Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Neem besluite wat God eer

Neem besluite wat God eer

Neem besluite wat God eer

“Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”—SPR. 14:15.

1, 2. (a) Wat moet vir ons van die allergrootste belang wees in al die besluite wat ons neem? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

 ONS neem waarskynlik elke dag tientalle daarvan. Baie is nie van veel belang nie. Maar party kan ’n verreikende uitwerking op ons lewe hê. Wat is dit? Besluite. In al die besluite wat ons neem, groot of klein, is dit vir ons van die allergrootste belang om God te eer.—Lees 1 Korintiërs 10:31.

2 Is dit vir jou maklik om besluite te neem, of is dit vir jou ’n uitdaging? As ons tot Christelike volwassenheid wil vorder, moet ons leer om tussen reg en verkeerd te onderskei en dan besluite te neem wat ons eie oortuigings weerspieël, nie dié van iemand anders nie (Rom. 12:1, 2; Heb. 5:14). Watter ander dwingende redes is daar om te leer om goeie besluite te neem? Waarom is dit soms so moeilik om besluite te neem? En watter stappe kan ons doen om seker te maak dat ons besluite God eer?

Waarom moet ons besluite neem?

3. Waardeur moet ons nie beïnvloed word wanneer ons besluite neem nie?

3 As ons besluiteloos is wanneer dit by Bybelstandaarde kom, kan ons skool- of werksmaats tot die slotsom kom dat ons nie werklik oortuig is van wat ons glo nie en dus maklik beïnvloed kan word. Hulle lieg, kul of steel dalk en probeer ons dan oorreed om ‘die menigte te volg’ deur dit ook te doen of deur hulle ten minste nie te verklap nie (Eks. 23:2). Maar iemand wat weet hoe om besluite te neem wat God eer, sal nie toelaat dat vrees of ’n begeerte om aanvaar te word, hom laat optree op ’n wyse wat met sy Bybelopgeleide gewete bots nie.—Rom. 13:5.

4. Waarom wil ander dalk vir ons besluite neem?

4 Nie almal wat vir ons besluite wil neem, het kwade bedoelings nie. Welmenende vriende dring dalk daarop aan dat ons hulle raad volg. As ons nie meer by die huis woon nie, is ons familielede waarskynlik nog altyd diep besorg oor ons welsyn en voel hulle miskien genoodsaak om nog steeds betrokke te raak by belangrike besluite wat ons moet neem. Dink byvoorbeeld aan mediese behandeling. Die Bybel veroordeel die misbruik van bloed uitdruklik (Hand. 15:28, 29). Ander kwessies wat met gesondheidsorg verband hou, is egter nie duidelik omlyn nie en vereis dat elkeen van ons self moet besluit watter behandeling ons sal aanvaar of verwerp. a Ons geliefdes het moontlik sterk menings oor hierdie aangeleenthede. Maar wanneer toegewyde, gedoopte Christene oor hierdie sake besluit, moet elkeen “sy eie vrag” van verantwoordelikheid dra (Gal. 6:4, 5). Dit is vir ons van die allergrootste belang om ’n goeie gewete voor God te behou, nie voor mense nie.—1 Tim. 1:5.

5. Hoe kan ons voorkom dat ons skipbreuk ly wat ons geloof betref?

5 Besluiteloosheid kan baie gevaarlik wees. Die dissipel Jakobus het geskryf dat ’n besluitelose persoon “onbestendig in al sy weë” is (Jak. 1:8). Soos ’n man in ’n boot sonder ’n roer op ’n onstuimige see, sal hy deur die veranderlike menings van mense rondgeslinger word. Hoe maklik sal dit tog vir so iemand wees om skipbreuk te ly wat sy geloof betref en dan ander vir sy droewige situasie te blameer! (1 Tim. 1:19). Hoe kan ons dit voorkom? Ons moet “in die geloof standvastig gemaak word”. (Lees Kolossense 2:6, 7.) Om standvastig te word, moet ons leer om besluite te neem wat ons geloof in God se geïnspireerde Woord weerspieël (2 Tim. 3:14-17). Maar wat kan ons vermoë om goeie besluite te neem, belemmer?

Waarom dit moeilik kan wees om besluite te neem

6. Watter uitwerking kan vrees op ons hê?

6 Vrees kan ons verlam—vrees om die verkeerde besluit te neem, vrees om te misluk of vrees om dwaas te lyk. Dit is te verstane dat ’n mens hieroor besorg sal wees. Niemand wil ’n slegte besluit neem nie, ’n besluit wat probleme en moontlik skande tot gevolg het nie. Maar liefde vir God en sy Woord kan ons help om ons vrese te verminder. Hoe? Liefde vir God sal ons beweeg om altyd sy Woord en Bybelpublikasies te raadpleeg voordat ons belangrike besluite neem. Ons sal sodoende minder foute maak. Waarom? Omdat die Bybel “aan die onervarenes skerpsinnigheid [kan] gee, aan ’n jong man kennis en denkvermoë”.—Spr. 1:4.

7. Wat kan ons uit koning Dawid se voorbeeld leer?

7 Sal ons altyd die regte besluit neem? Nee. Ons almal begaan foute (Rom. 3:23). Koning Dawid was byvoorbeeld ’n wyse en getroue man. En tog het hy soms slegte besluite geneem wat vir hom en ander lyding meegebring het (2 Sam. 12:9-12). Dawid het nogtans nie toegelaat dat sy foute sy vermoë ondermyn om besluite te neem wat God se guns geniet nie (1 Kon. 15:4, 5). Ons kán besluite neem ondanks foute van die verlede as ons, soos Dawid, onthou dat Jehovah ons oortredings oor die hoof sal sien en ons sondes sal vergewe. Hy sal voortgaan om diegene wat hom liefhet en gehoorsaam, te ondersteun.—Ps. 51:1-4, 7-10.

8. Wat leer ons uit die apostel Paulus se opmerkings oor die huwelik?

8 Ons kan ons vrees om besluite te neem, verminder. Hoe? Deur te besef dat daar soms verskeie regte paaie is om van te kies. Kyk na die manier waarop die apostel Paulus oor die huwelik geredeneer het. Hy het onder inspirasie geskryf: “As iemand dink dat hy hom onbehoorlik gedra ten opsigte van sy maagdelikheid, as dit verby die bloei van die jeug is, en dit is hoe dit moet geskied, laat hom doen wat hy wil; hy sondig nie. Laat hulle trou. Maar as iemand in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar gesag oor sy eie wil het en hierdie besluit, om sy maagdelikheid te bewaar, in sy eie hart geneem het, sal hy goed doen” (1 Kor. 7:36-38). Paulus het die ongetroude lewe as die beste weg aanbeveel, maar dit was nie die enigste regte keuse nie.

9. Moet ons besorg wees oor hoe ander ons besluite beskou? Verduidelik.

9 Moet ons besorg wees oor hoe ander ons besluite beskou? In sekere mate. Let op wat Paulus gesê het oor die eet van voedsel wat skynbaar aan afgode geoffer is. Hy het erken dat ’n besluit, hoewel dit miskien op sigself nie verkeerd is nie, iemand met ’n swak gewete skade kan berokken. Wat het Paulus hom voorgeneem? “As voedsel my broer laat struikel”, het hy geskryf, “sal ek nóóit weer vleis eet nie, sodat ek my broer nie sal laat struikel nie” (1 Kor. 8:4-13). Ons moet ook dink aan hoe ons besluite ander se gewete sal raak. Ons is natuurlik hoofsaaklik besorg oor die uitwerking wat ons keuses op ons vriendskap met Jehovah sal hê. (Lees Romeine 14:1-4.) Watter Bybelbeginsels sal ons help om besluite te neem wat God eer?

Ses stappe om goeie besluite te neem

10, 11. (a) Hoe kan ons vermetelheid in die gesin vermy? (b) Wat moet ouer manne in gedagte hou wanneer hulle besluite neem wat die gemeente raak?

10 Vermy vermetelheid. Voordat ons op ’n handelswyse besluit, moet ons ons afvra: ‘Het ek die reg om hierdie besluit te neem?’ Koning Salomo het geskryf: “Het vermetelheid gekom? Dan sal oneer kom; maar wysheid is by die beskeidenes.”—Spr. 11:2.

11 Ouers bied hulle kinders dalk die geleentheid om sekere besluite te neem, maar kinders moet hulle nie sommer hierdie reg toe-eien nie (Kol. 3:20). Vrouens en moeders het ’n mate van gesag in die gesin, maar hulle moet die hoofskap van hulle man erken (Spr. 1:8; 31:10-18; Ef. 5:23). Mans moet eweneens erken dat hulle gesag beperk is en dat hulle aan Christus onderworpe is (1 Kor. 11:3). Ouer manne neem besluite wat die gemeente raak. Maar hulle maak seker dat hulle nie “verder gaan as die dinge wat geskrywe staan” in God se Woord nie (1 Kor. 4:6). Hulle volg ook noukeurig die riglyne wat hulle van die getroue slaaf ontvang (Matt. 24:45-47). Ons kan ons en ander baie angs en leed spaar as ons uit beskeidenheid besluite neem net wanneer ons die reg gegee is om dit te doen.

12. (a) Waarom moet ons navorsing doen? (b) Verduidelik hoe ’n mens hierdie navorsing kan doen.

12 Doen navorsing. “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel”, het Salomo geskryf, “maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af” (Spr. 21:5). Oorweeg jy byvoorbeeld ’n sakeaanbod? Moenie deur jou emosies gelei word nie. Versamel al die toepaslike feite, raadpleeg diegene wat vertroud is met sulke aangeleenthede en stel vas watter Bybelbeginsels daarmee verband hou (Spr. 20:18). Om jou navorsing te organiseer, kan jy twee lyste saamstel—een met die voordele, die ander met die nadele. Voordat jy ’n besluit neem, moet jy “die koste bereken” (Luk. 14:28). Dink aan die moontlike uitwerking wat jou besluit op jou finansiële welstand sowel as op jou geestelike welsyn sal hê. Dit verg tyd en inspanning om navorsing te doen. Maar deur dit te doen, kan jy voorkom dat jy oorhaastige besluite neem wat tot onnodige angs lei.

13. (a) Watter versekering word in Jakobus 1:5 gevind? (b) Hoe kan dit ons help as ons vir wysheid bid?

13 Bid vir wysheid. Ons besluite sal God slegs eer as ons hom vra om ons te help om dit te neem. Die dissipel Jakobus het geskryf: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jak. 1:5). Dit is nie ’n skande om te erken dat ons God se wysheid nodig het om ons te help om besluite te neem nie (Spr. 3:5, 6). As ons net op ons eie begrip vertrou, kan dit ons immers maklik mislei. Wanneer ons vir wysheid bid en na die beginsels in God se Woord soek, laat ons die heilige gees toe om ons te help onderskei wat die werklike redes is waarom ons ’n sekere weg wil inslaan.—Heb. 4:12; lees Jakobus 1:22-25.

14. Waarom moet ons nie uitstel nie?

14 Neem die besluit. Moenie oorhaastig tot hierdie stap oorgaan voordat jy navorsing gedoen en vir wysheid gebid het nie. ’n Wyse persoon neem die tyd om ‘op sy voetstappe ag te gee’ (Spr. 14:15). Moet daarenteen nie uitstel nie. ’n Uitsteller kan met vreemde verskonings vorendag kom om iets nie te doen nie (Spr. 22:13). Maar hy neem tog ’n besluit—hy besluit in werklikheid om ander beheer oor sy lewe te laat uitoefen.

15, 16. Wat behels dit om ’n besluit deur te voer?

15 Voer die besluit deur. Die moeite wat ons doen om ’n goeie besluit te neem, kan tevergeefs wees as ons dit nie deurvoer en doelgerig implementeer nie. “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag”, het Salomo geskryf (Pred. 9:10). Om sukses te behaal, moet ons bereid wees om die middele aan te wend wat nodig is om ons besluite deur te voer. Byvoorbeeld, ’n gemeentelike verkondiger besluit dalk om te pionier. Sal hy daarin slaag? Hy sal waarskynlik as hy nie toelaat dat te veel sekulêre werk en ontspanning sy kragte ondermyn en hom beroof van die tyd wat hy nodig het om sy bediening uit te voer nie.

16 Die beste besluite is selde die maklikste om deur te voer. Waarom? Want “die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Joh. 5:19). Ons moet worstel teen “die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Ef. 6:12). Die apostel Paulus sowel as die dissipel Judas het aangedui dat diegene wat besluit om God te eer, in ’n stryd gewikkel sal wees.—1 Tim. 6:12; Jud. 3.

17. Wat verwag Jehovah van ons met betrekking tot ons besluite?

17 Hersien die besluit en verander dit indien nodig. Nie alle besluite verloop presies volgens plan nie. “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” tref ons almal (Pred. 9:11). Jehovah verwag nogtans dat ons by sekere besluite moet bly, al kom ons voor beproewinge te staan. ’n Persoon se besluit om sy lewe aan Jehovah toe te wy of om ’n huweliksgelofte af te lê, is nie onderhandelbaar nie. God verwag dat ons hierdie besluite moet naleef. (Lees Psalm 15:1, 2, 4.) Die meeste besluite is egter nie so gewigtig nie. ’n Wyse persoon sal van tyd tot tyd sy besluite hersien. Hy sal nie toelaat dat trots of hardkoppigheid verhinder dat hy ’n besluit verander of selfs herroep nie (Spr. 16:18). Vir hom is dit van die allergrootste belang om seker te maak dat sy lewensweg God altyd eer.

Lei ander op om besluite te neem wat God eer

18. Hoe kan ouers hulle kinders oplei om goeie besluite te neem?

18 Ouers kan baie doen om hulle kinders te help om te leer hoe om besluite te neem wat God eer. ’n Goeie voorbeeld is een van die beste onderrigters (Luk. 6:40). Wanneer dit gepas is, kan ouers aan hulle kinders verduidelik watter stappe húlle gedoen het om ’n sekere besluit te neem. Hulle kan ook hulle kinders toelaat om self sekere besluite te neem en hulle dan prys wanneer die besluit goed afloop. Maar sê nou ’n kind neem ’n slegte besluit? ’n Ouer se eerste neiging is miskien om die kind teen die gevolge te beskerm, maar dit is dalk nie altyd tot voordeel van die kind nie. Byvoorbeeld, die ouer laat die kind moontlik toe om ’n bestuurslisensie te kry. Gestel die kind breek ’n verkeerswet en kry ’n boete. Die ouer kan die boete betaal. Maar as die kind moet werk om die boete af te betaal, is dit waarskynliker dat hy sal leer om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar.—Rom. 13:4.

19. Wat moet ons ons Bybelstudente leer, en hoe kan ons dit doen?

19 Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle ander moet leer (Matt. 28:20). Een van die belangrikste lesse wat ons ons Bybelstudente kan leer, is hoe om goeie besluite te neem. As ons hierin wil slaag, moet ons die versoeking weerstaan om vir hulle te sê wat hulle moet doen. Dit is baie beter dat ons hulle leer om oor Bybelbeginsels te redeneer sodat hulle self kan besluit wat om te doen. Onthou, “elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12). Ons almal het dus dwingende rede om besluite te neem wat God eer.

[Voetnoot]

a Vir ’n bespreking van hierdie onderwerp, sien die byvoegsel “Hoe beskou ek bloedfraksies en mediese prosedures waarby my eie bloed betrokke is?” in Ons Koninkryksbediening vir Januarie 2007, bladsye 3-6 (CD-ROM km-E 11/06 bl. 3-6).

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom moet ons leer hoe om besluite te neem?

• Watter uitwerking kan vrees op ons hê, en hoe kan ons ons vrese te bowe kom?

• Watter ses stappe kan ons doen om seker te maak dat ons besluite God eer?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 16]

Stappe om goeie besluite te neem

1 Vermy vermetelheid

2 Doen navorsing

3 Bid vir wysheid

4 Neem die besluit

5 Voer die besluit deur

6 Hersien en verander

[Prent op bladsy 15]

’n Besluitelose persoon is soos ’n man in ’n boot sonder ’n roer op ’n onstuimige see