Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat jy toe dat God se gees jou lei?

Laat jy toe dat God se gees jou lei?

Laat jy toe dat God se gees jou lei?

“U gees is goed; mag dit my in die land van regskapenheid lei.”—PS. 143:10.

1, 2. (a) Noem ’n paar geleenthede toe Jehovah die heilige gees ten behoewe van sy knegte gebruik het. (b) Is die heilige gees net by spesiale geleenthede werksaam? Verduidelik.

 WAT kom by jou op wanneer jy aan die werking van die heilige gees dink? Stel jy jou die magtige dade van Gideon en Simson voor? (Rigt. 6:33, 34; 15:14, 15). Miskien dink jy aan die vrymoedigheid van die vroeë Christene of die kalmte van Stefanus toe hy voor die Sanhedrin gestaan het (Hand. 4:31; 6:15). Wat van al die vreugde wat in hedendaagse tye by ons internasionale byeenkomste heers, die onkreukbaarheid van ons broers wat weens hulle neutraliteit opgesluit is en die merkwaardige groei van die predikingswerk? Al hierdie voorbeelde lewer bewys van die werking van die heilige gees.

2 Is die heilige gees net by spesiale geleenthede of onder buitengewone omstandighede werksaam? Nee. God se Woord sê dat Christene “deur gees . . . wandel”, “deur gees gelei word” en “deur gees lewe” (Gal. 5:16, 18, 25). Hierdie uitdrukkings dui aan dat die heilige gees voortdurend ’n invloed in ons lewe kan uitoefen. Ons moet Jehovah elke dag smeek om ons denke, woorde en dade deur middel van sy gees te rig. (Lees Psalm 143:10.) As ons toelaat dat die gees vryelik in ons lewe werk, sal dit vrugte in ons voortbring wat vir ander verkwikkend is en wat lof aan God bring.

3. (a) Waarom moet ons deur die heilige gees gelei word? (b) Na watter vrae sal ons kyk?

3 Waarom is dit noodsaaklik dat ons deur die heilige gees gelei word? Omdat ’n ander krag ons probeer oorheers, ’n krag wat die werking van die heilige gees teëwerk. Hierdie ander krag is wat die Skrif “die vlees” noem, met verwysing na die sondige neigings van ons gevalle vlees, die onvolmaaktheid wat ons as nakomelinge van Adam geërf het. (Lees Galasiërs 5:17.) Wat is dan daarby betrokke om toe te laat dat God se gees ons lei? Is daar praktiese stappe wat ons kan doen om die invloed van ons sondige vlees teë te werk? Kom ons kyk na hierdie vrae terwyl ons die oorblywende ses aspekte van die vrug van die gees bespreek, naamlik “lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Gal. 5:22, 23.

Sagmoedigheid en lankmoedigheid bevorder vrede in die gemeente

4. Hoe dra sagmoedigheid en lankmoedigheid by tot vrede in die gemeente?

4 Lees Kolossense 3:12, 13. In die gemeente werk sagmoedigheid en lankmoedigheid saam om vrede te bevorder. Albei hierdie aspekte van die vrug van die gees help ons om ander goedgunstig te behandel, om kalm te bly wanneer ons uitgetart word en om ander nie met gelyke munt terug te betaal wanneer hulle iets onvriendeliks sê of doen nie. As ons ’n meningsverskil met ’n mede-Christen het, sal lankmoedigheid, of geduld, ons help om nie hoop op te gee met ons broer of suster nie, maar om te doen wat ons kan om die vrede te herstel. Is sagmoedigheid en lankmoedigheid werklik nodig in die gemeente? Ja, want ons almal is onvolmaak.

5. Wat het tussen Paulus en Barnabas gebeur, en wat word daardeur beklemtoon?

5 Dink aan wat tussen Paulus en Barnabas gebeur het. Hulle het jare lank sy aan sy gewerk ter bevordering van die goeie nuus. Albei het prysenswaardige eienskappe gehad. Maar by een geleentheid het daar tussen hulle “’n skerp uitbarsting van toorn plaasgevind, sodat hulle uitmekaar gegaan het” (Hand. 15:36-39). Hierdie voorval beklemtoon dat daar selfs onder toegewyde knegte van God soms meningsverskille sal ontstaan. Hoe kan ’n Christen, as daar ’n misverstand tussen hom en ’n medegelowige is, voorkom dat dit in ’n skerp woordewisseling ontaard wat tot ’n blywende breuk kan lei?

6, 7. (a) Watter skriftuurlike raad kan ons volg voordat ’n bespreking met ’n medegelowige in ’n skerp woordewisseling ontaard? (b) Watter voordele bring dit mee wanneer ’n mens ‘gou is om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word’?

6 Soos aangedui word deur die uitdrukking “’n skerp uitbarsting van toorn”, het die meningsverskil tussen Paulus en Barnabas skielik ontstaan en was dit hewig. As ’n Christen besef dat hy kwaad word terwyl hy ’n saak met ’n medegelowige bespreek, sal dit verstandig van hom wees om ag te slaan op die raad in Jakobus 1:19, 20: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word; want ’n mens se gramskap bewerk nie God se regverdigheid nie.” Na gelang van die omstandighede kan hy probeer om die onderwerp te verander, die bespreking uit te stel of hom te verskoon voordat die gesprek in ’n skerp woordewisseling ontaard.—Spr. 12:16; 17:14; 29:11.

7 Watter voordele bring dit mee wanneer hierdie raad gevolg word? As ’n Christen die tyd neem om kalm te word, oor die saak te bid en na te dink oor wat die beste manier is om te antwoord, laat hy toe dat God se gees hom lei (Spr. 15:1, 28). Onder die invloed van die gees kan hy sagmoedigheid en lankmoedigheid openbaar. Dit stel hom in staat om die raad in Efesiërs 4:26, 29 te volg: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie . . . Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel.” Ja, wanneer ons ons met sagmoedigheid en lankmoedigheid beklee, dra ons by tot die vrede en eenheid van die gemeente.

Verkwik jou gesin met goedhartigheid en goedheid

8, 9. Wat is goedhartigheid en goedheid, en watter uitwerking het dit op die atmosfeer in die huis?

8 Lees Efesiërs 4:31, 32; 5:8, 9. Soos ’n sagte bries en iets kouds om te drink op ’n warm dag, is goedhartigheid en goedheid verkwikkend. Dit dra by tot ’n aangename atmosfeer in die gesin. Goedhartigheid is ’n innemende eienskap wat voortspruit uit opregte belangstelling in ander, ’n belangstelling wat deur behulpsame dade en bedagsame woorde gekenmerk word. Goedheid is, soos goedhartigheid, ’n positiewe eienskap wat geopenbaar word in dade wat ander tot voordeel strek. Dit word gekenmerk deur vrygewigheid (Hand. 9:36, 39; 16:14, 15). Maar goedheid behels meer as dit.

9 Goedheid is sedelike voortreflikheid. Dit hou nie net verband met wat ons doen nie, maar, nog belangriker, met wat ons is. Stel jou ’n vrou voor wat vrugte vir haar gesin voorberei en elke stukkie ondersoek terwyl sy dit sny om seker te maak dat die hele vrug soet en ryp is, sonder enige slegte plekke aan die binnekant of buitekant. Net so deurdring die goedheid wat deur die heilige gees voortgebring word, ’n Christen se hele lewenswyse.

10. Wat kan gesinslede help om die vrug van die gees aan te kweek?

10 Wat kan gesinslede in ’n Christenhuis help om mekaar met goedhartigheid en goedheid te behandel? Juiste kennis van God se Woord speel ’n belangrike rol (Kol. 3:9, 10). Party gesinshoofde sluit ’n studie van die vrug van die gees by hulle weeklikse aand vir Gesinsaanbidding in. Dit is nie moeilik om so ’n studie te maak nie. Gebruik die navorsingshulpe wat in julle taal beskikbaar is en kies inligting oor elke aspek van die vrug van die gees. Julle kan elke week net ’n paar paragrawe bespreek en dus etlike weke aan elke aspek bestee. Terwyl julle die inligting bestudeer, moet julle die teksverwysings lees en bespreek. Wees op die uitkyk na maniere om toe te pas wat julle leer, en bid vir Jehovah se seën op julle pogings (1 Tim. 4:15; 1 Joh. 5:14, 15). Kan so ’n studie werklik ’n verskil maak in die manier waarop gesinslede mekaar behandel?

11, 12. Hoe het twee Christenegpare baat gevind by ’n studie van goedhartigheid?

11 ’n Jong egpaar wat graag ’n sukses van hulle huwelik wou maak, het besluit om ’n diepgaande studie van die vrug van die gees te maak. Hoe het dit hulle gehelp? Die vrou sê: “Ons het geleer goedhartigheid sluit getrouheid sowel as lojaliteit in, en dit het ’n groot verskil gemaak in hoe ons mekaar tot vandag toe behandel. Dit het ons geleer om toegewend sowel as vergewensgesind te wees. Dit het ons ook geleer om ‘dankie’ en ‘ek is jammer’ te sê wanneer dit gepas is.”

12 Nog ’n Christenegpaar, wat huweliksprobleme ondervind het, het besef dat goedhartigheid in hulle verhouding ontbreek. Hulle het besluit om goedhartigheid as ’n onderwerp saam te bestudeer. Met watter resultaat? Die man vertel: “Ons studie van goedhartigheid het ons gehelp om te sien dat ons mekaar eerder die voordeel van die twyfel moet gee as om verkeerde beweegredes aan mekaar toe te skryf, om na die goeie in mekaar te soek. Ons het meer in mekaar se behoeftes begin belangstel. Om goedhartig te wees, het ingesluit dat ek my vrou moes nooi om vryelik te sê wat sy op die hart het sonder dat ek aanstoot neem. Dit het beteken dat ek my trots opsy moes skuif. Toe ons goedhartigheid in ons huwelik begin toon het, het ons al hoe minder verdedigend opgetree. Dit was nogal ’n verligting.” Sal julle gesin baat vind by ’n studie van die vrug van die gees?

Beoefen geloof wanneer jy alleen is

13. Teen watter bedreiging vir ons geestelikheid moet ons waak?

13 Christene moet toelaat dat God se gees hulle lei wanneer hulle tussen mense is en wanneer hulle alleen is. Satan se wêreld is vandag vervuil van walglike beelde en verdorwe vermaak. Dit hou ’n bedreiging vir ons geestelikheid in. Wat moet ’n Christen doen? God se Woord vermaan ons: “Lê . . . alle vuilheid en daardie oorbodige ding, slegtheid, af, en aanvaar met sagmoedigheid die inplanting van die woord, wat julle siele kan red” (Jak. 1:21). Kom ons bespreek hoe geloof, nog ’n aspek van die vrug van die gees, ons kan help om ’n rein posisie voor Jehovah te behou.

14. Hoe kan ’n gebrek aan geloof tot verkeerde gedrag lei?

14 Geloof beteken basies dat Jehovah God vir ons ’n werklike persoon is. As God nie vir ons ’n werklike persoon is nie, sal ons ons maklik aan verkeerde gedrag skuldig maak. Dink aan wat in die ou tyd onder God se volk gebeur het. Jehovah het aan die profeet Esegiël geopenbaar dat mense verfoeilike dinge doen wanneer hulle alleen is en het gesê: “Het jy gesien, o mensekind, wat die ouer manne van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in die binnekamers van sy vertoonstuk? Want hulle sê: ‘Jehovah sien ons nie. Jehovah het die land verlaat’” (Eseg. 8:12). Het jy opgemerk wat tot die probleem bygedra het? Hulle het nie geglo dat Jehovah bewus is van wat hulle doen nie. Jehovah was nie vir hulle ’n werklike persoon nie.

15. Hoe beskerm sterk geloof in Jehovah ons?

15 Kyk in teenstelling hiermee na die voorbeeld van Josef. Hoewel hy ver van sy familie en sy volk af was, het Josef geweier om egbreuk met Potifar se vrou te pleeg. Waarom? Hy het gesê: “Hoe kan ek . . . hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?” (Gen. 39:7-9). Ja, Jehovah was vir hom ’n werklike persoon. As God vir ons ’n werklike persoon is, sal ons nie na onrein vermaak kyk of enigiets doen wat ons weet God mishaag wanneer ons alleen is nie. Ons sal dieselfde vaste voorneme hê as die psalmis wat gesing het: “Ek sal in my huis in die onkreukbaarheid van my hart wandel. Ek sal geen waardelose ding voor my oë stel nie.”—Ps. 101:2, 3.

Bewaar jou hart deur selfbeheersing te beoefen

16, 17. (a) Hoe word “’n jong man . . . wat nie ’n verstandige hart het nie”, volgens die beskrywing in die boek Spreuke in sonde verstrik? (b) Hoe kan iets soortgelyks vandag gebeur ongeag ’n persoon se ouderdom, soos uitgebeeld word op bladsy 26?

16 Selfbeheersing, die laaste aspek van die vrug van die gees, stel ons in staat om nee te sê vir dinge wat deur God veroordeel word. Dit kan ons help om ons hart te bewaar (Spr. 4:23). Beskou die scenario in Spreuke 7:6-23, wat beskryf hoe “’n jong man . . . wat nie ’n verstandige hart het nie”, voor die liste van ’n prostituut swig. Hy word verstrik nadat hy ‘op die straat naby haar hoek verbygegaan het’. Miskien het hy uit nuuskierigheid na haar buurt gegaan. Alte gou versuim hy om te besef dat hy verlei word tot ’n dwase weg wat “sy siel raak”.

17 Hoe kon die jong man hierdie rampspoedige fout vermy het? Deur ag te slaan op die waarskuwing: “Moenie in haar paaie indwaal nie” (Spr. 7:25). Ons kan ’n les hieruit leer: As ons wil hê dat God se gees ons moet lei, moet ons ons nie aan versoeking blootstel nie. Een manier waarop iemand in die dwase weg van die ‘jong man wat nie ’n verstandige hart gehad het nie’, kan indwaal, is deur doelloos van die een televisiekanaal na die ander te verander of op die Internet rond te snuffel. Hetsy dit sy bedoeling is of nie, hy sal heel moontlik op seksueel prikkelende tonele afkom. Hy kan geleidelik die onrein gewoonte aankweek om na pornografie te kyk, met verwoestende gevolge vir sy gewete en sy verhouding met God. Dit kan selfs sy lewe raak.Lees Romeine 8:5-8.

18. Watter maatreëls kan ’n Christen tref om sy hart te bewaar, en hoe verg dit selfbeheersing?

18 Ons kan en moet natuurlik selfbeheersing beoefen deur dadelik op te tree as ons op ’n prikkelende beeld afkom. Maar hoeveel beter sal dit tog wees as ons die situasie in die eerste plek vermy! (Spr. 22:3). Om gepaste voorsorgmaatreëls te tref en daarby te bly, verg selfbeheersing. Dit kan byvoorbeeld as ’n beskerming dien om die rekenaar op ’n plek te hou waar ander dit kan sien. Party vind dat dit die beste is as hulle net in die teenwoordigheid van ander die rekenaar gebruik of televisie kyk. Ander het besluit om nie toegang tot die Internet te hê nie. (Lees Matteus 5:27-30.) Laat ons die nodige maatreëls tref om ons en ons gesin te beskerm sodat ons Jehovah “uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete en uit geloof sonder huigelary” kan aanbid.—1 Tim. 1:5.

19. Watter voordele bring dit mee as ons toelaat dat die heilige gees ons lei?

19 Die vrugte wat deur die werking van die heilige gees voortgebring word, bring baie voordele mee. Sagmoedigheid en lankmoedigheid dra by tot vrede in die gemeente. Goedhartigheid en goedheid bevorder gesinsgeluk. Geloof en selfbeheersing help ons om na aan Jehovah te bly en ’n rein posisie voor hom te behou. Wat meer is, Galasiërs 6:8 verseker ons: “Hy wat met die oog op die gees saai, sal ewige lewe uit die gees maai.” Ja, op grond van Christus se losprysoffer sal Jehovah die heilige gees gebruik om eindelose lewe te gee aan diegene wat toelaat dat die gees hulle lei.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe bevorder sagmoedigheid en lankmoedigheid vrede in die gemeente?

• Wat kan Christene help om goedhartigheid en goedheid by die huis te openbaar?

• Hoe help geloof en selfbeheersing ’n Christen om sy hart te bewaar?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 24]

Hoe kan jy voorkom dat ’n bespreking in ’n skerp woordewisseling ontaard?

[Prent op bladsy 25]

’n Studie van die vrug van die gees kan julle gesin tot voordeel strek

[Prent op bladsy 26]

Watter gevare vermy ons deur geloof en selfbeheersing te beoefen?