Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus—Waarom hy gesterf het

Jesus—Waarom hy gesterf het

“Die Seun van die mens het gekom . . . om sy siel [of, lewe] te gee as ’n losprys in ruil vir baie.”—MARKUS 10:45.

JESUS het geweet wat om te verwag. Hy het verstaan dat hy nie ’n vreedsame lewe sou hê nie. Inteendeel, hy was bewus dat sy lewe tragies kortgeknip sou word terwyl hy nog in sy 30’s was, en hy was heeltemal voorbereid op sy dood.

Die Bybel heg groot betekenis aan Jesus se dood. Een naslaanwerk sê dat die Christelike Griekse Geskrifte, of Nuwe Testament, sowat 175 keer direk verwys na die dood van Jesus. Maar waarom moes Jesus ly en sterf? Ons moet dit weet, want Jesus se dood kan ’n groot uitwerking op ons lewe hê.

Wat Jesus verwag het

Gedurende die laaste jaar van sy lewe het Jesus sy dissipels etlike kere gewaarsku oor die lyding en dood wat op hom gewag het. Op pad na Jerusalem om sy laaste Pasga te vier, het hy vir sy 12 apostels gesê: “Die Seun van die mens sal aan die hoofpriesters en die skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal hom ter dood veroordeel en hom aan mense van die nasies oorlewer, en hulle sal met hom die spot dryf en sal op hom spoeg en hom gesel en hom doodmaak” (Markus 10:33, 34). * Waarom was hy so seker oor wat met hom sou gebeur?

Jesus was vertroud met al die profesieë in die Hebreeuse Geskrifte wat voorspel het hoe sy lewe sou eindig (Lukas 18:31-33). Kyk na party van die profesieë saam met die teksverwysings wat verduidelik hoe dit vervul is.

Die Messias sou . . .

Hierdie en baie ander profesieë is in Jesus vervul. Hy sou dit geensins op sy eie kon gedoen het nie. Die feit dat al hierdie profesieë in Jesus vervul is, toon dat hy inderdaad deur God gestuur is. *

Maar waarom moes Jesus ly en sterf?

Jesus het gesterf sodat lewensbelangrike geskille opgelos kan word

Jesus was bewus van die geskille van universele belang wat in die tuin van Eden geopper is. Adam en Eva is deur ’n opstandige geesskepsel beïnvloed en het gekies om ongehoorsaam aan God te wees. Die egpaar se opstand het die regmatigheid van God se soewereiniteit, of manier van regeer, in twyfel getrek. Hulle sonde het ook die vraag laat ontstaan of enige mens onder beproewing aan God getrou sou bly.—Genesis 3:1-6; Job 2:1-5.

Jesus het die oortuigendste antwoord moontlik op albei geskille—Jehovah se soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid—voorsien. Deur “tot in die dood . . . aan ’n folterpaal” volmaak gehoorsaam te bly, het Jesus God se soewereiniteit ondersteun (Filippense 2:8). Jesus het ook bewys dat ’n volmaakte mens volmaakte onkreukbaarheid teenoor Jehovah kan handhaaf ten spyte van die ergste beproewinge.

Jesus het gesterf sodat die mensdom losgekoop kan word

Die profeet Jesaja het voorspel dat die beloofde Messias se lyding en dood versoening vir mense se sondes sal voorsien (Jesaja 53:5, 10). Jesus het dit duidelik verstaan, en hy het gewilliglik “sy siel [gegee] as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Sy offerdood het dit vir onvolmaakte mense moontlik gemaak om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê en om van sonde en die dood bevry te word. Jesus se dood bied ons die geleentheid om terug te kry wat Adam en Eva verloor het—die vooruitsig om vir ewig onder volmaakte toestande op die aarde te lewe. *Openbaring 21:3, 4.

Wat jy kan doen

In hierdie reeks artikels het ons gesien wat die Bybel oor Jesus sê—waar hy vandaan gekom het, hoe hy gelewe het en waarom hy gesterf het. Kennis van hierdie waarhede oor Jesus kan meer doen as om wanopvattings omtrent hom uit die weg te ruim. As ons in ooreenstemming daarmee optree, kan dit seëninge meebring—’n beter lewe nou en ewige lewe in die toekoms. Die Bybel sê vir ons wat ons moet doen om hierdie seëninge te geniet.

Jehovah se Getuies sal jou graag help om meer te leer oor Jesus Christus, die “enigverwekte Seun” van God, deur wie ons die gawe van “die ewige lewe” kan kry.—Johannes 3:16.

^ par. 5 Jesus het dikwels na homself verwys as “die Seun van die mens” (Matteus 8:20). Hierdie uitdrukking toon nie net dat hy in alle opsigte ’n mens was nie, maar ook dat hy die “seun van die mens” was waarna daar in Bybelprofesie verwys word.—Daniël 7:13, 14.

^ par. 13 Vir meer inligting oor profesieë wat in Jesus vervul is, sien die bespreking “Jesus Christus—die beloofde Messias” in die aanhangsel by die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 17 Vir meer inligting oor die offerwaarde van Jesus se dood, sien hoofstuk 5, “Die losprys—God se grootste geskenk”, van die boek Wat leer die Bybel werklik?