Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus Christus—Wie is hy werklik?

Jesus Christus—Wie is hy werklik?

“En toe hy in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gesê: ‘Wie is dit?’ Die skare het bly sê: ‘Dit is die profeet Jesus, van Nasaret in Galilea!’”—MATTEUS 21:10, 11.

WAAROM het die aankoms van Jesus Christus * in Jerusalem op daardie lentedag in 33 HJ soveel beroering veroorsaak? Baie in die stad het gehoor van Jesus en van die uitsonderlike dinge wat hy gedoen het. Hulle het aangehou om ander van hom te vertel (Johannes 12:17-19). Maar min het die skare geweet dat daar ’n man in hulle midde was wie se invloed oor die hele wêreld sou versprei en deur die eeue heen tot in ons dag gevoel sou word!

Kyk na ’n paar voorbeelde van die verreikende invloed wat Jesus op die mensegeskiedenis gehad het.

  • Die kalender wat algemeen in baie wêrelddele gebruik word, is gebaseer op die jaar waarin mense meen Jesus gebore is.

  • Sowat tweemiljard mense—omtrent ’n derde van die wêreld se bevolking—noem hulleself Christene.

  • Islam, wat wêreldwyd meer as ’n miljard lede het, leer dat Jesus “’n groter profeet as Abraham, Noag en Moses” is.

  • Baie van die wyse dinge wat Jesus gesê het, het in die een of ander vorm deel geword van alledaagse spraak. ’n Paar daarvan is:

    ‘Draai die ander wang.’MATTEUS 5:39.

    ‘Loop ook die tweede myl saam.’MATTEUS 5:41.

    ‘Niemand kan twee here dien nie.’MATTEUS 6:24.

    ‘Moenie jou pêrels voor die swyne gooi nie.’MATTEUS 7:6.

    ‘Doen aan ander soos jy aan jou gedoen wil hê.’MATTEUS 7:12.

    ‘Bereken die koste.’LUKAS 14:28.

Jesus se invloed is onbetwisbaar. Tog het mense uiteenlopende idees en opvattings oor hom. Daarom wonder jy moontlik: ‘Wie is Jesus Christus werklik?’ Net die Bybel sê vir ons waar Jesus vandaan gekom het, hoe hy gelewe het en waarom hy gesterf het. Kennis van hierdie waarhede omtrent hom kan ’n groot uitwerking op jou lewe hê—nou en in die toekoms.

^ par. 3 “Jesus”, die naam van hierdie profeet uit Nasaret, beteken “Jehovah is redding”. Die woord “Christus” is ’n titel wat “Gesalfde” beteken en daarop dui dat Jesus gesalf, of deur God in ’n spesiale posisie aangestel is.