bring ’n geswoeg om in die lewensbehoeftes van ons gesin te voorsien, dikwels sorge mee en kan dit ons waardering vir geestelike waardes laat afneem (Matt. 13:22). Marek, wat vroeër genoem is, verduidelik: “Toe my besigheid bankrot gegaan het, het ek besluit om ’n goed betaalde werk in ’n ander land te soek. Ek was eers net drie maande weg, toe nog drie maande, en so het dit aangegaan, en ek was net vir kort rukkies by die huis. Dit was vir my ongelowige vrou emosioneel baie moeilik.”

Dit was nie net hulle gesinslewe wat daaronder gely het nie. “Behalwe dat ek lang ure in drukkende hitte moes werk”, sê Marek verder, “het ek ook te doen gehad met onbeskofte mense wat ander probeer uitbuit het. Hulle het soos regte boewe opgetree. Ek was terneergedruk en het gevoel dat ek oorheers word. Aangesien ek nie eers tyd gehad het om na myself om te sien nie, het ek begin twyfel aan my vermoë om ander te dien.”

Die droewige gevolge van Marek se besluit behoort ons diep te laat dink. Dit lyk miskien of dit geldelike probleme sal oplos as ’n mens na ’n ander land trek, maar sal dit nie dalk ander probleme skep nie? Watter uitwerking sal dit byvoorbeeld op ons gesin se geestelike en emosionele welstand hê? Sal so ’n verhuising ons ons bande met die gemeente laat verbreek? Sal dit ons nie die voorreg ontneem om medegelowiges te dien nie?—1 Tim. 3:2-5.

Maar soos jy waarskynlik besef, is dit nie net iemand wat in ’n ander land werk wat met sekulêre werk behep kan raak nie. Beskou die voorbeeld van Jarosław en Beata. “Dit het alles heeltemal onskuldig begin”, sê hy. “As pasgetroudes het ons ’n worsbroodjiestalletjie op ’n goeie plek begin. Toe dit baie winsgewend word, het ons besluit om ons besigheid uit te brei. Maar omdat ons min tyd gehad het, het ons nie Christelike vergaderinge bygewoon nie. Kort voor lank het ek opgehou om as ’n pionier en ’n bedieningskneg te dien. Ons was opgewonde oor die wins wat ons gemaak het en het ’n groot winkel oopgemaak en met ’n ongelowige in vennootskap gegaan. Dit was nie lank nie of ek het na ander lande gereis om kontrakte ter waarde van miljoene dollars te sluit. Ek was selde by die huis, en my verhouding met my vrou en dogter het agteruitgegaan. Uiteindelik het ons florerende besigheid ons geestelik aan die slaap gesus. Aangesien ons opgehou het om met die gemeente om te gaan, het ons nie eers meer aan ons broers gedink nie.”

Watter les kan ons hieruit leer? Die begeerte om ’n privaat “paradys” te skep, kan ’n Christen verstrik en kan lei tot oorgerustheid—selfs tot die verlies van “sy boklere”, sy Christelike identiteit (Op. 16:15). Dit kan ons afsny van ons broers wat ons voorheen in staat was om te help.

Doen eerlike selfondersoek

‘Dit sal nie met my gebeur nie’, is ons dalk geneig om te dink. Maar dit sal goed wees as ons almal ernstig nadink oor hoeveel ons werklik in die lewe nodig het. “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie”, het Paulus geskryf. “As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Tim. 6:7, 8). Toegegee, die lewenstandaard verskil van land tot land. Wat in ’n ontwikkelde land as die absolute minimum beskou word, word moontlik in baie ander lande as ’n luukse beskou.

Ongeag wat die lewenstandaard is waar ons woon, ons moet dink aan Paulus se volgende woorde: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort” (1 Tim. 6:9). ’n Strik is vir die prooi onsigbaar. Dit is bedoel om die prooi onverwags te vang. Hoe kan ons voorkom dat ons deur “skadelike begeertes” verstrik word?

As ons prioriteite stel, kan dit ons aanspoor om meer tyd in te ruim vir Koninkryksbelange, insluitende persoonlike studie. Sulke biddende studie kan ’n Christen help om “volkome bevoeg [te] wees, ten volle toegerus” om ander by te staan.—2 Tim. 2:15; 3:17.

Liefdevolle ouer manne het hulle ’n paar jaar lank daarop toegelê om Jarosław op te bou en aan te moedig. Hy is beweeg om drastiese veranderinge aan te bring. Hy sê: “In een deurslaggewende gesprek het die ouer manne verwys na die skriftuurlike voorbeeld van ’n ryk jong man wat vir ewig wou lewe, maar nie bereid was om sy materiële besittings prys te gee nie. Toe het hulle taktvol gevra of hierdie inligting op my van toepassing kan wees. Dit het my laat besef waaraan ek moet werk!”—Spr. 11:28; Mark. 10:17-22.

Jarosław het sy situasie eerlik ondersoek en besluit om sy betrokkenheid by die sakewêreld te beëindig. Binne twee jaar was hy en sy gesin weer geestelik gesond. Hy dien nou sy broers as ’n ouer man. Jarosław sê: “Wanneer broers so betrokke raak by die sakewêreld dat hulle hulle geestelikheid verwaarloos, gebruik ek my eie voorbeeld om toe te lig hoe onverstandig dit is om saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk te kom. Dit is nie maklik om aanloklike aanbiedings te weerstaan en oneerlike gebruike te vermy nie.”—2 Kor. 6:14.

Marek het ook deur bittere ondervinding geleer. Hoewel ’n goed betaalde werk in ’n ander land sy gesin geldelik gehelp het, het sy verhouding met God en sy broers daaronder gely. Ná ’n ruk het hy sy prioriteite verander. “Deur die jare heen was my situasie soos dié van Barug van ouds wat ‘aangehou het om vir hom groot dinge te soek’. Uiteindelik het ek my hart voor Jehovah uitgestort en hom van my kwellinge vertel, en nou voel ek dat ek weer my geestelike balans herwin het” (Jer. 45:1-5). Marek streef nou na die “voortreflike werk” om as ’n opsiener in die gemeente te dien.—1 Tim. 3:1.

Marek gee die volgende waarskuwing aan diegene wat dit dalk oorweeg om na ’n ander land te reis op soek na ’n beter betaalde werk: “Wanneer jy in ’n ander land is, is dit baie maklik om in die strikke van hierdie goddelose wêreld te trap. ’n Swak kennis van die plaaslike taal maak dit moeilik om met ander te kommunikeer. Jy gaan dalk terug huis toe met geld, maar jy het ook geestelike wonde wat lank kan neem om te genees.”

As ons ’n balans tussen ons sekulêre werk en ons verpligting teenoor ons broers handhaaf, sal dit ons help om Jehovah te behaag. En ons kan ’n lewende voorbeeld wees wat ander kan beweeg om ’n verstandige besluit te neem. Diegene wat onder sorge gebuk gaan, het ondersteuning, medelye en die goeie voorbeeld van hulle broers en susters nodig. Gemeentelike ouer manne en ander ervare broers en susters kan medegelowiges help om gebalanseerd te bly en nie deur die sorge van die lewe oorweldig te word nie.—Heb. 13:7.

Ja, mag ons nooit ons medegelowiges versaak deur met ons sekulêre werk behep te raak nie (Fil. 1:10). Laat ons eerder ‘ryk wees teenoor God’ terwyl ons Koninkryksbelange eerste in ons lewe stel.—Luk. 12:21.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prente op bladsy 21]

Maak jou sekulêre werk inbreuk op jou vergaderingbywoning?

[Prente op bladsy 23]

Waardeer jy jou geleenthede om jou geestelike broers en susters te help?