Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is Gehenna ’n plek van vurige foltering?

Is Gehenna ’n plek van vurige foltering?

Ons lesers vra . . . 

Is Gehenna ’n plek van vurige foltering?

▪ In die Evangelieverslae waarsku Jesus sy dissipels teen die oordeel van Gehenna. Jesus wou klaarblyklik hê dat dié waarskuwing ernstig opgeneem word. Maar het hy van ’n brandende hel van ewige foltering gepraat?—Matteus 5:22.

Kom ons kyk eerstens na die woord self. Die Griekse woord Geʹen·na stem ooreen met die Hebreeuse gê Hin·nomʹ, wat “Hinnomvallei” beteken, of meer volledig gê wenê-Hin·nomʹ, “vallei van die seuns van Hinnom” (Josua 15:8; 2 Konings 23:10). Hierdie plek, wat vandag as Wadi er-Rababi bekend staan, is ’n diep, smal vallei suidsuidwes van Jerusalem.

In die dae van die konings van Juda, vanaf die agtste eeu VHJ, is hierdie plek gebruik vir heidense ritusse, soos om kinders in die vuur te offer (2 Kronieke 28:1-3; 33:1-6). Die profeet Jeremia het voorspel dat dieselfde vallei die plek sou wees waar Judeërs deur die Babiloniërs doodgemaak sou word as die voltrekking van God se oordeel aan hulle weens hulle goddeloosheid. *Jeremia 7:30-33; 19:6, 7.

Volgens die Joodse geleerde David Kimhi (ca. 1160-ca. 1235 HJ) is die vallei later omskep in ’n ashoop vir die stad Jerusalem. Dit was ’n plek waar vure aan die brand gehou is om van vullis ontslae te raak. Enigiets wat op hierdie ashoop gegooi is, sou heeltemal vernietig, tot as verbrand word.

Baie Bybelvertalers het hulle die vryheid veroorloof om Geʹen·na met “hel” weer te gee (Matteus 5:29, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Waarom? Omdat hulle die heidense gedagte van ’n hiernamaals van vurige oordeel vir die goddeloses geassosieer het met die letterlike vuur in die vallei buite Jerusalem. Maar Jesus het Gehenna nooit met foltering geassosieer nie.

Jesus het geweet dat die blote gedagte om mense lewendig te verbrand, vir sy hemelse Vader, Jehovah, afstootlik is. Met verwysing na die manier waarop Gehenna in die dae van die profeet Jeremia gebruik is, het God gesê: “Hulle het die hoogtes van Tofet gebou, wat in die vallei van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters in die vuur te verbrand, iets wat ek nie beveel het nie en wat in my hart nie opgekom het nie” (Jeremia 7:31). Daarbenewens is die gedagte dat die dooies gefolter word, in stryd met God se liefdevolle persoonlikheid sowel as met die Bybel se duidelike lering dat die dooies “bewus [is] van hoegenaamd niks” nie.—Prediker 9:5, 10.

Jesus het “Gehenna” as ’n simbool van algehele vernietiging as gevolg van God se veroordeling gebruik. Die betekenis van “Gehenna” is dus soortgelyk aan dié van “die poel van vuur” wat in die boek Openbaring genoem word. Albei simboliseer ewige vernietiging sonder die moontlikheid van ’n opstanding.—Lukas 12:4, 5; Openbaring 20:14, 15.

[Voetnoot]

^ par. 5 Die New Catholic Encyclopedia lewer kommentaar oor hierdie profesie en sê: “Tydens die verwoesting van Jerusalem sou soveel van sy inwoners doodgemaak word dat hulle liggame nie begrawe sou word nie, maar in die vallei gegooi sou word om te ontbind of verbrand te word.”