Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus—Waar hy vandaan gekom het

Jesus—Waar hy vandaan gekom het

“[Pilatus] het weer in die goewerneur se paleis ingegaan en vir Jesus gesê: ‘Waar kom jy vandaan?’ Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie.”—JOHANNES 19:9.

DIE Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het hierdie vraag gevra toe Jesus tereggestaan het op ’n aanklag wat sy dood tot gevolg kon hê. * Pilatus het geweet uit watter deel van Israel Jesus gekom het (Lukas 23:6, 7). Hy het ook geweet dat Jesus baie meer as ’n gewone mens was. Het Pilatus gewonder of Jesus al voorheen gelewe het? Was hierdie heidense heerser werklik bereid om die waarheid te aanvaar en in ooreenstemming daarmee op te tree? Hoe dit ook al sy, Jesus het geweier om te antwoord, en dit het kort voor lank duidelik geword dat Pilatus meer in sy eie loopbaan belanggestel het as in waarheid en geregtigheid.—Matteus 27:11-26.

Gelukkig kan diegene wat opreg wil weet waar Jesus vandaan gekom het, dit maklik uitvind. Die Bybel toon duidelik wat Jesus Christus se oorsprong is. Kyk na die volgende.

Waar hy gebore is

Hedendaagse berekeninge toon dat Jesus in die vroeë herfs van die jaar wat nou as 2 HJ bekend staan, in nederige omstandighede in die Judese dorp Betlehem gebore is. Weens ’n registrasiebevel wat deur keiser Augustus uitgevaardig is, moes Jesus se moeder, Maria, wat toe “ver gevorderd in swangerskap” was, en haar man, Josef, na Betlehem reis, waar Josef se familie vandaan gekom het. Die egpaar kon hoegenaamd geen verblyf in die dorp vind nie en moes dus in ’n stal bly, waar Jesus gebore en in ’n krip neergelê is.—Lukas 2:1-7.

Eeue tevore is Jesus se geboorteplek in ’n Bybelprofesie voorspel: “Jy, o Betlehem Efrata, wat te klein is om onder die duisende van Juda te wees, uit jou sal daar vir my die een voortkom wat die heerser in Israel sal word” (Miga 5:2). * Betlehem was blykbaar te klein om onder die stede in die gebied van Juda genoem te word. Maar hierdie dorpie sou ’n unieke voorreg geniet. Die beloofde Messias, of Christus, sou uit Betlehem kom.—Matteus 2:3-6; Johannes 7:40-42.

Waar hy grootgeword het

Ná ’n kort tydjie in Egipte het Jesus se gesin verhuis na Nasaret, ’n stad in die provinsie Galilea, omtrent 96 kilometer noord van Jerusalem. Jesus was toe nog nie eers drie jaar oud nie. In hierdie skilderagtige gebied waar daar baie boere, herders en vissermanne was, het Jesus in ’n groot gesin, waarskynlik in nederige omstandighede, grootgeword.—Matteus 13:55, 56.

Eeue tevore het die Bybel voorspel dat die Messias “’n Nasarener” sou wees. Die Evangelieskrywer Matteus sê dat Jesus se gesin in “Nasaret gaan woon [het], sodat vervul sou word wat deur middel van die profete gespreek is: ‘Hy sal ’n Nasarener genoem word’” (Matteus 2:19-23). Die naam Nasarener hou blykbaar verband met die Hebreeuse woord vir “takkie”. Matteus het klaarblyklik verwys na Jesaja se profesie wat van die Messias gepraat het as “’n takkie” uit Isai, wat beteken dat die Messias ’n afstammeling sou wees van Isai, die vader van koning Dawid (Jesaja 11:1). Jesus was inderdaad ’n afstammeling van Isai deur Dawid.—Matteus 1:6, 16; Lukas 3:23, 31, 32.

Waar hy oorspronklik vandaan gekom het

Die Bybel leer dat Jesus se lewe begin het lank voordat hy in daardie stal in Betlehem gebore is. Die profesie van Miga, wat vroeër aangehaal is, sê verder dat Sy “oorsprong uit die vroeë tye is, uit die dae van onbepaalde tyd” (Miga 5:2). As God se eersgebore Seun was Jesus ’n geesskepsel in die hemel voordat hy as ’n mens op die aarde gebore is. Jesus self het gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal” (Johannes 6:38; 8:23). Hoe was dit moontlik?

Deur middel van die heilige gees het Jehovah God die lewe van sy hemelse Seun wonderdadig na die baarmoeder van die Joodse maagd Maria oorgeplaas sodat hy as ’n volmaakte mens gebore kon word. * So ’n wonderwerk is geensins bo die vermoë van God die Almagtige nie. Die engel wat die situasie aan Maria verduidelik het, het dit so gestel: “By God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie.”—Lukas 1:30-35, 37.

Die Bybel sê nie net vir ons waar Jesus vandaan gekom het nie. Die vier Evangelies—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—vertel ons baie van hoe hy gelewe het.

^ par. 3 Vir meer inligting oor die inhegtenisneming en verhoor van Jesus, sien die artikel “Die skandelikste verhoor van alle tye”, op bladsye 18-22 van hierdie tydskrif.

^ par. 6 Efrata (of Efrat) was blykbaar vroeër ’n naam vir Betlehem.—Genesis 35:19.

^ par. 10 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.